Vyfsterboek! Die ooggetuie deur Wilna Roux, ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Die ooggetuie
Wilna Roux

ISBN: 978-0-7981-8534-9
Human & Rousseau

Die ooggetuie is vir my ’n groot bederf in Afrikaans en ek is opgewonde om te hoor dié debuutboek is die eerste van ’n nuwe reeks.

Ek is ’n aanhanger van hofdramas soos Law & order, The good wife, The practice en Fynskrif. ’n Nuwe fiksiereeks met hofdramas op die voorgrond in Afrikaans kan dus net ’n wenner wees.

Wilna Roux het haar uitstekend van haar taak gekwyt met haar debuutboek en ek het hierdie storie in my kop sien afspeel.

Julia Blomerus is ’n kamerprokureur, daartoe gedwing deur omstandighede en ten spyte daarvan tog gelukkig in haar gemaksone, totdat haar werkgewer Izak Marais tydens die begin van ’n groot hofsaak ineenstort. Julia moet die saak inderhaas by oom Sakkie oorneem – baie teensinnig, want het sy haarself nie voorgeneem om nooit ooit weer haar voete in ’n landdroshof te sit nie? Die rede hiervoor sal telkemale tydens die hofsaak by Julia spook en twyfel saai in haar eie vermoëns.

Om sake te bemoeilik is Julia heimlik oortuig daarvan dat die aangeklaagde in die saak wel skuldig is aan die moord op haar man. Dit bemoeilik ook effens die verhouding tussen Julia en haar kliënt Lizanne Malan, veral toe sy dit agterkom. Julia besef dat sy nie net op Izak se lêer kan staatmaak nie, maar ook haar eie ondersoek moet doen om haarself beter voor te berei.

Lizanne se broer Simon Visser staan haar getrou by tydens die hofverrigtinge. As gevolg van sy vroeëre verbintenis met Julia toe hulle nog studente was, bevraagteken hy Julia se oorname van Lizanne se saak. Daar is egter nie tyd om die saak aan ’n ander prokureur oor te gee nie, want die saak staan nou einde se kant toe en Julia is dus Lizanne se beste opsie op die stadium om die saak af te handel.

Tydens die hofdae probeer Julia haar bes om twyfel te saai in die verdediging se saak, terwyl sy in haar vrye tyd naarstiglik die saak verder ondersoek om hul saak sterker te maak. Sy besoek die plaas en die moordtoneel. Bekyk die situasie van alle kante af en vind tog inligting wat sy kan gebruik. Of sy die bewyse daarvoor gaan kry, is heeltemal ’n ander saak, maar solank sy net twyfel kan saai teen die verdediging se saak.

Die beste stukkie nuus wat in haar skoot val, is dat daar ’n ooggetuie was. ’n Ewig ontwykende ooggetuie, wat Lizanne se saak bemoeilik omdat sy sukkel om die persoon in die hof te kry om te getuig.

Op die laaste oomblikke en om tyd te wen roep Julia nog ’n getuie en die saak draai onverwags in haar kliënt se guns. As jy wil weet hóé gunstig, moet jy die boek aanskaf en lees.

Ek het ongelukkig nog nie iets soortgelyks in Afrikaans raakgeloop om ’n vergelyk te tref nie, maar hierdie hofdrama wat oor 14 dae afspeel, is vir my baie geloofwaardig. Ek kan nie wag vir boek twee in die reeks nie en wonder reeds wie Julia se volgende kliënt gaan wees.

Dit is vir my lekker om nuwe skrywers in Afrikaans raak te lees en dis veral lekker wanneer hulle sommer in ’n nuwe genre inbeweeg om aan ons leesverslaafdes nog meer leesgenot te verskaf.

’n Vyfsterboek is Die ooggetuie uit die NB Uitgewers-stal beslis.

Lees ook:

Olé vir die matadors van die howe. ’n Lesersindruk van Slagoffer

LitNet wag op jou lesersindruk!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top