Persverklaring: Afrikaanse taalstryder en ‑aktivis Ampie Coetzee sterf

  • 0

Foto van Breyten Breytenbach en Ampie Coetzee: verskaf

Die Breytenbach-Sentrum in Wellington het met diepe hartseer verneem van die heengaan van Ampie Coetzee, stigterslid van die Breytenbach Sentrum en ook die eerste voorsitter van die Breytenbach Trust.

Coetzee, wat die afgelope 13 jaar in Wellington gewoon het, is Donderdagoggend (15 Oktober) om 01:50 in die Paarl Hospitaal in die ouderdom van 81 oorlede. Coetzee is verlede Woensdag weens hartversaking in die hospitaal opgeneem. 

"Ons het ’n broer en ’n makker en ’n kameraad en ’n medestryder verloor, ’n danser voor die ewige," het die digter en kunstenaar Breyten Breytenbach, jarelange boesemvriend van Coetzee, gesê in sy reaksie, asook dié van sy vriende John Miles, Gerry Maree, Paul Stopforth en Kerneels Breytenbach.

Breytenbach het uit Europa sy meegevoel met Coetzee se heengaan  betoon en gesê "dit is verskriklik om so ’n hegte vriend, soos ’n broer, te verloor.

"Sy vrou het ’n gids en ’n geliefde moes laat gaan. Sy seuns ’n pa. Ons almal ’n voorloper en ’n meester. Hy het deur ons hande geglip toe ons hom ten alle koste wou vashou, al is dit ook net vir nog ’n paar maaltye saam, vir nog ’n glas goeie wyn, vir nog ’n lag en nog ’n vasdruk teen die bors. Ons gaan probeer lag deur die trane. Want hy was van die son, nie die skemering nie. En hou hom waar dit nou nooit weer anders sal wees nie - in die oneindige ruimte van dankbaarheid om ’n lewe met hom te kon deel."

Breytenbach sê sy vrou Yolande het hom herinner aan al daardie jare van vriendskap en solidariteit. "Veral ook teenoor haar, toe ek nie daar was vir hulle nie. Lank lewe Ampie! Dit was alles, alles, alles die moeite werd."

Coetzee se afwesigheid is vir die Breytenbach Sentrum ’n groot slag. Ampie Coetzee, wat deur die jare allerweë as een van die grootste kenners van Breyten Breytenbach se digkuns beskou is, was ten nouste gemoeid met die totstandkoming van die Sentrum. Hy en sy vrou, die kunskurator Anne-Ghrett Erasmus, was by alle aktiwiteite en ontwikkelinge hier betrokke.

Die Afrikaanse letterkunde het baie kleurryke figure opgelewer, maar Ampie Coetzee was enig in sy soort. ’n Mens met ’n groot visie en die spreekwoordelike klein hart. Hy kon krities en indringend oor sowel letterkunde as politiek skryf, maar het hom met groot deernis ontferm oor die enkeling en getroffenes. Hy kon ongemaklike oomblikke besweer met sy kenmerkende lag en sardoniese opsommings.

Ampie Coetzee het as letterkundige diep spore getrap by die universiteite van die Witwatersrand en Wes-Kaap, asook Natal (Durban). In die jare sewentig, toe staatssensuur gebruik is om die Afrikaanse literêre werke te onderdruk, het Coetzee ’n leidende rol gespeel in die stryd teen sensuur deur die skep van die uitgewery Taurus, en die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde. Hy het ná die sluitings van Taurus en Hond die aanvoorwerk gedoen om Breyten Breytenbach as digter weer by Human & Rousseau te laat uitgee.

Hy was een van die sleutelpersone in die afvaardiging wat in 1987 leiers van die toe nog verbode ANC in Dakar ontmoet het. Sy politieke aktivisme het selfs ná die land se vrywording in 1994 voortgeduur - sy boek ’n Hele Os vir ’n ou Broodmes - Grond en die plaasnarratief sedert 1595 is vandag opnuut relevant.

Die Trust, direksie, personeel en vriende van die Breytenbach Sentrum spreek sy hartseer uit teenoor Ampie se vrou Anne-Ghrett en hul seun Kobus, asook sy seun Marko uit sy tweede huwelik en Marko se vrou Karen en twee kleinkinders, Etienne en Eloïse.

’n Byeenkoms om Coetzee te gedenk en sy nagedagtenis te onthou word op Sondag 25 Oktober om 11:00 tussen die gedigte in die digterstuin by die Breytenbach Sentrum gehou.

(Uitgereik deur die Trust en direksie van die Breytenbach Sentrum.)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top