Die oorlog is verby, kameraad

  • 0

As dit nie was dat ek en MG verlangse familie was nie, sou ons paaie seker nooit gekruis het nie. Hy het in ’n armblankewoonbuurt grootgeword en ek in ’n middelklasbuurt. Dit was in die omgewing van 1974 dat ons vriendskap ’n aanvang geneem het. Ek onthou hoe ons een aand op die stoep van my ouerhuis gestaan het en hoe hy, op sy tipies langdradige manier, vir my verduidelik het hoe om parallelparkering te doen. Hy het toe daar in Port Elizabeth se strate my instrukteur geword vir my rybewys.

In daardie stadium het ek die Sestigers begin lees, en alhoewel ek en MG uit verskillende kulture gekom het, het ek uitgevind dat hy op my golflengte was. Ons kon saam filosofeer en ek kon hom voorstel aan skrywers soos Etienne Leroux. Op sy beurt het hy my bekendgestel aan Chris Barnard se bekroonde hoorspel Die rebellie van Lafras Verwey, wat hy van die radio af op ’n kasset opgeneem het. Ek het my eie kopie gemaak en kon ook gelukkig baie jare later die hoorspel op CD by die SAUK te koop kry. Die hoorspel het sy debuut op Radioteater in 1971 gemaak, onder spelleiding van Cor Nortjé, met Cobus Rossouw as Lafras Verwey en Joey de Koker as Petra. Die stuk is ook in 1970 met die eerste prys bekroon in ’n hoorspelkompetisie uitgeskryf deur die Belgische Radio en Televisie.

Chris Barnard, een van my gunsteling-Sestigerskrywers, is 10 jaar gelede, in 2015, oorlede en ek het hom nie lank voordat hy hierdie wêreld verlaat het nie, in Stellenbosch opgemerk. Dit was tydens die Woordfees in die eetkamer van ’n gastehuis. Ek het nie met hom gaan praat nie, want hy het moeg gelyk en nie in ’n bui vir gesels nie. Ek neem aan hy was in sy eie persoonlike oorlog gewikkel – die stryd met dit wat saam met die ouderdom kom. Ek sou hom graag wou vertel hoedat sy storie oor Lafras Verwey amper ’n soort Bybel vir my en my vriend geword het. Dit het ons groot genot verskaf om gedeeltes van die dialoog, wat na baie luisters deel van ons geheue geword het, op gepaste tye aan te haal. Om verskillende redes het ek en MG geïdentifiseer met die karakter van Lafras: MG as gevolg van sy armoedige agtergrond en ek omdat ek ’n skugter buitestander was.

Die tragikomiese hoorspel handel kortliks oor ’n “loser”, ’n staatsamptenaar genaamd Lafras Verwey, wat droom om uit sy vaal omstandighede te ontsnap. Lafras word genader deur ’n man wat hom vra om geheimsinnige pakkies vir hom af te lewer. Lafras spreek die man aan as “kameraad”, omdat hy dink dat hy deel is van ’n komplot om die regering omver te werp. Wat Lafras nie geweet het nie, is dat hy betrokke geraak het by ’n bende wat dwelms smokkel. Ek en MG het mekaar dan ook dikwels spottend as “kameraad” aangespreek.

Onbeantwoorde liefde word ook deel van Lafras se verhaal, en dit was iets waarmee ek dikwels kon identifiseer. Lafras kom af op ’n verwagtende vrou, Petra, wat flou geword het, en hy bied aan dat sy hom na sy woonstel vergesel om aan te sterk. Lafras raak sommer gou verlief op Petra en oorreed haar om die nag oor te bly. Hy vertel haar dat sy lewe in die armsalige woonstel net tydelik is, en dat hy ’n uitstekende musikant is wat besig is om ’n simfonie te komponeer. “Ons kon getrou het, as jy gewou het,” sê hy vir haar. Aanvanklik glo Petra Lafras se stories, maar kom later agter dat hy in ’n droomwêreld lewe. Sy vertel hom dat sy nog steeds verlief is op die man wat haar swanger gemaak het en toe verdwyn het. “Swerkater,” brom Lafras teleurgesteld by homself.

Begin 1980 is ek weermag toe en die kommunikasie tussen my en MG was toe deur middel van briefwisseling. Lang briewe, waarin daar ook dikwels Latynse frases was wat ek nie verstaan het nie. Die hoërskool in die armwoonbuurt waar MG ’n leerling was, het sowaar Latyn as ’n vak aangebied, en hy het goeie punte daarvoor in sy eksamens gekry.

Vir ongeveer 15 jaar het MG as ’n klerk vir die Spoorweë in Mosselbaai gewerk en soos Lafras met sy fiets werk toe gery. Met die verandering van die regering het hy ’n pakket geneem en teruggekeer Port Elizabeth toe. Van toe af het dinge beroerd begin gaan en het hy meestal as ’n veiligheidswag gewerk. Eenmaal het ek hom besoek by die triestige Swartkopshotel, waar hy in ’n donker agterkamer sonder ’n enkele venster gebly het.

Ten spyte van sy swaarkry was hy dikwels die een wat my probeer opbeur het wanneer ek neerslagtig gevoel het. Eenmaal in ’n antwoord op ’n donker SMS van my was sy raad aan my: “Nee man, gee net ’n muntstuk vir die koerantverkoper daar op die hoek, knoop met hom ’n gesprek aan, en jy voel weer beter.”

’n Paar jaar voor sy dood moes hy weer verhuis, na ’n ander mismoedige deel van die stad. Port Elizabeth se naam het intussen verander na Gqeberha, en MG, wat nog steeds lief was vir tale, het my probeer leer hoe om dié naam reg uit te spreek. Die blok waarin hy nou ’n woonstel gehad het, het hy gou die “ghetto” gedoop en dit was voorwaar ’n plek uit die hel, vol werkloses en dwelmhandelaars en verslaafdes. In hierdie stadium het hy oorleef van die karige Sassa-pensioen wat ek darem maandeliks vir hom met ’n bedrag geld kon aanvul.

Ek was in Kaapstad toe ek die Sondagoggend ’n oproep van hom kry. Hy het gehyg na asem en ek kon sy stem skaars herken. MG was sy hele lewe ’n strawwe roker en sy hart en longe het die gees gegee. Later daardie middag het die opsigter onraad vermoed en die polisie ontbied wat hom dood op die vloer gevind het.

*

In die middel van die nag het Petra angstig vir Lafras in die sitkamer wakker gemaak om te sê dat sy dink haar water het gebreek. Lafras het in sy onkunde vir haar gesê dat dit niks is nie en dat die glas al buitendien oud was en sy net moet oppas om nie in die glasstukke te trap nie. Toe moes hy egter inderhaas vir Petra met sy fiets by die hospitaal se kraamafdeling kry. Toe hy later daardie nag terug  by sy woonstel kom, het die polisie hom ingewag. Lafras het vinnig by sy woonstel ingeglip en met ’n sukkelende ou geweer op die polisie begin skiet. Hy was nog steeds onder die indruk dat hy vir ’n “beter wêreld” veg. Lafras word noodlottig gewond en deur ’n konstabel dood op die vloer aangetref. Die hoorbeeld eindig met die stem van ’n sersant wat sê: “Gaan sê vir die ander die oorlog is verby. Hulle kan maar kom.”

Lees ook:

Om Bibi Slippers in Gqeberha te vind: ’n lesersindruk van Soekenjin

Die laaste soen

Onsigbares en gelukkige eindes: ’n gesprek tussen PJO Jonker en Hennie Aucamp

In gesprek met Kleinboer oor die kosmos en sy bundel erf en elders

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top