Redelike twyfel deur Chris Marnewick: ’n resensie

  • 0

Redelike twyfel
Chris Marnewick
Protea Boekhuis, 2018
ISBN: 9781485304258

Danél Hanekom, Protea Boekhuis se redakteur wat hierdie publikasie versorg het, is vermoedelik ook verantwoordelik vir die raak opsomming in die bandteks op die agterplat: “Die jong advokaat Manon Viljoen”, lees ons, “word in ’n hoëprofiel-moordsaak aangestel as amicus curiae, vriend van die hof, om ’n regverdige beslissing te verseker. Die beskuldigde is Charles Mouton, ook ’n advokaat, wat een oggend langs sy vermoorde vrou wakker word. Hy beweer dat hy nie weet wat gebeur het nie.”

“Manon kom van aangesig tot aangesig met haar eertydse groot liefde – nou regter Nantes Castel – te staan. Na-ure ontvlug sy met haar motorfiets terwyl sy wonder oor haar gevoelens vir hom. Het sy hom nog lief? Bedags soek sy na die waarheid, maar loop telkens ’n bloutjie: moeilike getuies, die halstarrige Charles wat homself nie verdedig nie, dreigemente deur die Staatsveiligheidsagentskap en vreemde omstandigheidsgetuienis. Oral, so lyk dit vir Manon, is daar twyfel. Maar is dit redelike twyfel?”

Redelike twyfel het van die begin af my nuuskierigheid as regspraktisyn geprikkel, want dit vertrek uit ’n ongewone hoek: die begin van die verhoor van ’n moordsaak. Die leser moet maar geduldig wag om te verneem wat daartoe aanleiding gegee het.

Op ’n swart bladsy, wat hoofstuk 1 voorafgaan, lees ons in vetgedrukte wit letters: “Openingsrede”.  Dit is ’n “uittreksel” uit ’n lesing oor verhoortegniek wat die beskuldigde in sy hoedanigheid as senior advokaat vantevore vir aspirant-advokate gelewer het. Dit bevat nuttige wenke oor hoe ’n openingsrede aangepak moet word.  Dié vindingryke patroon word plek-plek in die boek met soortgelyke swart insetsels gevolg, namate Mouton se verhoor vorder: wenke oor die lewering van getuienis-in-hof; die tegniek van kruisverhoor; en oplaas die moets en moenies van die advokaat se slotbetoog.

Die skrywer skets op ’n meesterlike wyse die spanning wat alle regspraktisyns op daardie noodlotswanger oomblikke ervaar voordat die verhoorregter vir die eerste keer sy opwagting maak. Met die aanvang is regter Castel gou oorhoops met die groot aantal mediaverteenwoordigers en hul televisiekameras wat die verrigtinge lewend wil uitsaai in die hofsaal. Dit is steeds ’n omstrede aangeleentheid — veral ná die Oscar Pistorius-sage. Ek gaan nie verklap wat die uitkoms van dié relletjie is nie, behalwe om daarop te wys dat die skrywer tereg fokus op die sterk onafhanklike houvas wat ’n regter op die verloop van verrigtinge in “sy” hof behoort te hê. Dit word dikwels met gepaste hofepisodes geïllustreer.

’n Ander interessante invalshoek is die rare verskynsel dat die beskuldigde oënskynlik nie ’n snars omgee wat sy lot oplaas gaan wees nie. Hy weier regsverteenwoordiging en dit lei tot ’n eweneens ongewone verskynsel dat die hof ’n advokaat as “vriend van die hof” (amicus curiae) aanstel — nie soseer om die beskuldigde te verdedig nie, as om (binne perke) te help dat daar ’n regverdige uitkoms sal wees. Die vergoeding vir sulke dienste is skraps, en dit kan ’n advokaat se praktyk skade berokken (veral as die verhoor uitgerek is), maar dit kan ook tot roem en aanloklike nuwe opdragte lei.

Castel se keuse val op ’n jong vroulike advokaat. Sexy Manon is om verskeie redes teësinnig, maar die skrywer beklemtoon dat sulke opdragte nie maklik geweier mág word nie. Sy gooi versigtig diékant en dááikant toe wal, maar as daar oplaas nie ’n eerbare uitkomkans is nie, neem sy haar taak besonder ernstig op: Dalk om die regter (haar ou liefde) te beïndruk en opnuut te verlei? Dalk omdat sy met ’n stok kan aanvoel daar’s iewers ’n slang in die gras? Dalk omdat sy klaarblyklik hoogs intelligent is; druk kan verwerk; gou tot die kern van ’n probleem deurdring; knap met kruisverhoor is — en dit als boonop geniet? Of dalk net omdat sy van uitdagings hou; avontuurlustig is (haar gunsteling ryding is ’n warm BMW-motorfiets) en ’n ervare duiker is wat oplaas, geklee in ’n duikpak, met genoeg getuienis vorendag om die verhoor in ’n onverwagse rigting te swaai.

Daar is helaas ’n paar onwaarskynlikhede in die verhaal. Wat my die meeste pla is hoe ’n uiters bekwame advokaat in die nag langs sy vrou se erg verminkte lyk wakker word en glad nie weet wat gebeur het nie. Hy vergemaklik selfs die vervolgingsgesag se taak aansienlik deur te verklaar dat dit net sowel hy kon wees was wat haar vermoor het; hy wéét nie. Sy komplekse persoonlikheid — wat gaandeweg geskets word — bied nie die antwoord nie, en dit laat jou oplaas met ’n gevoel van:“Nee, dít werk nie”.

Ek meen ook dat die Staatsveiligheidsagentskap spreekwoordelik by die hare bygesleep word — eers tentatief, maar later blatant. Dit pla heeltyd waarom die beskuldigde ’n jáár lank nadat hy in hegtenis geneem is nie op borgtog vrygelaat is nie en, nogal ongewoon,  deurgaans in ’n polisiesel aangehou word. Die uiteindelike ontknoping van dié raaisel — die sleutel is die beskuldigde se spesialiteitsrigting as advokaat — vind ek ook maar moeilik om te sluk (alhoewel ons in ’n tyd leef waar die waarheid dikwels vreemder as fiksie is).

Dan begaan die skrywer ook ’n taktiese fout deur betreklik vroeg in die verhaal die suspisie op ’n karakter ná aan die beskuldigde te vestig, wat afbreuk doen aan die getuienis wat aan die einde rondom dié karakter ontvou. Die verrassingselement is dus vir my gevoel al vroeg daarmee heen.

Daar is versagtende omstandighede vir die paar elemente wat pla: dié boek was Chris Marnewick se bydrae vir 2016 tot die jaarlikse internet-gebaseerde “National Novel Writing Month” (kortweg Nanowrimo). Dit is ’n projek om veral jonger skrywers aan te moedig om kreatief te begin skryf. Die kinkel is egter dat ’n manuskrip van 50 000 woorde streng tussen 1 en 30 November gelewer moet.  Dit kom neer op 1667 woorde per dag. Voornemende skrywers word toegelaat om vooraf hul huiswerk en beplanning te doen, maar niemand mag vóór die aanbreek van 1 November begin skryf nie, en die sleutelborde moet om middernag op 30 November tot rus kom. Daar is geen pryse op die spel nie — wonderlik! Lees gerus meer oor dié verbeeldingryke projek by www.nanowrimo.org.

Uit dié oogpunt dus: welgedaan, Chris!

Redelike twyfel se groot verdienste lê daarin dat ons met ’n hofdrama te doen kry wat in elke opsig geloofwaardig is, vir soverre dit betrekking het op die korrekte proses wat gevolg word, regsterminologie wat sekuur gebruik word en ’n uitbeelding van wat genoem word hof-decorum: rolspelers se gedrag wat getuig van waardigheid en goeie smaak. Die ervaring van die skrywer, self ’n senior advokaat, is in dié opsig ’n reuse-aanwins. 

Om dit prakties te illustreer: onlangs is die tweede seisoen van die Afrikaanse televisiedrama Sara se Geheim op kykNET (kanaal 144) uitgesaai.  Dié veelkantige verhaal wentel onder meer rondom ’n bisarre tradisie in ’n universiteitsmanskoshuis wat die bedwelming en verkragting van vroulike studente as ’n soort “inlywingseremonie” vir koshuisnuwelinge behels. Twee van hulle word oplaas aangekeer, verhoor en skuldig bevind. Die hoftonele, en veral die dialoog, is uit ’n regsoogpunt ’n fiasko.  Die voorsittende beampte is ’n streeklanddros, maar hy word bykans deurgaans as “u edele” (gepas vir ’n regter) aangespreek.  Net een keer, as ek reg onthou, word hy korrek as “edelagbare” aangespreek. 

Die verdediging word, ongewoon, om die beurt deur ’n vroulike advokaat en ’n manlike prokureur (wat ingehok by ’n klein tafeltjie sit) waargeneem. Die advokaat dra ’n toga (sonder die vereiste wit beffie), wat natuurlik nie die gebruik in ’n landdroshof is nie: dáár verskyn advokate sonder togas. 

Wanneer een van die beskuldigdes onder “kruisverhoor” (wat eintlik neerkom op emosionele druk deur die staatsaanklaer) knak en skuld beken, vlieg sy prokureur spontaan op en verander teatraal sy aanvanklike pleit van “onskuldig” na “skuldig” —onder om eers daaroor met sy kliënt te beraadslaag. Ag tog, daar is nog talle sulke onjuishede wat, ongelukkig, die kykers aan hulle neuse lei en laat glo dis maar hoe dit is.

Hier is ’n wenk vir skrywers wat regselemente in hul spanningsromans of televisiedramas wil inbou: raadpleeg eers iemand soos Chris Marnewick SC – Redelike Twyfel se skrywer.  Of lees dan maar net die verhaal en let op die netjiese en pynlik akkurate uiteensetting van ’n hofdrama en hoe die dramatis personae hul in hofsake behoort te gedra.

Dié begaafde skrywer verdien ook erkenning as ’n meester van die kuns van motorfietsry. Ek wed jou sy gunsteling is ’n BMW F800GS Adventure. Sy beskrywings van Manon se avonture met háre, is plesierig. Vergeet ook nie sy klaarblyklike insig in dames- en mansmodes én ’n raaiselagtige binnekennnis van wat in die kleedkamer van vroulike advokate aangaan nie.

Protea Boekhuis het ’n “mooi” boek hiervan gemaak — al is die illustrasie op die voorplat ietwat voorspelbaar: die geblinddoekte “lady justice” met die weegskaal in haar linkerhand. (Ek hou egter van die meegaande skets van Manon wat met haar BMW-motorfiets teen ’n ondergaande son om ’n draai zirts.)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top