Die publikasie van Afrikaanse kinder- en jeugboeke in die 21ste eeu

  • 4

Tumisu | Pixabay

...
In ’n studie wat pas voltooi is (Tiemensma 2022), is bevind dat die produksie van kinder- en jeugboeke in Afrikaans ’n stadige, maar bestendige groeikurwe in die 21ste eeu toon.
...

Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, skryf op 14 Augustus 2022 op Maroela Media: “Dit is verrassend dat ’n groot aantal literêre werke vandag steeds in Afrikaans verskyn.” Sonder om betrokke te raak by die polemiek oor die “ideologiese klimaat” (Heilna du Plooy in Rapport op 7 Augustus 2022) waarin Afrikaanse kinderboeke hulle tans bevind, kan daar gevra word wat die stand van Afrikaanse kinder- en jeugboeke in die 21ste eeu is.

Afrikaans as inheemse taal wat hoofsaaklik in Suid-Afrika gepraat en verstaan word, moet meeding met Engels as wêreldtaal. Sedert die eerste kinderboek in Suid-Afrika (Klein gedichten voor kinderen) in 1842 in Nederlands verskyn het, het kinderboeke in Afrikaans ’n ver pad geloop nadat Afrikaans bykans ’n eeu gelede as amptelike taal erken is.

Gedurende die grootste deel van die tweede helfte van die 20ste eeu en veral in die tagtigerjare was kinderliteratuur in Afrikaans in ’n bevoorregte posisie danksy steun van die regering. Die veranderende politieke, sosiologiese en kulturele landskap na 1994 het egter die publikasie van boeke in Afrikaans negatief beïnvloed. Engels het Afrikaans as voorkeurtaal vervang. Uitgewers soos Daan Retief, Perskor en Anansi het van die toneel af verdwyn. Die voorskryfmark vir Afrikaanse boeke het ineengestort en provinsiale biblioteke het nie hul begrotings aan Afrikaanse boeke bestee nie. Teen die eeuwisseling was daar ’n beduidende daling in die produksie van Afrikaanse kinder- en jeugboeke. ’n Ondersoek deur Snyman en Venter (2004) het bevind dat daar gedurende die tydperk van 1990 tot 2001 ’n daling van 71% in die produksie van Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur was.

In ’n studie wat pas voltooi is (Tiemensma 2022), is bevind dat die produksie van kinder- en jeugboeke in Afrikaans ’n stadige, maar bestendige groeikurwe in die 21ste eeu toon. Volgens StatsSA (2020) word Afrikaans deur 12,2% van die bevolking gepraat en is dit die taal wat die derde meeste in die land gepraat word naas Engels en Zoeloe. Emigrasie het die getal Afrikaanssprekendes sedert die 1990’s laat krimp. Afrikaans is steeds ’n invloedryke taal. Dat soveel boeke nog in Afrikaans uitgegee word, toon dat daar ’n kopersmark bestaan. Boeke in Afrikaans kompeteer nie soos plaaslike Engelse boeke met die oorsese mark nie.

...
Engels en Afrikaans oorheers die publikasielandskap in Suid-Afrika, aangesien 98% van plaaslike publikasies in een van hierdie tale gepubliseer word.
...

Engels en Afrikaans oorheers die publikasielandskap in Suid-Afrika, aangesien 98% van plaaslike publikasies in een van hierdie tale gepubliseer word. Ten spyte daarvan dat Engels die lingua franca en dominant in die publikasiebedryf is, word meer as ’n derde (35%) van kinder- en jeugboeke sedert 2000 oorspronklik in Afrikaans uitgegee, teenoor 64% in Engels en 0,7% in ander inheemse tale. Die elf amptelike tale word as gelykwaardig gereken, maar dit word nie weerspieël in die publikasiestatistiek nie. Faizel en die sterre deur Rafiek Mammon (2020) is oorspronklik in Afrikaaps, ’n Kaapse dialek van Afrikaans, uitgegee. Interessant is dat die eerste prenteboek ooit in N|uu (’n San-taal), Katrina Esau se !Qhoi n|a TjhoiTortoise and Ostrich, onlangs (2021) verskyn het.

Vertalings het van die begin af ’n rol gespeel in die plaaslike kinder- en jeugboekmark. Daar is twee kategorieë vir vertalings: plaaslike publikasies wat vertaal word, en internasionale publikasies wat vertaal en plaaslik gepubliseer word.

Ongeveer ’n derde van die kinderboeke wat plaaslik uitgegee word, word in ander Suid-Afrikaanse tale vertaal, asook in internasionale tale soos Katalaans, Chinees, Deens, Nederlands, Frans, Italiaans, Japannees, Spaans, Portugees en Sweeds. Alhoewel die meeste van hierdie vertaalde Suid-Afrikaanse boeke oorspronklik in Engels verskyn het, is 22% van Afrikaanse kinderboeke uit ander tale vertaal. Van die plaaslike boeke wat oorspronklik in Engels gepubliseer is, is 68% in Afrikaans vertaal. Dit bevestig die ondersteuning van Afrikaans. Fantasi, LAPA, Human & Rousseau, Protea Boekhuis, Struik en Tafelberg vertaal baie oorspronklik Engelse boeke in Afrikaans. Bumble Books, Jacana en New Africa Books vertaal die meeste van hulle boeke in ander Suid-Afrikaanse tale. Uitgewers besef duidelik die waarde en belangrikheid van vertalings in die plaaslike mark.

Met betrekking tot die vertaling van internasionale boeke is bykans die helfte van die kinder- en jeugboeke wat gepubliseer word vertalings van internasionale boeke. Hierdie waarneming stem ooreen met internasionale tendense – in Europese lande soos Nederland, Denemarke en Swede is ongeveer die helfte van kinder- en jeugboeke vertalings, meestal uit Engels. Internasionale vertalings in Afrikaans is hoofsaaklik uit Engels, Frans, Duits, Nederlands en Vlaams. Hierdie vertalings uit internasionale tale maak internasionale boeke toeganklik vir kinders in Suid-Afrika.

Vanaf 2000 het LAPA (nou onder Penguin Random House), Fantasi en Protea Boekhuis die Afrikaanse kinderboekterrein betree en speel steeds ’n noemenswaardige rol in hierdie bedryf. Ander uitgewers van belang hier is Human & Rousseau, Tafelberg, Malherbe Uitgewers, Biblaridion, Anna Emm, New Africa Books, instansies en organisasies, en die afgelope twee jaar Naledi. ’n Groot aantal titels word self uitgegee.

...
Titels van skrywers soos Alba Bouwer, Pieter W Grobbelaar, WO Kühne (Huppelkind), Langenhoven, Helena Lochner, Verna Vels en gewilde reeks soos Trompie, Saartjie, Jasper, Maasdorp, Keurboslaan, Swart Kat en die Uile word heruitgegee en is steeds gewild in die 21ste eeu.
...

Herdrukke dra by tot die kanonisering van kinderliteratuur. Die studie het bevind dat 5% van publikasies herdrukke is. Titels van skrywers soos Alba Bouwer, Pieter W Grobbelaar, WO Kühne (Huppelkind), Langenhoven, Helena Lochner, Verna Vels en gewilde reeks soos Trompie, Saartjie, Jasper, Maasdorp, Keurboslaan, Swart Kat en die Uile word heruitgegee en is steeds gewild in die 21ste eeu. ’n Derde van kinder- en jeugboeke na 2000 is deel van ’n reeks en dit bevestig die belangrikheid en waarde van reekse.

Jaco Jacobs is by verre die suksesvolste en produktiefste kinderboekskrywer. Ander prominente skrywers, om ’n paar te noem, sluit in Marita van der Vyver, Wendy Maartens, Louise Smit, Martie Preller, Fanie Viljoen, Riana Scheepers, François Bloemhof, Louise Prinsloo, Theresa van Baalen, Elizabeth Wassenaar, Maritha Snyman, Anzil Kulsen, Jan Vermeulen en Janie Oosthuizen. Slegs 3% van skrywers het meer as tien titels gepubliseer, maar hulle was verantwoordelik vir ’n kwart van die titels. Die meerderheid skrywers het net een titel gepubliseer.

Die ondersteuning van toegewyde rolspelers – van skrywers, illustreerders en uitgewers tot boekhandelaars, kopers en lesers – in die Afrikaanse kinder- en jeugboekmark wys dat dit die moeite loon om in Afrikaans te publiseer. Die mark en drukoplae is nie groot nie, maar dit word steeds gepubliseer. Daar bestaan ’n gevestigde, florerende mark waarin uitgewers bereid is om te belê.

Bronne

Snyman, M en MR Venter. 2004. Produksiepatrone van Afrikaanse kinder- en jeugprosa: ’n verkennende statistiese ontleding, 19902001. Mousaion, 22(1):119–38.

Tiemensma, L. 2022. The publishing history and production patterns of picture and illustrated South African children’s books published from 2000–2020: an empirical study. Doktorale proefskrif. Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

Lees ook:

Kinderboeke wat verheug, vermaak en verruim

Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur NB-Uitgewers

Afrikaanse jeugboeke vandag: ’n perspektief deur PRH/LAPA Uitgewers

Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed

Kinders en lees: ’n onderhoud

’n Beskouende ondersoek van humorontwikkeling, humorsin en enkele meganismes onderliggend aan humor

  • 4

Kommentaar

  • Johan Coetzee

    Insiggewende artikel. Waar en hoe word die lees en aankoop van kinderboeke bevorder? Boekwinkels? (is dit die toekoms?) Sosiale media? Biblioteke? Aanlyn? Is dit goed genoeg? Luister kinders nog na RSG se aandvoorlesings? Ander radiostasies? Ander media?
    Wat is die persentasie van ouers wat sorg dat kinders boeke lees? Ander bevolkingsgroepe?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top