Afrikaner-eenheid is ’n mite wat nooit werklik bestaan het nie. Die mitologie van Afrikaner-homogeniteit word aan die een kant lewend gehou deur die huidige magshebbers wat dit as nuttige strooipop gebruik vir politieke gewin en aan die ander kant deur ontnugterde Afrikaners wat nostalgies terugverlang na “die goeie ou dae”.
Hierdie vals narratief word veral gedryf deur die skewe en nostalgiese manier waarop daar soms met die verlede omgegaan word. Dit skep ’n vals indruk dat die mite van wit Afrikaner-homogeniteit waar is, hoewel dit lank reeds deur historici uitgedaag, en in ’n groot mate ter ruste gelê is.
In die openbare domein is die idee van ’n uniforme Afrikanerdom veral na die val van apartheid toenemend gediskrediteer, maar tog wil die spook nie wyk nie.
Die veelkantige sy van hierdie mitiese eenheid of homogeniteit onder Afrikaners is verlede Vrydag tydens ’n simposium in Pretoria (en hibridies) opnuut deur historici en akademici onder die vergrootglas geplaas.
Die simposium is aangebied deur die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
“Daar is reeds in die laat 1960’s, lank voor die val van apartheid, begin wegbeweeg van die idee van Afrikaner-eenheid.”
Van die vrae op die tafel was: Hoe kan daar binne die huidige konteks oor die gedagte van ’n Afrikaner-hoofstroom besin word? Het so ’n hoofstroom, histories gesproke, ooit bestaan en watter rol het persepsies daarvan in die politiek, godsdiens en sosiale omgang gespeel? Wie het dit in stand gehou en wie het dit uitgedaag? En bied dit enige insig in ons hedendaagse debatte?

Albert Grundlingh (Foto: SAAWK)
Albert Grundlingh, emeritus professor van die Departement Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, was een van die sprekers tydens die simposium wat ook via die internet gestroom is.
Grundlingh sê onderliggend aan die beeld van Afrikaner-homogeniteit is die aanname dat die Afrikaner ’n soort metafisiese organismiese geheel is met ’n kollektiewe intellek en siel wat van onderdrukking bevry moes word.
Daar was ’n vrugbare teelaarde vir sodanige uitgangspunt. Van die spilpunte daarvan was die vroeë geskiedenis aan die Kaap, die geleidelike ontwikkeling van wat as volksplanting beskou is, die beproewinge van die Groot Trek, die trauma van die Anglo-Boereoorlog, die stryd teen Britse hoogmoed en argwaan, en die nasionalistiese deurbrake wat dit wat bereik is, probeer verskans het.
Hierdie beeld het veral gedurende die bloeitydperk van Afrikaner-nasionalisme en van die vroeë 1930’s tot die 1960’s beslag gekry.
Grundlingh sê die saak het vele kante, maar dominante geskiedbeelde is dikwels oorvereenvoudigings van ’n meer ingewikkelde verlede.
Dit is maklik vir akademici om vandag op dié tipe dwaling te wys, maar in die praktyk is dit nie so maklik nie. Die siening van Afrikaner-eenheid is dekades lank in skoolboeke, van politieke verhoë af en selfs van kansels in die kerke gepropageer en verkondig, en het hoogty gevier in die openbare domein. Dit is hierdie opvatting waarmee die meeste wittes in aanraking gekom het.
Grundlingh sê dit was egter ook ’n geskiedsbeeld wat mettertyd van sy glans sou verloor as gevolg van die samevloeiing van politieke en ekonomiese verwikkelinge en wat vanaf die middel-’60’s stadig begin taan het. Die idee van ’n uniforme Afrikanerdom is volgens hom veral na die val van apartheid toenemend in die openbare domein gediskrediteer.
Daar is reeds in die laat 1960’s, lank voor die val van apartheid, begin wegbeweeg van die idee van Afrikaner-eenheid.
“Afrikaners was polities op die kruin van die golf en deur apartheidmaatreëls wou dit voorkom asof die wit samelewing se toekoms verseker is. Boonop het ongekende ekonomiese groei gedurende die 1960’s met gepaardgaande welvarendheid dit minder dwingend vir die Afrikanerdom, wat nou vol selfvertroue was, gemaak om op ’n vervloë en onderskragende verlede te steun.

Albert Grundlingh is die skrywer van Slabbert: Man on a mission (Boekomslag: Jonathan Ball)
Mense soos Van Zyl Slabbert was tydens sy studentejare in die laat sestigerjare op Stellenbosch ietwat verbaas dat iemand soos die eerbiedwaardige en gewilde professor Bun Booysens nog ’n beeld van die Afrikaner kon voorhou as “iemand wat wanneer die son ondergaan in sy siel die geklingel van melkkanne en die gekoer van duiwe hoor”. Slabbert het opgemerk dit was toe die Afrikaner alreeds grootliks verstedelik was.
Afrikaners het al hoe meer as individue na vore begin tree. Hierdie heterogeniteit is volgens Grundlingh in 2009 deur Breyten Breytenbach en ander intellektuele op konkrete wyse vasgenael toe hulle die volgende oor Afrikaners gesê het:
Daar is bruin en bleek, kommuniste en Boere met hoofletters en boere met kleinletters en bittereinders en liberale, Dakar-pelgrims en agnostici en Boeddhiste en afvalliges en wederstrewiges en skrumskakels en alkoholiste en kerkmuise en kultuurkokkerotte en moffies en mekênieks en vissermanne sonder kwotas en vissermanne met kwotas en vorige grensvegters en boekbewoners en nihiliste en diakens en gesellinne en filosowe en koffiedrinkers; kortom, daardie ruie en ongetemde maar lewenskragtige verskeidenheid onafhanklikes en bywoners en sinmakers en usefull idiots wat met reg daarop aanspraak kan maak dat hulle die meerderheid Afrikaners is maar nooit so aanmatigend sal wees om te dink hulle is die verteenwoordigende nie.
Hierdie uiteensetting maak mens bewus daarvan hoe divers Afrikaanse mense eintlik is, in weerwil daarvan dat daar altyd pogings is om hulle onder een kombers te plaas, sê Grundlingh.
Dit beteken nie dat die idee van Afrikaner en Afrikaanswees heeltemal verdwyn het nie.
Alle fragmente van die historiese verlede het nie soos mis voor die son verdwyn nie. Die rol daarvan is egter vandag grootliks tot nostalgiese mymeringe veral op sosiale media afgeskaal. Die aard van ’n Afrikanersamelewing het boonop verander met ’n toenemende aantal emigrante wat met die beperking op wit indiensneming en regstellende aksie hulle heil oorsee begin soek het. Diegene in diaspora is dikwels te besig om hulle nuwe toekoms in nuwe lande uit te beitel eerder as om hulle ernstig oor die verlede en Suid-Afrika te verknies. Hulle omgang met die verlede is hoofsaaklik vlietend nostalgies gerig sonder enige programmatiese oogmerke.
Grundlingh sê die Afrikaner se geskiedsbeeld was vir ’n wyle suksesvol op ’n tydstip toe ’n bepaalde vertolking daarvan verlang is. Alle nasionalistiese bewegings gebruik die verlede op ’n bepaalde manier. Afrikaners was geen uitsondering nie. Talle Afrikaners was gevangenes van die beeld. Selfs kleiner instellings en akademici is met agterdog bejeën as hulle dit bevraagteken het, soos byvoorbeeld die teer-en-veer-voorval van Floors van Jaarsveld deur die AWB in 1979 by Unisa toon, al is dit miskien ietwat van ’n ekstreme voorbeeld.
“Dit is belangrik om daarop te let dat swart nasionalistiese intellektuele hulle in die veertigerjare tot Afrikanergeskrifte gewend het as moontlike template vir die ontwikkeling van swart nasionalisme tydens die vormingsjare daarvan.”
Daar is min ruimte gelaat vir die afwykinge van die ideaal van Afrikaner-eenheid. Dié beeld het egter reeds sedert die laat 1960’s weens omgewingsinvloede begin los torring en daar het meer geleenthede ontstaan om die Afrikanergeskiedenis te herdefinieer.
Grundlingh sê dit is opmerklik hoe onproblematies die verlede aangebied word in die geskiedenisliteratuur oor die ANC wat in eie geledere gegenereer word. Die organisasie het – volgens hulle eie sieninge – eenvoudig van krag tot krag gegaan onder charismatiese leierskap. Al het dit hoe swak gegaan, is die leier nooit daadwerklik bevraagteken nie. Selfs Zuma kon vir nege jaar uithou. Volgens hulle insigte was die politieke beleidsrigtings altyd weldeurdag en onfeilbaar. In so ’n weergawe is daar geen ruimte vir oordeelsfoute, geen tekens van kontradiksie of spanning in die organisasie nie en word alle klasse byna pynloos onder ’n nasionale banier verenig.
In teenstelling met Afrikaner-nasionalisme, wat al snuifgetrap is deur akademici, het postapartheid nasionalisme nog nie juis diepgaande akademiese aandag geniet nie.
Grundlingh sê van hierdie elemente in swart Afrika-nasionalisme was ook in Afrikaner-nasionalisme teenwoordig, hoewel die wyse waarop dit op staatsvlak uitgemond het, nie skaamtelose en sistemiese korrupsie van fondse behels het nie. Swart nasionalisme het sy eie interne dinamika en trajek en dit moet nog behoorlik nagevors word.
“Dit is belangrik om daarop te let dat swart nasionalistiese intellektuele hulle in die veertigerjare tot Afrikanergeskrifte gewend het as moontlike template vir die ontwikkeling van swart nasionalisme tydens die vormingsjare daarvan.”
Ironies genoeg het die Afrikanerverlede in dié verband ’n reikwydte gehad wat hulle kwalik sou kon voorsien het. Dit was meer invloedryk as wat die propageerders daarvan graag sou wou hê.
Grundlingh sê dit is eintlik ironies hoe die ANC later gekies het hoe om met die Afrikanergeskiedenis om te gaan. Hulle verwysingsraamwerk is dié van ’n Afrikanergeskiedsbeeld wat in die 1930’s en ’40’s sy beslag gekry het.
Talle Afrikaners het mettertyd daarin geslaag om die beperkinge van ’n misleidende beeld af te skud, maar hulle het geen beheer gehad oor die naweë of sogenaamde “after life” van so ’n beeld nie. Vir politieke vyande het die verouderde beeld eenvoudig te veel skietgoed gebied. Op ’n wrange wyse was dit net te suksesvol en het dit ’n gerieflike strooipop geword.

Albert Blake (Foto: Naomi Bruwer)
Die onafhanklike navorser en skrywer Albert Blake het die tragiese verhaal van Jopie Fourie gebruik om aan te toon dat daar nie werklik iets soos Afrikaner-homogeniteit bestaan nie. Blake het gesê die skadukant van Suid-Afrika se politieke teregstellings vertel ’n grusame verhaal. Die teregstelling van Jopie Fourie in 1914 is in latere dekades opgevolg deur ’n string politieke teregstellings wat sy hoogtepunt bereik het in die laat apartheidsjare totdat die doodstraf afgeskaf is.
Die uiteenlopende vertolkings van hierdie teregstellings is by uitstek voorbeelde van ’n verdelende geskiedenis. Daardie verdelende geskiedenis toon nie net gebrekkige kennis van ’n ander se verlede nie, maar ook ’n ontstellende onverdraagsaamheid waar gebrek aan sensitiwiteit en empatie oorheersende kenmerke is.
“Die teregstelling van Jopie Fourie was nog altyd ’n sensitiewe onderwerp in die Afrikanergeskiedenis. Vir baie het sy dood hom tot onsterflike heldestatus verhef.”
Uiteenlopende weergawes oor die Fourie-tragedie word dikwels verswelg deur emosionele vooroordele waar hy van weersinswekkende verraaier tot patriotiese vryheidsvegter uitgebeeld word. Die bittere venyn en uiteenlopende beskouings oor Jopie Fourie duur steeds voort. Daar is veral op sosiale media ’n nimmereindige woordestryd oor hoe hy beoordeel moet word. Blake sê mens sou verwag het dat hierdie emosies na soveel jare gedemp sou wees, maar dit is nie die geval nie.

’n Jong Jopie Fourie (Foto in die openbare domein op Wikipedia, kopieregtermyn verstreke.)
Die teregstelling van Jopie Fourie was nog altyd ’n sensitiewe onderwerp in die Afrikanergeskiedenis. Vir baie het sy dood hom tot onsterflike heldestatus verhef. Hy het die simbool geword van ’n Afrikanerstrewe om sy lewe vir sy volk op te offer.
Afrikanerbeskouings van die Fourie-tragedie was egter nooit eenvoudig nie. Dit was altyd meer kompleks as maar net ’n nostalgiese herinnering aan ’n opofferende heroïese verlede. In teenstelling met die mite van Afrikanereenheid was daar nooit eenstemmigheid in Afrikanergeledere oor die Fourie-tragedie nie. Die vertolking daarvan is maar net nog ’n voorbeeld van verdeelde Afrikanerlojaliteit, sê Blake.
Daar word weinig ruimte gelaat vir die uitbeelding van die Fourie-tragedie om die verlede krities te ondersoek. Daar is diegene onder die Afrikaners wat mense soos Louis Botha en Jan Smuts slaafs nagevolg het. Vir hulle was Jopie Fourie weer ’n landsverraaier en hulle was hom onsimpatiek gesind.
Vandag hou Fourie veral vir die regse groepe ’n aantrekkingskrag in. Hy word tot ’n byna mitologiese held verhef en as sodanig geëer. Blake sê dit lyk of regse groeperings wat hulself graag as die ware Afrikaners voorhou, heroïese gebeure soos dié van Jopie Fourie vir hulself wil toe-eien asof hulle die alleenreg daartoe het.
Blake sê sekere Afrikaners poog om vanuit hulle godsdienstige oortuiging betekenis te gee aan die verloop van die Afrikanergeskiedenis. “Daar is ’n ontstellende onverdraagsaamheid en neerhalendheid in van hierdie plasings op Facebook te vind. Jan Smuts is ’n verderflike volksverraaier en basta. Hy word ’n Jingo, Judas Iskariot en vele ander afbrekende en neerhalende dinge toegesnou. Blake sê die vlak van beledigings en lastertaal is werklik skokkend.
Die doodmaak van Fourie het volgens hom niks goed gedoen vir die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis op kort termyn nie, en ook nie op langer termyn nie.

Christi van der Westhuizen (Foto: verskaf)
Christi van der Westhuizen van die Sentrum vir die Bevordering van Nierassigheid en Demokrasie aan die Nelson Mandela Universiteit het in haar referaat gepraat oor Petronella van Heerden as die noodsaaklike randfiguur van Afrikaner-nasionalisme. Van der Westhuizen se werk die afgelope jare gaan tot ’n groot mate daaroor om die idee van Afrikaner-homogeniteit te bevraagteken.
Sy sê dit is vir haar belangrik om in haar werk ook die andersdenkende stroom aan te toon wat daar binne-in Afrikaner-nasionalisme bestaan het. Dit wys die verskeidenheid en diversiteit uit wat daar nog altyd in Afrikanergeledere bestaan maar in die historiese newels verdwyn het.
As voorbeeld van iemand wat vanaf die 1920’s ’n noodsaaklike rolmodel van ’n randfiguur binne die hoofstroom van Afrikaner-nasionalisme gespeel het, het sy Petronella van Heerden uitgesonder.
Van Heerden was die eerste Afrikanervrou wat as mediese dokter gekwalifiseer het. Haar proefskrif, waarvoor sy in 1923 ’n doktorsgraad behaal het, was die eerste mediese proefskrif wat in Afrikaans geskryf is. Sy het as ginekoloog gepraktiseer en in 1942 afgetree. Sy het ook tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Suid-Afrikaanse mediese korps gedien.

’n Jong Petronella van Heerden, circa 1920, toe sy ’n dokter op Harrismith was (Foto in die openbare domein, kopieregtermyn verstreke, Nederlandse Tijdschrift voor Geneeskunde, 157(1); op vrystaatconfessions.com verkry)
Haar lewe het egter baie teenstrydighede getoon. Benewens haar sterk verbondenheid aan Afrikaner-nasionalisme was sy ook ’n feminis en lesbiër wat romantiese verhoudings met vroue gehad het.
Van der Westhuizen sê dominante magte probeer altyd om homogeniteit te skep. Daar was egter baie intense mededinging in die vroeë 1920’s om een soort Afrikaner-nasionalisme bo ’n ander te vestig en daar was verskillende sienswyses oor wat ’n werklike Afrikaner is.
“Petronella van Heerden is onder andere vanweë haar seksuele identiteit geneutraliseer, omdat sy openlik as ’n lesbiër gelewe het. Dit was vir die deursnee-Afrikaner-nasionalis ’n hoogs problematiese aspek van haar lewe.”
Nasionalisme het ook die Afrikaner in identiteitshokke vasgekeer, sê sy. Die skeidslyne is nie net volgens ras getrek nie, maar ook intern met betrekking tot byvoorbeeld geslag en seksualiteit.
Dit is volgens Van der Westhuizen opvallend dat van hierdie stoere volksmoeders, soos Van Heerden, wat in die 1980’s deur sommige bespotlik gemaak is, in hulle tyd wel daarin geslaag het om die openbare domein te betree en dit meer toeganklik vir spesifiek die boonste laag Afrikanervroue te maak.
Van der Westhuizen sê hulle aktiwiteite is tot ’n groot mate vergete en vergetenswaardig gemaak. “Hulle is eintlik geneutraliseer deur ’n vorm van nasionalisme wat, soos ander nasionalismes, vroue beskou as uitsluitlik geskik vir sosiale en biologiese reproduksie.”
Petronella van Heerden is onder andere vanweë haar seksuele identiteit geneutraliseer, omdat sy openlik as ’n lesbiër gelewe het. Dit was vir die deursnee-Afrikaner-nasionalis ’n hoogs problematiese aspek van haar lewe.
Ten spyte van hierdie teenstrydighede het Van Heerden ’n belangrike politieke rol in Afrikaner-nasionalisme gespeel.
Vir die hoofstroom gaan dit daaroor om ’n hegemonie te bewerkstellig wat alle sosiale verhoudinge organiseer. ’n Randfiguur kan slegs in verhouding tot buitestanders of randfigure bestaan. Iemand soos Petronella, wat tegelyk deel van die hoofstroom en die rand was, problematiseer en bemoeilik dit. Sy wys ons dat die randfiguur nie altyd teen die hoofstroom of daarbuite is nie. Sy was soms in en soms uit. Dit wys volgens Van der Westhuizen na die vermoë van Afrikaner-nasionalisme om hegemonie te behou weens die aanpasbaarheid daarvan ook ten opsigte van die randfigure in die hoofstroom se idees.
Volgens Van der Westhuizen is dit belangrik om in hierdie spesifieke oomblik van die land se geskiedenis, waar die demokrasie onder soveel druk is, daarop te wys dat daar ook ’n Afrika-nasionalistiese beweging is wat op swart mense ’n eenduidige identiteit probeer afdwing.
Die idee van Afrikaner-homogeniteit kom sedert 1994 baie handig te pas vir die huidige maghebbers, sê Van der Westhuizen. “Mens sien dit oor die jare in die ANC asof regse Afrikaners verteenwoordigend is van alle Afrikaners. Daar is ongelukkig ook nasionalistiese Afrikaner-organisasies wat aandring op ’n tipe homogeniteit in Afrikaner-identiteit.”
“Nasionalisme se werkswyse is om mense te probeer intrek en vas te maak aan ’n eenvormige identiteit wat verskeidenheid en verskille onderdruk.” Van der Westhuizen sê historiese modelle van andersdenkendes en afvalliges kan baie help om die huidige uitdagings te hanteer in terme van die verdieping van ons land se demokrasie.
- Die fokusprent deur Chris Stenger by hierdie artikel is op Pixabay verkry en aangepas.
Lees ook:
Christi van der Westhuizen se Nuusknars-bydraes op LitNet.
Wit terroriste: Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwag deur Albert Blake: ’n lesersindruk
LitNet Akademies-resensie-essay: Broedertwis deur Albert Blake
Lesersindruk: Robey Leibbrandt. ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake
Slabbert: Man on a mission. A biography deur Albert Grundlingh: ’n resensie
Toyota US Woordfees 2020-gesprek oor Maverick Africans: The Shaping of the Afrikaners
Onderhoud: Oorlogsfutiliteit gryp steeds die verbeelding aan
Kommentaar
Die bestaan van die Afrikanervolk oftewel -etnisiteit is sekerlik nie 'n mite nie: Die Afrikaner is 4.7% nie-Europees, naamlik 1.7% Indiër / Indonesiër / Maleisiër, 1.3% Khoi / San, 0.9% Chinees / Japanees en 0.8% Bantoe. M.a.w. die Afrkanervolk is 95,3% wit, oftewel van Europese afkoms. Dis 'n summa cum laude prestasie vir enige wit volk, te meer as hierdie volk 'n oorweldigende minderheid in sy geboorteland is. - https://theconversation.com/what-genetic-analysis-reveals-about-the-ancestry-of-south-africas-afrikaners-133242
Hanno, in die heel eerste twee sinne kom die woorde "Afrikaner-eenheid" en "Afrikaner-homogeniteit" voor. Dit is waaroor die skrywe van Jean Oosthuizen gaan. Dit het niks met "volk" of "etnisiteit" te doen nie. Ken jy nie die verskil nie?
Hanno, die gesprek gaan nie daaroor of die Afrikanervolk 'n mite is nie. Dit gaan juis oor Afrikaner-nasionalisme. Lees die artikel en ook wat Dirk Rigter hier sê. As die Afrikaner 'n mite was, sou die gesprek nie plaasgevind het nie.
Dirk Rigter, jy is net so verward soos die woke skrywer en sy woke sprekers waaroor hy berig. Lees weer die hele berig in verband. Daar word rondgespring tov bedoeling en terminologie. In die tweede paragraaf word daar geskryf oor "die mite van wit Afrikaner-homogeniteit", m.a.w. die gesuggereerde mite van die bestaan van 'n Afrikanervolk oftewel -etnisiteit. Eintlik was bg bloot 'n halfdosyn woke sprekers wat vir bietjie eie opwinding 'n kat in hul hoenderhok wou loslaat om te kyk wat spring uit. Ha-ha.
Mense hou vas aan verouderde idees, maar die ergste flater wat skrywers aanhoudend maak is om 'n valsheid of leuen as 'n mite af te maak. Ek haal hieronder Joseph Campbell, 'n kenner van mitologie, aan, wat die verskil tussen mite en 'n leun aan 'n jong radio omroeper moes verduidelik, wat sê: “The word ‘myth,’ means ‘a lie.’ Myth is a lie.” So I replied with my definition of myth. “No, myth is not a lie. A whole mythology is an organization of symbolic images and narratives, metaphorical of the possibilities of human experience and the fulfillment of a given culture at a given time.” “It’s a lie,” he countered. “It’s a metaphor.” “It’s a lie,” he countered. “It’s a metaphor.” “It’s a lie.” This went on for about twenty minutes. Around four or five minutes before the end of the program, I realized that this interviewer did not really know what a metaphor was. I decided to treat him as he was treating me. “No,” I said, “I tell you it’s metaphorical. You give me an example of a metaphor.” He replied, “You give me an example.” I resisted, “No, I’m asking the question this time.” I had not taught school for thirty years for nothing. “And I want you to give me an example of a metaphor.” The interviewer was utterly baffled and even went so far as to say, “Let’s get in touch with some school teacher.” Finally, with something like a minute and a half to go, he rose to the occasion and said, “I’ll try. My friend John runs very fast. People say he runs like a deer. There’s a metaphor.” As the last seconds of the interview ticked off, I replied, “That is not the metaphor. The metaphor is: John is a deer.” He shot back, “That’s a lie.” “No,” I said, “That is a metaphor.” (Campbell, Joseph. Thou Art That: Transforming Religious Metaphor)
Ek lees te veel kere dat skrywers mite en valsheid as sinonieme gebruik. Mitologie is 'n studie op sy eie en is nie 'n leuen nie. Gebruik asseblief die woord leuen in plaas van die woord mite. Ek doen 'n beroep op redakteurs om die woord reg aan te wend.
Hanno, jy verwar Afrikaner-eenheid of -homogeniteit met Afrikanerskap. Nie een van die deelnemers ontken die bestaan van die "Afrikanervolk" nie. Die hele simposium het juis gehandel oor Arikaner-nasionalisme. Sonder 'n Afrikanervolk kon daar kwalik iets soos Afrikaner-nasionalime wees. Ek weet dus nie vir wie jy so kwaad is nie en ook nie wat jou punt is nie. Die onderwerp van die gesprek is basies of daar iets soos Afrikanereenheid is. As jy van mening is daar is, sal ek graag jou argument wat dit bewys wil hoor. Ek dink nie jy verstaan mooi waaroor die gesprek gaan nie.
Hanno, kom ons verbeel ons 'n gesamentlike foto van die volgende Afrikaners, almal so 90% DNS-wit soos jou statistiek aanwys: Breyten Breytenbach, Jaap Marais, Koos Kombuis, Eugene TerreBlanche, Roelf Meyer, Connie Mulder, Van Zyl Slabbert, Beyers Naude, Koot Vorster, Derek Hanekom... ons kan die lys lank maak. Sien jy hulle almal saamtrek in die Afrikaner-homogeniteitsjuk? Dit is waaroor hierdie debat gaan.
O ja, jou kat moes seker in die duiwehok gewees het, 'n Leghorn skrophoenderhaan sal 'n kat net een kyk gee...
Naas Ferreira, 100%. Dankie vir die treffende uitwys van die verskil tussen 'n leuen en 'n mite - dat hulle nie sinonieme is soos wat die gebruik van mite in die berig suggereer nie.
Jean Oosthuizen, ook onder die Afrikanervolk is daar, soos onder ander, veral Westerse (wit) volke, soos Gods Woord profeteer in hierdie eindtyd, toenemende polarisering, soos wat die satan met sy uiteenlopende misleide volgers toenemend teen die Here Jesus Christus en sy weergeborenes in opstand kom en rebelleer.
Hanno, hierdie simposium het regtig niks met godsdiens te make nie. Nog minder met fundamentalistiese uitsprake wat op niks anders as rassisme dui nie. Kom ons bly dus maar liewer by die onderwerp ter sprake en die feite op die tafel. Daaroor kan ons gesprek voer. Dit is nie die plek vir fundamentalistiese seepkieprekies nie.
Dit is die resultaat van 'n volk wat altyd moes veg vir oorlewing, uit vrees vir vyande en verraaiers; vir vryheid, volk en verwyt.
Wat verwag julle?
Magtige vindingryke nasie wat deur hulle eie verlei is, maar nieteenstaande innerlik nooit sal vergeet wie en wat hulle is nie.
Die wêreld moes sorg dat hulle verdeel word en hulle eenheid verdwyn.
Tragiese verhaal.
Hanno Visagie, ek weet darem nie van jou "eindtye" ding nie. Ek woon in Orania en soos dit gaan, agt Afrikaners en twaalf kerke? Die hoofrede is, dat "Afrikaners" 'n saamgestelde etniese groep is uit uiteenlopende nasies, maw gene verskil. Genetiese indrukke verskil en eie belang is vooropgestel.
Jean Oosthuizen, in my laaste bydrae bo met antwoord aan jou het ek in 'n neutedop alles oor jul onderwerp bo gesê wat van belang is. Bekeer jou (en jou medemisleides) waarlik tot die ware Here Jesus Christus en Sy Woord voor dit vir julle ewig te laat is, asb.
Sjoe, almal Afrikaans/Afrikaners en so uiteenlopend soos ons samestelling. Dank die Vader daarvoor. Geen wonder elke klomp het sy eie rigting die binneland ingevaar nie! Maar dankietog, iewers is daar altyd 'n punt waaroor ons (hoop ek), as kollektief kan saamstem: Ons is onteenseglik AFRIKANERS en ons Moedertaal is Afrikaans. Probeer asb saam om dit te beskerm en laat dit behoue bly. Ek is en bly trots daarop ... En julle?
Hanno Visagie, soms wonder ek oor mense wat "God persoonlik ontmoet het of ken"!
Deurgaans in bybel, word verwys na God se heerlikheid, wat so erg is, dat geen mens dit kan aanskou en nie vergaan nie. Daarom was daar altyd "boodskappers van God/engele".
Hierdie artikel probeer 'n punt maak wat totaal irrelvant is.
Daar is verdeeldheid onder elke volk op aarde en elkeen kan in linkse en regse groepe verdeel word. Dit verander egter niks aan die feit dat elke volk 'n nasionalistiese gevoel oor eeue gekweek het nie, wat hul grondgebied, geskiedenis, selfbehoud, identiteit en kultuur hoog op prys stel en selfs sal baklei om dit te bewaar.
Ongelukkig probeer liberaliste, veral in die Weste hierdie normaliteite verdag maak as struikelblokke vir assimilasie en globalisme. Dit het nog nooit gewerk nie en sal ook nie. Die toenemende weerstand teen derdewêreldse immigrante na Europa en die VSA, wat dreig om die plaaslike kulture te verander, is 'n sprekende voorbeeld.
Die Afrikaner is nog 'n jong volk en die toekoms hou baie potensiaal in. Interessant genoeg is baie ooreenkomste tussen ons en Isreal, wat ook 'n jong volk is en al hoe hegter word en 'n sterk nasionalistiese gevoel ontwikkel weens die druk wat hulle ervaar.
Dit was vir my baie interessant toe ek vir ’n wyle in Skotland gebly het, hoe die verdeeldheid en verraad en tweespalt binne daardie volk bykans soos ’n goue draad deur hulle geskiedenis geloop het. As jy hierdie sinnelose debat / gesprek in Skotland sou voer, sou bykans almal antwoord met ’n vraag oor wat nou eintlik jou punt is. Hulle is bykans trots daarop, so asof hierdie binne-stryd deel van hulle identiteit is.
In elke volk is daar verdeeldheid. Inteendeel, in baie gevalle selfs erger as onder Afrikaners. Om nou hierdie stryd om idees te wil verhef tot ’n mate van afwesigheid, sover dit homogeniteit aangaan, is vir my ook maar net nog ’n teken dat ons ’n volk soos vele ander is.
Dit is natuurlik ’n absurde standpunt, maar steeds dan ook ’n belangrike een om te wys ons is niks spesiaal of verhewe nie. Ons is maar wie ons is, en daarvan moet ons die beste maak.