Ampie, ek sit in Jakes se Somerset-Oos-huis op hierdie verdrietige, warm Karoodag waarop jy weg is Anderland toe. Hierdie huis het ons, net soos die Breytenbach-sentrum, omskep om mense te help.
Ek soek woorde om jou vir laas te groet. Regs van my hang Rashid Lombard se foto van julle twee saam met Van Zyl Slabbert en André Odendaal by Thabo Mbeki. Jy staan hande gevou. Trots. Veglustig. Dis geneem tydens daardie grootse oomblik in ons geskiedenis toe julle klomp onverskrokke donners met die ANC gaan onderhandel het in Dakar.
Dit was ’n ewe warm dag toe ek jou in jou groot boetie-vriend, Breyten, se grootwordhuis op Wellington vir die eerste keer ontmoet het. Ek kyk jou skrikkerig aan daar waar jy in die voorhuis staan – die gryskop man, korter en vriendeliker as wat ek verwag het, met die struggle-rekord, die mooi ring en die skalkse glimlag. Die dapper professor wat teen die stikonnosel sensuurraad van ouds baklei het en ondergronds boeke wat saak gemaak het, deur Taurus uitgegee het.
Jy was toe die verstrooide voorsitter van die nuutgestigte Breytenbach-sentrum en ek die ywerige, pas aangestelde bestuurder wat met alle mag en mening die plek op die map wou sit. Jy, Grietjie en Kobus het vanaf die Kaap in Johan Symington se huis ingetrek sodat Kobus in Afrikaans kon skoolgaan.
Ek was besig met my eerste boek, en julle paar moedige trustees wat die Sentrum met soveel sorg begin en gerestoureer het, het my toegelaat om te skryf soveel as wat ek moes. Kom maak jou manuskrip klaar hier teen die voet van die Limietberge, het julle onderneem, maar daar moet iets hier gebeur.
Ons het dikwels op die balkon wat uitkyk op die Bolandse berge, gestaan en hardop droom oor wat so ’n huis kon beteken. Hierdie huis waar die kamers swaar en donker is, waar sterre soos seemeeue sit op die nok en engele vir wurms spit in die tuin, soos Breyten al lank terug geskryf het.
Jy het my vertel hoe jy en Breyten, Cloete en Schalk Burger vir Johan Rupert gekry het om een Saterdagmiddag voor Schalk junior se rugbywedstryd op Nuweland geld te beloof vir die oprigting van die Breytenbach-sentrum. Die kuier was so lekker dat niemand die volgende dag presies kon onthou of die belofte van geld waar was nie. Maar Rupert is ’n man van sy woord, en ons kon begin om die tentpenne in te slaan vir hierdie huis wat Breyten by die opening so raak beskryf het ’n plek moes wees van “aangee”, eerder as ’n plek van “opgee of weggee”.
“Kom ons maak eerder ’n steakhouse hier oop”, het jy later gespot. Maar ons het nie. Jy het opgekom met die naam van die teater, die Bôrdienghuis. Waar ons die verhoog ingesit het, daar was Breyten se bed eens, het jy gelag. Toe ek ’n digtersfees begin het, het jy dit as die Tuin van Digters gedoop.
Só het ek jou leer ken: die egolose boekeman met die groot stories wat in ’n vertrek met jou cowboyhoed kon instap en vra: “Wat gaan hier aan dat hier niks aangaan nie?” Altyd met ’n grap in die mou.
Jy het vir my onder daardie prieel by julle huis ’n geleefde verlede gedeel van die dae toe skrywers in hierdie land nog cool was. ’n Tyd van dekadente huispaarties, van opstand teen die regime, van dié een knyp daardie een in die donker; ’n tyd van vervalste paspoorte en toe skrywers se woorde die ooms met die grys skoene kon ontsenu.
Dit is op daardie stoep waar ons yskoue chenin blanc uit klein Griekse glasies gedrink het en jy my geleer het hoe dit is om intuïtief te kan skryf. Daar het jy jou beste kerrie vir ons bedien. Daar het jy my lief gemaak vir Cormac McCarthy, en Breyten se verse vir my oopgemaak.
Maar jy was soveel meer vir my as net die belese intellektueel met die groot biblioteek in die solderkamer. Die dag toe ek en Magdel in die hof trou, was jy en Grietjie daar. “Ons twee gaan trou,” het jy met die landdros gespot op nóg ’n snikhete dag in ons geliefde Hellington. Na die troue het ons weer om die stoeptafel gekuier en Viëtnamese burgers geëet soos Yolande jou geleer het.
Ons luister op daardie stoep oor en oor na Johnny Cash – ek sien jou nou nog sing: “Don’t take your guns to town, Boy.” Jy leer klein Kobus om groot woorde nie net te sê nie, maar te verstaan. “Kyk na hom,” het jy dikwels gesê met daai dringende oë van jou. “Jy kyk na die laaste Afrikaner.”
Al wou jy net grappies maak, het jou driftigheid nooit end gekry nie. Jy het nooit opgehou om op te staan vir dít wat jy geglo het reg is nie. Jy was so ontsettend vies vir die universiteite wat verengels; so intens teleurgesteld in die regering wat alles waarvoor julle so hard geveg het, versaak het.
Ons moet iets daaraan doen, het jy volgehou, weer op die Breytenbach-sentrum se stoep. Saam het ons planne bedink om die armste van armstes in ons dorp te help. Jy het my van Marxisme en geregtigheid geleer, sonder die pretensie van hulle wat so graag in die mode wil wees.
Toe ek vanoggend wakker word met die nuus, troos ek my dat ek jou vroeër vanjaar gegroet het, totaal onwetend dat dit ons laaste sien sou wees. Op ’n reënerige dag in Stellenbosch sit ons in ’n klein restaurant en kuier. Ons het toe nooit daardie duur bottel konjak gedrink nie, Ampie. Maar daardie laaste middag leer ek en Kobus jou tequila en Jägermeister drink. Later maak ons beurte om jou op die sypaadjie op te tel en rond te dra. Dronk van jonkwees – want oud sou jy nooit kon raak nie. Al was jou lyf toe al weerloos lig.
Jy is ons al weer een voor, Ampie. Ek onthou die aand met jou 75ste (was dit?), toe Grietjie Breyten se gedig as geskenk vir jou voorgelees het. Ek kan die woorde nie presies onthou nie, maar dit het daarop neergekom dat jy die weg na die anderkant moet grawe. Ek kan my net indink wat jou sardoniese opmerking sou wees oor die Anderland.
Toe ek die kykNET-Rapport-prys wen, vertel Grietjie my jy dans van opwinding. Jy laat weet dat ek jou weer mag optel en ronddra. As ek maar net nog een maal kon; as ek jou net vroeër in my lewe kon ontmoet het, sou ek saam met jou in die voorste linies wou baklei het.
Ek drink vanaand op jou, my vriend, ons na-nege-wyn, met die wete dat niks weer dieselfde sal wees nie. Iets het vir altyd verskuif. Ek wens ek kon jou gesigsuitdrukking sien as ek vir jou moes sê hoe die mense oor jou rou, hoe die akademici jou bydrae tot die letterkunde prys. Jy sou dit waarskynlik afmaak, die beskeie mens wat jy was. Ek wens ek kon jou vertel dat jy meer as net my vriend was – een van die lojaalstes wat ek die voorreg gehad het om te kon ken. Jy was my mentor en my pa, lank nadat ek my eie verloor het.
Saluut, Ampie.
Kommentaar
Dankie.
Roerend Theo. Dankie.
Min dinge mooier wanneer daar so met die pen in Afrikaans omgegaan word.
Beste Theo: jy raak nou aan streke van die hart waar dit die diepste klop. En jy beskryf Ampie so presies, so raak dat hy binne handafstand hier voor mens sit. Dankie vir die opskryf. Dankie vir die 'aangee' hiervan. Ons gaan nie toelaat dat hy vergeet word nie. Want die stryd om die mees basiese mensewaardes gaan voort, en Ampie sal voortgaan om die embleem daarvan te wees.
Verskoon die tikfoute, Theo. Dis laat en koud hier, en mens verlang. Soveel so dat selfs die wyn mens nie help vergeet nie.
Die unieke Ampie word mooi beskryf in pragtige Afrikaans.
Pragtig!
Dankie Theo . So raak , so roerend. My hart gaan uit na julle almal wat hom só liefgehad het. Ek sal hom en die kuiers saam met hom, Anne-Ghrett en Kobus by die Bôrdienghuis nooit vergeet nie.
Ai, hoe hard huil ek nou.
Theo dis pragtige raakvat van ons UWK studente se geliefde Prof. Ampie. Die man wat Foucault en Derrida vir ons oopgemaak het. Die geleerde warm mens wat ons so gek oor was. Lank leef onse Prof.
So raakgevat! Dankie, Theo.
Watter werklike en blywende bydrae het Ampie Coetzee tot die letterkunde in enige taal gelewer? Ek vra maar net.