Die generaal deur Hans Pienaar: ’n onderhoud met die skrywer

  • 2

Die generaal
Hans Pienaar
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624085812

Hans Pienaar gesels met Naomi Meyer oor sy boek Die generaal.

Die grensoorlog, Hans. Waarom dink jy prikkel dit mense deesdae van voor af? Mens sien die herlewing hiervan in mense se belangstelling in soos films soos Kanarie, of die toneelstuk Die reuk van appels. Waarom het jy juis nou Die generaal geskryf?

Daar is seker ’n nostalgie op dreef in die benarde tyd waarin ons leef. Dis sentimenteel en ’n teruggryp na ’n gewaande meer stabiele tyd, wat natuurlik nie so was nie. Miskien is mense ook nou reg om weer na die grensoorlog te kyk vanuit die oogpunt van die dienspligtige as slagoffer, iets wat tot nog toe as irrelevant beskou is. Dit kan ook pure toeval wees dat sekere kunsprodukte op dieselfde tyd gedoen is om unieke redes wat meer met mense se individuele loopbane te doen het.

Deborah Steinmair skryf in haar resensie dat die boek in sekere opsigte ’n Bildungsroman is. Hoe outobiografies is dit? En het jy gedeeltes hiervan reeds jare gelede geskryf?

Die eerste weergawe is reeds in die 1990’s geskryf, maar die uitgewery wat dit sou uitgee, het toegemaak. Hierdie weergawe was heeltemal te woordryk, en te eksperimenteel, en ek en verskeie uitgewers daarna kon mekaar nie vind nie. Dit het agter in my laai beland, en ek het dit eers weer vir die Groot Romanwedstryd in 2018 afgestof en herskryf, en dié keer het ek al die eksperimentering laat vaar en dit net ’n leesbare roman probeer maak.

Dis taamlik outobiografies, ja, maar die verhaal, die intrige, is heeltemal fiktief. Ek was self op Chirundu in die destydse Rhodesië, waar die grootste deel van die verhaal afspeel, en ek was diep betrokke by die voorbereidings vir die inval in Angola.

Ek gebruik die doek waarteen jou verhaal geskilder is (die grensoorlog) as vertrekpunt, maar waaroor gaan die storie vir jou?

Oor die verskillende vorme van rebellie, en wat dit aan jou gees doen, hoe dit jou verander. Soos Willie Burger dit mooi gestel het (ek parafraseer): Die hoofkarakter moet besluit waarom hy nie selfmoord wil pleeg nie, wat natuurlik verwys na Albert Camus se argumente hieroor in Die mite van Sisuphus. Onder die jonges is daar drie soorte rebelle en dan is daar op die hoogste vlak die generaal se eie vorm van weerstand.

Wil jy iets oor die karakters in jou storie sê? (En lewe hulle nog – in jou kop, of in die werklike lewe?)

Dis komposiete karakters, uit verskillende bronne saamgestel. Hulle lewe nog sterk in my kop, maar gelukkig is elkeen ver van die werklikheid af. Daar is dalk net een, mindere karakter wat homself sal herken, maar ek gaan nie sê wie nie.

Hans Pienaar

In jou storie word Johan grens toe gepos. Dink jy hy het meer van ’n keuse gehad as sê nou maar die mense wat na townships geskuif is? Dis ’n onregverdige vraag reg aan die begin, maar het Johan ’n keuse gehad?

Johan kon teoreties geweier het. Alle grensdiens was sogenaamd vrywillig. Maar as jy nie wou nie, is die lewe moeilik gemaak vir jou, en is jy dalk in elk geval ge-"volunteer". Die weermag het altyd maniere gehad om jou te kry waar hulle jou wou hê. Maar Johan huiwer nie, weens die tweespalt wat in hom heers: Aan die een kant geniet hy sy diensplig, die avontuur daarvan, die opwinding van grootskaalse militêre projekte. Aan die ander kant besef hy alles is nie pluis nie – hy is egter net nog te jonk om te sien dat hy bloot ’n pion is, dat hy bitter min sê in sy eie lot het, dat die uiteindelike doelwitte dié van wit oorheersing en onderdrukking is.

"Die absurditeit van die grensoorlog" gee weer wat jou eie indrukke van hierdie oorlog was. Of is dit? Was die oorlog absurd? (En is die lewe en allerlei ideologieë waaraan mense vasklou, dit nie maar in die algemeen nie?)

Ek gebruik self nooit die frase nie – dis die bemarkingmense. Maar ja, oorlog is in sy wese absurd, futiel. Oorloë word bedryf deur die politieke maghebbers van die dag, wanneer rede hul gefaal het. Hulle agenda is nie dieselfde as die dienspligtige s’n nie, hoewel laasgenoemde ’n burger van die land is wat ideaal gesproke deelneem aan die politiek van die land. Op daardie punt alreeds is dit absurd. Vanuit sekere oogpunte gesien is die lewe ook absurd, maar dit beteken nie ons moet mekaar te lyf begin gaan nie. 

Wat was die sneller vir hierdie verhaal? Dalk destyds, maar ook die feit dat dit herleef het, dat jy besluit het: Hierdie verhaal word nóú ’n boek?

Dit het begin as ’n kortverhaal in Engels om my ervaringe op die grens te probeer vaspen. Mense wat die kortverhaal gelees het, het sekere basiese vrae oor die karakters en storie gevra, en in die pogings om hul vrae te probeer beantwoord het dit tot romanlengte gegroei. Met die laaste herskryf het ek ’n meganisme gevind wat allerlei probleme met die spanningslyn eensklaps kon oplos, en dis seker op daardie punt dat dit lewe gekry het. My medewerking aan die boek Ek is Lisa Smit, waarin die moorde op Robert en Cora Smit die sentrale fokuspunt is, het ook ’n rol gespeel om die aanvanklike flou einde ’n hupstoot te gee.

Waaroor skryf jy die maklikste, of watter gebeure dryf jou tot skryf?

Ek skat die verlede, die persoonlike verlede, werk die beste vir my. Dis oor die algemeen moeilik vir my om te skryf, veral omdat ek in ’n Engelse wêreld leef en werk. ’n Mens se Afrikaans raak afgestomp. Komplekse gebeure prikkel my, waarin verskeie ineengevlegte faktore ’n rol speel. Maar dikwels is dit ’n enkele beeld wat iets aan die gang sit.

Jy skryf as vryskutjoernalis vir verskeie publikasies. Vertel iets van hoe jou joernalistieke skryf verskil van die skryf van ’n roman.

Ja-nee, dit verskil soos dag en nag. In die joernalistiek werk jy met die kwessies van die dag, en jy is ingestel op feitelikhede. Dit moet jy saamvoeg in ’n redenasie met ’n vermaaklike aspek. Dis veel nader aan die skryf van essays, veral as jou redakteur jou kans gee om jou verbeelding te laat gaan, soos ek toegelaat word. ’n Roman is iets veel dieper. Dit woel met geskiedenis, geheue, sielkunde, ens, en doen iets op ’n epiese skaal wat deel is van mense se alledaagse brood-en-botter-lewens: die vertel van stories.

Jy het al heelwat bydraes gelewer tot LitNet se universiteitseminaar. En lewer ook gereeld meningstukke vir Voertaal. As jy bestekopname kan maak van hierdie land, wat sien jy? Op die oomblik, en met die oog gerig op die toekoms?

Die polarisasie pla my. Daar is irrasionele halfgodsdienstige formasies aan die linker- en regterkant wat in ander lande en geskiedenisse nog altyd moeilikheid voorspel het. Daar is ’n geweldige renons in Afrikaans, selfs onder wit Afrikaanssprekendes. Ons beleef die opkoms van ’n swart rassisme, en saam met die onnosele meerderwaardigheidsgevoel wat nog onder baie wittes heers, maak dit die toekoms moeilik. Ek dink tog wel die pragmatiese en tegnokratiese sentrum is sterk genoeg om ons deur te trek.

Lees ook:

Die generaal deur Hans Pienaar: ’n resensie

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die Generaal deur Hans Pienaar

Kanarie: ’n dorp is ’n plek in jou kop

Kanarie: persoonlike indrukke

 

  • 2

Kommentaar

  • Ek het hierdie roman terdeë geniet. Die storie is boeiend en as jong persoon wat nie in die SAW gedien het nie, het ek die gebeure rondom die Grensoorlog interessant gevind.

  • Joan Hambidge

    Ek is onder die indruk van hierdie roman se krag. Die skrywer ontplooi 'n stuk geskiedenis wat aan die keel gryp en die verteller se verhouding met sy neef ('n alter ego) is sterk.

    Die vaart en binnespraak tref. Dit tree in gesprek met Alexander Strachan en die lang galery van oorlogsverhale in Afrikaans.

    Strong stuff. Veral oor die neef ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top