Die generaal deur Hans Pienaar: ’n resensie

  • 2

Die generaal
Hans Pienaar
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624085812

Ek hou nie van oorlogverhale nie: te veel mans, geweld en magspeletjies. Ek het lank gelede All is quiet on the Western front gelees, maar dis in ’n ander, meer idealistiese tyd geskryf, toe daar nog geglo is een groot oorlog sou alle oorloë vir altyd beëindig. Ek beskou Kurt Vonnegut se Slaughterhouse Five as die laaste woord oor oorlog. Tans is daar ter plaatse ’n oplewing in literatuur en films oor spesifiek die grensoorlog in die sewentigs en tagtigs, dink maar aan Alexander Strachan se 1 Recce en films soos Kanarie en The Recce. Dit bly steeds verstommend dat ’n klomp ou wit mans onder valse voorwendsels (die rooi gevaar) kanonvoer en lewende wrakke van soveel seuns kon maak terwyl die ware doel maar was om die onmenslike status quo te handhaaf. Dekades later, in ’n nuwe eeu en millennium, loop soveel mans nog met fisieke en psigiese letsels van daardie absurde, verwoestende oorlog rond – simptome wat wissel van ontnugtering, rigtingloosheid en depressie tot erge post-traumatiese stres. Hans Pienaar som die impak van dienslplig so mooi op: “Die ergste wat die weermag gedoen het, was om die buitewêreld so moeilik, so uiters vreemd te laat lyk; ’n wêreld waar mense in elk geval doodgaan van honger en gebrek aan liefde.”

Die skrywer meld voorin dat die boek op ware gebeure gegrond is, maar die karakters fiktief is. Dit lees soos ’n eerste roman, dis in wese ’n Bildungsroman, die soort boek wat ’n mens eers uit jou sisteem moet kry voordat jy ander boeke kan skryf. Die leser kry die gevoel dat groot dele van die boek dekades gelede, in die destydse hede van diensplig en vergestalting, in die fleur van die skrywer se jeug, geskryf is. Hoewel Pienaar eerstens ’n digter was, bemeester hy die romanvorm, handhaaf die storielyn en spanning uitstekend en die geheel is evokatief en diggeweef, maar nie fragmentaries nie.

Ja, Pienaar is in wese ’n digter; hy beskik oor ’n fyn ingestelde oor, skerp waarneming en dan die vermoë om in wat hy sien, die toevallighede en absurditeite van die lewe, ’n metafoor vir iets dieper te gewaar. Die storie begin met ’n kougomkol wat die verteller, Johan op die sypaadjie sien. Hy besluit dat sy lewe nie ’n kougomkol sal wees nie. Die boek is nie ’n litanie van onregte nie; Pienaar kerm en kla nie oor die weermag nie; hy is stoïsyns en gevat en praat met ’n wyer gehoor as oudsoldate wanneer hy die verveling van die weermag en grens uitbeeld; almal kan daarmee identifiseer, want dis soos die universele malaise van jonkwees: jy wil so min moontlik doen sodat jy jou eie innerlike oorlog kan voer, jy wil net rondhang en tyd toelaat om verby te gaan sodat jy kan uitvind wie jy is en waar jou plek in die wêreld is.

Die negentienjarige protagonis, Johan, blink akademies uit, hy is godsdienstig en behoudend. Soos almal wat nog in wording is, is hy teenstrydig – sensitief en gedienstig sowel as rebels en aweregs. Op ’n manier geniet hy die weermag en onderskei hy hom, want hy glo in lojaliteit en kameraderie, maar dan wil hy die sisteem ook ondermyn en doen dit soms op roekelose wyse. Hy is aanvanklik opgewonde wanner hy na Seksie C in die Zambezivallei gestuur word om ’n voorval van onregmatige ontgroening te ondersoek, maar gou begin hy vermoed dat hy nie opgewasse is teen die stelsel nie. Hy oorleef op herinneringe aan pasnaweke by sy neef in Ben in Pretoria. Ben, die Generaal se seun, is sy rolmodel en held. Hy is woedend en stroomop. Hy lees Wittgenstein en luister na die coolste musiek. Kuiers by Ben en by kuierplekke in Pretoria word afgewissel met beskrywings van Johan se tyd op die grens. Dis nie altyd duidelik in watter tydvak die leser haar bevind nie, maar die ineenvloei van herinnering en hede werk uitstekend; dit bring die verveling en verwarring tuis.

Ben is aanvanklik in die kas en daar is definitiewe raakpunte met Kanarie, byvoorbeeld die feit dat gay jongmans se oorlog dikwels in die eerste plek teen hulself is, dat hulle hulself nie kan aanvaar nie – natuurlik ná deeglike breinspoeling deur die staat en die kerk. Ook die manier waarop die weermag kreatiwiteit, individualiteit en alternatiewe denke versmoor het.

Ben is op ’n self-destruktiewe trajek; hy wil sy pa straf deur homself skade aan te doen. Soos Kanarie se hoofkarakter stoei hy met homself en stamp hom bloedig teen die muur. Aanvanklik dink Johan dat Ben ’n daad van rebellie gepleeg het, maar besef uiteindelik dat hy maar net ongelukkig was.

Soos Kanarie het die boek ’n onvergeetlike klankbaan. Daar is niks wat ’n era so helder kan herroep as die liedjies wat oor radios gespeel het nie. Johan en Ben luister onder andere na Bob Dylan en die Moody Blues. Veral die liedjie Nights in white satin (wat Johan foutiewelik as knights in white satin hoor, en ek sal dit nou altyd met ’n "k" spel) word sy temalied: hy droom van witgeklede ridders in ’n woud, van sagtheid en suiwerheid.

Johan is straight, maar sy innerlike stryd is nie minder fel as sy neef s’n nie: die kerk verdoem voorhuwelikse seks en sy verhouding met Maria word verwring deur onthouding en selfverwyt. Daar is lieflike erotiek in sy verhouding met Annie, wat teenoor die brutaliteit van die weermag geplaas word. Daar is wonderlike karakters soos Swart Vest, ’n gomtor met binnegoed so reg uit PG du Plessis of Jeanne Goosen se skrywes.

Ek het aanvanklik gewonder waarom die titel Die generaal is, maar algaande word dit duidelik dat die titelkarakter kompleks is en nie net nog ’n magsbehepte ou man nie.

Meer wil ek nie weggee nie. Johan oorleef, nerfaf en ontnugter, maar met sy humorsin en sensitiwiteit intak. Dit speel op die grens, in kuierplekke, slaapkamers en sitkamers af, maar dis in werklikheid ’n reis na binne en stel pertinente vrae oor mag, individualiteit, kreatiwiteit en identiteit. Die generaal is boeiende leesstof.

  • 2

Kommentaar

  • Rou en opreg en nodig. Baie dankie. As gewese grensvrou self baie grense moes verskuif om spiritueel te groei en min of meer heel anderkant uit te kom. Almal verloor in 'n oorlog - veral 'n sinnelose een.

  • Ietwat van 'n vlak opsomming dat die grensoorlog net aan die gang gehou is om 'n sogenaamde rooi gevaar te beveg, terwyl dit maar net 'n klomp wit ooms was wat die status quo wou handhaaf.
    Hopelik gaan die boek darem dieper as so 'n lawwe opmerking anders is daar geen grondige konflik nie. Miskien moet die resensent iets lees oor die "draft" in die VSA en die Viëtnamese oorlog (nog 'n rooi gevaar) " Why are we in Vietnam" deur Norman Mailer.
    Vat sommer vir Google?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top