
Titel: Slagoffer
Skrywer: François Smuts
ISBN: 9780795802201
Uitgewer: Queillerie
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
François Smuts se Slagoffer is ’n interessante werk wat verskyn het – en weer verdwyn het. Ook in my huis. Ek het die boek by verskyning gekoop en, wragtie, dit het tussen my ander boeke beland en is nooit gelees nie. Nou, ná ’n trek en die uiteindelike regpak van die boekrakke, kom ek weer daarop af.
Slagoffer was ’n baie aangename verassing.
’n Hofdrama
Afrikaans het baie krimiskrywers, maar hofdramas is nie deel van ons lekkerleeskultuur nie. Smuts takel dié probleem en gee vir die leek ’n deeglike insig in die manier waarop die verdediging te werk gaan om kliënte te verteenwoordig wat oënskynlik duidelik skuldig is, maar ook genoeg geld het om hulself te (laat) verdedig.
Aan die einde van die boek sê Smuts self dat hy die roman geskryf het oor “die afgryslike onreg wat die media aan Fred van der Vyver gedoen het”. Nou ja. Dit is juis waarom ek hierdie boek aanbeveel, want as jy wil weet hoe die verdediging ’n saak – wat skynbaar totaal hopeloos is – aanpak, lees hierdie roman. Ek het werklik die rare insae in ’n verdedigingsrespons baie, baie geniet.
Smuts is self ’n advokaat en hy het rojaal met François van Zyl SC, die advokaat wat Shrien Dewani verdedig het, se kennis omgegaan om sy eie aan te vul.
Fassinerend. Werklikwaar.
Wie is die slagoffer?
Die hoofverhaallyn is eenvoudig en slim.
Dawid Neethling laat hom in ’n liefdelose huwelik vang en raak dan verlief op ’n bitter sexy jonger meisiekind om ’n stomende affair mee te hê. Sy is ’n vrou wat die liefde, die lewe én die dood tart.
Sy is beeldskoon en seksueel onuitputlik.
Sy is ook onmoontlik om in toom te hou. ’n Verhouding, enige verhouding, het reëls en sy oortree hulle gereeld.
Wanneer Dawid finaal, en taamlik openlik, van haar wegstap, word sy vermoor.
Alle vingers wys na Dawid. Vir die polisie is daar ’n eenvoudige saak om op te los. Dawid word gevang en dan begin die hofprosesse.
Is Dawid werklik onskuldig?
Die verdediging doen alles wat hulle kan om ’n alternatiewe moordenaar te vind. Ek wil nie te veel verklap nie, maar dit is belangrik om te besef dat die staat ’n taamlik digte saak het, terwyl die verdediging na enige iets gryp – en dit dan dalk, miskien ook kry.
Is Dawid dus ’n slagoffer? Of is hy ’n koelbloedige vent wat genoeg geld het om los te kom?
Lees gerus self en besluit maar.
Vele vlakke
Die boek is slim en trek verskillende filosofieë rondom die moordstorie byeen. Daar is drie subvertellings wat saam met die hoofstorie loop:
- ’n soeke na geloof en die rol van die Grieks-Ortodokse kerk
- bulgevegte
- die duende.
Die duende gaan ek nie eers probeer verduidelik nie – lees gerus die boek. Ek sou dit, heel waarskynlik verkeerdelik, kon opsom as “doodsveragtende passie”. Maar nog eens, lees gerus self en kyk die film wat Smuts agter in die boek noem.
Oor bulgevegte wil ek nog minder sê. In my oë is dit ’n sonde om diere te mishandel, maar soos André P Brink, het Smuts onder die ban van hierdie bloedsport gekom. Sy beskrywings is goed, maar walglik. Dit sal sensitiewe mense erg ontstel.
Die hele boek is egter geskoei op die verskillende stadia van die geveg – die advokate word die stiervegters in ’n ou rituele drama wat volgens fyn reëls bepaal word. Dit is slim. Dalk té slim, maar ek knik my kop na Smuts en sê “Olé!” vir sy poging. Ek kan sien wat hy wou doen en dit is uiteindelik indrukwekkend om die spel so dop te hou. Die reg mag blind wees, maar vir die leek, die toeskouer, is die wigte en teenwigte wat so noukeurig geweeg word, baie interessant.
Dan is daar die soeke na God. Werk dit? Ek dink die teologie van die priester is subliem. Regtig, ek het sy rustige antwoorde op Dawid se skeptiese aanvalle baie geniet.
Maar werk dit? Dit sal lesers maar self moet besluit. Dit val dalk nie in almal se smaak nie.
Die slotsom?
Ek het Jean Meiring se resensie van Slagoffer gelees ná ek die roman klaar gelees het, want ek wou nie beïnvloed word nie.
Meiring bevind: “Tog is daar ongelukkig ’n breuk tussen Smuts se groot idees en hoe hulle tot uitvoering kom. Al die baie skarniere en hefbome in dié stoutmoedige debuut is nie almal ewe mooi geolie nie.”
Meiring is reg.
Dit is al of die vreeslik baie dele van die boeke nie mooi met mekaar sinchroniseer nie. Smuts probeer dalk te hard. En die herhaalde gebruik van die verlede tyd raak opvallend, dan steurend.
En ook, wanneer die ander (moontlike) moordenaar ontdek word, bly die vraag by die leser of dit nie als dalk té toevallig is nie. In fiksie, soos in die hof, word toeval geweeg en dikwels te lig bevind.
Verskeie redes word deur die loop van die verhaal duidelik waarom dit nie nodig sou wees om die toeval te verduidelik nie, en die verhaal werk steeds, maar dit bly knaag.
Dus: Werk die verhaal? Ek dink so, al is daar goed wat pla.
Alet Mihalik se resensie is myns insiens in die kol. Sy kon die komplekse aard van die boek met sagte hande hanteer.
Eintlik wil ek dit sterker stel en beklemtoon dat Slagoffer ’n fassinerende roman is wat ek graag aanbeveel, veral as jy (as leek) belangstel in die strafproseswet. Ek het ook – weens my eie belangstelling in die teologie – groot aanklank gevind by die gesprekke oor skuld in die oë van ’n god, of God, afhangende van die leser se keuse.
Slagoffer is soos ek, die leser, nie sonder foute nie, maar dit is ’n fassinerend boek.



Kommentaar
Ek hou glad nie van reëls nie, maar besef tog te goed hoe belangrik reëls is. Toe lees ek onlangs iewers ’n interessante gesprek oor die gebruik om God met ’n hoofletter te skryf. God is soms ’n selfstandige naamwoord bv. Griekse god. Maar God is ook soms ’n eienaam. Net soos Wodan. Of Koos. Eiename word met hoofletters geskryf. Dit is blykbaar die onderskeid.
Wonderlike bespreking van die boek! Ek hou van ’n stukkie kraaim fiksie as ek tyd kry.
Snotjan, ja. Dis 'n wonderlike opmerking wat jy daar maak. Dankie.
As 'n opperwese op die naam aangespreek word, dan geld die hoofletter. En iemand wat gelowig is en glo in 'n enkele opperwese, sal dus die wese op haar naam noem. Dan geld die hoofletter.
Maar kom ons neem hierdie sin: "Vir baie mense het geld 'n god geword." (Ek plaas opsetlik die 'n voor.)
Ek vermoed jy sou dus wou sê dat die gebrek van die 'n dus 'n hoofletter sou moes laat beteken? "Vir baie mense het geld God geword."
Die gesprekke in 'Slagoffer' handel oor iemand wat waaragtig glo, en iemand wat homself nie so ver kan bring om sy eie geloof, of gebrek daaraan, uit te werk nie. (Maar nou oorvereenvoudig ek al weer.)
Dankie. Is lekker om op my tone gehou te word.
Ek sou dink dis 'n metafoor. Die geld wat god is. En nie 'n eienaam nie. Maar hoe ook al, ek is geen taalkundige en berus gewoonlik grotendeels by wat proeflesers/redakteurs besluit.
In die Bybel is daar 'n karakter met die naam van God. Daarom die hoofletter G. Die Griekse god se naam is Zeus. Daarom die hoofletter Z.