Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Reisjoernaal

  • 1

  • Johann Rossouw skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

As jy in die dekade tagtig van die vorige eeu as Afrikaner onder die kultuurboikot grootgeword het, was Europa ’n mitiese taboe – die vasteland waarvan jou kultuur en jou taal in ’n groot mate afgelei is; toonaangewend wat betref musiek, kuns, argitektuur, letterkunde, denke. Om soontoe te kon reis – oftewel oorsee te gaan, soos ons dit genoem het – was haas ondenkbaar. Die enkeles vir wie dit wel tydens ons hoërskooljare beskore was, het by hul terugkeer heldestatus verwerf – de facto-verkenners van die verre vasteland wat skaars nuus, indrukke en kulturele artefakte met ons kom deel het.

Toe ’n Europese reis my die eerste maal beskore word – na Parys, Frankryk van 5 tot 31 Desember 1994 – was dit ’n soort tuiskoms. Jy moes soontoe reis om, soos soveel andere voor jou, agter te kom jy is meer van hiér, van Afrika, as van dáár; en jy moes soontoe reis om ook te besef dat jy tog in ’n mate daar tuis voel. Miskien veral weens hoe doeltreffend die kultuurboikot ons hiér van amper alles dáár afgesny het, maar ongetwyfeld ook danksy die omvang en diepte van die Franse kultuur, was daardie eerste besoek oorweldigend in die sin dat waar jy vandaan kom in vergelyking met dit alles daar so klein en onbenullig gevoel het.

Op 5 Desember 1994, ná ’n slapelose nag op die regstreekse vlug, bereik ek my naweekhuisvesting omstreeks agtuur die oggend, en vaar kort daarna die strate in. Weens een of ander blinde vooroordeel teen toerisme eerder as om te reis, het ek vooraf geen toerismegids oor die stad bestudeer nie. ’n Kaartboek blyk egter wel noodsaaklik te wees, wat my telkens selfbewus sal maak as ek dit tydens daardie besoek uit my binnesak vis om te raadpleeg – selfbewus, want onteenseglik verraai dit my status as besoeker pleks van inwoner. (Wanneer ek 31 jaar later hardnekkig die ou kaartboek pleks van neus-in-die-selfoon ’n kaarttoepassing raadpleeg, sal dit wees met die trots van ’n dinosourus wat soos die Loch Ness-monster reg onder die neuse van die modernes wegkruip.)

Kort voor 12 daardie grou wintersdag in Desember 1994 doem ’n bekende gesig voor my op: die Notre Dame-katedraal oorkant wat die Seinerivier moet wees. Om vyf oor 12 betree ek, destyds agnosties, die heilige ruimte. ’n Bruilof is onderweg – ’n sopraan sing Bach se “Ave Maria”; in die halflig troon die Gotiese struktuur met sy kenmerkende kruisbalke bo my uit. Die skoonheid is oorrompelend, die emosie onvermydelik.

Later in daardie grou wintermaand ’n soort epifanie, per duur openbare telefoonoproep vanuit ’n telefoonhokkie op een of ander plein, met ’n vriend gedeel: “As jy dit nie in óns wêreld maak nie, gaan jy nie hier tel nie.” Nog later daardie maand ’n welkome weersiens met my Frankofiliese studieleier, ook uit Suid-Afrika daar op besoek, en ons wat saamstem dat as jy die eerste maal in Parys kom, voel jy “jy is f***ol”. Ons kon maar net goedig daaroor lag.

........
“Al die groot vrae van ons tyd is teenwoordig in jou land, Suid-Afrika.” Een manier om die koloniale verhouding tussen die hier en die daar te begin relativeer, ’n soort dekolonisasie, sou ek later besef – báie later. Op hierdie afgelope reis.
........

En tog, en tog – elders het ek verwys na my toekomstige direkteur aan die Franse Instituut van Suid-Afrika op die aand van ons eerste kennismaking, Mei 1994: “Al die groot vrae van ons tyd is teenwoordig in jou land, Suid-Afrika.” Een manier om die koloniale verhouding tussen die hier en die daar te begin relativeer, ’n soort dekolonisasie, sou ek later besef – báie later. Op hierdie afgelope reis.

***

Destyds was daar vele dinge wat die verhouding tussen die hier en die daar skeefgetrek het. My mense, afstammelinge uit onder meer die Europese stamlande, het maar pas ’n einde gebring aan apartheid, die noodlottige keuse wat ons ná die Tweede Wêreldoorlog weg van die koers van ons stamlande destyds gemaak het, waarvan bestek en rekenskap toe nog voorgelê het, veral die moeisame morele rehabilitasie deur nuwe bondgenootskappe met diegene met wie ons vroeër in vyandskap hier gestaan het. Daar was die destyds wêreldwyd invloedryke en in die Weste toonaangewende poststrukturalistiese Franse filosofie, versinnebeeld deur Deleuze, Derrida, Foucault, Lyotard – van wie dit eers dekades later sou blyk dat hul denke grootliks nie die begin van ’n nuwe denkera aandui nie, maar die einde van ’n era waarvan wat hierna kom – nou – nog nie duidelik is nie. Vir óns, nes vir die Amerikaners, het hulle denke wel gehelp om sin te maak van die verhouding tussen meerderheid en minderheid, van magsmisbruik en van die koorsdroom van rasse- en etniese suiwerheid.

***

Miskien het bogenoemde Franse filosowe onwillekeurig tog ook gebaai in die gloed van Amerikaanse triomfantelikheid ná die Val van die Berlynse Muur (November 1989) en die ineenstorting van die Sowjetunie (1991). Hierdie filosowe en hul land, Frankryk, was immers tog deel van die Amerikaansgeleide Weste, en kon dus per implikasie deel aan die glorie van die liberale demokrasie en die vrye mark bo die alternatief wat die Sowjetunie verteenwoordig het, die sogenaamde einde van die geskiedenis (Fukuyama). Of so het dit vir die oorwinnaars gelyk, beskonke van die oorwinning. (Foucault was toe nie meer met ons nie en, moet gesê word, nie een van die ander drie denkers hier bo genoem, het hiérdie mite gesluk nie; inteendeel.)

Hoe verder die wêreld wegbeweeg van die gebeure aan die einde van die Koue Oorlog (1945–1989), hoe duideliker word dit dat dit nie die triomf van die Weste aangekondig het nie, maar voorlopig eerder die begin van die einde, van ongestadigde afgang en opkomende nihilisme. Soos altyd sal die tyd leer waarheen dit alles gaan.

***

Tussen my vorige besoek aan Frankryk middel-2023 en vanjaar se reis na Rome en Italië in die eerste twee weke van Junie, lê twee mylpaalboeke – Michel Houellebecq se grootse roman, vernietig, en Emmanuel Todd se La défaite de l’Occident. Frankryk se grootste lewende romansier en hul voorste geopolitiese ontleder hanteer in hierdie twee boeke op uiteenlopende maniere die gegewe sentraal tot die afgang van die Weste, naamlik die gestadigde verbrokkeling van sy Christelike kultuur, wat uitspeel in die ontbinding van nasionale identiteite en die opkoms van individualisme en nihilisme.

As dit by religieuse en kulturele kragte kom, bly die verstaan daarvan altyd voorlopig. Hoe moet dit byvoorbeeld verstaan word dat die Katolieke Kerk in Frankryk tydens vanjaar se Pase dubbeld soveel volwassenes en drie maal soveel tieners – altesaam 17 000 dopelinge – as in 2024 gedoop het? Of dat die ganse wêreld vasgenael was voor die manjifieke tentoonstelling van ’n lewende tradisie rondom die begrafnis van pous Franciskus en die verkiesing van pous Leo die Veertiende? Of dat ’n rolprent soos Conclave, wat op die bewuste vlak onaptytlike karikature van die draers van die tradisie in die film maak terwyl dit op die onbewuste vlak die kyker intrek met kameraskote wat haas liefderyk talm by tonele wat die lewende tradisie in al sy skoonheid uitbeeld, ’n groot treffer was?

***

Aankoms in Rome, 3 Junie 2025, bykans op die dag 1 700 jaar ná die afsluiting van die Eerste Ekumeniese Konsilie in Nicea buite Konstantinopel (Istanboel), waarna die Christendom nooit weer dieselfde sou wees nie – die dubbelsinnigheid van leerstellige uitklaring én die seël van imperiale mag. Spreek iets van dié kontras dalk uit die kontras tussen die stil asketiese selletjie in die klooster waar ek tuisgaan en die prag en praal van die St Petrus-plein en die Vatikaan, wat ek op 4 Junie op ’n snikhete middaguur bereik?

Terwyl hierdie opstel geskryf word, is dit die Ortodokse Vas van die Heilige Apostels Petrus en Paulus. In die Gandolfo-kasteel, eertydse somerpaleis van die pouse vanaf 1623 en deur pous Franciskus as museum vir die publiek oopgestel, is daar die volgende tapisserie wat Christus se roeping van Petrus by die skuitjie tot “visser van mense” uitbeeld:

Duiselingwekkend om te dink dat as die nederige visserman nee gesê het, hy nie uiteindelik onderstebo in die Ewige Stad gekruisig sou word nie, en sou die Vatikaan en die St Petrus-plein my nie op hierdie stralende somersdagbegroet nie.

***

Tot die koms van die trem, die motor en die bus sou min reisigers ’n stad anders as te voet leer ken het. Nou is dit ’n doelbewuste keuse om ’n stad so te leer ken – ’n tydsame wyse van kennismaking – en vol verrassings as jy 30 jaar later steeds alle toerismegidse hardnekkig vermy. Hoe beskryf jy vir die leser hoe dit is om, soos die Notre Dame en die Seine meer as 30 jaar gelede, anderkant die park neffens die klooster ineens die Colosseum te sien verrys? Die een afgeskorte ruïne van klassieke suile ná die ander? Die ongeskonde manjifieke Suil van Trajanus wat ineens regs van jou opdoem, net anderkant die raserige bouterrein waar gewerk word aan Rome se omstrede derde moltreinlyn? Dan, wanneer jy na links swenk, die monumentale Vittoriano wat voor jou opdoem, en waarvan jy dan moet verneem dat dit nie dagteken uit die Romeinse era soos jy sou dink nie, maar eerder gebou is tussen 1885 en 1911 ter gedagtenis aan koning Vittorio Immanuel die Tweede se aandeel in die totstandkoming van die Republiek van Italië?

Dit is so, kan die reisiger dink, dat die monumentalisme deur sommige vandag as fallies en selfs fascisties afgemaak word, maar watter selfvertroue en toekomsverwagting moet ’n kultuur nie hê om so iets te bou nie?

En wat van die ánder soort monumentalisme wat ons vandag oorgekom het, dié waar die afgeneemde monument op die selfie in die agtergrond ingespan word om die brose self statuur te gee, nóg ’n oomblik van verbruik vir jou Instagram-rekening, oftewel dit wat ons monumentale narsisme kan noem? Jy kom dit oral op weg deur Rome teë, en onderstaande kiekie van ’n kiekienemer voor die Colosseum is maar een voorbeeld. Miskien beeld hierdie kiekie dit uit wat ’n mens die Tweede Val van Rome kan noem?

.......
Miskien beeld hierdie kiekie dit uit wat ’n mens die Tweede Val van Rome kan noem?
.......

Op dieselfde trant kom jy die ersatzweergawe van die glorieryke Romeinse verlede ook buite die Colosseum teë:

Net daarnaas kom jy die minder aptytlike skadukant van globale kapitalisme teë: ’n medebewoner van jou vasteland met wie jy ’n weemoedige toegeneentheid voel, hopende en biddende dat een of twee toeriste tog sy gesnede beeldjies van die Groot Vyf en andere sal aanskaf:

Of is jy met dié hoop en dié gebed soos ’n oorlogsfotograaf wat ’n verhongerde kind afneem sonder om haar ’n stukkie brood te gee?

Op ’n gelukkiger noot: Daar is in die Roomse moderniteit ’n kontinuïteit tussen die oue en die nuwe, soos speels versinnebeeld in die volgende kiekies, onderskeidelik van Vespas met syspanne, ’n klassieke Fiatjie, en een van sy eietydse elektries aangedrewe opvolgers, ’n Citroën:

Tydens die paar dae in Rome val iets anders op – sowel by die kongres wat ek bywoon en wat ook deur heelwat Katolieke bygewoon word, as in gesprekke met ander Katolieke wat op die reis wag: die liefde wat die Katolieke vir die pous het. Dit spruit sekerlik uit die amp en uit die ampsbekleër voort, maar dis nie daarom minder tasbaar vir die huidige ampsbekleër en sy onlangse drie voorgangers nie. En in Suid-Afrika, kan ek nie anders as om te dink nie, heers allermins dieselfde eenparige toegeneentheid jeens die moderator van die NG Kerk – sou dit wees omdat die amp nie met dieselfde respek as by die Katolieke bejeën word nie, en die ampsbekleër bygevolg altyd reeds met ’n agterstand teenoor sy Katolieke eweknie opgesaal is? So kalwe modernisering immer die gesag van die tradisie weg – terwyl die moderniteit hom al hoe meer aan manifestasies van lewende tradisies op die wêreldverhoog verkyk.

***

Die reis voer na ’n toegewyde Katolieke vriendin, mistikus uit eie reg nadat ’n visioen van die Heilige Gees haar in die ouderdom van 16 oorval het op besoek aan die wêreldberoemde pelgrimsbestemming Lourdes, waar die Heilige Maagd in 1858 verskeie kere verskyn het aan ’n eenvoudige meisie uit die kleinboerklas, Bernadette Soubirous, wat later danksy haar voorbeeldige lewe deur die Katolieke Kerk tot heilige verklaar is.

Met ons laaste ontmoeting, November 2023, waartydens H aan die einde van haar vier dag lange besoek aan Bloemfontein en omstreke haar dank betraand uitgespreek en verklaar het dat “ons in Frankryk nie meer die identiteit het wat julle nog in die Vrystaat het nie”, verstaan ek dat sy sowat 20 minute vanaf haar werk by ’n hoëronderwysinstelling in Monaco woon. Twintig minute se ry, het ek verkeerdelik verstaan, want nadat sy my op die lughawe van Nice kom haal en ons ’n rukkie later by ’n verkeersirkel Monaco binnery, verduidelik sy dat die straat waarin ons ry, die amptelike grenslyn tussen Monaco en Frankryk verteenwoordig – sy woon twee strate bokant die grensstraat, en die 20 minute waarna sy destyds verwys het, is hoe lank dit haar neem om werk toe te stap.

Onverwags word ek vervolgens op ’n tydsame wandeling tot op die verste oostelike punt van Monaco geneem, en terug na die verste westelike punt – die beroemde Rots waarop die koninklike paleis, Monaco se katedraal en die wêreldberoemde Oseanografiemuseum, gestig deur die huidige prins, Albert die Tweede, se oupagrootjie, Albert die Eerste, staan.

Monaco is klein – ’n piepklein, speelgoeddorpie wat ’n reus van ’n landmerk vir die globale kapitalisme met al sy teenstrydighede is. Wie weet dat die onmiddellike oorsaak van Monaco se enorme rykdom vandag weens die invloei van skatrykes is weens grondgebied en landbouvermoë wat Monaco in die laat 19de eeu aan Frankryk afgestaan het? Waarop Albert die Eerste reageer het deur die wêreldberoemde casino op te rig, wat daarna gróót geld na Monaco begin lok het. Monaco is bekend as belastingparadys, maar wie weet dat die enigste belasting wat dit hef – BTW, teen ’n koers van 20% – aangewend word om die nieskatryk tradisionele inwoners van Monaco, die Monegaske, van uitnemende maatskaplike en onderwysdienste te voorsien?

Die wandeling neem ons verby ’n seefrontklub, met links bo teen die hang die klein tennisklub waar die Monaco Ope jaarliks kort voor die Franse Ope beslis word. By die seefrontklub, waar die geykte splinternuwe Bentleys en Ferrari’s geparkeer staan, doef-doef dit. Ons gids, ’n Katalaan met ’n warm persoonlikheid wat al amper ’n kwarteeu in Monaco woon, vertel my meewarig in sy Spaanse Frans dat toe hy destyds in Monaco aangekom het, dit Sondagmiddae nie so by die klub geraas het nie, want toe was die lede nog “gentlemen” wat nou almal oorlede is. Intussen het die nuwerykes uit Oos-Europa ingestroom. Dis húlle motors wat nou in die parkeerterrein staan, en dis húlle wat die gedoef-doef wil hê.

My gids is ook oor ander sake goed ingelig, soos: Die nie-amptelike syfer van die Monegaskiese polisiemag is heelwat hoër as die amptelike syfer van 500; te eniger tyd is sowat die helfte van die polisiemag aan diens in burgerlike drag; en 1 500 veiligheidskameras verfilm dag en nag die lewe in Monaco. Hier kan jy beslis nie sonder waarneming ’n gewilde Suid-Afrikaanse fisieke misdaad soos ’n inbraak of sakkerollery pleeg nie. Aan die ander kant, verneem ek, hou die eintlike rede vir die Franse President se besoek dieselfde naweek aan Monaco nie soseer verband met die komende wêreldkongres te Nice oor die wêreld se oseane nie, maar vind die besoek plaas omdat die Prins sy hulp ingeroep het om Monaco van die gryslys af te kry – die einste lys waarvan Suid-Afrika self tans probeer af kom. Monaco het daarop beland weens ’n finansiële skandaal wat op die lappe gekom het nadat die Prins se lojale boekhouer van dekades afgejak gevoel en in die Franse pers met die sak patats uitgekom het. En vir Monaco is dit – ironie der ironieë – veel riskanter om op die gryslys te wees as wat dit vir Suid-Afrika is.

Uiteindelik bereik ons die kruin van die Rots. Die Middellandse See strek grys en lieflik voor ons uit met reënwolke wat op die kim saampak. Wanneer ons omdraai en die terugtog na benede aanpak, moet ek enigsins verbaas besef die hang bo Monaco herinner aan die hang waarteen die Kaapstadse Stadskom lê:

Hoe boeiend dit alles ook is, word ek oor aandete die eerste maal in gesprekke met Franse vriende in die loop van die daaropvolgende dae met dieselfde gewaarwording by hulle gekonfronteer as waaroor Houellebecq en Todd skryf: Frankryk, Europa, die Weste is in afgang. Niemand kan dink aan ’n Franse filosoof of romansier onder 60 wat vra om gelees te word nie. Niemand verstaan die strydlustigheid van die Franse President en sy Britse en Duitse eweknieë nie. Niemand verstaan die klakkeloos herhaalde bewering deur dié nasionale leiers dat Rusland ná Oekraïne een of ander Europese land gaan binneval nie.

Aan huis van my ouddirekteur die volgende aand in die lieflike suidwestelike streekstad Beziers bely hy sy wroeging teenoor my dat hy geen ander keuse het as om in die volgende verkiesing vir ’n “antisisteemparty” te stem nie, omdat die hoofstroompartye die een ná die ander van die volksmenigte afgesny is. Die polisiemag se vernaamste taak is skynbaar om die elite teen opstandigheid in die volksmenigte te beskerm. Ek onthou die piepklein Monaco se proporsioneel reusagtige polisiemag wat lede van die fabelagtig ryke globale kapitalistiese klas van veiligheid moet verseker. Die inwoners van Beziers en sy groter streek eien hulle nietemin hul plaaslike identiteit sonder wroeging toe – tydens verlede Augustus se fees van die corrida (stiergevegte) het binne die bestek van ’n week 1,6 miljoen oorwegend jong mense die fees bygewoon.

Wanneer die reis my die volgende aand na Parys voer, ontmoet ek ’n vertalersvriendin, een van die beste vertalers van wie ek weet. ’n Jaar gelede, vertel sy, is sy uit haar pos as vertaler gestel, want die reuse maatskappy waarvoor sy gewerk het, het besluit dat masjienvertaling haar werk ewe goed kan doen. (Kort daarna sal ek in ’n koerantartikel van “binêre denke” beskuldig word omdat ek in ’n onlangse rubriek op die risiko’s van kunsmatige intelligensie vir Suid-Afrikaanse studente in ’n baie spesifieke konteks gewys het.)

Die volgende oggend voer die reis my terug na waar die eerste besoek meer as 30 jaar gelede begin het, die (nou gerestoureerde) Notre Dame. By die betreding daarvan word ek opnuut oorrompel – die mure en die dak het hulle oorspronklike ligtheid herwin; lig van die helder somerdag stroom die katedraal deur oorwegend blou gebrandskilderde vensters binne, en die heiligheid is tasbaar. Dit is hier waar taal te kort skiet, en ontoereikende kiekies dalk iets meer vertel:

By al die skoonheid word ek deur die volgende gedenkplaat weemoedig gestem – weemoedig omdat die toegeneentheid wat in 2007 tussen Katoliek en Ortodoks aan die orde was, tussen die “linkerlong” en die “regterlong” van die Christendom (soos pous Johannes Paulus die Tweede dit heuglik gestel het), nou ’n skadu van sigself is, verrinneweer deur die kerkskeuring en oorlog van broer teen broer, aangehits deur die Amerikaansgeleide Weste in Oekraïne:

Die inskripsie lui: “In die jaar van die Verlosser 2007 het kardinaal André die Drie-en-Twintigste, Aartsbiskop van Parys, omring van kardinale van die Heilige Kerk bygestaan deur hulpbiskoppe, vikaris-generaals van Parys vergesel van etlike biskoppe van Frankryk, in die teenwoordigheid van talryke prominente burgerlike persone en ’n groot massa Katolieke en Ortodokse gelowiges op 2 Februarie Sy Eminensie Bartholomeüs die Eerste, Ekumeniese Patriarg van Konstantinopel, en op Woensdag 3 Oktober Sy Eminensie Alexis die Tweede, Patriarg van Moskou en die Ganse Roes, verwelkom om die aanddiens te sing en die buitengewone relieke van die Passie van die Verlosser bewaar in hierdie metropolitaanse basilika van Notre-Dame de Paris te vereer.”

***

Oplaas, meer as 18 jaar sedert ons mekaar laas gesien het, neem die reis my na my 84-jarige leermeester, Régis Debray – hy wat my geleer het van die verhouding tussen die tegniek en die kultuur, en danksy wie ek kon help om die begrippe logosfeer, grafosfeer en videosfeer deel van die Afrikaanse gesprek te maak. Die eertydse revolusionêr, medereisiger van Ché Guevara, en raadgewer van president François Mitterrand vir meer as agt jaar, kom my skuifelend en glimlaggend op die helder middag tegemoet en groet my op die tradisionele Franse manier met die kus op albei wange – hy wat destyds nog fier, regop en gereserveerd was, en eerder met die regterhand gegroet het. Hoe verander die tyd nie die dinge nie, sal hy my oor en hoor tydens ons ete herinner as hy oor dié of daardie aspek van veroudering praat: “Vous verrez un jour” – u sal eendag sien.

........
Maar om in stilte voort te gaan, die verval te boekstaaf, die spore van die tradisie te bly naspeur en uit die oerbronne oor die toekoms te droom, dié is nog moontlik.
........

Die aanvoeling is duidelik: Vir hierdie dienaar van die Franse Republiek wat sy lewe in die diens daarvan gestel het, is dit te pynlik om te praat oor wat Frankryk nou geword het. Die blote feit dat hy Emmanuel Todd se durf en analitiese briljantheid aanprys, sê reeds genoeg. Ons gesels oor die einste koerantrubriek oor kunsmatige intelligensie en studente wat my kort daarna die beskuldiging van “binêre denke” op die hals sou haal; onthou saam hoe wyle Michel Serres graag vertel het hoe die Europese intelligentsia die gedrukte boek aanvanklik verwerp het omdat dit “kennis uit die hoof sou neem”, nes Plato al op sy dag dit van die geskrewe woord gevrees het. Dog KI, stem ons saam, is iets héél anders – die gevaar daarvan is dat met die verswakking van die grafosfeer dit die grafosfeer so goed naboots dat diegene wat vandag in die videosfeer leef, die gevare daarvan nouliks verstaan, wat nog te sê begryp hoe om dit oordeelkundig in te span.

***

Onderweg huis toe onthou ek weer my ouddirekteur se uitspraak 31 jaar gelede oor hoe al die vrae van ons tyd in Suid-Afrika teenwoordig is. Dit tref my skielik dat daar in al die gesprekke met die Franse wat ek tydens hierdie reis gevoer het, ’n relativering van die ongelykheid tussen my hier en hulle daar van drie dekades gelede plaasgevind het – omdat die verlies aan wêreld en denke en taal op die hoogste vlak wat al meer as 30 jaar aan ons hier so bekend is, ook nou sy opwagting by hulle daar gemaak het.

***

Ons verhouding is oplaas gedekoloniseer. Ons is saam in hierdie ding – dit kom met die beloning van verdiepte vriendskap, maar teen die prys van iets wat onherroeplik verlore is. Soos die kloosterlinge van die Latynse Christendom ná die Val van Rome in 476 in stilte gered het wat daar van hulle grootste klassieke Joods-Grieks-Christelike kultuur te redde was, so het die eintlike Tweede Val van Rome – nie die een van die kiekie hier bo voor die Colosseum nie, maar die Val van die Weste ná die Val van die Oosblok – ons nou opnuut na die kloosters gedwing.

Maar om in stilte voort te gaan, die verval te boekstaaf, die spore van die tradisie te bly naspeur en uit die oerbronne oor die toekoms te droom, dié is nog moontlik:

Hier bo my laaste besoekpunt in Parys, ’n oase van ’n lewende tradisie, die Ortodokse Katedraal van die Heilige Drie-eenheid (in 2016 opgerig).

Lees en kyk ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Onderhoud met Laurent Devèze oor die ontstaan en era van die Franse Instituut van Suid-Afrika 30 jaar gelede

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n onderhoud met Pierre-Marie Finkelstein

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Zirk van den Berg se Landuit want jy wil mos – oor gemeenskap, ontheemding en tuiste

Oor ons trane, nou – en die mistiese groot trek

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: "Die Aristoteles van ons tyd": Oor Alasdair MacIntyre

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Novak Djokovic, moderne tennis en eer

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Charles Villet oor geweld en die postkoloniale in Suid-Afrika

 

  • 1

Kommentaar

  • O, die verraderlike aantrekkingskrag van nostalgie. As kind was ek oorstelp wanneer Levinia (die Heilige Maagd) met haar besem 'n verbyvlug in die helder maanlig oor Blommeland uitvoer. Ek hou van name soos Liewe Heksie en Liewe Jesus omdat dit gemoedsrus in 'n andersins onstuimige lewe probeer bring; Kunsmatige Intelligensie vibreer kontant teen die verkeerde frekwensie ‒ 'n misleidende kakofonie.

    As ek reg onthou, het Die ou Duiwel vir Jesus van Nasaret tot op die berg gelei en als beloof, sover die oog kan sien, as jy die een en ander. Deesdae is my raaiskoot dat die wêreld eintlik die duiwel is (metaforiese gesproke) en hy jou binne sy speelveld (magnetiese veld) wil hou. 'n Selfgeskape simulasie en boonop vir die pret. Hierin vibreer elkeen (merkwaardig, nè) teen 'n unieke frekwensie en miskien teen die nihilistiese frekwensie (nie langer verknog nie) kan die ‘elektron’ vry breek van sy sirkelgang (reïnkarnasie) en nirwana binne bars. Mens sou kon spekuleer en sê dat die verleidelike Aardse frekwensie uiteindelik afgeskud moet word, die sogenaamde sin van die lewe.

    Dus, vergeet van rituele en ou geboue. Raak mettertyd traak-my-nieagtig. Let them be. Blommeland bekoor my nie soos vroeër nie, al verlang ek soms terug na die kabouters en Griet, maar solank daar 'n mark is, sal Plato se Atlantis herhaaldelik bly sink.

    Viva nihilisme, viva! Waai koebaai.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top