Ek het Ampie vanaf die middel-sestigs (vorige eeu!) geken toe ons albei ons eerste akademiese treë in Natal gegee het. ’n Vriendskap het ontstaan deur ons eenderse geesdrif vir die naoorlogse Europese letterkunde en die vroeë werk van die Afrikaanse Sestigers wat eietydse temas op ’n nuwe manier hanteer en wat boweal uit ’n ander lewensbeskouing voortkom. Ons was jonk en het geen generaal of senator onder ons voorsate gehad nie – beide ons pa’s was uit die sogenamde wit werkersklas – Ampie s’n ’n mynwerker, myne van ambag ’n bakker – wat langsaam sou voortbeur na die middelklas.
Daarna was ons vir om en by 20 jaar kollegas by Wits se Departement Afrikaans en Nederlands. Die Universiteit van die Witwatersrand en ons senior departementele kollegas – eers Van Wyk Louw, daarna Ernst van Heerden en Ernst Lindenberg – het ons die ruimte gegun om die gangbare literêre konvensies en kulturele dwangbuis uit te daag, ’n vryheid wat baie kollegas by ander instellings nie beskore was nie.
Dit was ’n tyd van opbloei vir die kleintydskriffies, meestal op protes ingestel teen ’n toenemend verdrukkende magsbestel. Ampie het ook sy aandeel gehad in die oprigting van die tydskriffie Kol toe ons groepie se kafee- en kroeggesprekke nie meer genoegsaam was nie. Kol het weggespring met ’n interne debat onder die Sestigers waar die noodsaak van ’n radikaler sosiale betrokkenheid by toe reeds leidende skrywers soos Breyten en André Brink op die voorgrond gestel is. Lojale verset was onder verdenking en nie meer genoeg nie.
In dieselfde tyd het jonger skrywers, onder wie Ampie, die bestuur van die Johannesburgse tak van die Skrywerskring oorgeneem. Openbare vergaderings is gehou oor aktuele sake soos die stand van die Afrikaanse film en die versorging van voorgeskrewe boeke op hoërskool. Ek en Ampie is in 1971 gevra om ’n bundel saam te stel uit die skeppende werk van hoërskoolleerlinge. Drumpel bevat die eerste pogings van ontluikende skrywers, onder wie Antjie Krog en Barrie Hough. Die bundeling van leerlinge se skryfwerk is hierna voortgesit, maar nóg die uitgewer (McGraw-Hill), nóg die eerste samestellers is deur hoër gesag daarvoor geskik geag.
In 1974 word Brink se Kennis van die aand verbied, en op die Skrywerskring se openbare protesvergadering is ’n fonds gestig waaruit Taurus, met Ampie as mede-oprigter, ’n jaar later ontstaan het. Taurus se eerste publikasie was ’n Oomblik in die wind, waarvan die manuskrip vanweë die vrees vir ingryping deur die staat by drie uitgewers vir publikasie van die hand gewys is. Die suksesvolle verskyning van die roman het saamgeval met Breyten Breytenbach se besoek aan Suid-Afrika onder ’n vermomde identiteit. Taurus se tweede publikasie was Blomskryf, ’n bloemlesing uit die gedigte van Breyten met ’n inleiding deur Ampie. Byna 20 jaar later is dit weer Ampie wat vanweë sy besondere insig in Breyten se poësie samesteller is van ’n nuwe keuse uit die digter se poësie, Die hand vol vere (H & R).
Ook by die oprigting van die Afrikaanse Skrywersgilde (1975) was Ampie ten nouste betrokke. By die tydskrif Bloody horse (1980) was hy verantwoordelik vir die kopie in Afrikaans.
Intussen het Taurus sy rol voortgesit om veral skryfwerk wat kwesbaar was vir ingryping van die gevestigde orde te publiseer, en in die proses sou van Afrikaans se latere gevestigde skrywers hier debuteer, soos Ingrid Winterbach, Eben Venter, Ryk Hattingh, Harry Kalmer en Hans Pienaar. Ander skrywers sou volg, ’n paar name onder die jongeres: Koos Prinsloo, Antjie Krog, André le Roux, Jeanette Ferreira, Johann de Lange, RR Ryger ... Onder die meer gevestigde skrywers tel name soos André Brink, Nadine Gordimer, Wilma Stockenström en Pieter-Dirk Uys.
Van Afrikaans se groot woordsmid en -muiter en kulturele aanstigter Breyten Breytenbach het Taurus nie minder nie as 13 publikasies hanteer, vier daarvan tydens die jare van sy gevangenskap (herdrukke en nuwe keuses uit ouer manuskripte) en nege daarna. Ampie was op die voorpunt om die lotgevalle en skrywerskap van Breyten tydens sy gevangenskap lewend te hou. Onder sy redakteurskap het Woorde teen die wolke (1980) die lig gesien en in sy opstelle neem hy meermale Breyten se poësie in oënskou.
In die jare ná Van Wyk Louw se dood het jong Afrikaanssprekende studente steeds vir hulle onderrig Wits toe gekom om ook by ’n dosent soos Ampie te studeer. Sy benadering tot die Afrikaanse letterkunde kan ’n mens vind in werke soos Poësie en politiek (1976) en Marxisme en die Afrikaanse letterkunde (1984). Hierin beklemtoon hy die integrasie van politiek en letterkunde, en aan die hand van voorbeelde uit die werk van Johannsen en Van Bruggen word die letterkunde ondergeskik gestel aan ekonomiese ontwikkeling. Só streng is ekonomiese determinisme vir hom dat hy later in Letterkunde en krisis (1990) ’n alternatiewe periodisering van die Suid-Afrikaanse letterkunde voorstel. Al het ons nie heelhartig oor die teorie saamgestem nie, was daar deurgaans ’n eensgesindheid in ons rol as tussengangers vir ’n vrye en geskakeerde letterkunde van ’n relatief klein taalgemeenskap.
Ampie was deel van die 1987-afvaardiging na Dakar wat deur Idasa gereël is om lede van die verbanne ANC vir samesprekings te ontmoet. Ook die besoek van Afrikaanse skrywers aan ANC-afgevaardigdes by die Victoriawaterval van twee jaar later het hy bygewoon, en daarna saam met James Polley in Crossing borders (1990) van die besprekings verslag gedoen.
Om jou op ’n etiese wyse teen ’n verdrukkende magsbestel te verset gaan nie sonder benoude oomblikke gepaard nie; gelukkig kan jy weldra die beuselagtighede vergeet. Maar jy onthou jou klein, lojale vriendekring op wie jy in krisistye kon steun. Ampie was so ’n vriend, maar ek kan hom nie losdink nie van herinneringe aan Gerrit Olivier, Tienie du Plessis en Ernst Lindenberg en die onderskraging van Elza en Hettie nie. Na-uurse werk aan manuskripte het maklik oorgegaan in gemeenskaplike kuiersessies. As vriende moet ek hierby die name noem van Willem Strydom, Gerhard Maré en Paul Stopforth. En wanneer Breyten en Yolande die land besoek het, het hoor en sien vergaan.
Besoeke aan die Bosveld met Ampie wat kosmaak. Na Botswana. Na Namibië. Vrolike gesprekke. Op die man af. Sonder doekies. Maak nie saak wat die jongste krisis was nie, Ampie kon dit immer temper met sy kenmerkende lag en daarmee die politieke absurditeite van die dag relativeer.
In ’n Desemberhitte op Kosibaai hoor ons oor die radio: Breyten is vrygelaat. Hoe vrolik kan ’n terugtog van ’n vakansie nie wees nie!
Jakes Gerwel het Ampie Kaap toe gelok. In 1987 word hy professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy strewe na die verbreding van die letterkunde oor taal- en klasgrense heen kon hy hier voortsit. Neerslag hiervan sien ons in die bloemlesing van skeppende werk wat hy saam met Hein Willemse byeengebring het in I qabane labantu, 1989.
Van Taurus het hy deel gebly.
My herinneringe aan Ampie fokus op ons gesamentlike Johannesburgdae. Van sy Kaapse lewe en die jare in Wellington het ek op hoogte gebly, maar nie van naby meegemaak nie. Sy betrokkenheid by die oprigting van die Breytenbach-sentrum en die Tuin van digters is tekenend van die Ampie Coetzee wat ek deur die jare leer ken het. Vir my lê sy waarde in die afkeer van kulturele inperking en die noodsaak van ’n letterkunde verbonde aan die Suid-Afrikaanse geskiedenis en aktualiteit in die volste sin van die woord.
Ek eer sy strewe en sê dankie vir die vriendskap. Ek groet hom saam met sy naastes: Anne-Ghrett en Kobus, Karin en Marko, Stella.
’n Medetogganger is weg. Sy laaste spoor was in die Boland.
Lees ook:
Persverklaring: Afrikaanse taalstryder en ‑aktivis Ampie Coetzee sterf
Kommentaar
Goeie more Litnet,
Ek is 'n kleinneef van Ampie Coetzee. Ampie se ma en my Ouma Swart (Nooiensvan Botha) was susters. Ek deel my hartseer met julle, Annagrett, Kobus, Marko, Karin en kleinkinders. Ek stuur graag vir julle 'n artikel oor my kennis van Ampie.
Groete
Mattheus