Die ooggetuie deur Wilna Roux, ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Skrywer: Wilna Roux
Titel: Die ooggetuie
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 978-0-7981-8534-9

Hoogtyd. Afrikaanse spanningsfiksie smag al jare na ’n lekker hofdrama-reeks, met klem op reeks. Wilna Roux antwoord met ’n moerse sterk debuut, naamlik Die ooggetuie. Sy het ’n regsagtergrond, so sy ken al die tegniese detail wat gewone skrywers sou verkeerd hê en ons in John Grisham se hofromanse vasgevang het.

Kan sy skryf? Sy noem in haar onderhoud aan Phyllis Green (Sarie, 30 Junie, “Boeiende hofdrama vol kinkels”) dat sy ’n hele aantal skryfskole bygewoon het. En haar boek getuig daarvan. Ek wil wel in haar volgende boeke meer “wys” en minder “vertel” beleef.

Op die oog af volg sy Grisham se formule slaafs. Dit lyk of ’n groentjie gaan hoog vlieg. Julia Blomerus word immers op die agterbladteks as ’n kamerprokureur in Izak Marais se regspraktyk voorgestel. En ons lees:

“Jy het my Worcester toe laat kom om jou boedels te behartig. Jy het gesê ek hoef nooit hof toe te gaan nie, behalwe om sake uit te stel [...].” (bl 49)

Maar dan beland Izak (oom Sakkie) te midde van ’n groot hofsaak in die ICU. Nie enige saak nie – ’n plaasmoord. Lizanne Malan word aangekla van die moord op haar man, Nick.

“Volgens die testament is jy die enigste erfgenaam. Maar jy kan nie erf indien jy skuldig bevind word daaraan dat jy Nick vermoor het nie. Die Hollanders het gesê: ‘De bloedige hand neemt geen erf.’ [...].” (bl 67)

Julia moet dus bewys dat Lizanne onskuldig is. Om dinge te kompliseer is sy oortuig dat Lizanne wel skuldig is. As Lizanne skuldig bevind word, moet alles, volgens Nick se testament, na sy ma toe gaan.

Dit is waar die formule stop. Soos ons lees, ontdek ons dat Julia nie ’n kamerprokureur is nie. Sy was al in die hof ... en beleef trauma weens ’n saak.

“Hy is agter tralies, Julia. Ek het met Bobby gepraat. Hy gaan nog lank daar bly. Jy is veilig. Ek belowe.” (bl 49)

Hierdie vrees maak nie net die karakter driedimensioneel nie (ek het nog nooit die trauma wat met hierdie beroep saamgaan, so sterk ervaar nie) – dit bou ook onderliggende spanning op. Ons lees te gereeld in die media van slagoffers se vrees oor misdadigers wat skielik op parool vrygelaat is en die minister Groenewald wat van hulle weer terugstuur. So, enigiets is moontlik. Ons wil dus tegelyk die hofsaak volg én meer van die hofsaak, waarin sy Willem Coetzee verdedig het, weet.

Hierdie boek is egter nie net ’n straight forward hofdrama nie; dit is gedeeltelik krimi. Wie het vir Nick vermoor? Waarom? Wie is die sleutelgetuie?

Roux is nie die eerste persoon wat hofdramas in Afrikaans skryf nie: die Kaapse advokaat François Smuts (Slagoffer), afgetrede senior advokaat Chris Marnewick (Redelike twyfel) en andere het al daardie genre aangedurf.

In Smuts se geval kon hy nie die spanningsboog in die tweede en derde dele, die speur-en-hofdrama, styf genoeg vastrek nie. Marnewick het lesers die verrassingselement ontneem deur vroeg in die verhaal die suspisie op ’n karakter na aan die beskuldigde te vestig.

My slotsom? Die ooggetuie is die een boek wat John Grisham sou wens hy het geskryf.

Lees en kyk ook:

Redelike twyfel deur Chris Marnewick: ’n resensie

Olé vir die matadors van die howe. ’n Lesersindruk van Slagoffer

Slagoffer deur François Smuts: ’n FMR-resensie

Vyfsterboek! Die ooggetuie deur Wilna Roux, ’n lesersindruk

LitNet wag op jou lesersindruk!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top