Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die Generaal deur Hans Pienaar

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


 

Hans Pienaar

Hans Pienaar is ’n 2018-skryfgenoot by die Johannesburg Institute for Advanced Study en skryf dramas, romans, kortverhale, gedigte en niefiksie in Afrikaans en Engels.

Hy werk as joernalis vir Business Day in Johannesburg en skryf ook vir Afrikaanse media. Sy jongste fiksiewerke is Te veel sorge en My china, en sy toneelstukke The good candidate en Die wortel van alle kwaad het onlangs gedebuteer, terwyl hy ook Uithoeke (fotogedigte) geproduseer het.

Hy is bekroon met ’n Rapport-prys vir Die derde oorlog teen Mapoch en die Pansa-prys vir die beste nuwe Suid-Afrikaanse toneelteks in 2005 vir Three dozen roses. Hy is die stigter van die nisuitgewery altoviolet en was voorsitter van die Melville Poetry Festival. Hy is getroud met die digter Corné Coetzee en het twee dogters.


Opsomming

Die Generaal
Hans Pienaar
Afrikaanse Roman
Uitgewer: Tafelberg

ISBN: 9780624085812

Daar is ’n klop aan die deur. My vinger huiwer op die sneller. My hart hamer die sekondes in my ore om. Wat sal gebeur as die skoot afgaan?

Johan is negentien en in die weermag. Wanneer die adjudant hom inlig dat hy na Seksie C in die Zambezivallei gestuur word om onreëlmatige ontgroening te ondersoek, pak ’n ongekende opgewondenheid hom beet. Maar dit is korte duur, want Johan besef gou hy is nie opgewasse teen die weermag nie. Ter ontvlugting besoek Johan pasnaweke sy ouer neef, Ben, in Pretoria. Ben, die rebelse seun van die generaal. Ben wat sy eie oorlog veg.

Die Generaal is ’n onthutsende, oorrompelende en aangrypende verhaal wat die absurditeit van die Grensoorlog en die verwoestende impak daarvan op jong mans se lewens met sensitiwiteit teken.


Uittreksel

“Cowboys don’t cry . . .” Ons het die frase so dikwels gehoor dat ons onsself in Stetsons pleks van barette begin sien het.

Dit was ’n vreemde gevoel; ons was veronderstel om soldate te wees, seuns wat besig was om manne te word, maar vir lang tydperke het ons in ’n saal op skoolstoele gesit met gordyne die kleur van gekoude biltong, kompleet soos die skool s’n laas jaar.

Buite het die reënwater deur die geute geratel, die grasperke het vol geloop en die bome het gelyk of hulle op heterdaad betrap is en nou maar daar staan met hul nat kalksokkies. Maar pleks van leer hoe om daarin te leef met net jou tent en jou poncho, is ons in die saal gestop vir lesings. Tupperware-troepe, inderdaad.

Popmusiek! Die kaptein het daardie dag oor popmusiek gepraat, oor dieselfde ou gunstelinge as dié van die onderwysers in matriek. Die Rolling Stones met “Sympathy for the Devil”, die Beatles met Back in the USSR” was voor in die koor. John Lennon, het die kaptein voortgeseur, was mos die man wat gesê het hulle is gewilder as Jesus Christus. Wel, het ons Christene nie sy gat geskop nie!

Hy het verwag ons moet lag, en senuweeagtig gelyk toe sy gegrinnik deur ’n dom gestaar begroet word. Noem Mick Jagger se naam op ’n verhoog, en almal het al geleer om af te skakel.

Dit het my ontmoedig laat voel. Voor die reën het die weermag inderdaad soos ’n tuiste begin lyk. Ons het met skietkuns en nagoefeninge begin. Ek kon dit nie ontken nie: ’n opgewondenheid het my beetgepak toe ek die eerste keer “die vyand” in my visier gehad het en ek die plesier beleef het van daardie breukdeel van ’n sekonde voor jy jou geweer se sneller trek. Al was daar net blanks in die magasyn.

Die skietbaan. Die kuns van die regte postuur, die regte asemhalingstegniek. Die spanning toe ons by die langer afstande kom. En toe ek genoeg punte opstapel vir ’n skerpskuttersbalkie, kon ek die gevoel van trots ook nie ontken nie.

Toe ons op die koppie sit wat op die basis afkyk en die louwarm tee drink wat daar aangekarwei is deur ’n nors sjef, wie se gevloek ons selfs bo die kermende Land Rover kon hoor, kon ek myself daar onder sien. Aan die hoof van ’n peloton, besig om mens en masjien te fokus op die een of ander massiewe projek ver anderkant die horison. Honderde en duisende aan’t marsjeer.

Maar daar was onmiddellik die repliek in my kop: Waarheen? Waarvoor? Sal die vyand ons ooit bekruip soos hulle ons bekruip het tydens nagoefeninge? Dit het ook so absurd gevoel: speletjies wat nooit werklik sou gebeur nie, nie hier te lande nie. Tupperware-troepe.

“Hulle is lafaards. Cowboys don’t cry,” het die kaptein voortgegaan op die verhoog. “Dis hoekom hulle sekere organisasies gebruik om hul vuilwerk vir hulle te doen. In Mosambiek, Angola, Rhodesië . . . en nou ook in Suid­Afrika.”

Die woorde het in die lug gehang: “sekere organisasies”. Obskuur genoeg om onheilspellend te klink. Spesifiek genoeg om jou te laat voel hulle is iewers anderkant  die eerste berg aan’t knoei; anders as gewone wetsgehoorsame, pligsgetroue organisasies soos die weermag. Na wie het hy verwys? ’n Sadistiese slawemeester wat in Russies vloek en honderd kruipende Mosambiekers aandryf na ’n vreedsame dorpie, en dan soos blits verdwyn wanneer ’n ander wit mens op die toneel verskyn?

Maar ons, het die kaptein met trots gesê en sy bors jou waarlikwaar uitgestoot, ons in die gewapende magte van die Republiek van Suid­Afrika, ons is van heldestoffasie gemaak, ons is nie lafaards nie – toe het die korporaals ons opgestook om te skree “Ja, kaptein!” – en ons is eerlike mense en veg self in die oorlog, in die oorlog vir ons land, ons gebruik nie ander mense nie. Ons steek nie weg dat ons dinge moeilik maak vir die vyande van die staat nie. Ons veg vir die voortbestaan van die Westerse beskawing en cowboys don’t cry.

Terwyl hy gepraat het, is ’n notaboekie rondgestuur. Die laaste inskrywing was ’n versoek vir Pretty Belinda for my friend pretty Be­ linda and all my folks at home, gevolg deur omtrent ’n dosyn name.

Toe ek opstaan, het die uitdrukking op die kaptein se gesig na een van skok verander. “Wat ek nie verstaan nie, kaptein,” het ek myself hoor sê, “is dat die weermag ons waarsku teen popmusiek, maar terselfdertyd word ’n notaboekie omgestuur met versoeke vir popmusiek op Forces Favourites.  Iemand het byvoorbeeld gevra vir ‘Pretty Belinda’, wat definitief popmusiek is.”

Die troepe voor my het verbaas omgekyk. Die kaptein was in ’n hoek, maar hy was ook opgelei om homself daaruit te praat. “Wat ons hier moet verstaan, is dat ons deesdae in ’n nuwe arena van oorlog veg. Die Russe,” en hy het sy duim en voorvinger in die lug bymekaargehou asof dit die moeilikste ding op aarde was om klein te kry, “wil die koppe van die Westerse jeug korrupteer. Ons weet nie presies hoe hulle dit doen nie; hulle doen navorsing in laboratoriums en so aan en ons sien net die resultate: dwelms, promiskuïteit, flower power en vredestekens oral – wat, soos jy weet, die teken van die kraai en daarom van die duiwel is. En ons kan nie bekostig om met ons broeke op ons knieë betrap te word nie, so ons moet voorbereid wees.”

“Ja, maar wat van ‘Pretty Belinda’?” het ek volgehou.

“Los die musiek, gee ons net Belinda,” het iemand uitgeroep, en die saal het uitgebars van die lag. Die kaptein het kameraad- skaplik geglimlag, en sy kop geskud.

“Daar het jy dit,” het hy gesê. “Dis ter wille van ons vrouens.”

Die volgende paar dae het die korporaals en sersante gesorg dat ek meer as net ’n rooi gesig gehad het. Pretty Belinda was nou my bynaam, en hulle het dit uitgeskree tot hul gesigte, sentimeters van myne af, blou was van inspanning en hul spoeg my wange laat jeuk het, want ek is nie toegelaat om dit af te vee nie.

Ek was te nuuskierig, het hulle beweer.

“Vra my hoe laat dit is.”

“Dis tien oor drie, korporaal.”

“Jy moet mý vra, moerskont.”

“Hoe laat is dit, korporaal?”

“Moenie die weermag se tyd mors deur sulke dom vrae te vra nie. My horlosie het gaan staan. Jy mag net vrae vra waarvoor ons antwoorde het. Die res het niks met jou te doen nie!”

Ons eie peloton se korporaal het my nie gespot nie. Hy het my geroep wanneer ons ’n bietjie uitgespan het, of sommer ’n les oorgeslaan het, of nadat ons dit afgerammel het en met ’n ledige kwartier op die rooster opgeskeep gesit het.

“Weet jy, Belinda,” sou hy gewoonlik begin. “Ek kan nie so aangaan nie. Ek’s nie ’n sissie nie, dis nie die ding nie. Ek was skaars sestien toe ek my eerste bar fight gehad het, nog ’n tjokker, man. En ek was aan die wenkant ook nog. Hier,” en hy sou sy hemp losknoop om die klein strepie van ’n litteken op sy regterbors te wys, “dis waar ek gelem is in Klerksdorp. Jy weet mos van Barney’s . . .” En dan sou hy aangaan oor elke detail van die plek: “So dis nie dat ek nie tough genoeg is nie. Dis net dat . . . die lewe te veel is vir my. Die volume is te hoog gedraai. Die revs is ook te hoog. Ek’s nie eens een-en-twintig nie, en die lewe is klaar te veel vir my.”

Een maal het hy in trane uitgebars, voor almal, en ons moes hom weglei om eers ’n bietjie onder ’n boom te gaan sit. My makkers in die peloton het met my die gek geskeer. Hulle het hul koppe op my skouer gepak en kamma bitterlik gehuil: “Ek mis my mamma.”

Dit was maklik om te mompel “Wat ’n fokop” en my kop te skud. En ek kon aanvoel dat ek moes wegbly van hom af; nie betrokke raak nie sodat ek my eie bewerige balans kon behou. Maar my geslote lippe het hom net meer vasbeslote gemaak om sy hart uit te praat. Soos oor sy pa, wat ’n tiran was en sy ma kort en klein geslaan het, en hom soms ook. Wat op sigself nie saak maak nie, het die korporaal gesê, behalwe dat sy pa dan geëis het dat hy hom terugslaan.

“Ek kon dit nooit doen nie, man,” het hy in ’n yl stemmetjie vertel. “Hy het gesê dan sal ons kiets wees, maar hoe kan jy kiets wees met jou pa, hè, Belinda? En toe sê hy dis omdat ek ’n lafaard is, en toe sê ek nee, die Bybel sê jy mag nie jou hand oplig teen jou vader nie. En toe sê hy net sissies hardloop na die Bybel.”

’n Pa uit die hel. Ek moes hom gehelp het, Ben, maar hoe? Al wat ek gedoen het, was om my bynaam na hom toe aan te pass. Dit het gewerk, waarom weet ek nie, maar kort voor lank is hy Belinda genoem en nie meer ek nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top