Anne-Ghrett Erasmus is vanjaar die kurator vir die Suidoosterfees-kunsuitstalling. Elzanne Coetzee gesels met haar oor hierdie uitstalling.
Hallo Anne-Ghrett. Het die kunsuitstalling by die Suidoosterfees ’n oorhoofse tema? Sal jy my bietjie meer daarvan vertel? Waardeur is dit geïnspireer?
Ja, vanjaar vier ons die fees se vyftienjarige bestaan, en dit was die inspirasie vir die titel, nl “Fantastiese 15! / Fabulous 15!” Die bestuurder, Niël Rademan, was so gaaf om vir my vrye teuels te gee om 15 kunstenaars te nooi om deel te neem. Anders as verlede jaar, toe ons Jakes Gerwel se versoek geëer het, waar hy Boonzaaier en Conrad Theys saam wou uitstal, het ons besluit op iets vars en nuuts. Iets buite die boks en baie eietyds, dit wat nóú oog en belangstelling prikkel.
Wat is uniek omtrent die uitstalling? Watter tipe werke word meestal uitgestal (skilderye, beelde, ens)?
Vanjaar is ’n mengelmoes van alle mediums van ons fantastiese 15 kunstenaars of uitstallers. Van die tradisionele olie op doek tot keramiek, beeldhouwerke, grafiese werk en ontwerpersmeubelstukke. Dis jonk en vars en eietyds. En glo ek ’n fees vir die oog.
Watter kunstenaars se werk word ten toon gestel?
Die 15 is Louis Jansen van Vuuren, Christiaan Diedericks, Hennie Nieman, Bastiaan van Stenis, Willie Bester, Gerhard Human, Marinda du Toit, Nanette Ranger, Wiid Design, Ceramic Matters, Selwyn Pikeur, Conrad Theys, JP Meyer, Michelle Nigrini en Theresa Jo.
Is daar enige kunstenaars se werk (in die algemeen) of een spesifieke skepping van ’n kunstenaar wat jou opgewonde maak?
Dis werklik ’n moeilike vraag! As ek kon, sou ek ’n “Fantastiese 100”-uitstalling wou reël. Daar is soveel ongelooflike kuns om ons. Die mense is so kreatief en vernuwend. Deesdae dink mense heeltemal buite die boks en neem die verbeelding tot op vlakke waar mens nooit gedink het jy sou beland het nie. Hopelik sal hierdie handvol van 15 iets daarvan kan vasvang. Hulle werk is wêreldstandaard en baie van hulle stal ook oorsee uit. Hopelik sal die gehoor dit waardeer en besef watse ongelooflike talent op eie bodem broei. Die eiers wat hulle baar, is van internasionale standaard. My groot wens is dat die Suidoosterfees ’n platform word vir die tentoonstelling van wat in hierdie land is. ’n Basis vir talent, nie net op die verhoë nie, maar ook in die fynere visuele kunste. Dis so ’n groot voorreg om hierdie uitstalling te reël!
Kommentaar
Anne-Ghrett, is jy dalk Alma en Kestell se dogter? Dan is ons bloedfamilie!
Hallo Marieta. Nee, hulle is nie my ouers nie. Groete.