
La défaite de l’Occident deur Emmanuel Todd (Parys: Gallimard, 2024)
Deur Emmanuel Todd, uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw
Hierdie onderhoud met Emmanuel Todd het aanvanklik op die Italiaanse webwerf Krisis verskyn, maar dit is intussen deur hom hersien. Dit verskyn met toestemming van die skrywer sowel as die publikasie.
Op 7 Oktober 2023 het daar ’n massamoord in Israel plaasgevind, wat nie onder bespreking is nie. Maar die Israelse reaksie in Gaza is ’n slagting, wat deur die Westerse elites aanvaar word. Hoe verduidelik u dit?
Emmanuel Todd: In my boek La défaite de l’Occident (Die ontbinding van die Weste) ontwikkel ek die begrip van die nihilisme – die behoefte om dinge, mense, die werklikheid te vernietig, wat in die Weste voortspruit uit ’n toestand van leegte – ’n godsdienstige, metafisiese en waardeleegte. Dis ’n maatskaplike en geskiedkundige vraagstuk wat ek veral in die VSA bestudeer, maar waarna ek ook met betrekking tot Oekraïne verwys. Maar sedert ek die boek gepubliseer het, blyk die relevansie van die begrip van die nihilisme vir my al hoe wyer te strek. Ek het dit aanvanklik in my besinnings toegepas op sekere houdings van die Franse elites, insluitend die totaal vreemde gedrag van president Emmanuel Macron. Ek pas dit toe op die gedrag van die strydlustige deel van die Duitse elites, op onbeperkte immigrasie, en natuurlik ook op die gebeure in Israel. Ek praat altyd van “die gebeure in Israel”, want wat my betref, vorm Gaza deel van Israel as ruimte van politieke soewereiniteit. Dit is die rede waarom ek kommentators wat nie wil erken dat Hamas ’n terroristeorganisasie is nie, glad nie verstaan nie. Hamas beoefen terrorisme, maar dit het ontstaan in en behoort steeds tot die ruimte wat deur die Israelse staat oorheers word. Hamas is ’n Israelse verskynsel.
In watter sin?
’n Mens kan Hamas vanselfsprekend as Arabies of Moslem omskryf, en dit moet selfs vanuit ’n antropologiese of religieuse gesigspunt gedoen word. Maar Gaza vorm slegs ’n deel van die soewereine ruimte van Israel as ’n opelugtronk. En uit hierdie gesigspunt (dié van ’n tronk) is Hamas Israels. Wat ek bedoel, is dat Hamas heel ooglopend ’n terroristegroep is, maar dat sy terrorisme slegs een element onder meer van omvattende Israelse geweld is soos wat dit in die geskiedenis ontwikkel.
Maar wat ervaar u as u sien wat in Gaza gebeur?
Dis vir my ’n pynlike onderwerp waaroor ek nie graag praat nie, omdat die helfte van my afkoms Joods is – die oorheersende helfte van my familie. Dit is waar dat hierdie familie nooit ’n besondere band met die staat Israel had nie. Dit was ’n middelklasfamilie – Israelities soos dit in Frankryk genoem is – en allereers Frans-patrioties. Ons familie se trots in die 19de eeu was Isaac Strauss, die gunstelingmusikus van Napoléon III, die man wat die versameling Joodse ritualistiese voorwerpe voorheen uitgestal het in die Cluny-museum en nou in die Museum van die Kuns en Geskiedenis van die Judaïsme in Parys se Marais-distrik versamel het. Om hierdie tipiese Israelitiese familie nog meer presies te plaas: Isaac Strauss is my gemeenskaplike voorsaat met die beroemde Franse antropoloog Claude Lévi-Strauss. Lucie Hadamard, die eggenote van die befaamde laat-19de-eeuse Joodse Franse weermagkaptein Alfred Dreyfus, was ’n niggie van my oumagrootjie. Hierdie familie het op heel gebruiklike wyse nooit in die Sionisme belang gestel nie. Ek het ook nooit vreeslik daarin belang gestel nie. Nietemin is dit ook so dat militante anti-Sioniste my nog altyd gesteur het. Ek het nog altyd gedink dat te gereelde anti-Sionistiese uitsprake deur iemand waarskynlik aanduidend van ’n onderliggende anti-Semitisme is. Afgesien van standpunte en argumente wys die statistiek vir ons ’n obsessie wat ’n aspek van rassisme is.
Oorhoofs was ek nie ’n Sionis of ’n anti-Sionis nie, maar ek het gebly by die idee dat dit redelik is om ’n minimum solidariteit teenoor die Joodse staat te betoon. Die Nazisme het aan ons gewys dat ’n mens ten diepste nie kan kies of jy Joods is of nie. My familie aan moederskant moes tydens die Tweede Wêreldoorlog na die VSA vlug. Die neefs wat nie met soortgelyke verstandigheid gehandel het nie, is gedeporteer. Antisemitisme bestaan en sal, soos my ouma vir my gesê het, altyd bestaan. Ek had dus aanvanklik ’n heel genuanseerde houding. Maar die optrede van die staat Israel het op die morele vlak te problematies geword. Ek hou steeds nie daarvan om daaroor te praat nie, maar dit moet nou gedoen word.
Hoekom?
Omdat die staat Israel oorgegaan het tot ’n uiterste vlak van geweld. En veral van ’n soort geweld wat skynbaar geen ander oogmerk as sigself het nie. Dis hoekom ek oor die optrede van die staat Israel in terme van die nihilisme begin nadink het.
Dit wil sê?
Die nihilisme is ’n skepping van die leegte. In die geval van die VSA ondersoek ek dit veral op die vlak van die bestuursklas waar ek ’n leegte van waardes waarneem wat uitloop op ’n eksklusiewe belangstelling in geld, mag en oorlog. In die geval van die staat Israel, selfs al het ek nie gewerk op godsdiensbeoefening in Israel nie, is my hipotese dat die probleem van ’n godsdienstige leegte ook daar voorkom in weerwil van die teenwoordigheid van ultra-ortodokse groepe waarvan die werklike sosiometafisiese aard ’n ondersoek regverdig. Die Amerikaanse evangelicals bied ’n soortgelyke, dog ook ander, problematiek – wat betref die Amerikaanse fanatici wat Israel steun omdat hulle dink dat om Israel te laat uitbrei, Christus se wederkoms sal verhaas …
........
’n Hele klomp onlangse opvattings moet ondanks hulle metafisiese aansprake vertolk word as onderdele van die zerotoestand van religie, met die term godsdiens hier verstaan in sy klassieke monoteïstiese sin – Katoliek, Protestants of Joods. Deesdae praat ek in my ontledings van die geskiedkundige teenswoordige tyd nie slegs van die zero-Katolisisme of -Protestantisme nie, maar ook van die zero-Judaïsme. En ongetwyfeld binnekort ook van die zero-Islam.
........
’n Hele klomp onlangse opvattings moet ondanks hulle metafisiese aansprake vertolk word as onderdele van die zerotoestand van religie, met die term godsdiens hier verstaan in sy klassieke monoteïstiese sin – Katoliek, Protestants of Joods. Deesdae praat ek in my ontledings van die geskiedkundige teenswoordige tyd nie slegs van die zero-Katolisisme of -Protestantisme nie, maar ook van die zero-Judaïsme. En ongetwyfeld binnekort ook van die zero-Islam. Dit is amper makliker vir my om die tekort aan werklike godsdienstige waardes in Israel te formaliseer, want hier het ek die boek Moses, Jesus en Mohammed en die drie groot semitiese godsdienste (1887) van my voorsaat, Simon Lévy, grootrabbi van Bordeaux, byderhand, wat aan my familiale, regstreekse gedrukte toegang gee tot wat die Joodse religie op die vlak van waardes is. Die Weste het nou ’n zerotoestand van religie bereik wat dit moontlik maak om die Amerikaanse of Europese nihilisme te verklaar. Dieselfde geskiedkundige logika geld Israel. Wat die optrede van die staat Israel hipoteties vir my oproep, is ’n nasie wat, gestroop van sy sosioreligieuse waardes (zero-Judaïsme), in sy bestaansprojek misluk en sy bestaansrede vind in die uitoefening van geweld teen die Arabiese of Irannese bevolkings wat dit omring.
Oorlog as ’n doel op sigself?
Ek sou op die staat Israel dieselfde soort vertolking toepas as wat ek in my boek op Oekraïne toepas. In die boek verduidelik ek dat Oekraïne voor die oorlog ’n ontbindende staat was en dat een en almal verras was deur die militêre energie van die Oekraïners, deur hulle vermoë om hulself te verdedig. In werklikheid het Oekraïne die rede vir sy bestaan in die oorlog teen die Russe gevind. En inderdaad word alles omtrent die Oekraïense houding bepaal deur Rusland, dog in ’n negatiewe modus – om die Russiese taal te elimineer, om die Russe te beveg, om die Russiese bevolking van die Donbas te onderwerp. Let wel: Ek is ’n navorser, en dit is dus die hipoteses wat ek ook oor Israel formuleer. Dis my indruk dat die Israelse nasie sy betekenis vir homself verloor het en dat die praktyk van geweld, wat eens op ’n tyd ’n noodsaaklike militêre middel was om die veiligheid van die staat te verseker, nou ’n doel in sigself geword het.
Ek kan dink aan moontlike besware teen my hipotese, soos die buitengewone aanwaskoers van die Israelse bevolking – en dit nie slegs in die geval van die ultra-ortodokses nie, selfs al is hulle ’n uiterste geval. Die era van die nihilisme gaan in die Weste gepaard met baie lae aanwaskoerse, met moeilikheid vir hul bevolkings om voort te plant. Maar die logiese konstellasie van zeroreligie/nihilisme/geweld/oorlog/vrugbaarheid is ’n baie wye sosiohistoriese veld van ondersoek wat ’n omvattende benadering vereis. Daar is godsdienste van oorlog – ’n menslike aktiwiteit wat ongelukkig uit die oogpunt van die geskiedkundige niks buitengewoon is nie. Ek kan my heeltemal indink dat dit moontlik is om in die toekoms my vorme van die nihilisme van sowel ’n lae as ’n hoë aanwaskoers voor te stel. ’n Lae aanwaskoers is bowendien kenmerkend van die hele Oos-Asië, en met name China, ’n streek van die wêreld wat nie vir my met die eerste oogopslag lyk asof hulle deur die nihilisme beetgepak is nie, maar eerder tevrede daarmee is om ekonomies vooruit te gaan.
Volgens u is ’n spiraal van geweld dus in Israel ontketen sonder enige ander konkrete oogmerk as om sigself te laat voortduur?
Presies. Wat my verras, is dat die Westerse elites altyd sê: “Israel het die reg om sy eie veiligheid te waarborg.” Hulle laat dit klink asof Israel se gedrag in wese rasioneel is, met hierdie oogmerk van veiligheid. Maar ek sien dit glad nie so nie. Wat ek sien, is die behoefte om iets te doen. En hierdie iets is oorlog.
En watter oorlog …?
Wanneer ek kyk na video’s wat deur soldate van die Israelse weermag op sosiale netwerke geplaas word, dink ek dat hulle eerder die nihilisme as ’n oorlog met ’n rasionele einddoel oproep. U sien, ek het gesê dat dit nie vir my aangenaam is om oor Israel na te dink nie. Maar as ek begin om daaroor na te dink, probeer ek dit koel en kalm doen en sonder om slegs in terme van moraliteit na te dink. Wat die huidige situasie betref, kan ek verontwaardig wees; ek is ’n mens soos enige ander mens. Ek kan daarmee volstaan om te sê dat dit wat die Israeli’s in Gaza doen, monsteragtig is. Dit ís monsteragtig. Maar wat my hier interesseer, is die toekomsvooruitsig. Dus vra ek my af of diegene wat sien dat dit ’n afgryse is, besef dat dit maar slegs die begin is en dat alles erger gaan word. ’n Geweldsdinamika is ontketen waarvan dit nie duidelik is waarom dit moet eindig nie. Die behoefte wat die staat Israel (7 miljoen van sy bevolking wat Joods is) het om oorlog te maak teen Iran (bevolking 90 miljoen), is verbasend. As ons egter die hipotese van die nihilisme aanvaar, vind ons ’n element van die verklaring.
Dit wil sê?
Kom ons ontwikkel ’n tussentydse “rasionele”, dog gewelddadige, hipotese. Om ’n rasionele oogmerk te omskryf, kan ons sê een van die doelwitte van die Israeli’s is om ’n omvattende konflik te ontketen ten einde te midde van die algemene chaos Gaza en die Wesoewer eensklaps, brutaal en volledig leeg te maak.
Maar daarby sal dit nie eindig nie ...
Juis. Die oorlog sal voortduur, maar na watter kant toe dit sal gaan, weet ek nie. Ek sê dit omdat dit vir my lyk asof ten grondslag van Israel se optrede die staat Israel sy oorspronklike identiteit verloor het. Ek voel ’n leegte aan. Ek voel al vir ’n tyd lank in die individuele sluipmoorde op voetsoldate en leiers van vyandige magte ’n behoefte aan om te moor sonder enige werklike strategiese rede. Miskien is dit omdat diep in die Israeliese onderbewussyn om vandag ’n Israeli te wees nie meer beteken om ’n Jood te wees nie, maar om teen die Arabiere te veg. Ek is deels Joods – miskien; ek is glad nie seker daarvan nie – maar ek is ook nie seker dat die meerderheid Israeli’s nog Jode is nie.
In watter sin is u nie daarvan seker dat u Joods is nie?
Soos ek gesê het, behoort die sentrale spil van my familie tot die ou Franse Joodse – Israelitiese – gemeenskap, maar dis sedert ná die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) ’n gemeenskap met interkulturele huwelike. Ek het byvoorbeeld ’n Bretonse oupa en ’n Engelse ouma. Ek is in 1951 gebore; ek is gedoop en kerke is, om die minste te sê, bekender aan my as sinagoges. Die Katolieke universalisme in sy gesekulariseerde republikeinse (zombie-) weergawe omskryf my beslis beter as lidmaatskap van die uitverkore volk. Nietemin is my twee basiese waardes, naamlik kinders en boeke, twee ankerpunte wat meer tipies Joods as Katoliek is. En wat betref gevoelens van marginaliteit en angstigheid, is daar ook geen probleem nie …
As ek myself aan die hand van ’n kategorie moet omskryf, sou ek verwys na Riccardo Calimani se Geskiedenis van die Venesiese ghetto, ’n boek waarin die verhoor van ’n marrano plaasvind. Volgens die gebruiklike Christelike opvatting is ’n marrano ’n Jood wat óf onder dwang óf om sigself te red tot die Christendom bekeer is, maar wat ten diepste ’n Jood gebly het. In werklikheid is dit nie wat dit is nie. In die gemelde hofsaak sien ons duidelik dat dié marrano iemand is wat ten diepste nie meer weet wat hy is nie. Hierdie man weet nie meer of hy ’n Jood of ’n Christen is nie. En dis absoluut ek. Ek sou kon sê daar is oomblikke wat ek dink ek is Joods, maar ek moet erken dat ek baie goed voel as ek ’n kerk betree, waar ek altyd die kruisteken maak as ek die middelpaadjie oorsteek. Toe die Israeli-operasie teen Gaza begin het, was ek besig om die herinneringe van my ouma, my moeder se moeder, te lees.
Joods?
Absoluut. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was sy met haar ouers en haar twee kinders ’n vlugteling in die VSA. Ofskoon haar eggenoot, ’n kommunistiese, Bretonse intellektueel in die omgewing van Duinkerken gedood is, was die familie se lewe in die VSA, en veral dié van my moeder, gelukkig. Hulle het in Hollywood gewoon en my ouma het oorklankings van rolprente gedoen. In haar herinneringe praat sy van ’n bejaarde Buster Keaton en van Clark Gable, nie so mooi nie. My moeder was ’n tiener in Hollywood. ’n Mens kan slegter af wees as dit. Om die waarheid te sê was haar lewe daar, waaroor sy nostalgies met my gepraat het, skynbaar fantasties. Dit was natuurlik hulle keuse, hoewel ’n moeilike keuse, om terug te keer na Frankryk die oomblik toe hulle land ontset is. Hulle het hul verwoeste huis weer gevind, beset deur goeie Franse. Hulle het dit teruggekry. Alles van waarde in die huis is gesteel. Hulle moes veral tel hoeveel mense van die familie gedeporteer of dood in die kampe is. Dit was ’n Franse Joodse middelklasfamilie wat die Groot Brandoffer (Sjoa) van naby gesien het, en waarvoor die naam Auschwitz sy ware betekenis verkry het. En dis wat ek suiwer per toeval besig was om te lees toe die bombardemente van Gaza begin het. En ek het my afgevra: Watter verhouding is daar tussen die staat Israel en die geskiedenis van my familie?
Ja, watter verhouding?
In sy herinneringe getiteld Gister se wêreld het die Oostenrykse skrywer Stefan Zweig dit oor die onaangename verrassing van die Weense Joodse middelklas, wat van een dag tot die volgende hulself met die Jode van die Oos-Europese sjtetls geassimileer het. Hulle moes ontdek dat hulle in die oë van die Nazi’s almal dieselfde is. Lank ná die oorlog het ons nog in my familie ironiese, selfkritiese grappe gemaak oor die era waartydens ons domweg gepraat het van die pas aangekome Poolse Jode as “daais wat ons skade berokken”. ’n Geskiedenisles geleer. Dit gebeur nou nog soms dat ek my afvra of daar nie helaas by my, ’n kind van Saint Germain-en-Laye, iets oorgebly het van daardie vooroorlogse middelklas Israeliet wanneer ek dink aan die etniese of raswrokke van eietydse Franse intellektuele soos Alain Finkielkraut of Éric Zemmour.
Grappies op ’n stokkie. Kom ons keer terug na die gevolgtrekking. Dit is uiteindelik nie vir ons om te besluit of ons Joods is of nie. Dit is in laaste instansie die vervolgers wat hieroor besluit. Dít was waarskynlik die grondslag van my gehegtheid aan Israel in die verlede. Vir ’n tyd lank het ek hierdie redelike gehegtheid behou, maar om eerlik te wees herhaal ek dat ek nooit geesdriftig hieroor was nie. Ek was nog nooit in Israel nie en dis onwaarskynlik dat ek ooit soontoe sal gaan. My tweede geestelike vaderland is Italië.
Ek dink ons nader vandag ’n oomblik van skeiding waartydens baie Jode van die diaspora die betekenis van hulle band met Israel gaan verloor. Dié verskynsel het in die VSA ontstaan, miskien omdat die Amerikaanse Joodse gemeenskap massief en selfstandig is in die magtigste land ter wêreld. In Frankryk, daarenteen, is niks hiervan waarneembaar nie. ’n Houding soos myne is nie net een van ’n minderheid nie; dis inderwaarheid onbeduidend. Vir sover ek die saak sonder ’n ernstige ondersoek in Frankryk kan beoordeel, bly die solidariteit met Israel ongeskonde vir sowel die Ashkenazi-Jode afkomstig uit Oos-Europa as vir die Sefardiese Jode afkomstig uit die Mediterreense streek. Uit my oogpunt is hulle moreel ’n bietjie agterlik.
Dieselfde gebeur in Italië?
Ek dink die probleem is dat die Jode, of mense soos ek wat nie weet wat hulle is nie, die marrano’s (in die presiese geskiedkundige sin van die woord), nie besef dat hul dilemma in die toekoms nog baie pynliker gaan wees nie, omdat, soos ek vroeër gesê het, die situasie in die Midde-Ooste gaan versleg.
Afgesien van die intrinsieke geweldsdinamika stel ’n element van demografiese ontleding ons in staat om te verstaan waarom die radikalisering van die Israelse verregses in die geskiedkundige sin ’n aaneenlopende, noodsaaklike proses is. Mense wat na Israel emigreer (en bowendien nie almal Jode is nie), is aangetrokke tot geweld, wat nou ’n bepalende element van die nasionale stelsel daar is. Mense wat Israel daarteenoor verlaat vir Noord-Amerika, Europa, Rusland of elders, is mense wat vir hulself en hul kinders ’n vreedsame, normale, redelike lewe nastreef. Dit beteken dat die persentasie van gewelddadige mense in Israel gestadig en onkeerbaar toeneem. ’n Soortgelyke verskynsel het voortgekom tydens die landsverlating van ’n deel van die Joego-Slawiese middelklas voor die interetniese oorlog, asook natuurlik in Oekraïne voor die Russofobiese opwelling. Ons is dus nog maar net aan die begin hiervan.
Franse en Italiaanse Jode gaan toenemend gekonfronteer word met ’n al hoe duideliker gaping tussen tradisionele Joodse waardes en die optrede van die staat Israel. Die oomblik om te kies sal aanbreek. Des te meer omdat die algemene Franse bevolking, en nie slegs dié van Moslem-afkoms nie, Israel toenemend sal beoordeel vir wat dit is, onafhanklik van die herinnering aan die Groot Brandoffer. Dit is natuurlik so dat die Westerse elites, verregse Europese militantes en Amerikaanse evangelical Republikeine aktiewe en soms selfs koorsagtige simpatie met Israel het. As ons vir drie minute hieroor nadink, is dit nie onlogies nie dat tydens die era van zeroreligie en die kultus van ongelykheid, klasse en groepe wat anti-Semities was, vandag oorval word deur ’n hartstog vir ’n staat Israel wat verregs geswaai het.
Maar ek dink dat gewone mense Israel al hoe meer redelik en dus al hoe strenger beoordeel en gaan beoordeel. Natuurlik veroorsaak Europese Islamofobie as gevolg van immigrasie tans ’n soort rookskerm. Daar bestaan byvoorbeeld in Frankryk anti-Moslem- of anti-Arabiese sentimente, wat sommige oorspanne mense ’n verband kan laat sien tussen Israel se stryd en die “waardes van die Franse Republiek”, soos dit deesdae genoem word. Ek dink nietemin dat die meerderheid Franse in staat is om tussen die twee situasies te onderskei en dit wat vandag in die Midde-Ooste gebeur onafhanklik van ons eie maatskaplike probleme te beoordeel. Ons is per slot van rekening in die land van menseregte. Ons het iets anders as Islamofobie in Frankryk. Kort voor lank sal dit nie meer genoeg wees om Israel (betreklik) te vrywaar van ’n dood menslike beoordeling nie.
Dit blyk ook die geval in Italië te wees …
Oor vele aangeleenthede is daar vandag ’n werklike kloof tussen, enersyds, die media en die politici en, andersyds, die gewone mense – en in Frankryk, Italië of elders met name oor Israel. Ek dink dis iets waaroor ek nog werk sal doen. As ek tot die openbare debat toetree, is dit omdat ek die indruk het dat ek as navorser iets sien wat ander nie sien nie. Ek beskou myself nie meer moreel as ander mense nie. In my boek oor die oorlog in Oekraïne byvoorbeeld het ek die gevoel dat ek dinge verstaan het wat andere nie raakgesien het nie. Maar ek het nie werk oor Israel gedoen nie. Ek sal beslis nie ’n boek oor die onderwerp skryf nie; dit sal te moeilik wees. Maar ek werk beslis vir myself aan die vraagstuk, om darem nie as ’n idioot te sterf nie. Ek sal graag nuwe verklarings wil vind. Ek het twee werkshipoteses oor Israel, wat ek reeds uiteengesit het. Die eerste is dié van die nihilisme as gevolg van die Israelse samelewing se verlies aan betekenis, aan die betekenis van sy geskiedenis. Die tweede, wat die gevolg daarvan is, is die hipotese dat die situasie nog verder gaan versleg.
Hoe dink u moet die Israelse situasie ontleed word?
Die vraag oor wat vandag in Israel gebeur, moet aangepak word binne ’n algemene sosiologiese raamwerk. Ek hervat wat ek aan die begin van hierdie onderhoud geskets het. Dit is die basiese probleem. Dit verdien om herhaal te word. Een van die begrippe wat ek stelselmatig in my boek ontwikkel ten einde die krisis in die VSA en die passiwiteit van die Europeërs te verstaan, is die begrip zeroreligie. Ek onderskei tussen drie fases van religie. Die eerste is ’n aktiewe fase, wanneer mense gelowig is, Sondae kerk toe gaan, of die Sabbat hou. Die tweede is ‘n “zombiefase” waartydens mense nie meer gelowig is nie, maar religieuse waardes nog oorleef of in ’n sekulêre vorm gereïnkarneer word. In dié fase blom die plaasvervangende politieke ideologieë: die ideaal van die Nasie, die Franse revolusionêre ideaal, die Engelse progressiewe liberalisme, die sosialisme, die Kommunisme, die Nazisme … Dan breek die zerofase van religie aan waartydens daar nie meer ’n individuele moraliteit van religieuse oorsprong of ’n strukturering van die samelewing deur die religieuse moraliteit bestaan nie. Ek pas hierdie begrippe op die hele Westerse wêreld toe. En vanselfsprekend geld dit ook die staat Israel.
En hoe dink u om dan te werk te gaan?
Die staat Israel is uit ’n religieuse vraagstuk gebore. Die Judaïsme was eerstens eenvoudig ’n aktiewe religie uitgeleef deur sy gelowiges. Dan kom die ineenstorting van die geloofsoortuigings, soos in die Christelike wêreld, en die verskyning van ’n Zombiejudaïsme waarin ’n mens Joods kan bly met die gevoel dat jy Joods is, individueel sowel as kollektief, sonder om in God te glo. Aan die begin van my oorgrootjie, Paul Hesse, se notaboek uit die Eerste Wêreldoorlog vind ek hierdie inleidende sinsnede: “... ek, van ras Joods en van geloof vrydenkend ...”. Die Sioniste was dikwels sekulêr en het hulself nie as gelowiges omskryf nie. Ek hoop nie dat ek hier ’n feitefout begaan nie. Ek is nie ’n kenner van die onderwerp nie. Hier doen ek regstreekse navorsing. En dus begin ek my afvra of die Sionisme nie op banale wyse in die kategorie van die zombiefase van religie val nie.
Maar wat die huidige staat Israel betref, vra ek my af of dit nie grootliks die zerofase van religie bereik het nie. Hierdie zerofase kan die nihilisme verklaar. Soos ek gesê het, bly daar egter ’n probleem wat nog opgelos moet word, wat betrekking het op die segment van baie godsdienstige Jode, wat na my mening iets anders is as die tradisionele Judaïsme, die rabbynse Judaïsme wat ons geken het. Ek is nie in ’n posisie om die aard daarvan te omskryf nie, omdat ek nog nie genoeg werk daaroor gedoen het nie, maar ek voel wel aan dat dit nie meer die Judaïsme in die klassieke sin is nie. Die onderwerp is tegnies boeiend as gevolg van die aanvanklike uiteenlopendheid van die Israelse bevolking – afkomstig uit Oos-Europa, die Arabiese wêreld, later Rusland, met ou minderheidstrominge afkomstig uit Iran of Kerala, en meer onlangs uit die VSA of Frankryk. Die vraag wie wat geword het, open ’n boeiende matrys van interne religieuse ontwikkelinge in Israel.
Soos u in elk geval weet, het die grondleggers van Israel gesê: “God bestaan nie, maar Hy het aan ons ’n staat gegee.”
Ja, ja. Kom ons sê dís ’n zombiesin. En dit sal die hipotese van die Sionisme as “zombiefase” van die religie bevestig. Maar wat duiselingwekkend is, is die hipotese van zeroreligie, want dit sal beteken dat Israel nie meer ’n Joodse staat is nie. Sonder om te vergeet dat die verdwyning van die werklike Jode glad nie beteken dat die anti-Semitisme uit die Weste en elders sal verdwyn nie.
Lees ook:
Power politics in the Middle East: How the global North-South divide capitalises on trauma
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Donald Trump en ’n nuwe wêreldorde?
Israel, Iran en Navo: Toe werp Trump sy F-bom! (26 Junie 2025)


Kommentaar
Die interverbintenis tussen die selle wat die geheel vorm van wat in hierdie realm gebeur, is versteur. Kalibrasie is in die lug. My broer was lank gelede in Indië en vertel as jy daar raakgery word, sleep hulle jou uit die pad sodat die verkeer kan vloei. Afgestomp deur getalle. Dalk is dit Shakespeare wat in Hamlet geskryf het: Nothing is good or bad, but thinking makes it so. Tsk. Nou ja, alle gedagtes beweeg spontaan vanuit die eter deur die individuele filter (bv., manlik, gay, zeroJood ens.) binne dié realm en het daarom slegs relatiewe waarde. Alle gedagtes het blykbaar te make met jou ervaringsveld en persoonlike wêreldbeskouing. Nou en hier.
Tans (modern day), tien persent, nog erger, dalk een persent of minder van die interverbintenis se energie raak by die dag ʼn groter gruwel in die oë van die res vanweë nihilisme en grootheidswaan (skielik dink ek aan die Stanford-eksperiment) en miskien is fight fire with fire ʼn opkomende attraksie. Doer bo skryf Todd: ‘Uit my oogpunt is hulle moreel ’n bietjie agterlik.’ [Dit is merendeels die ‘elite’, vir my.]
Indien leegte nihilisme skep, is die gevolg onafwendbaar en vooraf ingebou in dié realm ‒ soos karma. Niksseggende godsdienstige rituele wat nie werklik tot die siel spreek nie, sal nihilisme nie keer nie, dis te laat, soos Friedrich Nietzsche lankal verklaar het: God is dood. Die komieklike treurmare behels dat melktandjies met bloed en behulp van ʼn toutjie losskeur om plek te maak vir iets meer blywend; gegewe Aardse evolusie is slegs verandering 'n gegewe. Die arme dogter sonder moeder begin eendag niksvermoedend bloei en glo verkeerdelik dit is haar einde, maar helaas nie. Daar is ʼn plan. Dit help nie om melktande terug te druk nie, daar is reeds iets groter in plek. Onsigbaar vir die blote oog, maar weliswaar daar.
Om ʼn kruisie oor jou bors na te boots kan jou dalk laat veilig voel, maar as die melktande eers gewissel is, is die koeël deur die kerk.
We shall see.