Ampie Coetzee: die Sestiger van die literêre kritiek

  • 0

Kabous Meiring en Ampie Coetzee by die Tuin van Digters in 2019 (foto: Willem S van der Merwe) - https://www.litnet.co.za/tuin-van-digters-2019-een-vir-die-boeke/

Ampie Coetzee was ’n Sestiger. Wat sy tydgenote en skrywersvriende Breyten Breytenbach, John Miles, André P Brink en vele ander vir die letterkunde gedoen het, het hy vir die literêre kritiek gedoen. Van Wyk Louw se raakvat van die Sestigers se skryfwerk in Vernuwing in die prosa is ook van toepassing op Ampie se literêr-kritiese opstelle: ’n nuwe woordgebruik, ’n nuwe wêreldbeskouing.

Toe Jakes Gerwel in 1982 die Department Afrikaans verlaat om dekaan van die Fakulteit Lettere te word, en daarna rektor, het hy ’n opvolger gesoek wat die ideologiekritiese en teenhegemoniese werk verder kon neem. Oor die uitkoms van daardie besluit skryf Ampie in ’n huldeblyk aan Jakes op LitNet: “Hy het my as 't ware by Wits kom haal in die laat tagtigerjare om by hulle aan te sluit. Dit is die grootste eer in my lewe. Daar het ek meer gepolitiseerd geraak as wat ek was, omdat ek toe aan die diep kant ingegooi is. Saam het ons gestry teen apartheid, saam op die kampus gevlug vir die traangas van die polisie. Saam gebou aan ’n universiteit.”

Alhoewel hy toe reeds gevestig was by Wits in ’n departement waar hy uitdagende kritiese studies gedoen het met John Miles, Ernst Lindenberg en ’n span jonger kollegas, en as medestigter van Taurus in ’n intense stryd met die sensuurwetgewing gewikkel was, was hy reg vir die skuif na die Kaap. Hier sou hy saam met Hein Willemse, Julian Smith en ander ’n nuwe paradigma vir die studie van literatuur in Suid-Afrika vestig.

Soos die Sestigers het hy reeds weggebreek van ’n insulêre, eng formalistiese en lokale perspektief na een van bewustheid van die plek en funksie van literatuur in die samelewing, die verruimende elemente in die wêreldliteratuur en veral die opwelling in Europese literatuurteorie. Dit sou hy vernuftig inspan om ’n skerper insig in die nuanses van die plaaslike literatuur te gee. Onder sy leiding is kursusse in Vergelykende Suid-Afrikaanse literatuur by die Universiteit van Wes-Kaapland ingestel en die romans van Nadine Gordimer, JM Coetzee en Mongane Wally Serote behandel – iets waarteen vreemd opgekyk is in die Afrikaanse akademia, maar waarmee hy die benouende taalgrense wou oorstyg in ’n soeke na die gedeelde nasieskap wat strydig met apartheid was. Ampie het ’n sleutelrol gespeel in die formulering van ’n kennisraamwerk vir Suid-Afrikaanse letterkunde en só as intellektueel gehelp om die kunsmatige skeidinge van apartheid van legitimiteit te stroop.

Sy studie Marxisme en die Afrikaanse literatuur was baanbrekerswerk waarin hy die teoretiese insigte van Fredric Jameson en Terry Eagleton ontsluit het om die materialistiese onderbou van die literatuur uit te wys en sodoende ’n begrippe-apparaat te ontwikkel vir verdere studies van die dialektiek tussen teks en maatskappy. In hierdie werk was sy insig, gegrond op Pierre Macheray se begrip die stilte van die teks, openbarend vir die verdere verstaan van die subtiele werking en veelvlakkigheid van ideologie in die teks.

Letterkunde en krisis is ’n dun boekie gemeet aan die literatuurgeskiedenisse van John Kannemeyer, Hennie Van Coller en selfs Rob Antonissen, maar sy analises van die ingebedheid van die Afrikaanse letterkunde in Afrikanernasionalisme en die apartheidstaat en die krisisse wat telkens tot vernuwende tendense aanleiding sou gee, is onontbeerlik vir ’n omvattende begrip van die ontwikkeling en verloop van die Afrikaanse literatuur. ’n Hele os vir ‘n ou broodmes is die mees omvattende beskrywing van die plaasnarratief en die verhouding tussen Afrikaners en grond.

Ampie was op die voorfront toe Franse literatuurteorie hier te lande bekend raak, en hy het die werk van Jacques Derrida, Michel Foucault en ander insigryk aangewend in sy analise van taal, mag en samelewing. Aan die hand van Derrida kon hy Breytenbach se verwikkelde taalspel uitwys. Sy tipering van Swart Afrikaanse skryfwerk na aanleiding van Giles Deleuze en Felix Guattari se begrip minor literature het interessante perspektiewe gebied op die teenhegemoniese aard van hierdie korpus skryfwerk in verhouding tot die kanon. As bloemleser het hy gerekende bydraes gelewer van die protespoësie saam met Hein Willemse in I qabane labantu en die poësie van Breytenbach in Die hand vol vere.

Met sy sjarme en flambojantheid was hy geliefd onder UWK-studente. Sy gevatheid en lighartigheid het die geneentheid van kollegas en studente ontlok, en in daardie opsig was hy die antitese van die stereotiepe, stugge Broederbond-professor aan ‘n sogenaamde bush college. Saam met Jaap Durand, André Odendaal en ander was Ampie die toonbeeld van die Afrikaner-dissident wat hom aan die struggle toegewy en meegewerk het dat UWK die baken kon word van nierassigheid en alternatiewe, demokratiese ideale. As kultuuraktivis het hy gewoeker in die Congress of South African Writers, die kongresse Taal en Stryd (1989, Durban) en Taal en Identiteit (1992, Leiden), en die ontmoetings tussen die ANC en Afrikaners in Dakar, Senegal en die Victoriawaterval. Hy was gereeld teenwoordig by byeenkomste van die Afrikaanse Skrywersgilde en die Afrikaanse Letterkundevereniging.

Ampie kom uit die Randse werkersgemeenskappe wat weens die suksesvolle implementering van apartheid ’n universiteitsopleiding kon kry en selfs die hoogste sport van die akademie kon bereik. Dit het hom egter nie onbewoë gelaat oor sy medeburgers wat weens apartheid nie dieselfde geleenthede gegun is nie. In Adam Small se heimat Wellington kon hy hom verkneukel aan die Bolandse Afrikaans en het hy die gemeensaamheid met taalgenote waardeer. Daarom sy driftige reaksie as hy waarneem dat taalregte geskend word.

Ampie was ’n lewensgenieter. Sy uitbundige en hartlike lag, sy fyn humorsin en stuitige grappies, sy dekonstruksies van rugby en heilige koeie in die samelewing, is welbekend. Op ’n stadium het hy ’n pyp en ’n flessie moerkoffie kantoor toe gebring en dié aromas sou die gang vul. Hy het gereeld kollegas aan huis onthaal en van sy gunstelingdisse gekook. Een van die redes waarom hy op Wellington afgetree het, was miskien om meer van die plaaslike wyn te geniet, later meer wit en minder rooi sauvignon!

Soos altyd betreur mens die feit dat jy nie meer tyd met ’n groot intellektueel deurgebring het nie. So veel nog te leer van jou, Ampie. Rus sag, my vriend en mentor!

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top