Slagoffer deur François Smuts: ’n FMR-resensie

  • 0

Slagoffer
François Smuts
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795802201

François Smuts is ’n praktiserende Kaapse advokaat met ’n intieme kennis van – en gepaardgaande ontnugtering met – die Suid-Afrikaanse regstelsel ná 29 jaar se ondervinding as aanklaer, landdros, regter en regsadviseur. Benewens kwalifikasies in die regte van die Universiteit Stellenbosch en Unisa beskik hy oor ’n sertifikaat in Ortodokse Teologiese Studies van die Instituut vir Ortodokse Christelike Studie.

Smuts se jongste roman, Slagoffer, is deur Queillerie uitgegee.

Slagoffer is egter allermins ’n prekerige boek en Dawid, die hoofkarakter, nog minder ’n onskuldige slagoffer. Hy verduur ’n liefde- en kinderlose huwelik met Ingrid, die onstabiele dogter van Herman, ’n invloedryke lid van die sogenaamde “Stellenbosch-mafia”, omdat sy psigiatrie-praktyk van hul ondersteuning afhanklik is. Soos ’n tipiese tragiese held knoop hy ten spyte van die wyse raad en waarskuwings van Barnabas, ’n Grieks-Ortodokse priester met ’n donker verlede, én sy eie beterwete ’n futiele seksuele verhouding aan met Eva, ’n jong pasiënt en dogter van ’n buitelandse diplomaat met kontakte in die Kaapse onderwêreld. Sodoende beland hy in ’n web waaruit hy nie self kan ontsnap nie maar tog erken: “Aan die ander kant moes hy, as hy eerlik was, erken dat die gevaar deel van die lekkerte was” (68).

Smuts is ’n vernuftige woordsmid met ’n intieme kennis van die regstelsel, hofprosedures, tronktoestande en bendebedrywighede. Daarbenewens is hy wyd belese en berese, soos blyk uit verwysings na klassieke literatuur en die ontdekking van interessante kulture waarheen hy die leser oortuigend begelei. Hoewel verskeie resensente Slagoffer in die misdaadfiksie oftewel krimi-genre wil indwing, noem Smuts dit ’n hofdrama. Myns insiens kom Joan Hambidge (Woorde wat weeg, 24 Augustus 2020) waarskynlik nader aan die waarheid wanneer sy meen hierdie roman wil die subgenre van die “speur-cum-misdaadroman” dekonstrueer. Sy kom dan tot die gevolgtrekking: “Onder die vertelling is dit duidelik dat die skrywer ’n duidelike spirituele boodskap wou oordra oor menswees (en karma). Die spirituele impak van leuens (via Stephen Freeman) word ’n belangrike leidraad en motief: hoe leuens mense kan verwoes. [...] Iewers tussen ’n analise van die krimi én spiritualiteit lewer dit ’n beduidende bydrae. Hierdie leser voorspel nog ’n roman met sterk maatskaplike analises.”

Anders as by die sogenaamde misdaadfiksie, berus die spanning in hierdie roman nie by die oplossing van ’n moord nie, maar eerder die stryd (of dobbelspel) om ’n regverdige verhoor en die kwessie van geregtelike teenoor morele skuld.

Die voorbladillustrasie toon die ikoniese vrouefiguur Geregtigheid met ’n dolk in haar sy en ’n weegskaal wat nie meer omhoog vertoon word nie, maar na benede sak. Die subtitel waarsku uitdruklik: “Die liefde is blind. Én die reg.” Dit sinspeel daarop dat die idee van blinde geregtigheid, te wete regverdige regsprosesse, geïroniseer word tot ’n “blinde” regstelsel met spreekwoordelike oogklappe. Nie net lees ons dan van mislukte, ongeoorloofde en selfs noodlottige liefdesverhoudings nie, maar ook van kontroversiële aspekte soos “die media as jurie” (beter bekend as “trial by media”), bevooroordeelde of nousiende hofbeamptes en regters, en veral die oorweldigende finansiële en emosionele prys wat ’n beskuldigde betaal om sy onskuld te probeer bewys.

Die romantitel skep die verwagting van slagoffers. Die hoofkarakter, Dawid, is dan ook ’n slagoffer van ’n “blinde” regstelsel. Maar daar is ook ander slagoffers, soos sy vrou, Ingrid, ’n fisiek oorlewende maar emosionele slagoffer van ’n traumatiese geweldsmisdaad, en Eva, slagoffer van nie net ’n geweldsmisdaad nie, maar ook van politieke diskriminasie en haar pa se geheime bedrywighede. Maar dan is daar die keersy van offers wat uit liefde, erkentlikheid en dankbaarheid gemaak word – met ander woorde die Bybelse betekenis van ’n offerande. Eers ná die verrassende slot en toeligtende bedankings besef die leser dan dat die proloog, soos die romantitel, meerduidig is. Die opskrif “Sorteo” beteken “lootjie” of “lotto” en by Spaanse stiergevegte meer spesifiek watter bul en matador vir mekaar gekies word. Die dood van óf die bul óf die stiervegter bly egter ’n ewekansige dobbelspel met die noodlot.

’n Belangrike aspek van Slagoffer wat tot dusver deur resensente oorgesien is, is die naamgewing as karakteriseringstegniek. Die hoofkarakter, Dawid, is ’n psigiater wat, soos die Bybelse Dawid vir Saul moes paai, sielsgekweldes moet kalmeer. En soos sy naamgenoot die grote Goliat moes konfronteer, bevind hy hom weerloos teen ’n magtige regstelsel. Selfs sy van, Neethling, sinspeel op “nee” en “niemand”, soos hy dan ook uiteindelik besef: “Dit smaak my soms dat ek ’n curiosity value het, niks meer nie. Mense vra my die eienaardigste goed, maar my gevoel is dat ek ’n voorwerp geword het. Opgehou het om ’n mens te wees in ander se oë.”

Eva Rodriguez, die karakter wat Dawid in dié benarde posisie laat beland, is enersyds, soos die Bybelse Eva, verteenwoordigend van die universele vroulike verleidster, maar andersyds by wyse van haar van ’n skakel met die Spaanse kultuur en die stiergevegte, flamenko en duende wat belangrike leitmotiewe in hierdie roman word. Wanneer haar oom die reëls en rituele van die bulgeveg aan Dawid uitlê, snap die leser dat die romanstruktuur dié van ’n stiergeveg weerspieël en die hofsaal ’n arena vir ’n onverbiddelike skouspel waarvan die uitkoms soos deur ’n lotto bepaal word.

Eva neem flamenko-danslesse by Immaculada, ’n duidelike verwysing na die Ortodokse konsep van Moeder Maria as skuldvry. Die flamenko stel Dawid en die leser bekend aan die duende – ’n konsep wat soms bestempel word as die moeilikste vertaalbare Spaanse woord. Direk vertaal beteken dit “besetter van die huis”, iets soos ’n soort spelerige poltergees wat mense terg of treiter. In die uitvoerende kunste word dit egter omskryf as ’n ondefinieerbare vurigheid wat die toeskouer of aanhoorder meevoer na iets soos ’n sintuiglike kommunikasie met God. In Slagoffer kom Jules Evans se waarskuwing in sy artikel “What is duende?” (The history of emotions blog, 6 Maart 2014) egter te berde wanneer hy sê die duende “can be both a gift and a curse. Like a torero with a bull, an artist is engaged in a sort of dance with their duende, flirting with disaster, seeing how vulnerable and exposed they can be to their own destruction while still emerging with a flourish.”

’n Derde sentrale karakter heet Barnabas, na wie Jean Meiring in sy LitNet-resensie (8 Oktober 2020) ietwat sinies verwys as Dawid se “frappant-benoemde vriend” en dan boonop meewarig adviseer: “Ten eerste sou so ’n redakteur vir Smuts gesê het dat sy selfverklaarde darling – sy Kastiliofilie – niks meer as ’n patina op die storie is nie en inderdaad struktuurhoofbrekens skep.” Dié naam wys trouens na die Bybelse Barnabas, oftewel Josef, ’n Joodse Leviet afkomstig uit Siprus wat kort na Jesus se opstanding bekeer is en toe deur die apostels herdoop is tot Barnabas, wat “bemoediger” beteken. Toe baie Christene na Antiogië, ’n Griekse stad in die destydse Sirië, gevlug het om vervolging vry te spring, is Barnabas deur die apostels daarheen gestuur om hulle te bemoedig. Die gemeente het vinnig gegroei en word algemeen beskou as die bakermat van die Christendom, met Barnabas as stigterslid. Eweneens is die karakter Barnabas ’n Grieks-Ortodokse priester met ’n donker verlede wat Dawid begelei na die bewuswording van ware Christenskap, naamlik onbaatsugtige naasteliefde en selfopoffering.

Hambidge meen die “vrywillige opheffing van ongeloof” word te ver gevoer by ’n paar voorbeelde wat volgens haar ongeloofwaardig is. Meiring verwys ook na “’n aantal ongeloofwaardighede in die verhaal” soos dat die “sogenaamde bylmoorde by die De Zalze-wynlandgoed” wat in 2015 plaasgevind het volgens hom “tegelykertyd in Januarie 2017 plaasgevind”. ’n Vinnige Google-soektog los die probleem op: Die De Zalze-moorde is wel op 27 Januarie 2015 gepleeg, maar die moordverhoor in die Kaapse Hooggeregshof het eers op 4 April 2017 begin.

Daarenteen is sommige verwysings nogal baie na aan die werklikheid. Advokaat Leo van der Walt herinner byvoorbeeld sterk aan die bekende vroueregter Leo van den Heever, veral waar sy waarsku: “Die reg is ’n stomp instrument” (256). Ook die fiktiewe Kaapse polisiehoof, luitenant-kolonel Lamoer, herinner aan die werklike luitenant-generaal Arno Lamoer wat in 2015 uit die polisie geskors is ná aanklagte van beweerde omkopery in verband met ’n insleepdiens in Goodwood, Kaapstad en wat glo ook noue vriendskapsbande met ’n dwelmbaas gehad het. En dan is daar die skurk, Matt Lipton, wat darem baie klink soos die berugte Mark Lifman, die selferkende “businessman gangster” en beweerde beveiligingsmafia-baas wat van verskeie misdade beskuldig word.

Meiring kritiseer die “gebrek aan samehang” tussen die eerste en daaropvolgende hoofstukke. Soos die tweeledigheid van die romantitel egter veroorloof, sal ’n betrokke leser, wat hom nie blindelings verset teen wat Meiring as die “patina van die Kastiliofilie” afmaak nie, egter weldra besef dat die proloog ook as epiloog funksioneer en dat die besoeker aan Johannes sowel Dawid as Barnabas kan wees – en dalk ook die leser wat die duende van hierdie veelkantige roman ervaar.

  • Bespreking vir FMR Boekkeuse onder redaksie van Amanda Botha. Uitgesaai 7 Maart 2021.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top