Slabbert: Man on a mission. A biography deur Albert Grundlingh: ’n resensie

  • 7

Slabbert: Man on a mission. A biography
Albert Grundlingh
Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781776190379

Aan die begin van sy boek maak Albert Grundlingh dit baie duidelik dat die manier waarop hy, by wyse van spreke, as jagter sy prooi bekruip, onderworpe is aan die vooruitsig dat hy as biograaf self in ’n paar slagysters en valstrikke verstrengel kan raak wat hom in ander jagters se kookpot kan laat beland.

Dit noop hom tot ’n selfverklaarde versigtigheid – in die daarstelling van die feitebasis waarop hy sy vertelling begrond, asook ’n bewustelike omsigtigheid in die gebruik van die vertolkingsgereedskap wat enige moderne biograaf teen wil en dank verplig is om in werking te stel. Dit alles sodat hy aan die verwagtinge van ’n moderne lesersgehoor kan voldoen. Nie net die feite nie, maar ook hoe die verteller sin maak van die feite, is wat tel.

.........

Dit alles sodat hy aan die verwagtinge van ’n moderne lesersgehoor kan voldoen. Nie net die feite nie, maar ook hoe die verteller sin maak van die feite, is wat tel.

..........

Vir ’n gesoute historikus is die vereistes van onkreukbare feitebegronding van die “stories” wat hy vertel al by hom “in Fleisch und Blut übergegangen” en is die vaardighede wat hy opgedoen het in sy snuffeltogte deur stofryke plooie van argiefrakke duidelik uit die ruim verwysingswêreld wat hy rapporteer in die voetnotas wat elk van sy nege hoofstukke begelei.

Soos wat geskiedskrywing in die algemeen, en biografiese geskiedskrywing in die besonder in die 20ste en 21ste eeu gevorder het, het die vertolkingsgereedskap wat in spel gebring is, toenemend wegbeweeg van byvoorbeeld die Von Ranke-vereiste dat die dissipline die verhaal moet vertel “wie es eigentlich gewesen war” na die benutting van teoretiese en analitiese skemas wat ontwikkel was binne die verband van ’n verskeidenheid van ontluikende sosiale wetenskappe soos sosiologie en veral sielkunde. Die invloede van die sosiale kragte wat werk in die vorming van individuele persoonlikhede en die angste, versugtinge, woedes , dryfvere, begeertes, miskien patalogieë wat aan die wortel lê van die analisant se persona word die fokus.

........

Plaas die analisant in ’n konteks en beoordeel sy voortreflikhede of gebreke in so ’n lig. Net soos sielkundiges maar sukkel om te verduidelik hoekom dit is dat mense geestelik gesond is en slimmer klink as hulle ontledings doen van opvallend geestelike krankes, maak die biograaf staat op die opsigtelik uitsonderlike prestasies of mislukkinge van die lewe wat hy of sy beskryf.

..........

Plaas die analisant in ’n konteks en beoordeel sy voortreflikhede of gebreke in so ’n lig. Net soos sielkundiges maar sukkel om te verduidelik hoekom dit is dat mense geestelik gesond is en slimmer klink as hulle ontledings doen van opvallend geestelike krankes, maak die biograaf staat op die opsigtelik uitsonderlike prestasies of mislukkinge van die lewe wat hy of sy beskryf. Wie wil nou ’n biografie van ’n “garden variety” Piet Snot lees? Vertrou liewer op die beginsel wat daarop aanspraak maak dat die uitsondering juis bevestigend is van ’n onderliggende reëlmatigheid en ontbloot op dié wyse die meer ontwykende geheimenisse. Mens sien die konveksiestrominge in die water beter deur die bewegings van die permanganaat dop te hou.

Alhoewel omsigtig, skram Grundlingh nie daarvan weg om in sy behandeling van Slabbert aan hierdie kontekstualiseringsvereiste te voldoen nie. Dit is net dat hy sy tone versigtig in die water steek voor hy induik. Hy weet maar te goed hoeveel kognitiewe rammelkaste al in die naam van wetenskaplike peilings van die mensdom se doen en late in die intellektuele markte rondgepronk het en nou in die skrootwerwe lê en roes.

.......

Grundlingh is goed toegerus vir die taak om Slabbert onder die loep te neem. Slabbert is gebore en getoë in ’n sosiale en gemeenskapswêreld wat Grundlingh self vir sy eie vorming en stigting deurleef het en wat, by wyse van spreke, as die verskanste klousules van sy sosiaal-kulturele ontologie diens kan doen.

.........

Grundlingh is goed toegerus vir die taak om Slabbert onder die loep te neem. Slabbert is gebore en getoë in ’n sosiale en gemeenskapswêreld wat Grundlingh self vir sy eie vorming en stigting deurleef het en wat, by wyse van spreke, as die verskanste klousules van sy sosiaal-kulturele ontologie diens kan doen. Hy is goed geplaas om, as hy dit sou wou, “thick descriptions“ van Slabbert te gee. Hy is ewe bekend met die “Sturm und Drang” van die universiteitslewe en dalk self ook nog ’n “lapsed priest” soos Slabbert. Slabbert is ’n “homeboy” in hierdie wêreld. Grundlingh en Slabbert deel die esoteriese kodes van hierdie wêreld. Om Slabbert te ontleed is soos wanneer jy ’n tuiswedstryd speel: Jy ken die gate op die veld waar mens jou enkel kan verstuit en die wind se roeringe van die blare van die bloekombome langs die veld wat verraai hoeveel jy moet toegee om die doelskop oor te kry. Om hensoppers, verraaiers en bittereinders van mekaar te onderskei (beoordelingskategorieë wat dikwels in gebruik geneem is deur ongebreidelde stemme as Slabbert in die volkspolitiek ter sprake gekom het), is vir Grundlingh so alledaags soos bed en ontbyt in ’n gastehuis.

.........

Om hensoppers, verraaiers en bittereinders van mekaar te onderskei (beoordelingskategorieë wat dikwels in gebruik geneem is deur ongebreidelde stemme as Slabbert in die volkspolitiek ter sprake gekom het), is vir Grundlingh so alledaags soos bed en ontbyt in ’n gastehuis.

..........

En oor die algemeen was die meeste van die mense in die Afrikaanssprekende gemeenskap (ongeag hulle besondere politieke oortuiginge) trots op Slabbert as “een van ons”. Grundlingh hoef dus nie rond te spartel om sy storie so te plooi dat sy eie opvallende bewondering vir die man verdoesel word nie. Dit slaan duidelik deur in die gloed van sy teks.

Die Slabbert-persona was baie soos die karakter in ’n storie waar ’n Italianer en ’n Jood oor hulle seuns sit en spog. Die Italianer se seun het by die Katolieke priesterorde aangesluit en was na sy pa se oordeel waarskynlik bestem om eendag die Pous te word. Nie danig beïndruk nie, vra die Jood: “And then?” “What do you mean ’and then’? Pope is the peak. Do you want him to become Jesus Christ or something?” “Well,” antwoord die Jood, “one of our boys did it.”

Grundlingh onderskryf die beoordeling van Slabbert as “one of our boys who did it”. Juis omdat hy Slabbert voorhou as iemand wat die eer en erkenning vir sy prestasies merendeels verdien, raak hy kriewelrig wanneer Slabbert deur sommige van sy kritici afgemaak word as iemand wat vertroue en geesdrif by andere opwek om hierdie of daardie plan, beleid of projek te omarm en dan, wanneer die glans taan, uit ’n soort verveeldheid van koers verander. 

Hierdie soort kritiek het in felheid toegeneem toe hy die parlement in 1986 vaarwel toegeroep het en ’n beduidende deel van sy eie partykoukus hom onder meer verdoem het as iemand wat in wese nie toegerus was met die “stiff upper lip”-stamina wat hulle beskou het as ’n kenteken van die “iron in your soul”-vereistes wat imperiale-buitepos-liberalisme van haar “golden boys” verwag nie.

Die “golden boy” wat as “Afrikaner” aanvanklik opgehemel is in die beeldspraak van die Voortrekker-analogie (praat van “racial profiling”!) as versiende verkenner wat vooruit ry om na die veiligheid van die volgende uitspanning om te sien, om die water- en houtvoorraad te bespied, om sy oë oop te hou vir vyandige inboorlinge en miskien ’n paar bokkies plat te trek vir die pot, was eensklaps omgetower tot ’n klatergoudgolem wat net onheil kon bring. Helen Suzman was aan die voorpunt van hierdie soort veroordeling.

Grundlingh het nie veel ooghare vir hierdie vertolking nie. Hy lees die tekens meer as ’n aanduiding van die huigelary wat spruit uit ’n soort kommodifisering van Slabbert se charisma wat moes diens doen in ’n politieke wêreld waar groepskoöptasie gesien is as ’n bruikbare tegniek vir getalle-aanwas in die verkiesingsarena. As jy die “golden boy” in sy “goldene Käfig” goed toegerus het met ’n stoof, ’n bed en selfs ’n mikrogolfoond, as jou lyfbladpers aangemoedig word om gereeld die olyftakke te swaai en die hosannas vir die Afrikaner-verlosser binne die stadspoorte aan te hef, dan het jy mos ’n mandaat gevestig om in die gloed van sy charisma te baai en jou wensbegeertes op hom te projekteer soos dit jou behaag en soos die rolverdelings in die politieke draaiboek voorskryf. Die vlees-en-bloed-Slabbert verdwyn soos ’n oplosbare vis in die strominge van sulke politieke waters en Grundlingh suggereer dat sy uittrede uit parlementêre politiek nie net weens die begeerte was om die nuwe sendingvelde wat in die buiteparlementêre politiek oopgemaak is deur die seismiese verskuiwings van die politieke kontoere van beide die internasionale en plaaslike politieke landskap nie, maar ook ’n poging tot ’n herwinning van ’n sin van persoonlike outonomie.

........

Op hierdie punt sit Grundlingh as biograaf voor ’n interessante vertolkingsverknorsing. Dit is nie aldag dat ’n biograaf te doen kry met die ontleding van ’n outobiograaf nie.

..........

Tog is dit so dat Slabbert in sy lewensgang by ’n hele paar uiteenlopende waterdrinkplekke aangedoen het en na ’n ruk op ’n onvoltooide manier die aftog geblaas het op soek na nuwe weivelde. Grundlingh dokumenteer hierdie wendinge in sy lewensloop noukeurig en stel die beweegredes wat Slabbert vir sy besluite aanbied, beskikbaar vir die leser om te beoordeel. Op hierdie punt sit Grundlingh as biograaf voor ’n interessante vertolkingsverknorsing. Dit is nie aldag dat ’n biograaf te doen kry met die ontleding van ’n outobiograaf nie. (Slabbert het naamlik ’n aantal outobiografiese soort publikasies die lig laat sien.) In die Freudiaanse vertolkingstradisie is selfvertolkings verdag omdat gewerk word met die postulaat dat wat in jou bewussyn verskyn en dus die induktiewe basis word van die storie wat jy oor jouself vertel, ’n produk is van die verdoeselinge wat jou geslepe onderbewussyn daarin geplant het. Om “fopnuus” oor jouself te versprei is in so ’n scenario onvermydelik en huigelary word ’n soort oorlewingstrategie. “Self-biografie-skryf” word egter toenemend ’n verskynsel waarmee biograwe worstel omdat dit altyd steurend kan inwerk op die integriteit van die verhaal wat hulle oor ander vertel. “Lees maar – er staat niet wat er staat” het al ’n soort spitsvondige motto vir sommige geword. Dit bring nie vir Grundlingh van stryk af nie, maar dit laat hom tog wonder.

Grundlingh sien Slabbert se beroepswisselinge meer in die lig van wat Van Wyk Louw in sy versdrama oor die Romeinse veldheer Germanicus deurgee. Die vereistes van persoonlike morele integriteit kom dikwels in botsing met die meer ongure maar noodsaaklike nakoming van jou beroepsverpligtinge. Die stremming maak krake in jou wil.

“O God, daar loop so baie barste deur my wil!” kerm Van Wyk Louw se tragiese held as hy op die verhoog kom. Grundlingh bespeur iets hiervan in die Slabbert-persona.

Eers wou hy ’n predikant in die NG Kerk word, maar na sy blootstelling aan die soort teologiese denkbeelde wat in die Stellenbosch-kweekskool aangebied is vir die begronding van Godsywer het die begeerte om vir so ’n kerk die blye boodskap te bring stelselmatig gekwyn. Hy het sy skrede van die kerk afgewend en homself in die kleed van akademiese sosioloog getooi.

.........

Sosiologie is wêreldwyd, en veral in die VSA, ’n bekende toevlugsoord vir “lapsed priests”.

...........

Sosiologie is wêreldwyd, en veral in die VSA, ’n bekende toevlugsoord vir “lapsed priests”. In die laat 19de en vroeë 20ste eeu was die sg Social Gospel-beweging ’n stigtende invloed op die vorming en institusionele seteling van die vakgebied. Die akademiese dienspersoneel is indertyd amper eksklusief uit die geledere van die evangeliese beroepspredikers getrek.

Hulle wederkomsteologie was op die lees van die postmillennialisme geskoei, en die geloofsuitlewing het vereis dat aangesien Christus met sy koms en openbaringe baie duidelike aanduidings gegee het van wat ons kan en moet doen om die euwels in die wêreld te bestry en die vestiging van Gods koninkryk op aarde te bevorder, ons nie op ons hande kon bly sit en “boondoggle” vir die 1 000 jaar voor Jesus se wederkoms net om die tyd om te kry en maar ’n kans te vat of ons uiteindelik in die bok- of in die skaapkraal beland nie. As ons wetenskaplik kan uitwerk hoe die hele maatskaplike orde inmekaar steek, dan kan ons mos ons maatskaplike ingrypings so plooi dat ons nie net die hele ondermaanse domein verbeter nie, maar ook ons kanse om in die hemel te kom ’n hupstoot gee. Alles as ’n liefdesbetuiging vir ons medemens, vir die Opperwese en natuurlik ad maiorem Dei gloriam. Maatskaplike werk as ’n vakdissipline het langs hierdie weg as die tweeling van sosiologie tot die wêreld toegetree.

In ’n bestekopname wat ’n Amerikaanse sosioloog, Alvin Gouldner, in die 1970’s publiseer het, bevind hy dat byna 70% van akademiese sosioloë in die VSA hulle studieloopbane as teologiestudente begin het. Op Stellenbosch, waar Slabbert sy akademiese loopbaan as sosioloog begin het, was byna al die mans in die departement ook vroeër admissiestudente.

In sy omswerwinge in ’n hele aantal van die sosiologiedepartemente in die land (Slabbert was naas Stellenbosch ook by Kaapstad, Rhodes, Wits en UWK ’n dosent) was daar, soos hy dinge gesien het, maar verlepte ywer vir die soort sosiologie wat hy wou doen, naamlik waar die “logos” van die “sosio(logie)” kon openbaar hoe mens te werk moes gaan nie net om die wêreld beter te verstaan nie, maar dit ook ’n beter plek te maak. Nie om jou energie af te spoel in die drein van bestuurs- en administratiewe aktiwiteite soos om departementele ou hout uit te kap en stadig, soos die jare verbygaan, self te verdor tot ’n stuk ou hout wat net deur geesdriftige nuwelinge in die vlamme gegooi gaan word om hulle eie vure te laat brand nie.

Dit is toe dat Slabbert die pad vat na die politiek toe. Nie op die gevestigde manier van opwaartse beweging deur die strukture nie, maar sommer direk in die parlementêre arena in, charisma en “boots and all”.

Grundlingh vertel die verhaal van sy parlementêre doen en late, ontleed sy sterk en swak punte, sy mislukkings en suksesse, en gee veral aandag aan hoe die charismatiese, geseënde, Boeregesalfde by die ingesete Nasionale Party prominensie ontvang het en deur hulle behandel is. Slabbert was nie net slim, welsprekend en opgewasse om sy man in enige debat te staan nie. Hy was toegerus met al die kulturele eienskappe wat ’n mens kon verwerf het slegs as jy in die diepgang van ’n dikgeweefde, wedersyds versterkende institusionele Boerebroeikas tot wasdom gebring was.

.........

Slabbert was nie net slim, welsprekend en opgewasse om sy man in enige debat te staan nie. Hy was toegerus met al die kulturele eienskappe wat ’n mens kon verwerf het slegs as jy in die diepgang van ’n dikgeweefde, wedersyds versterkende institusionele Boerebroeikas tot wasdom gebring was.

...........

Afrikaanse kerke, Afrikaanse universiteite, Afrikaanse skole en kweekskole, Afrikaanse jeugverenigings, tot posseëlversamelaars, berg- en toerklubs, vakbonde en nog meer as wat mens kan opnoem was ingemessel in die Boerebousel en aanmekaar geheg deur wat Slabbert die Boerebostik genoem het. Die tannies het gewonder deur watter gat in ons kulturele borswering hierdie pragtige gogga gekruip het om uiteindelik in die geledere van volksvreemdes te beland. En dan het hy nog die vermetelheid om ons politieke huigelary en geveinsdhede in spitsvondige Afrikaans aan die kaak te stel.

.........

En dan het hy nog die vermetelheid om ons politieke huigelary en geveinsdhede in spitsvondige Afrikaans aan die kaak te stel.

.........

Maar die parlementêre werksomgewing kon teen die begin tagtigerjare nie meer die barste in sy wil toesmeer nie. Nie net het sy beroemde charisma geroetineerd begin raak nie, maar hy het al hoe meer tot die oortuiging gekom dat die speelveld in die politiek besig was om uit die parlement na ’n terrein te verskuif waar die wedstryd in ’n buiteparlementêre arena afgehandel sou moes word.

Beide die regering in die gewaad van ’n sekurokrasie en die bevrydingsbewegings in die gewaad van die ANC en hulle plaaslike bondgenote het buite die parlement die voorwaardes van die magstryd begin dikteer en die parlement tot ’n toeskouersrol gereduseer. Die parlement het maar net bekragtig wat die uitvoerende gesag aan hulle voorgesê het. As jy deel van die aksie wou bly, moes jy op die veld draf waar die wedstryd gespeel word.

.........

Die verhouding wat Slabbert en Mbeki opgebou het, die aanloop daartoe, die wrywingsvlakke wat mettertyd tussen hulle ontwikkel het en die uiteindelike vervreemding tussen die twee leiers word geskets en beoordeel. Hy wys veral op hoe van sy goeie vriende vir hom in die bresse getree het toe die ANC hulle gatte aan hom begin afvee het, en veral op Breyten Breytenbach se bulderende verwerping van ons nuwe bewindhebbers se smerige bestuurspraktyke en die morele verskraling van die regverdiginge wat aangebied word vir hulle voortgesette magsbesetting.

...........

Grundlingh gee ’n ingeligte vertolking van hoe hierdie besluit van Slabbert in sy eie koukus, in die PW Botha-regering, in die sekurokrasie en in die bevrydingsbewegings ontvang en vertolk is en hoe dit deurgewerk het na die nuwe rol wat Slabbert vir homself in hierdie nuwe omgewing uitgebou het. Die storie van die vorming en opstelling van Idasa word vertel. Die Dakar-ontmoeting met ’n klompie hoofsaaklik Afrikaanssprekende sakelui en akademici word geskets en die belang daarvan geweeg en beoordeel. Die verhouding wat Slabbert en Mbeki opgebou het, die aanloop daartoe, die wrywingsvlakke wat mettertyd tussen hulle ontwikkel het en die uiteindelike vervreemding tussen die twee leiers word geskets en beoordeel. Hy wys veral op hoe van sy goeie vriende vir hom in die bresse getree het toe die ANC hulle gatte aan hom begin afvee het, en veral op Breyten Breytenbach se bulderende verwerping van ons nuwe bewindhebbers se smerige bestuurspraktyke en die morele verskraling van die regverdiginge wat aangebied word vir hulle voortgesette magsbesetting.

Grundlingh sluit af met die tentatiewe suggestie dat as ’n mens teen wil en dank ’n opsommende kategorie moes ontwerp waarin jy Slabbert se wesenlike elemente kan verpak, “sendeling” dalk goed kan werk. Vandaar miskien ook die titel van sy boek. Soos ’n ou grappie aangepas sou lui: Jy kan die man uit die kweekskool kry, maar hoe kry jy die kweekskool uit die man?

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Arrie de Beer

    Ek is seker bloot onkundig en oningelig, maar na die lees van hierdie spitsvondige en kreatiewe resensie het ek eintlik meer van die skrywer van die boek, die resensent self en die Afrikaner-umwelt te wete gekom as van die man op 'n missie - wat waarheen onderweg was?

  • Chris Marnewick SC
    Chris Marnewick SC

    Ek stem aam met Arrie. Ek meen Slabbert was 'n man van kort woorde, kort sinne, en kort boodskappe. Ek sien daar niks van in hierdie resensie nie.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Daar kan baie gesê en geskryf word oor Van Zyl Slabbert maar een ding is seker; hy was intellektueel die meerdere van verreweg die meeste politici. Hy was ook charismaties en 'n natuurlike leier met 'n goeie en praktiese aanvoeling vir die politiek. Hy sou in vandag se omstandighede (as leier) die beste roep en alternatief gewees het vir 'n idiotiese ANC regering. 'n Party (eintlik steeds 'n beweging) wat party bo die belange van die land stel en vir wie dit net 20 jaar gevat het om Suid Afrika in die grond in te regeer.

    Ek dink mens kan grootliks saamstem met Breyten Breytenbach wat die volgende oor sy ontslape vriend sê: "Van Zyl Slabbert was verreweg die beste 'volledige mens' van ons generasie: sosioloog, denker, aktivis, politikus, besigheidsman, patriot, optimis, drinker, sportentoesias, kenner van countrymusiek, weldoener, grappeverteller, lektor, visioenêr, kommunikeerder, stryer en bakleier, raadgewer, vriend, (vriend, broer en vriend." - die herhaling hier 'n persoonlike verwysing na hul vriendskap.

    Slabbert was inderdaad 'n talentvolle mens. Iemand wat respek by vriend en 'vyand' afgedwing het.

  • Avatar
    Joan Hambidge

    'n Skitterende en insigryke resensie. Die skrywer Gagiano wys op etlike kwessies wat vir die biograaf problematies was: o.a. die bestaan van outobiografiese tekste en hoe "lapsed priests" in die sosiologie beland. Die spel met analis / analisant is eweneens knap en 'n mens weet geen biograaf kan 'n mens volledig peil nie. Die "sosiaal-kulturele ontologie" (soos Gagiano uitwys) word deur 'n gesiene historikus goed gekarteer. Uitstekend geskryf en boonop met humor. Soos: "Hy weet maar te goed hoeveel kognitiewe rammelkaste al in die naam van wetenskaplike peilings van die mensdom se doen en late in die intellektuele markte rondgepronk het en nou in die skrootwerwe lê en roes ..." En die slot!

  • Avatar
    Werner Menges

    Hierdie resensie wys waarom Jannie Gagiano se lesings vir vele politieke wetenskap-studente op Stellenbosch gereeld 'n hoogtepunt was: intelligent, boeiend, uitdagend en gereeld ook vermaaklik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top