
Boekomslae: After virtue (1981) en Whose justice? Which rationality? (1988) deur Alisdair MacIntyre
- Johann Rossouw skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Dit is nie aldag dat dit van ’n filosoof gesê kan word dat hy of sy die gang van die denke verander het nie. Een filosoof van wie dit werklik gesê kan word, is Alasdair MacIntyre, wat op 21 Mei in die ouderdom van 96 oorlede is.
Ten grondslag van MacIntyre se reuse bydrae tot die eietydse filosofie lê ’n denkreis wat hom geneem het van die Marxisme na die Aristotelisme na die Thomisme en ’n gepaardgaande bekering tot die Katolisisme. Wat dit des te merkwaardiger maak, is dat MacIntyre aanvanklik opgelei is in die Britse analitiese filosofie – allermins ’n paradigma wat vir Marx, Aristoteles of Aquinas vatbaar is. Die een groot voordeel wat MacIntyre getrek het uit sy analitiese opleiding, was dat dit hom geleer het om ’n argument met kliniese deeglikheid te kritiseer, ontleed of ontwikkel; ondanks ’n voorliefde wat hy soms vir sinne met verskeie subklousules tentoongestel het, was daar by hom geen sprake van wollerige prosa of formulering nie. So het een van sy grafskrifskrywers dan tereg aangevoer dat MacIntyre kontinentaal gedink en analities geskryf het.
MacIntyre se kritiek op die Marxisme begin al met artikels in die 1950’s, maar dit het hom tot die vroeë 1980’s geneem het om sy vlag aan die onwaarskynlikste paal te hys, naamlik dié van Aristoteles. Dit is moeilik om te dink aan enige ander invloedryke eietydse filosoof wat dié oorgang gemaak het.
Die boek waarmee MacIntyre sy naam gemaak het – en waarmee sy naam sekerlik in toekomstige geskiedenisse van die filosofie verbind sal word – is 1981 se After virtue, wat uiteindelik in ‘n verdere twee hersiene uitgawes die lig gesien het. Dié boek het die eerste maal oor my pad gekom toe ek gedurende 1992 en 1993 besig was om my honneursgraad in filosofie aan die Universiteit van Pretoria te doen, en ek het dit tydens my daaglikse pendeling per trein tussen my werk in Pretoria en my woning in Yeoville, Johannesburg gelees.
........
Destyds het ek nog gesteier van die houe wat die filosoof met die hamer, Friedrich Nietzsche, my toegedien het, en om destyds in my vroeë twintigs te kon dink dat nóg ’n filosoof se werk my so kon omklits én bowendien ook nog ’n formidabele kritiek op Nietzsche ontwikkel, was onvoorstelbaar. Tot ek After virtue begin lees het.
........
Destyds het ek nog gesteier van die houe wat die filosoof met die hamer, Friedrich Nietzsche, my toegedien het, en om destyds in my vroeë twintigs te kon dink dat nóg ’n filosoof se werk my so kon omklits én bowendien ook nog ’n formidabele kritiek op Nietzsche ontwikkel, was onvoorstelbaar. Tot ek After virtue (voortaan AV) begin lees het.
Die basiese argument wat in AV ontwikkel word, is dat van die verskillende benaderings tot die etiek wat in die Westerse filosofie ontwikkel is, soos Kant se deontologie, die utilitarisme en die deugde-etiek, laasgenoemde die een is waarvoor ons behoort te kies. Vir MacIntyre is dit so omdat nie een van die ander benaderings tot die etiek naastenby so diepgaande, oriënterend en lewensveranderend kán wees nie. Waarom nie? Wel, gewoon omdat geen ander benadering tot die etiek so veranker is in bepaalde praktyke as die deugde-etiek nie.
Etiek, het MacIntyre aan die hand van Aristoteles sy lesers geleer, is iets wat beslag kry via die inoefening van deugde soos matigheid, verstandigheid, dapperheid en geregtigheid. Op die koop toe is sodanige inoefening moontlik slegs binne ’n lewende tradisie met gesonde instellings waarbinne die deugde van geslag tot geslag oorgelewer word, welke tradisie oorspronklike altyd in een of ander baie spesifieke plek en tyd ontstaan, byvoorbeeld die polis van die klassieke Athene.
In die boek waarin hy hierdie gedagtes verder ontwikkel het, naamlik 1988 se Whose justice? Which rationality? (WJWR), gaan MacIntyre ’n stappie verder teen die agtergrond van die feit dat eietydse mense wat die Aristoteliese deugde-etiek wil beoefen, nie bloot gewoon na daardie tyd en plek kan terugkeer nie. In dié boek verset MacIntyre hom teen ’n verworde vorm van die liberale tradisie, naamlik die morele relativisme, wat ons almal ken danksy die slagspreuk: “As dit vir jou werk, waarom nie?”
In WJWR verruim en verfyn MacIntyre die breë argument van AV op verskeie maniere. Een hiervan is deur aan te voer dat ’n tradisie wat die toets van die tyd deurstaan, wesenlik deur drie fases gaan: die mitiese, die kritiese en die bestendige vorm, om sy benamings van die fases effe te vereenvoudig en te parafraseer. Die mitiese fase is een waarin die basiese wêreld- en mensbeskouing van die tradisie veral aan die hand van die stigtingsverhale of -mites daarvan beslag kry, byvoorbeeld verhale oor hoe die gode of die mense ontstaan het. In die kritiese fase word die vermoë van hierdie verhale om die wêreld vir die aanhangers van die tradisie te verduidelik, krities uitgedaag – dikwels ná een of ander kataklisme, byvoorbeeld ’n natuurramp, ’n pandemie of ’n oorlog. Indien die tradisie die kritiese, redelike bevraagtekening waaraan dit onderwerp word, oorleef, betree dit uiteindelik die bestendige fase.
Vir MacIntyre in WJWR was die groot vroeë voorbeeld van so ’n tradisie in die Westerse denkgeskiedenis dié van die antieke en klassieke Athene wat ontstaan in die verhale van die Hesiodus en Homeros en uiteindelik bestendig word in die dramas van Sofokles en die filosofie van (opeenvolgend) Sokrates, Plato en Aristoteles.
Na MacIntyre se mening word die deugde-etiek van die ou Grieke via die Romeine en hul uiteindelike kerstening voortgesit in die klassieke Christendom, waarvan die deugde-etiek van die Heilige Thomas van Aquinas (1225–1274) die hoogtepunt verteenwoordig. Thomas is een van baie min filosowe in die geskiedenis wat dit reggekry het om twee groot tradisies onder die knie te kry en uiteindelik ’n manjifieke sintese tussen die twee te bewerkstellig. Bowendien het hy dit as’t ware “terugwerkend” gedoen: Omdat die Latynse Christendom in sy tyd Aristoteles se filosofie (wat ná die Val van Rome in 476 vergete geraak het vanweë kontak met die Bisantynse Christendom via Venesië en die ooste van Italië) herontdek het, kon Thomas vanaf die Christelike filosofie terugwerk na die Aristoteliese filosofie en sy sintese van die twee bewerkstellig.
Een voorbeeld van hoe Thomas dit gedoen het, was om die vier kardinale deugde van Aristoteles wat reeds hier bo vermeld is (matigheid, verstandigheid, geregtigheid en dapperheid) te bevestig, maar aan te voer dat die volmaakte deugsame lewe uiteindelik afhang van die aanvulling van die vier kardinale deugde deur die drie teologiese deugde – geloof, hoop en liefde – welke aanvulling afhang van die gemeenskap met God.
MacIntyre se begrip van tradisie in WJWR het nóg ’n aardskuddende argument bevat, wat my in staat gestel het om by ’n insig uit te kom wat ek jaarliks vir eerstejaarstudente leer: Moderniteit is die tradisie wat ontstaan uit die ontkenning van tradisie. Volgens MacIntyre het die moderniteit sigself gevestig deur aan te voer dat dit ’n verbetering op die voormoderne tradisionele wêreld bied deur sy eie mite, naamlik die vooruitgangsmite, waarvolgens die wêreld wat kom, en deur ons self geskep word, uiteindelik ’n verbetering op die verlede sal wees.
Deur daarop te wys dat die vermeende rasionaliteit en wetenskaplikheid van die moderniteit wat in die filosofieë van Machiavelli, Hobbes, Descartes en Kant beslag kry, inderwaarheid self op ’n mite berus, en mettertyd soos enige ander tradisie sekere basiese uitgangspunte as vanselfsprekend aanneem (byvoorbeeld dat wetenskaplike kennis die enigste ware vorm van kennis is), het MacIntyre ’n streep getrek deur die moderniteit se begrondingsmite, naamlik dat ons van tradisie as sodanig afskeid kan neem.
........
Om dit eenvoudiger te stel: Moderne Westerlinge en hul erfgename – ook ons in eertydse Westerse kolonies – het eenvoudig geen benul van hoe deeglik ons in ons peetjie is nie.
........
MacIntyre het reeds in AV aangevoer dat die moderne Westerse wêreld weens meer as vyf eeue se verwoestende ontwrigting van al wat lewende, ouer tradisie is, eenvoudig totaal onkundig oor sy eie disoriëntasie en basiese uitgangspunte is. Om dit eenvoudiger te stel: Moderne Westerlinge en hul erfgename – ook ons in eertydse Westerse kolonies – het eenvoudig geen benul van hoe deeglik ons in ons peetjie is nie.
’n Baie goeie bewys hiervan is die tradisioneel moderne aanname dat die enigste aanvaarbare kennis uiteindelik dit is wat ek self “nagevors” het – waarvan die vulgêre vorm deesdae is om video’s op YouTube te kyk. (So moes ek as Ortodokse priester in ’n lewende tradisie van meer as 2 000 jaar een Sondagoggend ná die Liturgie bontstaan soos ek gepeper is deur ’n lidmaat se kerklosse eggenoot se verwysings na YouTube-video’s oor dié en daardie dogmatiese of teologiese aangeleentheid waaroor die Ortodoksie dit toe nou nog “al die tyd verkeerd” het. Maak nie saak hoeveel ek aan die kêrel probeer verduidelik het dat al die kwessies waaroor hy dit het, al eeue der eeue gelede deur van die beste teologies-filosofiese breine van die tyd afgehandel en deur die Kerk as leerstellinge aanvaar is nie, hy het eenvoudig net nóg ’n YouTube-verwysing uitgepluk...)
Hierdie moderne solipsisme het geblyk so diep in die eietydse akademie ingeburger te wees dat MacIntyre se werk tot vandag toe nie die erkenning geniet wat dit verdien nie. Een van sy filosofies-teologiese erfgename, die Engelse filosoof-teoloog Catherine Pickstock (1970–), het gelukkig wel in haar werk verdere implikasies van MacIntyre se denke uitgewerk. So verwoord sy dit in een van haar bekendste uitsprake: “Traditional communities governed by liturgical patterns are likely to be the only source of resistance to capitalist and bureaucratic norms today.”
Daar is twee ander aspekte van WJWR wat vir ons in die Afrikaanse wêreld van groot belang is, en waarna ten slotte in hierdie huldeblyk verwys word.
.......
... [D]at soveel Afrikaners wat op grond van die Afrikaanse tradisie(s) van beter behoort te weet, die land verlaat onder die illusie dat dit moontlik is om op dieselfde manier elders as hier tuis te kom, is tekenend van die mate waartoe die moderniteit ook óns wêreld kom ontwrig het.
.......
Die eerste hiervan is die verband tussen ’n spesifieke tradisie en ’n spesifieke taal wat MacIntyre trek. Om die hoogs genuanseerde argument wat MacIntyre hieroor in hoofstuk 19 van die boek Tradition and translation ontwikkel, erg te vereenvoudig, kom dit daarop neer dat alle tradisies ontstaan in ’n baie spesifieke tyd op ’n baie spesifieke plek in ’n baie spesifieke gemeenskap, terwyl dit wat MacIntyre die “geïnternasionaliseerde tale van die laat moderniteit” noem (soos veral Engels), hulle status onder meer te danke het aan die feit dat om daardie status te verwerf, hulle in die eerste plek van ’n baie spesifieke tyd, plek en gemeenskap losgemaak moet word en as’t ware tydloos, plekloos en gemeenskaploos funksioneer – oftewel sogenaamd neutraal. En juis daarom kan die vertaling van die tekste van tradisies van ’n oorspronklike spesifieke tyd, plek en gemeenskap nooit na behore in hierdie internasionale tale van die moderniteit vertaal word nie.
Die tweede aspek kan beskryf word as ’n verbluffende ontmaskering van die arrogansie en oppervlakkigheid van die geïnternasionaliseerde tale van die laat moderniteit. So stel MacIntyre dit in sy kenmerkende, genuanseerde, analitiese styl:
[T]he condition which I have described as that characteristic of the late twentieth-century language of modernity is perhaps best understood as an ideal type, a condition to which the actual languages of the metropolitan centers of modernity (such as New York, Paris or London) approximate in varying and increasing degrees, especially among the more affluent. And the social and cultural condition of those who speak that kind of language, a certain type of rootless cosmopolitanism, the condition of those aspiring to be at home anywhere – except of course in what they regard as the backward, outmoded, undeveloped conditions of traditions – are therefore in an important way citizens of nowhere ... (388)
In die Afrikaanse wêreld het, danksy ons taal, wat ook in ’n baie spesifieke tyd, plek en gemeenskap(pe) ontstaan het, inderdaad ’n eie tradisie ontwikkel. Sowel Hermann Giliomee as Karel Schoeman het die Afrikaanse plattelandse lewe voor 20ste-eeuse modernisering en verstedeliking as tekenend hiervan beskou – met Van Wyk Louw as die groot literêre en filosofiese verteenwoordiger daarvan.
Dat dit in die laat 20ste eeu aan Afrikaanse universiteite modieus sou raak om hierdie tradisie die rug toe te keer en hier aan die suidpunt van Afrika die toestand van wortellose kosmopolitanisme as die ideaal voor te hou, is inderwaarheid verbysterend. En dat soveel Afrikaners wat op grond van die Afrikaanse tradisie(s) van beter behoort te weet, die land verlaat onder die illusie dat dit moontlik is om op dieselfde manier elders as hier tuis te kom, is tekenend van die mate waartoe die moderniteit ook óns wêreld kom ontwrig het.
Hierdie insigte het ons oplaas te danke aan Alasdair MacIntyre – die man wat soos ’n Thomas in die 13de eeu op sy beurt in die laat 20ste eeu Aristoteles vir óns tyd herwin het. Geen wonder dat Danie Goosen hom as die Aristoteles van ons tyd beskryf het nie.
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Charles Villet oor geweld en die postkoloniale in Suid-Afrika


Kommentaar
I really enjoyed this piece. As a Catholic I am aware of the depth Catholicism owes to both Alasdair MacIntyre and Charles Taylor for giving us vocabulary to tackle the thought parasites eating into the core of postmodern world. Great piece, Johann!
Volgens Schopenhauer verteenwoordig die wil om te leef ʼn "blind incessant impulse without knowledge" (Wikipedia), iets so reg uit die diereryk se kraal ‒ selfbehoud (leef so lank as wat jy kan). Freud reken plesier kan die wil om te leef aanhelp; Frankl meen die soeke na betekenis kan lewe lewendig hou en so aan ‒ self die strewe na superioriteit is ʼn faktor (kyk net na Trump). Interessant genoeg is vrees en pyn ook meganismes wat selfbehoud aanhelp. Vrees dryf ʼn organisme na ʼn plek van veiligheid [‘coping mechanisms one needs to prevent emotional trauma from distorting the mind’ ‒ Wikipedia] soos bv. ʼn kerk en Katolisisme. Die eensellige organisme tree min of meer dieselfde op, maar die teorie rakende die keuse: To be or not to be, het nog nie sy gedagtegang gekruisig nie. Van blote oorlewing strek die pad na ʼn keuse tussen lewe en dood voor hom uit, ook genoem: selfbeskikking.
In ʼn boek getiteld, ‘Why We Die’ deur Venki Ramakrishnan, skryf hy oor die liggaam: ‘... and in extreme cases, the cell is triggered to commit suicide. It is odd to think that life would have evolved a mechanism to kill its own cells, but one individual cell among an organism’s billions is ultimately dispensable.’
Alles wat die wil om te leef dus aanmoedig soos vrees (kerk) en lekkerkry (kapitalisme) is goed en wel, totdat dit nie langer is nie. Doer bo staan: “Traditional communities governed by liturgical patterns are likely to be the only source of resistance to capitalist and bureaucratic norms today.” Die Katoliek het skole ingerig om kondisionering onder die jeug te vergemaklik en wat maak hulle met al die geld? Almal marsjeer mooi in gelid vir die oligarg. M’m. O ja. Heelparty se denkgang verander uiteraard as Dood in jou nek blaas. Selfbehoud. Sies. En daarom sê hulle: Find death, before death finds you.
Oi.
Verandering is ʼn moeilike ding, maar self ʼn Katolieke papie moet eendag ʼn rugstring groei. Evolusie. My wens is dat elkeen snel deur die mis sal breek, want wie wil vir ewig ʼn amoeba bly?
Ram Dass het die een en ander te sê: https://youtu.be/ltzi1ckciVw?si=L9wGKAA6-QXK-SR6