Slagoffer deur François Smuts: ’n resensie

  • 1

Slagoffer
François Smuts
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795802201

Die titel van dié debuutroman deur die Kaapse advokaat François Smuts is met voorbedagte rade dubbelsinnig. Dit kon net sowel die meervoud-s agteraan gehad het, want uit die rondomteks en gaandeweg uit die verhaal se ontknoping raak dit duidelik dat Smuts, benewens die karakter wat in die vertelling beswyk, ook spesifiek vir Dawid Neethling, die antiheld, as ’n slagoffer wil skets. Trouens, in die bedankingsteks agterin plaas die skrywer vir Neethling storiematig in die skoene van Fred van der Vyver, wat in 2007 vir die moord op sy meisie, ’n Stellenbosse student, vervolg is; hy is kwytgeskeld, maar die media (eerder as die vervolgingsgesag?) het hom ’n “afgryslike onreg” (ongenommerde bladsy) aangedoen.

Dawid Neethling, ’n suksesvolle Stellenbosse psigiater, is in ’n kinder- en liefdelose huwelik vasgevang. Met die boek se oopval kruis sy paaie met dié van ’n geheimsinnige jong vrou, Eva Rodriguez. Aan die begin van die eerste van die drie dele waarin die boek opgedeel is, laat die alwetende derdepersoonverteller reeds die suggestie deurskemer dat die “media later uitbundig [sou] berig” (17) oor Neethling se heel eerste blik op wie éérs sy pasiënt en daarna sy minnares sou word. Soos met so baie buite-egtelike verhoudings gaan sake redelik hortend en stotend hul gang totdat ’n te verwagte krisis, aan die einde van deel een, soos ’n bliksem tref – waarna die polisieondersoek, voorbereiding vir die hofsaak en die afloop van die hofsaak self in die tweede en derde dele ontvou.

Dié indeling in derdes eggo eksplisiet die onderdele van die tradisionele Spaanse stiergeveg, wat Dawid op besoek aan Spanje met sy half-Spaanse minnares leer ken. Vandaar dan die storie se sekwens: die derde van die lanse, van die harpoene – en, uiteindelik, van die dood.

Daar is geen twyfel nie dat Smuts kan skrywe. Hy skep ’n storie wat van selfversekerdheid spreek en wat vlot. Boonop is sy idees ambisieus; hy poog om die ondermaanse gebeure teen ’n groter doek te gooi, iets van ’n Eikestadse weergawe van die agterkant van Plato se grot.

Die roman is inderdaad tegelyk baie dinge.

In die eerste derde bied die verteller ’n kameestudie van Dawid en sy vrou Ingrid, en van die ander newekarakters, enkele vriende, kollegas en familielede, wat dán reeds op die verhoog is. Ook natuurlik van Eva en haar en Dawid se affaire. Daar is terugflitse na die verlede. Elke dan en wan word die vertelling afgewissel met korterige inskrywings (in kursief) wat Eva in haar dagboek maak en spesifiek aan “duende” rig, die spesifiek Spaanse idee van die lewegewende gees, deur onder meer die flamenkodans vergestalt.

Hierdie deel van die verhaal is intern heel netjies samehangend. Smuts slaag daarin om die verskillende storielyne vernuftig bymekaar te snoer. Tog is daar ook enkele lomphede. Tydens Dawid en Eva se besoek aan Spanje byvoorbeeld begelei haar ma se neef Juan hulle na ’n stiergeveg toe. In lang grafsteentjies direkte spraak word hy die spreekbuis vir ’n uiteensetting van die filosofie onderliggend aan die stiergeveg.

Die tweede en derde dele, daarenteen, vertoon baie van die formele eienskappe van ’n liniêre speur-en-hof-drama. Tog gaan dit hier nie primêr om die uitpluis van die identiteit van die moordenaar nie – dít word redelik vroeg uitgelap. En weens die vertelstrategie het die leser uit die staanspoor betreklik min twyfel daaroor dat dit nie Dawid se hande is wat rooi is nie. Die spanningslyn ontstaan eerder uit die vraag of – en dan: hoe – Dawid se span, bestaande uit ’n vername senior vroueadvokaat, ’n ervare prokureur en etlike private ondersoekers, die dwingende omstandigheidsgetuienis teen Dawid, die afvlerkminnaar, sal kan weerlê.

Tog is daar ongelukkig ’n breuk tussen Smuts se groot idees en hoe hulle tot uitvoering kom. Al die baie skarniere en hefbome in dié stoutmoedige debuut is nie almal ewe mooi geolie nie.

Die vernaamste probleem is juis die gebrek aan samehang tussen die eerste deel van die vertelling en dele twee en drie daarna. Deel een vorm op sigself ’n novelle in die kleine. As die gordyn op die tweede deel lig, verskyn daar naas hoofsaaklik Dawid en sy frappant-benoemde vriend Barnabas ’n gans nuwe rolverdeling. Die motivering vir die Spaanse struktuur en kleur, wat selfs in die eerste deel dungeskaaf was, verdwyn volkome. Enkele terloopsies uitgesluit, is die tweegesprek met duende van die baan; nou word koerantberigte elke dan en wan as newetekste geplaas.

En ten spyte van die groot selfvertroue waarmee Smuts as binnestander oor die polisieondersoek en die hofproses skrywe (op een vlak is dit gewis lekker om so ’n helder en sekure uiteensetting te lees) is die spanningsboog in die tweede en derde dele, die speur-en-hof-drama, net nie styf genoeg nie. Daar is nou wel ’n klompie esse en draaie, maar baie daarvan, onder meer die bendeverwante kinkels, word nooit behoorlik uitgestryk nie en kom derhalwe as oppervlakkig voor. (’n Mens wonder enduit oor ’n sekere vingerafdruk wat in die narratiewe niet verdwyn …)

Die gevoel kan nie vermy word nie – soos ek al etlike kere oor ander boeke gesê het en Rachelle Greeff onlangs ook ten aansien van Marlize Hobbs se Voëlvrou – dat Slagoffer by ’n heelwat strenger redigeersweep sou gebaat het, beide wat die ontwikkeling van die groter struktuur en die intrige en aspekte van die taal en vertellersaanslag betref.

Ten eerste sou so ’n redakteur vir Smuts gesê het dat sy selfverklaarde darling – sy Kastiliofilie – niks meer as ’n patina op die storie is nie en inderdaad struktuurhoofbrekens skep. Ook skouer dit om aandag teen die uittogte in die Ortodokse geloofsisteem in. Tweedens sou sy sê dat die konsekwente gebruik van die verlede tyd – vir die hoofvertelling én die terugflitse – die storie aan onmiddellikheid en nodige afwisseling laat inboet.

Ook is daar ’n aantal ongeloofwaardighede in die verhaal én kleiner haperpunte – in ’n boek wat duidelik ’n liefdestaak was.

Bestaan daar in die Afrikaanse universum van vandag werklik iets soos ’n koffierestaurant? Waarom dra Eva, teen Spaanse naamgewingskonvensies in, slegs haar ma se van (wat gewoonlik op die pa se van sou volg)? En hoe kon die gebeure hier die tweede opspraakwekkende misdaad op Stellenbosch wees “vanjaar, ná die sogenaamde bylmoorde by die De Zalze-wynlandgoed” (wat in 2015 plaasgevind het) (87) en tegelykertyd in Januarie 2017 (175) plaasgevind het?

’n Mens hoop dat die verhuisingsmanne volgende keer versigtiger sal dra en dat Smuts nóg sierpotte en erdewerke, keurborde en fyn glas het om aan te bied.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top