Duine

  • 8

My mond het wawyd oopgehang. Almal kon sien ek wissel nog tande. Daar was ’n blinkgevryfde kopertrompet in die hoek van die voorhuis. Langsaan het ’n esdoringklavier met twee silwer sierkandelare gestaan. ’n Spoggerige embuiavertoonkas was vol skitterende glasdiertjies gelaai. Deurskynende rooi, amber, geel of groen. Tussen die menigte diertjies was daar ’n glinsterende groen skilpadjie so groot soos ’n vingerhoed. Hy was die heel mooiste.

Soveel mooi en blink het ek in my hele lewe nie gesien nie. Dit was die binnekant van Leonard-hulle se sinkhuisie wat prentjiemooi op die sandvlaktes tussen die Port Jacksonbome en die bloekoms gestaan het.

Ons drieslaapkamerbaksteenhuis het ’n teëldak gehad en daar was reeds gruisstrate en sypaadjies. Pa het ons huis met ’n Spoorweglening gekoop. Nogal in die boonste lane met heelwat ander nuwe huise om ons. Maar nie naastenby so bekoorlik soos die sinkhuis in die bosse nie.

By Leonard-hulle se huis is ek met die reuk van skaapkerrie begroet. Sy ma het altyd gesê kerrie moet geduldig kook om lekker houding te kry. Ek sweer ek was aan die kwyl toe Leonard se ma skielik praat.

“Leonard!”

“Ja, Mammie,” reageer Leonard gehoorsaam.

“Leon kannie lank speel nie hoor. As Daddy huis toe kom, moet jy klaar gewas wees sodat ons dadelik kan eet. En daar’s nog huiswerk om te doen en jy moet nog klavier oefen.”

“Waaat, kan jy klavier speel?” wou ek weet.

“Ja, my daddy het my geleer. Wil jy hoor?”

Voor ek nog kon antwoord, toe sit hy al op die klavierstoeltjie. Sy vingers het my laat dink aan ’n duisendpoot se vier honderd beentjies wat haastig loop om weg te kom. Skielik stop hy. Die vinnige note was net opwarming. Hy wikkel sy lyf vir ’n stewige sit. Hy sit regopper en sy vingers fladder vir ’n kort oomblik bokant die klawers. En toe speel hy stadig. “Amazing grace.” Hy speel met twee hande en elke hand druk ’n klomp note gelyk. Swartes ook.

Hoe kry hy dit reg? het ek met die grootste bewondering gedink. So wil ek ook kan speel. Ek het al gedroom ek het ’n klavier en dat ek die skoollied in die skoolsaal speel. Ook “Daan Desimaal” by die fondsinsamelingskonsert. Ek onthou nog die woorde ook:

Daan Desimaal die rand-sent-man
Gee jou sente vir pennies net waar hy kan
Een sent vir ’n pennie en twee vir vier
en twee en ’n half vir ’n blink tiekie.

Leonard se pa was ’n musikant in ’n jazzorkes en my pa ’n vurktrokbestuurder op die Spoorweë. Ons kon nie ’n klavier bekostig nie. Die kwartaalgeld vir musieklesse by die skool kon Pa ook nie bekostig nie. Alhoewel hy Saterdae aan ander mense se karre gewerk het, was daar baie monde om te voed. Ons was toe al ’n kroos van ses. Net oor die halfpadmerk na ’n groot gesin wat later sou aanwas. Anders as Leonard se ma, het my ma nooit uit gewerk nie. Net huiswerk gedoen. Koskook, was, stryk en vloere pollies.

Leonard se improvisasie van “Amazing grace” het met ’n uitgerekte fermate geëindig. Baie windmakerig en dramaties. Die laaste lang noot het gaan skuiling soek binne-in die blink bek van die kopertrompet .

“Sjoe, ek wens ek kon ook so speel. Jy speel al seker baie lank,” het ek met jaloerse bewondering opgemerk.

“Nee, ek het verlede jaar toe ek sewe geword het, begin speel. Dit was op my verjaarsdag. Ek sal vir jou ook leer om te speel.”

“Regtig? Ek verjaar oormôre, dan is ek ook ag.”

“Mammie!” gil Leonard kombuis se kant toe. “Leon verjaar oormôre, dan word hy ook ag.”

“Sê vir Leon hy moet wag voor hy loop,” kom die opdrag vanuit die kombuis. Leonard se ma het met ’n groot stuk koek op ’n kleinbordjie vir my kom gelukwens.

“Baie geluk Leon, hoor.”

“Dankie,” het ek gesê sonder om enige aanspreekvorm te gebruik. Leonard se ma het by ryk witmense in die boonste straat gewerk. Sy het elke dag by ons huis verbygeloop. Ons het nie vir bediendes tannie gesê nie. Ma het gesê ons moet vir hulle nennies noem. Dit klink ordentlik, het sy gesê.

“Hier is vir jou ’n lekker stuk koek vir jou verjaarsdag. Eet dit sommer gou-gou voor jy huis toe gaan.”

Dit was ’n wit koek. Tussen die lae was appelkooskonfyt gesmeer en bo-op was dit vol klapper gesprinkel.

“Dankie.” Ek het niks meer gesê nie. Nie Tannie óf Nennie het reg geklink nie. Ek het proetjie vir proetjie geëet. Versigtig en afgemete. Dalk hou ek nie daarvan nie. En dis onbeskof om te sê ek wil dit nie hê nie. My tong het vinnig sy goedkeuring gegee vir die wit koek met die suurlemoengeur. Dit was net so lekker soos ma se tjoklitkoek met die gekookte kondensmelk op.

“Hou jy hiervan? wou ek by Leonard weet.

“Huh-uh, ek eet nie jam nie. Jy sal nou moet huis toe gaan, hoor. Ek moet gaan was voor my daddy by die huis kom. Ek mag nie vuil aan tafel wees nie,” het Leonard met gesagsvrees verduidelik.

“Ons eet kerrie vanaand. Skaapkerrie. Dis my lekkerste kos ooit,” het Leonard met oorgawe verduidelik. My mond het weer gewater.

“Ons kan môre na skool weer by ons den in die duine gaan speel as jy mag.”

Ek het nie juis ag geslaan op Leonard se woorde nie. Op pad huis toe het die klanke van “Amazing grace” aan my ore bly hang. Die liggroen blare van die Port Jacksons het respekvol onderstebo gehang en stadig heen en weer geritsel op die maat van “Amazing grace”. Die laaste bietjie suurlemoengeur van die koek het steeds op my tong getalm. ’n Paar klappervlokkies het tussen my tande gewoel.

As ek net een keer so mooi soos hy kon speel. As ons net ’n klavier gehad het. As ek net musiek by die skool kon neem. As, as, as ... As Ma kon gaan werk soos Leonard se ma, kan Ma-hulle mos vir musieklesse betaal, het ek gereken. Dalk kan Leonard my leer. Hy het gesê hy sal. Maar as Ma-hulle moet uitvind ek speel klavier by Leonard se huis, sal my agterent weer verjaar. Behoorlik.

*

Die tafelgebed was deur die Drie-eenheid self aan Pa toevertrou. Slegs die statuur van ’n vaderfiguur was geskik vir so ’n gewigtige taak:

Seën ons Vader, gee ons ete
Laat ons nimmer u vergete
Amen.

Die rympie het my grensloos geïrriteer. Ons het nie hande vasgehou nie en Pa het nie gevra dat die hande wat die voedsel voorberei het, geseën moet word nie. Aan tafel moes ons tjoepstil bly terwyl ons eet. Die meeste van die tyd kon ek hoor hoe die kos sy weg na die ingewandes om die tafel vind.

Omdat dit Woensdagaand was, het ons viskoekies, rys en fyngedrukte aartappels geëet. Ons mag ook gepraat het van “mash potatoes”, maar nie “kapokaartappels” nie. Dis te aansitterig, het Ma altyd gesê.

Ma se viskoekies was nogal lekker, maar die reuk het my altyd aan swaarkry laat dink. Daar was net een viskoekie vir elke kind. Pa het twee gekry. Een blikkie Glenryck-sardientjies in tamatiesous is gebruik. Twee blikkies was te duur. Ek onthou die etiket om die blikkie was rooi met ’n grysblou vissie daarop. Die sardientjie op die prentjie het so verskrik gelyk. Ek was jammer vir daai angstige vissie wat buite die water moes asemhaal.

As jy klaar geëet het, hou jy jou hande onder die tafel tot almal klaar was. Gewoonlik was ek laaste klaar. Almal se stokstywe oë was op jou gerig. Net soos die vissie se oë op die blikkie. Daardie afkerige kry-nou-klaar-kyke het die kos in my keel laat stol. Die stilte was hoorbaar. Ek het altyd gedink dat stilte ’n lyf met ’n lang stert het. Hy’t ons dopgehou en gekyk wie laaste klaar geëet het. Ek het nie van Stilte gehou nie. Hy het strafwerk uitgedeel. Laaste klaar moes koffie maak, maar nie voordat Pa gedank het nie. Die oomblik van stilte voor Pa sy dankrede begin het, was langer as die danksegging self:

O, Heer van spys en drank
Gee ons van harte lof en dank
Amen.

Net nog ’n rympie met ’n Hollandse babelaas. Sou die Heer nou Hollands ook verstaan? het ek gewonder. Ek kon nie kop of stert uitmaak wat Pa gesê het nie. Die toon was gewyd. Eers is daar gebid vir die Vader en dan word daar dankie gesê vir die Heer. En saans voor ek in die bed kon klim, moes ek weer Liewe Jesus se hulp inroep. Hoeveel van die onsigbare weldoeners was daar? het ek altyd gewonder, maar nooit gevra nie. Ek het ook nie geweet vir wie ek vir die klavier moes vra nie. Of watter een van die driemanskap vir die musieklesse sou betaal het nie.

*

Dis Vrydag. My verjaarsdag het aangebreek. Ma het nog in die bed gelê en ’n Westminster 85 opgesteek. Ons moes vir haar soengroet voor ons skool toe loop. Sy’t nooit voor tienuur soggens uit die bed uit opgestaan nie. Ma het darem al regop in die bed gesit en gesê ek moet lekker verjaar. Daar was geen presente nie. Ook nie koek nie.

“Mamma, gaan vandag ’n hoender in die oond bak vir aandete. Omdat jy verjaar, mag jy die wensbeentjie kry.” Dit was haar geskenkbelofte.

“Dankie Mamma,” het ek half opgewonde probeer klink.

“Mag ek vanmiddag saam met Johan en Frikkie by die duine gaan speel? Ons wil cowboys en crooks speel en kleilat gooi,” het ek skaamteloos gelieg.

“Ja, maar sorg dat jy betyds by die huis is. Voor jou pa kom,” het Ma aangedring.

Om by die duine te kon gaan speel, was al klaar ’n groot verjaarsdaggeskenk. Ons het ’n geheime den in die duine gehad waar ons vuurhoutjies, kerse, vuurmaakstokkies, kleilatte en ketties weggesteek het. Ons den moes natuurlik goed gekamoefleer word sodat die ander bendes nie ons wegkruipplek kon vind en vernietig nie.

Tussen die bosse was hoë sandduine. Ek en Leonard het teen die skuinste van ’n sandduin tonnels ingegrawe. Sinkplate is gebruik om te keer dat die sand op ons inval. Takke is as stutpale gebruik en die ingang was toegepak met Port Jacksontakke. Ons den was onontdekbaar.

Soggens voor skool het Leonard altyd vir my by die winkel op die hoek van die straat gewag. My oudste suster het my gaan verklik by die huis. Sy kon nie wag om vir Ma te vertel dat ek saam met Leonard skool toe gestap het nie. Ek het darem nie ’n pak slae gekry nie, maar ek was die leviete goed voorgelees.

“Jy los die kleurlingkinders uit. Hulle is nie jou maats nie,” het dit van Ma afgekom. “As jou pa hiervan hoor, is die hel los.”

“Hoekom mag ek nie saam met Leonard stap nie?” wou ek hardkoppig weet.” En dan was die antwoord soos altyd dieselfde: “Omdat ek so sê. Finish en klaar.”

Van toe af het ek vroeër skool toe gestap. Leonard het aan die agterkant van die kafee gewag. Ons het deur al die veldjies tussen die huise deur beweeg om nie opgemerk te word nie. So ook die dag van my verjaarsdag. Leonard het agter die kafee op ’n boomtak gesit en wag. Toe ek aankom, het hy ’n klein kartonboksie na my toe uitgehou.

Dis vir jou verjaarsdag, maar kyk eers later daarin. Sit dit in jou sak en moenie dat iemand anders dit sien nie.”

“Wat is dit?” het ek met groot nuuskierigheid gevra.

“Jy sal sien. Ek hoop jy laaik dit.”

“Dankie. Ek sal dit oopmaak as ek alleen is.”

Ons het verder gestap, soos elke ander dag, tot waar Leonard na sy skool moes wegdraai. ’n Kleurlingskool. Ons skool was ’n bietjie verder aan.

“Sien jou vanmiddag by die den. Ek gaan van my pa se biltong saamvat en my ma maak vir ons Kool-Aid. Sy’t gesê dis oordat jy verjaar,” het Leonard gespog. Ek was sy beste maat en hy het my so laat voel.

“Oukei, ek gaan net my speelklere aantrek na skool, dan kry ek jou by die den. Maak seker dat niemand jou agtervolg nie, hoor!” het ek agterna geskree terwyl Leonard oor die pad gestap het.

Daar was ’n paar groot bloekombome met vet stamme op die skoolgrond. Die middelste boom was die grootste. Niemand sou sien as ek agter daardie boom gaan kyk wat in die boksie is nie. Ek het my hand versigtig in my broeksak gedruk. Die klein boksie was veilig. Met die uiterste versigtigheid het ek die boksie vasgehou. My naam was daarop geskryf. Dalk sy ma se handskrif. Dit was die eensaamste opgewondenheid wat ek nog ooit gevoel het. My beste maat gee vir my ’n present en ek mag dit nie met iemand deel nie?

Helder en luid het die koperklok oor die skoolgrond weergalm. Dit was juffrou Marais se taak om die klok te lui. So gou as moontlik moes ons rye toe hardloop en in gelid agter mekaar in rye gaan staan. Seuns links en meisies regs. Ek het met my een hand in my broeksak gehol so vinnig as ek kon. My boksiepresent was veilig in my sak.

Die middag op pad huis toe het ek koers gekies deur die veldjie. Toe ek agter die winkel verbystap waar Leonard die oggend vir my gewag het, het ek weer my boksie uitgehaal. Ek het op die boomtak gaan sit en my boksiepresent styf vasgehou. ’n Warm gloed van opgewondenheid het my beetgekry. Die afwagting was só groot. Só lekker.

Versigtig het ek die toedraaipapiertjie afgehaal. ’n Vuurhoutjiedosie. Is dit al?

Stadig het ek die dosie met my regterwysvinger oopgestoot.

Binne-in die boksie lê iets toegedraai in ’n stukkie wit papier. Ek kon my oë voel water toe die groen glasskilpadjie my bykans verblind met ’n glinsterende straaltjie. En toe lees ek die briefie in Leonard se eie woorde: Liewe Leon. Jy kan by ons kom klavier speel. Ek sal jou leer. Jou vriend. Leonard.

Met die boksie veilig weer in my sak gebêre, het ek huis toe gehol soos blits. Ek wou so gou as moontlik by ons den kom om vir Leonard dankie te sê vir die beste present ooit.

In ’n japtrap was ek in my speelklere. My present is ’n geheim. Ek het dit diep onder-in die klerekas gebêre. Daar sou groot moeilikheid gewees het as iemand dit sou sien.

“Moenie te lank speel nie, hoor. Jy moet terug wees voor jou pa by die huis kom,” was Ma se vasvatopdrag toe ek by die agterdeur uithol.

Halfpad na die den toe was ek skoon uitasem gehol. My verjaarsdag, my present, die klavier wat ek gaan leer speel en vanaand se wensbeentjie het my kinderhart totaal oorweldig. Ek het gewonder waarvoor ek gaan wens. ’n Groot ding soos ’n wensbeentjiewens neem mens nie ligtelik op nie. Jy moet reg wens. So ’n kans val jou net een keer per jaar te beurt. Ek gaan wens dat my ma-hulle nooit uitvind dat Leonard vir my gaan leer klavier speel nie. Sodoende kan ek vir hulle eendag verras as ek te groot is om pak te kry, het ek na deeglike oorweging besluit.

Met die oop veld agter my moes ek nog net ’n klein entjie deur die digte bos stap om by ons den uit te kom. Ons was nogals lanklaas daar. Ek hoop ek kry dit weer. Ek sal sommer na Leonard roep of ons geheime fluit gee as ek te lank moet soek. Die Kool-Aid en die biltong gaan lekker wees. Dis asof my kop wou ontplof van al die lekkerheid.

Meteens het ek besef dat ek te ver gestap het. Die bos was nie ’n rigtingaanwyser nie. Hy het jou maklik laat verdwaal. Ek het beslis nog nie verby die den gestap nie. Die ingang was duidelik gemerk. Of hét ek dalk? ’n Bangheid het my oorval toe ek besef dat ek verdwaal het. Wat nou? Ek sal moet roep. Miskien hoor Leonard my.

“Leonard, Leonard!” het ek so hard geroep as wat ek kon. Ek het lank geluister. Net Stilte het geantwoord. En, ek was bang vir Stilte.

“Leonard, is jy hier?”

Sonder om verder te dink, het ek begin om my voetspore terug te volg. Versigtig. Ek wou nie my spore verloor nie. Iets wou vir my bekend lyk. Toe roep ek weer na Leonard. Om die bang te probeer wegsteek was nie meer moontlik nie. My binneste het ook nie verskoning gevra nie. Ek het probeer om nie te huil nie, maar my hart wou nie luister nie. Ek het gehuil sonder toestemming.

Deur my opgewelde oë het ek iets aan ’n tak sien fladder. Met die agterkant van my hande het ek probeer om my oë droog te vee. Net om duideliker te kon sien. Dit was ’n plastieksak. Daar was iets binne-in. ’n Verligte oomblik het oor my gesak toe ek sien wat binne-in die sakkie is. Twee botteltjies Kool-Aid en ’n sakkie met biltong wat Leonard se ma vir ons ingepak het.

“Haai, Leonard, waar is jy? Ek is hier, maar ek sien nie ons den nie,” het ek geroep met die wete dat hy sou antwoord. Asof hy daar was. Hy wás daar.

Slegs die stilte het weer van hom laat hoor. Net die dreigende stilte. Ek het besef ek staan voor ons den se opening. Of liewer, daar waar die opening was. Ek het om en om en om gedraai en gehoop ek sien vir Leonard. ’n Wrede alleenheid, soos ek die meeste van die tyd by ons huis gevoel het, het my van oral omsingel. Ons den was weg. Dit het toegeval. Ineengestort. En Leonard is ook weg.

Hoekom het hy sonder my huis toe gegaan? Hoekom het hy nie vir my gewag nie? Was hy kwaad vir my? Is dit al wat oor is van ons vriendskap? Twee botteltjies Kool-Aid en ’n sakkie biltong?

 

Lees ook:

Aankondiging van wenverhale: Toegang – ’n kortverhaalkompetisie

Hipoksie

 

  • 8

Kommentaar

  • Esther Scheffer

    Wat 'n aangrypende en hartverskeurende verhaal! Baie geluk met 'n uiters goedgeskrewe verhaal, Johan. Hierdie verhaal is 'n waardige wenner.

  • Skitterende storie. Dit het ek nou geniet. My sommer ver teruggeneem. Goed geskryf en die tonele so helder beskryf. Inderdaad 'n waardige wenner.

  • Maretha Maartens

    Ek het my asem onderweg begin ophou, besef ek nou, Johan. Die eerste uitblaas was sekondes nadat ek die laaste sin gelees en herlees het. 'n Wonderlike verhaal. Baie geluk en baie dankie.

  • Riana vin Brandis

    Goeie verhaal, Johann. Die woorde van ma, die viskoekies, 'kon dit nie beter beskryf het nie. Uitstekende verhaal, geluk.

  • Millicent Mynhardt

    Johann, so tiperend van ons kinderjare. Vanaf die openingsin het jy my teruggeneem na ons enigsoortige kindwees. Dankie vir 'n heerlike oomblik in jou tydmasjien.

  • Christine Botha

    Wow, ek het ook net asem opgehou. Kan nie help om vreeslik nuuskierig te wees om die res in woorde te kan hoor nie! Briljant ...

  • Aan Maretha Maartens, baie dankie vir jou opmerking. Dis vir my 'n groot pluim(pie).
    Wat betref die ander wenners: Baie geluk! Ek voel ek is in uitgelese geselskap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top