Die Ampie Teater: ’n onderhoud met Anne-Ghrett Erasmus

  • 0

Anne-Ghrett Erasmus

Anne-Ghrett Erasmus is ’n digter en kunstenaar en bestuur die Breytenbach Galery in Wellington. Sy was ook getroud met wyle Ampie Coetzee. Ampie was ’n aktivis en skrywer en bekend vir sy liefde vir nispublikasies en -geleenthede.

Vanaf 1975 tot 1990 was Ampie direkteur van ’n niewinsgewende uitgewersmaatskappy Taurus, wat literêre manuskripte gepubliseer het wat as gevolg van die vorige regering se Wet op Publikasies verbied sou gewees het.

Anne-Ghrett praat hier onder met Naomi Meyer oor die geboorte van die sogenaamde Ampie Teater in Wellington.

Anne-Ghrett, jy is ’n digter en kunstenaar en jy bestuur die Breytenbach Galery en kunswinkel in Wellington. Nou verneem ek jy gaan in jou huis (jy noem dit die Ampie Teater – ter ere en as huldiging aan jou man, wyle Ampie Coetzee) boekbekendstellings en huiskonserte aanbied. Wil jy dalk eerste vertel waar is hierdie venue, sodat mense daarvan kan weet? 

Naomi, dankie vir die belangstelling. Jinne, hierdie was werklik net ’n spontane gebeurtenis wat ontwikkel het. Jannie du Toit het my so paar maande gelede gekontak en vir Die Bôrdienghuis se kontakbesonderhede gevra. Hy wou ’n konsert reël. Die Bôrdienghuis was vol bespreek en toe nader hy my om ’n ander ruimte te vind. Dit was onsuksesvol en toe stel ek voor dat ons ’n huiskonsert by my en Ampie se huis kom doen. Na afloop van die wonderlike konsert op ons agterstoep, moes ek bedankings doen en voilà! Daar spoel die woord spontaan uit my mond – “Welkom by die Ampie Teater”. Die adres is nogal histories in die oudorp, naamlik Murraystraat no 11. 

Watter geleenthede vind hier plaas? Ek sien hier is gesprekke met digters en ook met kundiges van inheemse bome. Daar is kuns, daar is musiek. Brei asseblief uit sodat mense hiervan kan kennis neem. 

O, nee, dis net ’n ruimte vir boekbekendstellings, gefokus op veral digbundels (Ampie se kos en ook myne). Die musiek is meer ondergronds vir nou en nie almal kan dit aanbied in hulle teaters nie, want dis bloot nie finansieel die moeite werd nie.

Wat is jou toekomsvisie hieromtrent?

Dis so vinnig op my dat my visie nog bepaal moet word. Maar Ampie en ek het ’n groot ou huis gekoop, te danke aan Manie Rust. Ja, hier is nogal ’n geskiedenis. Die huis is in 1893 gebou en ek voel dit moet nou benut word. En dit ter ere van ’n wonderlike akademikus en ’n wonderlike man en pa. Ja, Ampie is nog hier! (En ek mis hom, so dis ’n manier om hom te eer.)

Lees meer oor sommige van die geleenthede wat binnekort aangebied word:

Die Ampie Teater bied aan: Marcia Moon (plakkaat hier onder). Moon is bekend vir haar gothic/rock-styl folk musiek, en temas met ’n fantasie en misterieuse element, soos gehoor in haar liedjies “Heks van Hexrivier Vallei” en “Tienduisend gode”. Moon se musiek word gehoor in die SAFTA-wennerprogram Jan en VIA se nuwe musiekprogram Klanke van my hart. Die Heks Heavy Metal-produksie het dan ook twee jaar in ’n ry gespeel by Woordfees in Stellenbosch. Sien uit na ’n intieme aand van musiek wat jou laat wegraak in ’n donker wêreld. 🌚🖤 Plek: Ampie Teater, 11 Murraystraat, Wellington. Datum: Sat 13 Julie. Tyd: 6 nm. Prys: R200, sluit ’n glas wyn en happie in. Bring jou eie drank. 🖤 Beperkte plek, koop kaartjies aanlyn met jou naam as verwysing: https://pay.yoco.com/bunemoonworxs. ⚡️🌚

Lees ook:

Herinnering aan Ampie Coetzee

Ampie Coetzee: die Sestiger van die literêre kritiek

Suidoosterfees 2018: ’n onderhoud oor die Fantastiese 15!-kunsuitstalling

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top