Kanarie: ’n dorp is ’n plek in jou kop

  • 12

Alle Suid-Afrikaners, ongeag ras, geslag of oriëntasie, behoort Kanarie te gaan sien. Kinders wat té jonk is, sal dit erg traumaties vind, maar die ouderdomsperk van 16 is nogal hoog.

Gaan kyk die film.

Ek het presies dieselfde gevoel oor The Fall, daardie uitstekende teaterproduksie wat handel oor #RhodesMustFall en #FeesMustFall. Die storie van The Fall het ’n direkte impak op alle Suid-Afrikaners, al handel dit oor ’n sekere periode, en dan meer bepaald oor mense wat juis nie wit is nie.

Met The Fall was ek ’n buitestander, die inkyker uit ’n ander era wat met enorme waardering die verhale, die eerlike selfondersoek én die kritiek kon hanteer.

Met Kanarie is dit anders. Dit is my storie ook. Ek is nie in die film nie, maar ek was daar. Ek is die seun regs.

Die grootste gevaar is dat mense kan dink Kanarie is “net nog ’n gayfliek”. Dit is nie. Dit is byna elke troep se storie, maar ook elke troep se vrou se storie, want as jou man in die army was ...

Die ander gevaar is dat mense dink dis weer ’n storie oor ’n spul wit mans wat nou al lank in die tand is. Dit is ook nie dit nie. ’n Jonger generasie wat, moontlik tereg, bitter krities is oor die “ooms” van vandag, moet dit ook gaan kyk. Soos ek baie geleer het tydens The Fall, sal vandag se inkykers baie kan leer oor hierdie periodedrama, om te sien hoe ek was toe ek jonk was.

Die film speel in 1985 af, maar eintlik is dit ’n beeld van die laat tagtigs. Ek is in 1987 ingeneem en dit kon ook my storie gewees het.

Naomi Meyer sê ook in haar uitstekende bespreking van Kanarie dat die weermag almal geraak het, ook diegene wat nooit in ’n bruin uniform was nie.

Tydens die film word daar elke nou en dan oomblikke vasgevang waar die beeld vries, asof in ’n stilfoto. Op een plek verskyn verskeie meisies saam met troepies op sulke foto’s – sommige meer gretig as ander.

Naomi skryf: “Ek was in 1985 tien jaar oud. In standerd 2 (deesdae graad 4) moes ons, as Vrystaatse kinders, na afloop van ons gesondheidsleereksamen elke kwartaal ’n brief skryf aan ‘Liewe Oom Soldaat’. Agter aan die vraestel vasgekram, was ’n blanko papier waarop ons iets kon skryf, of ’n prent kon teken. Hierdie briewe is dan werklik vir die troepe op die grens gepos.”

Effens later sê sy: “Ek was aandadig. Ek was klein, maar ek het nie bevraagteken nie.”

Hoeveel te meer sou ék nie aandadig wees nie? Dit is egter presies die punt wat Kanarie maak: dit vertel oor wit seuns én dogters se komvandaan. Dit maak weer ’n tydskapsule oop.

Heel aan die einde, wanneer die film klaar is, staan daar dat Kanarie opgedra is aan alle seuns wat uit klein dorpies kom.

Izak was so ’n seun. Daarom het ek so kon identifiseer.

 

Izak kan nie sing nie, maar hy kan foto’s neem

In die jare tagtig het wit seuns twee opsies gehad: jy gaan army toe, of jy gaan army toe. Die alternatief was ses jaar tronkstraf, of om die land te verlaat.

Daar was aktiviste, soos Jonathan Shapiro (bekend as Zapiro), wat gekies het om nie ’n wapen te dra nie. Dan is daar ander, soos Johan Niemand, die hoofkarakter in Kanarie, gespeel deur Schalk Bezuidenhout, wat sê: “Ek verkies om nie aandag te trek nie.”

Izak het gekies om nie aandag te trek nie.

Nee, ek was nie verlig nie, maar ek was verdomp ook nie dom nie. Ek het aansoek gedoen om by Paratus, die amptelike weermagtydskrif, in te kom. Sing kon ek nie; om ’n Kanarie te word was my dus nie beskore nie. Maar foto’s kon ek neem. Ek het ’n tweedehandse Ricoh KR-10 gehad en het my dienste aan die weermag gebied.

Anders as die Kanaries, wat almal na Valhalla opgeroep is, moes troepe wat na Paratus sou gaan, eers basies doen in die bataljons wat die stelsel aan hulle toegesê het. My taalvaardighede het my by 5-Seinregiment laat beland, waar ons opgelei is in elektroniese oorlogvoering.

By Paratus het ek toe nooit uitgekom nie, want 5-Sein het besluit om my te behou en ek is ’n kort pas gegee om my Ricoh by die huis te gaan haal. So het hierdie kiekies gebeur. Hulle is baie persoonlik. Elkeen van hierdie mense het iets vir my beteken, en elkeen is in die basis geneem. Die meeste van ons kom uit klein dorpies, of uit plekke met ’n kleindorpse mentaliteit. Soos Wolfgang, gespeel deur Hannes Otto, keer op keer vir Johan Niemand laat probeer verstaan: Selfs ’n plek soos Sasolburg was nie juis oopkop nie.

Ek het besluit om geen name te noem nie, want eintlik was ons almal Niemand in die weermag. Jy het ’n nommer gehad; jou naam en jou menswees was nie belangrik nie.

Die dominee sal ek benoem. Hy het naam gegee aan Niemande, maar hom bespreek ek later.

 

“Ek vloek nie eintlik nie.”

Daar is ’n toneel waar Johan Niemand op die trein klim en Ludolf, ’n mede-Kanarie, gespeel deur Germandt Geldenhuys, by hom in die kompartement kom sit. Kort daarna storm ’n korporaal by die kompartement in en vertel hulle dat hulle “fokken troepe” is.

Die twee word dan aangesê om dit te herhaal, waarop Ludolf antwoord: “Ek vloek nie eintlik nie.”

Wel, Izak was ook so ’n seuntjie wat nog met ’n kleindorpse begeerte op die trein geklim het om seker te maak die stelsel gaan hom nie onderkry nie. Toe die korporaal dus die eerste aand, na meer vloekwoorde per minuut as wat ek gewoonlik in ’n maand gehoor het, vra of daar iemand is wat beswaar maak, was die uwe se hand op.

Raai wat het gevolg.

Dit is deels hoekom ek met die hoofkarakter kon identifiseer.

Die army het ons as onskuldige, dalk dom, troepies ingesluk, maar ons is sinies anderkant uitgespoeg.

Die stelsel wou elke greintjie individualiteit uit ons werk; hulle wou van ons ’n masjien maak. Ons was staatseiendom, en ouens wat wou selfdood pleeg, is aangekla van die beskadiging van staatseiendom. Dis waar.

Vir hierdie onskuldige seun was basiese opleiding ’n ontnugtering. Die fisieke aktiwiteite was nie so erg nie (ek was toe al ’n hardloper), maar die gebrek aan menslikheid was rof.

Ek is nie eens gay nie.

Gielie Hoffmann skryf in sy resensie: "Ek kon baie gedeeltes van myself raaksien op die grootskerm deur die jare; ek is immers meer as my seksualiteit."

Basiese opleiding was die eerste keer dat Kleindorp-Izak met mense te doene gekry het wat glad nie was soos hy nie; soos in glad nie. Teen daardie tyd was ek, volgens my eie kleindorpse standaarde, wêreldwys. Ek het al tee gedrink saam met swart en bruin mense en het al maaltye genuttig met Indiërmense. Hulle was soos “ons”. Die weermag het my geleer ontsettend baie mense is nie soos ek nie, al is hulle wit en al praat hulle Afrikaans. Izak was natuurlik nog maagdelik (maar het darem al iemand se hand vasgehou); van die ouens in my afdeling was al pa van meer as een kind by meer as een vrou.

Ek? Wel. In die film sê die hoofkarakter aan ’n ouer troep dat hy darem al skoolmeisies gevinger het. Hy is so onoortuigend dat almal weet hy jok.

Hoffmann sê: “Daar is baie interessante navorsing daarbuite wat wys dat baie gay mans eers in hul 30’s hierdie gedeelte van hulle tienerwees beleef, bloot omdat hulle as tieners nie dit kon doen nie. Baie heteroseksuele seuns beleef sulke mylpale op skool: die sit langs iemand in die atletiekbus, die dans by die partytjie, ’n vinnige vry in die fietsloods en die saambywoon van ’n matriekafskeid.”

Ja, dalk vir sommige, maar as jy kom uit ’n streng godsdienstige huis, met “kleindorps” op jou voorkop geskryf, dan was die weermag ’n wekroep.

 

Die dominee en die koffiekroeg

Ek is ná agt maande van opleiding oorgeplaas na ’n taamlik gemaklike kantoorwerk. Ek kon ook uit die slaapsaal na stiller woonkwartiere skuif. Kort daarna het ek en ’n klomp pelle ’n koffiekroeg begin waar ons ’n veilige omgewing geskep het vir troepe om te kon gesels, stil wees, of net weg te kom.

Die dominee het gehelp. Sy naam was dominee Coetzee.

In Kanarie is daar twee prominente dominees. Gerard Rudolph speel dominee Koch, die siniese oubaas wat die stelsel aan die gang hou. Jacques Bessenger speel die veel sagter dominee Engelbrecht.

Dit is by dominee Engelbrecht waar Johan Niemand uiteindelik kan gaan bieg oor sy seksualiteit. Gaan kyk gerus die film om te sien wat die dominee toe doen.

Dit is uiteindelik ook dominee Engelbrecht wat op ’n gegewe oomblik vir die troepe vra om die woede wat hulle ervaar, te koester, anders sou daar te maklik nostalgie intree. Dié stukkie raad het skielik nogal met my geresoneer. Ná ek die film klaar gekyk het, moes ek weer hierdie mense gesigte sien – hulle wat saam met my kwaad was.

Ek moes ook weer na dominee Coetzee se foto gaan kyk. Hy is die man in die middel.

Dominee Coetzee het baklei vir ons om ’n ou pakstoor te kry wat ons kon inrig vir ’n koffiekroeg. Onder die gesag van die kerk kon ons ’n ruimte skep waar troepe soms ’n bietjie menslikheid kon kom opsoek.

Ons het probeer. Die dominee se pers rangteken het ons beskerm.

 

Drag queens en God se plek op die paradegrond

Minstens vier van die mense op die foto’s is gay. Ten tye van ons weermagopleiding was slegs twee openlik uit die kas.

Daar is beslis gruwels gepleeg teenoor sekere mense net omdat hulle gays was – lees maar André Carl van der Merwe se roman Moffie. Tog, op ’n vreemde manier, kon die stelsel met gay troepe werk, solank hulle net nie oor hulle oriëntering gepraat het nie.

Die film wys dit mooi. Hou jou mond, loop in jou spoor, en jy sal soort van aanvaar word.

Die probleem was: sommige mense het hulle oriëntasie bitter goed weggesteek; ander kon nie. Die hoofkarakter in Kanarie kon nie sy oriëntasie wegsteek nie.

Om gay te wees was ’n gruwel in die oë van baie mense, ook in die oë van God – of so het die korporaals ons vertel teen x-aantal knope per minuut.

Daardie god was orals en sy naam is orals gebruik – ook in die monde van vloekende korporaals. Meer nog: in hierdie skisofrene stelsel waar dit oukei was om onder jou ma se rok in te vloek, swart mense te verguis, vet mense te slaan, of met piëtistiese troepe te spot, was daar steeds plek vir God op die paradegrond.

Die paradegrond was heilig. G’n troep stap oor ’n paradegrond nie, jy hardloop daaroor. Op ’n paradegrond word nie rondgefok nie, maar troepe wat droogmaak, word daar opgefok.

Op die paradegrond is daar ook een maal per maand ’n gebedsparade gehou waar een van die dominees moes preek en ons moes sing, al was ons nie Kanaries nie.

In Kanarie is daar ’n oomblik waar die seniordominee, dominee Koch, waarsku dat die vyand nie bloot op die grens is nie, maar ook binne-in die basis. Sulke preke het ons gereeld gehoor. Gelukkig was God aan die kant van die Suid-Afrikaanse weermag – dit hoor ons in die film, en ons het dit baie gereeld ook op die paradegrond gehoor.

Onder die seniors in die koffiekroeg het ’n vreemde, godsdienstige rebellie onstaan en die arme persoon wat dit die ergste moes ontgeld, was dominee Coetzee.

Ons, die jong, godsdienstige Turke, het die dominee daarvan beskuldig dat hy met die stelsel heul elke keer wanneer hy God se steun aan die oorlog toesê.

In Kanarie is dominee Koch reg vir die rebelle en daar vind ’n fassinerende gesprek plaas oor Mimi Coertse, John F Kennedy en HF Verwoerd. Gaan kyk die fliek om te sien wat daaruit kom.

Ons dominee het nie Mimi aangehaal nie. Hy het ons wel toegelaat om die basis se twee drag queens in sy koffiekroeg hulleself te laat wees.

Ons kon hulle beskerm in die koffiekroeg, en dominee Coetzee het ons beskerm.

Vandag wonder ek oor dominee Coetzee. Wat het hy regtig geglo? Hoe het hy elke aand in die bed geklim wetende dat hy ’n stelsel in stand help hou waarin hy dalk nie geglo het nie?

Ons, die jong Turke met klein dorpies in ons koppe, was so tevrede met onsself dat ons op daardie stadium nooit gewonder het oor dominee Coetzee nie.

Kanarie het my laat dink ek moes dalk baie meer na hom geluister het wanneer hy nie op die paradegrond was nie.

Nog fotobeelde uit die weermag

  • 12

Kommentaar

  • Adriaan van der Wart

    Baie waar en goed geskryf! Ek was ook daar, in pers drapeer. Ons was stil geskreeude bandiete in diens van 'n stelsel. Toé het ons dit nie geweet nie. Vandag verstaan ons wat ons toé nie geweet het nie.

  • Izak de Vries

    Dit is altyd makliker om terug te kyk en beter te verstaan, Adriaan.
    Terloops: Jou naam lui 'n klokkie, dalk 5-Sein? Pietermaritzburg? Of is ek verkeerd?

  • Jaco Geldenhuys

    Izak het oor my ook geskryf. Oor my godsdienstige huis in 'n klein dorpie, oor my ontnugteringe. Sy wonder oor ds Coetzee was ook my wonder. ek was ook 'n ds Coetzee.

    Kanarie het met my gepraat, vir my gesê ek moes dalk baie meer na myself geluister het as ek nie op die paradegrond was nie. Maar dan weer, sou Kanarie nie so 'n goeie Ludolf gehad het nie, want ek sou dalk nie kinders gehad het as ek toe na die stemme in my kop (en hart) geluister het nie.

  • Izak de Vries

    Jaco, ja. Ons is daardeur, en dis dalk wat ons nou daarmee maak wat tel. Die verlede is gedaan. En dis hoekom ek Kanarie salueer (ek is nou natuurlik opsetlik). Kanarie maak deure, kaste en woorde oop na soveel van ons se stories en die dorpe wat steeds in die kop is.

  • Chris Marnewick SC

    Ai Izak, wanneer ons mekaar weer sien moet ons gesels. Daar is soveel aanknopingspunte in jou uitstekende resensie van Kanarie. Gou een storie, miskien twee:
    Ek ry in 1967 op die trein van Louis Trichardt (een van daai klein dorpies) af Kaapstad toe om by die Vloot uit te kom. In Pretoria klim troepe op pad Oudtshoorn toe op. Hulle veldkornette vloek ons links en regs en boelie ons tot hulle op De Aar afklim. In Simonstad aangekom, lê die vloot-offisiere wat op die trein was 'n klagte teen die veldkornette. Ons moes later gaan getuig in die dissiplinêre verhoor. Die Vloot was maar anders.
    Die eerste aand in Simonsberg - na die haarskeer, inspuitings, nuwe uniforms en totale onsekerheid, staan ons langs ons dubbeldekker-beddens op aandag vir 'n inspeksie. GI Rootman (Gunnery Instructor) gevolg deur 'n halfdosyn luitenante en adjudant-offisiere kom verby en Rootman vloek ons nog erger as die veldkornette. Hy loop deur van een klas (22 man per klas - ek was in E-Klas) tot 'n ander en ons kan hom van voor tot agter uit hoor te kere gaan.
    Ons lê laag. Soos jy sê, jy soek om nie raakgesien te word nie.
    Tien minute later is Rootman terug by ons in E-Klas: "Het enige een besware oor hoe ek praat?" Ek bly stil – ek soek om nie gesien te word nie. 'n Maer outjie skuins voor my tree vorentoe. "Wat is jou probleem?" vra Rootman met sy neus so 'n duim van die matroos se gesig af. "Ek maak beswaar omdat u my so vloek," kom die antwoord in 'n bewerige stem wat maar kort tevore gebreek het.
    Rootman draai om en sê vir ons: "Hierdie man is offisier-gehalte. Die res van julle is lafaards, kanonvoer." En op pad uit, "As enige iemand op julle vloek wil ek dit hoor. Anders is die hel los en hardloop julle 'n dag lank teen die berg op en af."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top