Lesersindruk:  Robey Leibbrandt. ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake

  • 1

Titel: Robey Leibbrandt. 'n Lewe van fanatisme
Skrywer: Albert Blake
Uitgewer: Jonanthan Ball

ISBN: 9781868429790

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Albert Blake moet gelukgewens word met sy uitstekende boek oor Robey Leibbrandt wat onlangs op die winkelrakke verskyn het, veral omdat die inhoud gerugsteun word deur 'n uitgebreide bibliografie, insluitende 'n reeks primêre en argivale bronne, hofverslae, koerant- en tydskrifartikels sowel as elektroniese bronne. Die bronverwysings in die vorm van voetnotas vir die 22 hoofstukke, insluitende die nawoord, beslaan 24 bladsye, wat dit moontlik maak vir enige kritiese leser om die rapportering in die teks te kontroleer.

Die skryfstyl is gemaklik en ongekompliseerd en die wyse waarop die teks aangebied word, het my aandag deurgaans baie effektief geboei.

'n Kliniese gevallestudie

Alhoewel verskillende perspektiewe oor Leibbrandt se motivering vir sy gedrag en optrede beslis bestaan, gebruik Blake heeltemal tereg die begrip fanatisme as 'n teoretiese vertrekpunt om Leibbrandt se eienaardige gedragspatrone te verklaar. Die skrywer hanteer die biografiese geskiedenis van hierdie Suid-Afrikaanse vryheidsvegter uit die jare dertig en veertig van die vorige eeu baie professioneel en bykans soos 'n kliniese gevallestudie. Die beskikbare inligting oor Leibbrandt se ontwikkeling in die volle konteks van sy jeugjare, internasionale studentejare, werksomgewings, blootstelling aan die ideologie van nasionaal-sosialisme, sy rol in Suid-Afrika gedurende die oorlogsjare, asook sy lewe na sy vrylating uit die tronk word volledig bespreek.

Psigotiese versteurings

Die meeste lesers sal saamstem dat Leibbrandt se gedrag by tye die grense van “normailteit” getoets het. Dit help egter eintlik nie veel om Leibbrandt as kranksinnig (Nasson 2019:12, derde paragraaf) of 'n “lunatic” (Lewald in Blake 2019:257) te beskryf nie. Dit kom op onregverdige diagnostiese etikettering neer. Volgens Blake is Leibbrandt by verskillende geleenthede wel psigiatries geassesseer (204, 207 en 217), maar hy is nooit in 'n psigiatriese hospitaal opgeneem vir direkte waarneming, psigometriese assessering en psigoterapeutiese behandeling nie. Geen formele diagnose is ooit beskikbaar gestel nie. Kranksinnigheid is ook 'n sambreelterm wat sinoniem met psigotiese versteuring is en waardeur die fyn onderskeiding tussen die onderliggende simptomatologie van 'n komplekse siektebeeld bloot geïgnoreer word. Binne die kategorie psigotiese versteurings word verskeie sindrome opgeneem (byvoorbeeld skisofrenie) in verskillende erkende psigopatologiese klassifikasiestelsels, soos die DSM (American Psychiatric Association Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders) en die ICD (International Statistical Classification of Diseases and Related Health Problems). Na presies watter sindroom word dus verwys wanneer van kranksinnigheid gepraat word? Sover my kennis strek, is die regsbeginsel van ontoerekeningsvatbaarheid op grond van geestesiekte nie tydens Leibbrandt se hoogverraadverhoor aangevoer nie.

Fanatisme

Fanatisme kan as 'n persoonlikheidstrek of -eienskap beskou word. Persoonlikheidseienskappe vorm normaalweg 'n komplekse en dinamiese sisteem en lê aan die basis van die unieke psigofisiologiese integrasie van die menslike persoonlikheid. Fanatisme verwys na oormatige onverdraagsaamheid teenoor opponerende idees, 'n ekstreme mate van toewyding aan, of onredelike ondersteuning vir, iets (byvoorbeeld 'n saak, persoon of ideologie), wat met 'n disrespek vir sosiale norme gepaardgaan. Leibbrandt was byvoorbeeld 'n obsessiewe volgeling van Adolf Hitler, Rudolph Karlowa en die ideologie van nasionaal-sosialisme, terwyl hy die idees van Jan Smuts, die Suid-Afrikaanse regering, Hans van Rensburg en die Ossewabrandwag uitermate sterk (fanaties) geopponeer het.

Die intensiteit van fanatisme kan op 'n deurlopende skaal van laag na gematig tot ekstreem beoordeel word. Graadverskille in die konstruk fanatisme moet dus deurgaans in ag geneem word.

Ekstremisme: enkele teoretiese perspektiewe

Leibbrandt se gedragspatrone sou ook teoreties gesproke deur die lens van ekstremisme beskou kon word. Verskillende perspektiewe lei normaalweg tot 'n beter begrip van en insig in menslike motivering en gedrag as een enkele perspektief (Ginges, Altran, Sachdeva en Medin 2011). 

Ekstremisme is 'n toestand of ingesteldheid wat met verloop van tyd ontwikkel (Kruglanski, Gelfand, Bélanger, Sheveland, Hietiarachchi en Gunaratna 2014). Die ontwikkeling daarvan vereis die aanwesigheid van drie kernbestanddele: (a) aktivering van 'n betekenisvolle doelwit; (b) die identifisering van geweld as die enigste wyse om die bepaalde doel te bereik; (c) 'n verskuiwing na 'n morele verbintenis en toewyding aan die gekose betekenisvolle doelwit. Hierdie proses kom neer op 'n morele besluit tot doeldominansie met die gevolglike devaluering van enige alternatiewe doelwit.

Billig (1982:107) verwys na die psigoanalitiese teorie van Adorno waarin aangetoon word dat die ekstremistiese en outoritêre persoon oor 'n swak-ontwikkelde ego beskik. Die swak ego is nie in staat om behoorlik te bemiddel tussen die superego en kragte van die id nie. Fragmentasie van die ego kan gevolglik voorkom word slegs deur 'n streng en onderdrukkende superego. Op hierdie wyse word die superego die voorspraak vir die id. Hierdie dinamika presenteer in die outoritêre en fascistiese persoonlikhede as oorheersing (domination) van of onteiening (expropriation) deur die superego. Dié siening sluit aan by Kruglanski ea (2014) se konsep van morele besluitneming wat tot doeldominansie lei.

Orwell (1984:4) beweer dat ekstreme nasionalisme op magsbeheptheid (power hunger) neerkom wat deur selfmisleiding getemper word. Daar is ook 'n obsessionele fokus op die superioriteit van die gekose magseenheid (in Leibbrandt se geval was die gekose magseenheid die Afrikanervolk). Die handhawing van dubbele standaarde teenoor realiteit is 'n verdere eienskap van ekstremisme. Hiervolgens kan 'n handeling óf goed óf sleg wees en word dit geensins op meriete beoordeel nie, afhangende van wie die handeling uitvoer. (Bomplantery, motor- en plofstofdiefstal en fisieke aanrandings wat deur die nasionaal-sosialistiese rebelle uitgevoer is, is deur hulself as aanvaarbaar beskou.)

Schmidt, Joffé en Davar (2005) skep die term onpersoonlike self in hul navorsing oor die sielkundige gevolge van staatsbeheer. Wanneer die individu voortdurend blootgestel word aan die druk om tot ‘n sosiale en politieke ideaal te konformeer, dan word die druk geïnternaliseer tot ‘n onpersoonlike self wat ‘n sielkundige plaasvervanger is vir die andersins outonome individuele persoonlikheid. Hierdie modifikasie van die persoonlikheid hou spesifieke gevolge in. Dit werk kontraproduktief in op die natuurlike geneigdheid van die individu om sosiale druk tot konformering teen te staan; dit vernietig inisiatief en vertroue; dit inhibeer spontaniteit.

Dit lyk egter of daar in Leibbrandt se geval juis ‘n teenoorgestelde reaksie plaasgevind het. Soos wat die druk van staatsbeheer toegeneem het deur die besluit oor deelname van die Suid-Afrikaanse regering aan die Tweede Wêreldoorlog toe te pas, het Leibbrandt se opstand teen konformering juis toegeneem. Sy inisiatief en selfvertoue en spontaniteit, uitgesprokenheid, aggressie en gebrek aan impulsbeheer het beslis ook toegeneem. Die teorie van die “onpersoonlike self” verklaar dus nie Leibbrandt se gedragpatrone voldoende nie.

Dit is natuurlik heeltemal onvoldoende om slegs enkele verwysings te verskaf oor 'n komplekse navorsingsterrein soos die verband tussen persoonlikheidsfunksionering en ekstremisme en daaroor gevolgtrekkings te maak. Vir die doeleindes van hierdie kort artikel dien dié poging meer as 'n prikkel tot verdere leeswerk as enigiets anders.

Samevattende gevolgtrekking

Robey Leibbrandt se komplekse persoonlikheidsdinamika is moeilik ten volle verklaarbaar met die gegewens wat aan die leser beskikbaar gestel word. Die beste pogings kom steeds op blote spekulasie neer. In die teks verwys Blake volledigheidshalwe na Leibbrandt se boksloopbaan en moontlike breintrauma wat daarmee geassosieer kan word. Die vraag oor die rol van genetika as 'n faktor in persoonlikheidsfunksionering word ook gestel. Hierdie is kernbelangrike kwessies. Persoonlikheidseienskappe soos ektraversie, openheid, neurotisme en instemmigheid word in sommige kringe as interne disposisies beskou wat 'n betekenisvolle invloed op menslike gedrag uitoefen (Hahn, Spinath, Siedler, Wagner, Schupp en Kandler 2012). Daar is ook fisiologiese faktore wat 'n rol in persoonlikheidsversteurings kan speel, soos hormoonaktiwiteit, monoamienoksidase en neurotransmitters soos endorfien (Sadock en Sadock 2003).

In die teks word ook na positiewe eienskappe van Leibbrandt verwys, soos sy veerkragtigheid en geneigdheid om terug te bons, onder andere wat sy latere werksloopbaan betref. Die gemeenskap van Springbok het ook baie lof gehad vir sy mededeelsaamheid.

Die perspektiewe in die boek is 'n interessante en deeglik-nagevorste poging om die leser verdere insigte in die enigmatiese persoonlikheid van Robey Leibbrandt te gee.

By terugskouing blyk dit duidelik dat Leibbrandt hom nie maklik laat “vasvat” nie, hetsy fisiek (letterlik) of psigies (figuurlik).

Bibliografie

Billig, M. 1982. Ideology and social psychology. Extremism, moderation and contradiction. Oxford: Basil Blackwell.

Blake, A. 2019. Robey Leibbrandt. ‘n Lewe van fanatisme. Johannesburg: Jonathan Ball.

Ginges, J, S Altran, S Sachdeva en D Medin. 2011. Psychology out of the laboratory. The challenge of violent extremism. American Psychologist, 66(6):507–19.

Hahn, E, FM Spinath, T Siedler, GG Wagner, J Schupp en C Kandler. 2012. The complexity of personality: advantages of a genetically sensitive multi-group design. Behavioral Genetics, 42:221–33.

Kruglanski, AW, MJ Gelfand, JJ Bélanger, A Sheveland, M Hietiarachchi en R Gunaratna. 2014. The psychology of radicalization and deradicalization: How significance quest impacts violent extremism. Advances in Political Psychology, 35:69-93.

Nasson, B. 2019. Spiere, vuiste en bomme. Boeke, Rapport Weekliks, 13 Oktober, bl 12.

Orwell, G. 2018. Notes on nationalism. Londen: Penguin Random House.

Sadock, BJ en VA Sadock. 2003. Synopsis of psychiatry. 9de uitgawe. Philadelphia: Lippencott, Williams en Wilkins.

Schmidt, C, G Joffé en E Davar. 2005. The psychology of political extremism. Cambridge Review of International Affairs, 18(1):151–71.

  • 1

Kommentaar

  • ek´s verbaas oor die baie foute in die boek se teks, ek bedoel die skrywer het in dié
    gevalle geen bronne aangegee nie. Ek praat net oor die deel wat in Duitsland of op
    die sailboot speel. soms lyk my dié deel soos n sproekie boek

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top