Die ondernemers op Showmax – die lig in die donker: ’n TV-resensie

  • 0

Die ondernemers is ’n nuwe Showmax-reeks.

“The reality series features three South African undertakers who have made death their business.”

Die dood, ons eie en dié van ons geliefdes, is ’n onderwerp wat ons soos die pes vermy, al kan ons dit werklikwaar nie vryspring nie. Ons wil nie ons eie sterflikheid in die oë staar nie en om te rou oor geliefdes is ’n oorweldigende gedagte.

Uit die staanspoor is Die ondernemers dus interessant. Google beweer daar is maar twee ander realiteitsreekse oor begrafnisondernemers. The casketeers (2018) speel af in Polinesië en Buried by the Bernards (2021) in Amerika, Memphis om presies te wees. Dit is moeilik bekombaar, so ek kan die drie reekse nie vergelyk nie. Tog dink ek Die ondernemers sal hulle uitstof. Die kombinasie van die visuele, die musiek, die ligging en die karakters skep ’n ongelooflike geheel.

Candice Austin in Die ondernemers op Showmax

Die musiek en beelde is beide makaber, maar tog ook speels. Donker en ook lig. Die een komplementeer ook die ander. Die klavier, viool of watter begeleiding ook al gekies word, pas soos ’n handskoen by die duiwe wat wegvlieg, die hommelskoot van die begraafplaas of die plastieksakke wat aan die doringdraad vassit.

Verder word die beelde van vingers, rye lyke, die toutjie wat simbolies geknip word, vreeslik mooi belig, geraam en ingekleur.

Jano van den Berg in Die ondernemers op Showmax

In ’n dokumentêr of realiteitsreeks moet jou karakters interessant wees. Of hulle nou gawe siele of moeilikheidmakers is, hulle moet die gehoor vermaak. Die ondernemers se Candice, Jano en Ramone is onderskeidelik bekkig en stout, statig en ernstig, en die rustigheid vanself. Meer belangrik, hulle is outentiek.

Die grootste bekommernis met die reeks, aangesien hulle regte begrafnisse en hartseer wys, is dat dit met respek gedoen word. Die ondernemers sit nie ’n voet verkeerd nie. Mens voel geëerd om te mag inloer by veral die begrafnisse.

Die reeks is bowenal interessant. Dit wys jou wat dit verg om ’n begrafnis glad te laat afloop. Matte, duiwe, pamflette, die lyk mooi versorg, grafte wat inval as gevolg van los sand, ’n dominee wie se preek vrek kort is en ’n koeëlvaste baadjie vir sekere areas.

Ramone Samuels in Die ondernemers op Showmax

Natuurlik sal die reeks herinneringe van my broer se begrafnis opdiep. Die ondernemers was bloot verveelde werknemers, afgesny van my en my familie. Hulle het ons hard gedruk om die duurste pakket te vat. Die toppunt van die ongevoeligheid was toe ons my broer se lyk wou sien en hulle sommer die kis in die parkeerarea wou oopmaak. Ek moes voet neersit dat hulle die kis in die kapel invat. So, ek wens ek kon destyds eerder in die hande van Candice of Jano of Ramone wees.

“I’m passionate about helping people go through the worst time of their lives. In the process, I make things a little easier for them. I am also there to gently remind them that even though they have lost a loved one, they will find beauty in life again, as I did after losing my parents.” – ondernemer Candice Austin

Lees ook:

Eksieperfeksie kort selfrefleksie: ’n TV-resensie

TV-oorsig: Juffrou X op kykNET – ’n blik op Suid-Afrikaanse skole

Koek – die eerste drie episodes vars uit die oond uit

Wyfie – die eerste vier episodes: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top