![]() Foto: Naomi Bruwer
|
|
Sêgoed van Diana Ferrus “Maar gelukkig is ek die enigste van my ma se kinders wat nooit tot trou gekom het nie. Dit het altyd vir my gevoel iemand vra my om tronk toe te gaan. So, my lewe is my eie.” (Die Burger, 8 September 2006) Hoe dit voel dit om vyftig te wees: “Ek kyk na die jongmense en dink: O, hoe baklei julle nog. Dankie tog ek is daar verby.” (Die Burger, 8 September 2006) “Méér swart skrywers publiseer as in die verlede, maar die stryd vir swart vroueskrywers, veral in die laer klas, is nog lank nie verby nie.” (Die Burger, 2 Maart 2004) Oor hoekom sy self publiseer: “Ek voel ek moet ’n ander lesersmark oopbreek – een waarvoor die uitgewers dalk nie tyd het nie – die bruin Afrikaanse lesersmark … Nou een koue Maandagaand (…) was daar by die vyftig mense in Bonteheuwel se biblioteek. Ai, dis so wonderlik om die oë te sien blink as ek lees – van ons slaweherkoms en ons taal, en as ek kom by ‘Kom ons praat weer Afrikaans’, dan sê hulle die laaste reël saam op: ‘Kom ons vat die kans, kom ons praat weer Afrikaans!’” (Insig, Julie 2006) “My doel op aarde is om deur middel van die skeppingsproses vrede te bevorder; vir myself en die mense met wie ek te doen kry. Wat saak maak, is respek vir ander mense. Wat nié saak maak nie, is uit watter agtergrond hulle kom. Daai’s nonsens. Ek voel nie bedreig deur die rykste of verhewe bo die armste nie.” (Die Burger, 8 September 2006) “Ek werk hard aan versoening. Dis die enigste pad wat ons kan loop. Ek skryf en sing oor gesinsgeweld, slawerny en kinders se gebrek aan veiligheid in die wêreld. Ek self ken die vrees vir die baklei wat kom.” (Die Burger, 8 September 2006) Wat is haar doelwitte as kulturele aktivis? “Sou graag ’n bewustheid wou kweek met my skeppinge oor die identiteit van Suid-Afrikaners en individue van die globale wêreld. Ook ’n bewustheid skep oor onderwerpe wat kan help om dié wêreld ’n beter plek te maak.” (Sondag, 7 Oktober 2007) Haar gunsteling-woord: “As daar ’n woord is wat ek dink ek reeds my eie gemaak het, is dit die woord Komvandaan, ’n ander woord vir herkoms. So is my eerste bundel Ons komvandaan.” (Rapport, 2 Desember 2012) Raad aan ontluikende digters: “Jy moet die besluit maak om te skryf. Vertel dit vir die mense. Bly by die besluit en begin skryf, al is jy skaam om dit vir ander te wys. Lees ander gedigte! Gaan luister as ander digters voorlees. Win kennis in oor die digkuns en die verskillende sienings daaroor. Tersiêre opleiding is nie die alfa en omega nie. As jy in jouself glo en vasberade is om te skryf, sal jy skryf. Jy moet weet wie jy is en in voeling wees met jou emosies. Jy moet die ongemak voel om baie persoonlik te skryf en dit later voor ’n gehoor op te voer. Jy sal sien hoe vry jy raak.” (Stronk, 3 Julie 2019) “Ek dink net dat die liéfde vir lees en skryf kom uit daardie jare wat my ma vir my voorgelees het. Afrikaans is die taal wat mense kan versoen. Dis ’n pragtige taal; dis ’n musikale taal en die taal sal nie uitsterf nie … die liefde vir die taal is te sterk.” (Die Burger, 14 Julie 2017) Oor slawerny: “Jy was ’n besitting. Jy het geen reg oor jouself gehad nie: jou naam, jou kultuur, jou spiritualiteit. En kyk hoe het dit verlore gegaan … Jy weet ons het diép seergekry. Ons het diép, diép seergekry. Ek dink nie ons mense besef hoe seer ons gekry het nie. Die seerkry manifesteer in wat aangaan … in die gangsterism, in die drug-abuse … Ek voel as ons weet wat ons is en wat met ons gebeur het, sal dit makliker wees om te genees.” (aan Murray la Vita, Die Burger, 14 Julie 2017) Oor die reaksie van haar gemeenskap ná die ontvangs van die eredoktorsgraad van die US: “Ek dink ook hulle voel dit is ’n blye oomblik. En dit is wat my hart so warm maak omdat hulle dit so hoog op prys stel, of dit so geniet om my onthalwe. En ek dink dit is die grootste ding wat mens waardeer, dat ander mense gelukkig is vir jou. Dit vertel my baie van my verhouding met mense.” (Netwerk24, 11 April 2022) Nadat sy deur die Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans vereer is: “Dit was nie altyd so maklik om myself vryelik uit te leef met die pen nie. In die apartheidsjare het ek gevrees dat dit my agter die tralies sou laat beland. Skryf was my uitlaatklep, maar as my gedigte in die destydse regering se hande moes kom, kon ek in die moeilikheid kom. Ek het bly glo dat alles ’n einde het en dat ek eendag my stem sal kan gebruik.” (Netwerk24, 8 Desember 2022) “Die verering van die SBA moedig my nie net aan om met my werk vol te hou nie, maar ook om met opkomende skrywers te werk en my skryfwerk op te voer. As gevestigde skrywer in Afrikaans wil ek ook ’n liefde vir die taal kweek by mense wat nog nie die taal se oorsprong en agtergrond verstaan nie. Ek leef my drome uit in Afrikaans.” (Netwerk24, 8 Desember 2022) “A Poem for Sarah Baartman I’ve come to take you home – I have come to wrench you away I have come to soothe your heavy heart I have come to take you home |
Gebore en getoë
Diana Ferrus1 is in 29 Augustus 1953 in Worcester gebore. Sy was die derde oudste van ses kinders van Ann en Jacobus Ferrus. Haar kinderjare was redelik stormagtig. Haar pa, ’n skrynwerker wat by die val van Tobroek deur die Duitsers gevange geneem is en haar ma, wat ses kinders moes grootkry, het albei heelwat gedrink.
Haar ma leer haar egter van dapper wees en die digkuns. “Eintlik is ek die skrywer wat sy moes gewees het,” vertel Diana aan Susanne Beyers. (Die Burger, 8 September 2006)
By ouma Bettie Elias kry Diana standvastigheid en die jare saam met haar was Diana se gelukkigste. Toe sy haar ouma op dertienjarige ouderdom verloor, is dit asof sy alleen agtergebly het. Om te vergoed vir die moeilike tye by die huis, het Diana op skool begin uitblink. Sy woon die Nederduitse Gereformeerde Sendingskool by en gaan later na Esselenpark Hoërskool, waar sy in 1972 matrikuleer. Sy skryf haar eerste gedig op vyftienjarige ouderdom.
Diana vertel meer oor haar familie aan Murray la Vita (Die Burger, 14 Julie 2017): “My familie, veral aan my pa se kant, was politiek bewus. My ouma was die kleindogter van ’n slaaf. So daar was baie bewustheid by my ouma, Rosie Februarie … Februarie wat Ferrus geraak het. Ek onthou dat my antie, my pa se suster, vir my gesê het háár ma het altyd gesê: ‘Wat dink die Franse om onse klimmeit daar anderkant in ’n glaskas aan te hou!’”
Verdere studie en werk
In 1973 gaan Diana na die Universiteit van Wes-Kaapland. In die middel van daardie jaar maak die universiteit toe as gevolg van onrus en met die heropening kon Diana nie haar studies voortsit nie, weens finansiële probleme. Sy studeer deeltyds vanaf 1988 en behaal in 1993 haar graad met sosiologie en bedryfsielkunde as hoofvakke aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Sy gaan na Nederland as deel van haar studie vir haar honneursgraad. En dit is daar waar die verlange haar begin inspireer en die bekende gedig oor Sarah Baartman sy ontstaan het. Diana vertel self aan Murray la Vita oor hoe al die dele van dié deel van die geskiedenis gebeur het en bymekaargekom het: “My bewustheid van Sarah het gekom nadat ek begin studeer het. Ek het haar, dank die vader, nooit uitgestal gesien nie; ek het haar net gesien toe ons haar gaan haal het – die gipsafgietsel en die skelet, nét dit.
“Ek het die gedig oor Sarah geskryf terwyl ek in Utrecht studeer het. Dit was inténs, want ek was in ’n vreemde land; ek was homesick en ek het geleer sy het in ’n onderhoud gesê sy wil net huis toe gaan.
“Dít was vir my die groot ding: Huis en die moeder en die moederland, want ek was in Holland die jaar nadat my ma gesterf het. Een aand het ek so in my kamer gestaan en ek was só homesick, ek het súlke heimwee gehad. En ek het gekyk na die sterre en ek het vir myself gesê hulle is so vér hiervandaan, maar as ek in mý land was, sou ek hulle kon aanraak het.
“En toe is dit asof ek ’n stem hoor wat sê, en ek weet nie hoekom in Engels nie: ‘I want to go home! I want to go home!’ Toe het ek, met die tráne wat oor my wange loop, na my tafel toe gegaan en ek het daar die eerste lyn geskryf: I’ve come to take you home … En ek het nooit geweet hoe profeties dit sou wees nie. Daai aand het die hele gedig gekom; ek het later net een lyn bygesit. Die mense is aangedaan as ek dit lees. En hulle vra vir jou om dit weer te lees. Ek het besef dit het krag.
“Nadat die Franse senator Nicholas About ’n video op die internet gesien het waarin ek die gedig voordra, het hy in ’n e-pos aan my gesê hy is ontroer daardeur want dit wys hoe emosioneel ons voel oor die feit dat haar oorskot nog uitgestal word. Hy vra toe vir my om dit in Frans te laat vertaal, want hy was besig om sy vertoë bymekaar te sit om haar oorskot te laat huis toe kom.
“Toe ek vir my vriende sê toe spring ons in die lug in want iets wat só onmoontlik gelyk het, is nou moontlik. Sy vertoë, met my gedig in, het toe deel van ’n Franse wetsontwerp geword. Die wetsontwerp is uiteindelik eenparig aanvaar.”
Die Suid-Afrikaanse regering het Diana genooi om saam te gaan toe hulle vir Sarah gaan haal het: “Die 27ste April 2002 is ons toe hierdeur om vir haar te gaan haal. Die regering het my gevra om die gedig voor te dra by die oorhandigingsproses. Dit was ’n baie emosionele storie daai. (…) Ons word toe toegelaat om binne in die kis te kyk want ons moes die oggend voor ons gegaan het vir die oorhandiging gaan kyk dat hulle die oorskot reg verpak.
“Toe ek afkyk in daai kis toe was dit vir my ’n oomblik of sy gesê het: ‘Take me away.’ Iemand het toe vir my gesê: ‘Gaan net so om die draai.’ Toe is daar rýe en rýe en rýe skelette wat hang … kleintjies en grotes … wie se ma? wie se pa? wie se kind háng in daai museum.
“En toe is dit my beurt om nou die gedig op te sê en toe sê onse ambassadeur vir my ek moet gou maak want die Franse minister moet nog iewers gaan. Ek dink toe: Jy’s seker nie reg in jou kop nie! Hy gaan wág! Hy gaan wág! Hoe kan sy vir my sê ek moet gou maak?
“As daar iets is waarop ek baie trots is in my lewe dan is dit dat ek ’n Franse minister laat wag het. Ek het eers ’n lied gesing en op my mondfluitjie gespeel. En toe sê ek die gedig op.”
Literair Nederland, ’n Nederlandse en Vlaamse webwerf, het “Huldeblyk aan Sarah Baartman” aangewys as sy gunsteling nuwe gedig wat die potensiaal het om eendag ’n klassieke werk te word. (Die Burger, 1 Februarie 2006)
Nadat sy in 1997 ingeskryf het vir haar honneursgraad in vrouestudies, verwerf sy dit in 1999. Sy werk daarna aan ’n meestersgraad – Swart Afrikaanse vroueskrywers – die vreugde en frustrasies van die skryfproses. Bedags werk sy in die Departement Bedryfsielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
In 1994 skryf sy haar eerste kortverhaal, “Die kind”, wat in Die Suid-Afrikaan gepubliseer word en later opgeneem is in ’n bundel kortverhale wat vir hoërskoolleerlinge voorgeskryf is. Haar gedigte en kortverhale is in Afrikaans en Engels en word gepubliseer in onder andere Die Suid-Afrikaan, Rooi Rose, Beeld, New Letters (’n literêre tydskrif van die Universiteit van Missouri) en Karring en word ook opgeneem in die versamelbundels Veertig is g’n vloekwoord nie, Die stukke wat ons sny, Taxi – staanplekstories, Uit die kontreie vandaan en Groot verseboek. In 2020 word haar gedig “Pa weet jy ...” in Vers en vrou opgeneem. Sy publiseer ook in Women creating to create the future (Vivlia) en in New Letters, ’n literêre tydskrif van die Universiteit van Missouri.
Sy maak ook die CD Ansela van de Caab, oor Helena Scheffler se verhaal en haar eie navorsing oor Ansela, ’n slavin. Die Duitser Lourens Campher het drie kinders by die slavin Ansela van de Caab terwyl sy in die sewentiende eeu in die slawekwartiere in die Kaap woon. Sy word eindelik vrygemaak en sy en Lourens en hulle drie kinders, Cornelis, Agnietie en Jakoba, gaan bly op die plaas De Driespong in die Kaap. (Wikipedia)
In 2005 neem Diana deel aan die Winternacht-fees in Den Haag en toer sy saam met ander digters deur die Nederlandse Antille. Sy sluit die jaar af met ’n besoek aan Suid- en Noord-Korea, waar sy aan die Internasionale Poësiefees vir Wêreldvrede deelneem. In dieselfde jaar word sy ook benoem as finalis vir Suid-Afrika se Vrou van die Jaar-kompetisie.
Diana se deelname aan die KKNK in 2006 met die aanbieding How much longer? / Hoe lank nog? besorg aan haar en die Mamela-orkes ’n Kanna vir Beste Kontemporêre Musiek. En haar woordkuns-produksie Ansela van die Caab, sowel as haar deelnames aan debatte oor Afrikaans en haar betrokkenheid by die boek Slaan vir my ’n masker, Vader (medesamesteller Suzette McKerron) besorg aan haar ’n tweede Kanna in 2006 – Afrikaans Onbeperk se Kanna vir Vernuwende Denke.
In ’n onderhoud met Susanne Beyers vertel Diana dat sy soms haar “agterent” sien met haar day job in die departement van bedryfsielkunde by UWK en al haar optredes by al die feeste: “My alleenlewe in my huis in Kuilsrivier is vir my baie kosbaar. Ek moet altyd loop kuier – mense kom kuier nie by my nie. Ek dink my huis is te deurmekaar. Gelukkig ry ek en my ‘man’, die getroue blou Toyota Corolla, graag die wêreld vol.” (Die Burger, 8 September 2006)
Haar eie digbundel, Ons komvandaan, wat sy self uitgegee het, verskyn ook in 2006. Oor haar besluit om haar digbundel self uit te gee, vertel Diana aan Insig van Julie 1996: “Ek besef uitgewers stel vandag nie so baie belang in digbundels nie. En ek weet daar is nog mense wat waghou by die hek, wat besluit wie moet deurgaan om gepubliseer te word. Hoewel ek bekend was vir my Saartjie Baartman-gedig, het niemand vir my kom vra of ek wil uitgee nie.
“Ek was in ’n posisie om self my bundel uit te gee, want ek het met ’n goeie drukker bevriend geraak wat van die drukwerk van die UWK doen. Dié mense van Printwise het die uitleg vir my gedoen en die proefleeswerk het ek self gedoen. Ek besef dis nie veronderstel om so te werk nie, maar ek kon nie bekostig dat ’n redakteur vir my sê dié is verkeerd of daai is goed nie. Dit doen iets aan ’n mens as jou manuskrip teruggestuur word. Hierdie boek was vir my heilig – ek wou hom net vir myself hê.”
Oor hierdie digbundel van Diana skryf Steward van Wyk in Die Burger (29 April 2006): “Hierdie bundel bring Ferrus se gedigte van die afgelope aantal jare byeen. Dit begin met haar roerende huldeblyk aan Saartjie Baartman. Diegene vertroud met die ontstaan van hierdie gedig en die impak daarvan met betrekking tot die terugbring van Baartman se oorskot, sal weet hoe merkwaardig dié stukkie geskiedenis is. Ferrus se voorwoord lê reeds ’n verband tussen hierdie gedig, die bundeltitel en die bundel as geheel. Dit gaan hier oor wortels, oorspronge, versweë en miskende geskiedenisse, alles in die teken van die postkolonialisme. (…) Die sosiaal-politiek van hede en verlede vorm egter oorwegend die inslag van die bundel, soos in ‘Na tien jaar’, waarin tien jaar van demokrasie gevier word. (…)
“Wie hier die estetiese poësie met verwikkelde metaforiek, woordvondste, verwysingsvelde en so meer verwag, kan teleurgestel word. Ferrus is veel meer tuis in performatiewe poësie, gekenmerk deur inkanterende refreine, retoriese middele en meesleurende ritmes. Daarvan getuig ook haar gevoelvolle voordragte, aangevuur deur tromritmes, stemmodulering en ekspressiewe lyftaal. Haar voordragte van ‘Afrikaans, ’n versoeningstaal’, en ‘Kom ons praat weer Afrikaans’ roer waarskynlik meer harte as nog ’n sarsie in die taaldebat in die briewekolomme van hierdié koerant. Sy is waarskynlik Afrikaans se mees bedrewe ‘performance poet’. Ek hoop lesers en Boekklub-lede sal die kans aangryp om hierdie bundel en die digter van nader te leer ken.”
Diana se soektog na haar herkoms is vir haar baie belangrik en sy is tans besig met verdere navorsing vir ’n boek oor haar pa (wat toe in 2019 uitgegee is). In 2006 besoek sy Duitsland (die land waar haar pa sestig jaar tevore ’n gevangene was), waar sy aan die fees Africa Alive deelneem. Later in dieselfde jaar is sy na Suriname, waar sy saam met digters en skrywers uit verskillende lande deelneem aan die Vierde Internasionale Literatuurfees, Werelden in Ontmoeting. In Mei 2007 lewer Diana die vyfde jaarlikse Langenhoven-gedenklesing met die titel “Die skrywer en die gemeenskap”.
Oor die titel van haar lesing, “Die skrywer en die gemeenskap”, het Diana Ferrus gesê dat dit op die oog af dalk na ’n eenvoudige titel vir ’n lesing mag klink, maar daar skuil egter ’n magdom verskuilde betekenisse daaragter: “Daar kan gevra word of die skrywer enigsins iets aan die gemeenskap verskuldig is. Is die skrywer genoodsaak om oor die gemeenskap te skryf? Is alle skryfwerk dan maar nie net oor die gemeenskap nie? Of andersom, bepaal die tipe gemeenskap waaruit die skrywer kom, nie die soort skryfwerk waarmee die skrywer vorendag sal kom nie? (…)
“Die skrywer is onlosmaaklik deel van sy of haar gemeenskap en sy of haar werk bevat maatskaplike, sielkundige en/of politieke gegewens wat die leser ’n blik gee op die milieu waarin die skrywer leef of geleef het. Met die skryf van ’n kreatiewe skryfstuk probeer die skrywer sin uit sy/haar lewe maak. En wáár lewe hy/sy? Nie op die maan of tussen die sterre nie, maar tussen ander mense, met landskappe wat onuitwisbare spore in die geheue los. (…)
“[Langenhoven] was ’n meester-skrywer wat die landskappe en gebeure rondom hom soos goud in sy kop bewaar het. Sy skryfstyl herinner aan sjokolade wat blokkie vir blokkie in die mond wegsmelt. Hy sit jou orals neer, in die droë, dorre Karoo, langs ’n knorrige ou man of ’n jong verliefde wat sy lewe opoffer om sy geliefde en haar minnaar te red. (…)
“Hierdie skrywer het diep in mense se harte gekruip, ongeag wat hul politieke oortuigings was. ’n Goeie vriendin praat nou nog met nostalgie oor die werke van Langenhoven, wat sy in die 1960’s op skool leer ken het. Hierdie gedigte en verhale was met sovéél passie deur hul onderwyser, Mister Isaacs, voorgedra, dat sy nou dele daarvan onthou… (…) Die onderwyser, vertel die vriendin my, was óók ’n vurige ondersteuner van die Teacher’s League of South Africa, en hy was ’n kommunis!
“Maar Langenhoven het in ’n era geleef waarin hy deel was van ’n gemeenskap wat op ’n sekere manier geleef het, op ’n sekere manier met mekaar omgegaan het. Dit was doodnormaal dat diegene wat nie wit was nie, as ondergeskiktes gesien is – en ook so behandel is. (…) En ongeag die feit dat verwysings na nie-wit mense soms afstootlik is, moet ’n mens toegee dat Langenhoven ’n wyse en slim skrywer was – ’n skrywer wat sy tyd vooruit was.
“Ek lees en skryf oor my herkoms; ek vind dat my wortels ook van ver gekom het. ’n Deel van my stamboom is die Februarie’s, genoem die Masbiekers, omdat hulle van Mosambiek kom. En ek treur oor hulle wie se storie ek nooit sal lees nie en weer skryf ek:
Ons komvandaan
Was dit my ma se ma se ma se ma se ma
of haar pa se pa se pa se pa se pa –
in boeie vasgemaak en diep onder in ’n skip gegooi
en dagte lank en nagte lank gevoel
hoe waters hard aan hulle ore slaan?
Wat was hulle gedagtes?
Het hulle gehuil, het hulle gevrees,
Het hulle gebid vir die dood om te kom?
Was dit my ma se ma se ma se ma se ma
Of haar pa se pa se pa se pa se pa?
En toe hulle hier land, ver van familieband –
Wat was hulle gedagtes?
Het hulle verlang, het hulle getreur
Of het hulle aanvaar?
Nou is ons Januarie, Februarie, Maart en April,
Fortuin, Arendse, Fransman en Gabier,
maar iewers lank gelede, baie ver van hier –
het ons ons feeste onder ’n ander naam gevier!”
Die stryd om erkenning van vroueregte en die rol wat swart Afrikaanse skrywers speel in die verryking van die Afrikaanse letterkunde lê Diana baie naby aan die hart. Tydens die Woordfees van 2004 het sy ’n program, “Swart Afrikaanse Skrywers: die skryfproses”, aangebied. En sy is hard aan die werk om swart Afrikaanse vroueskrywers te bemagtig en hoewel dinge, volgens haar, beter gaan as in die verlede, is die pad nog lank en opdraande: “En dit is allermins dat daar nie genoeg van dié skrywers is nie. Hulle skryf, maar is bang om dit aan uitgewers voor te lê as gevolg van allerlei vrese soos dat hulle nie goed genoeg is nie,” vertel sy aan Die Burger (2 Maart 2004).
Diana is in 2003 ’n finalis vir die toekenning van Suid-Afrika se Vrou van die Jaar. Daarna word sy genooi na die Winternacht-fees in Den Haag en toer saam met ander digters deur die Nederlandse Antille. Later daardie jaar besoek sy Suid- en Noord-Korea, waar sy aan die Internasionale Poësiefees vir Wêreldvrede deelneem. Sy bring in 2006 ’n besoek aan Duitsland waar haar vader sestig jaar vroeër ’n gevangene was, waar sy aan die fees Africa Alive deelneem.
In 2009 gaan sy na Turkye as deel van Winternachten se eerste literêre toer saam met skrywers van Sint Maarten (Antille), Marokko en Nederland. Tydens hulle toer bied hulle voorlesings en werksessies aan in Istanbul en Diyabakir.
Oor hierdie toer vertel Diana aan Willem de Vries (Beeld, 28 Desember 2009): “Turkye het ’n geskiedenis van konflik, so ook konflikte oor taal. Die Koerdiese taal was (tot onlangs) in Turkye verbied. Ek het natuurlik trots oor Afrikaans gepraat en veral in Diyabakir was daar baie vrae oor my taal. Gewelddadige konflikte lê nog baie vars in mense se geheue en ek het die gevoel gekry dat ’n begeerte vir vergelding vlak in mense se harte lê. Ek het my gedig oor vrede, ‘The peace song – a poem without pretence for peace’, voorgedra en by die besprekings het ek en ’n Marokkaanse skrywer, Abdelhay Moudden, gepraat oor ons Waarheids- en Versoeningskommissies. Marokko het sy WVK op ons s’n gebaseer. (…)
“Ek en Moudden het aan ’n bespreking oor die onderdrukking van kulturele identiteit en die konfrontasie met ’n verlore geskiedenis deelgeneem. Inci Aral, ’n gewilde Turkse skrywer, en Markar Esayan, van Armeense afkoms, was die ander deelnemers. ’n Hoogtepunt van die fees was die bekendstelling van die heel eerste roman in die Koerdiese taal wat in Turkye uitgereik word: Siwane Kurmance (Koerdiese herder) deur Erebê Smo.
“By die geleentheid moes onder andere die Winternacht-skrywers dele daarvan in Koerdies lees. Daarna het ’n Koerdiese orkes gespeel en ons het saamgedans met veral die ou Koerdiese mans, wat met trots, maar veral ook met heimwee in hul oë hul kultuur ten toon gestel het. Hierdie gebeurtenis het ’n jong Turkse vertaler, Tuba Parlak, in trane gehad.
“In ’n bespreking het ek en Moudden oor versoening gepraat. Die vrae wat gevra is, het my laat besef dat baie van diegene teenwoordig swaar gesluk het aan so ’n moontlikheid. Turkye dra ook swaar aan ’n geskiedenis van onderdrukking. As ons kyk na kulturele vryheid in die huidige opset is Suid-Afrika hulle myle vooruit … Facebook is verbied in Turkye!”
Sy is stigterslid van Bush Poets, ’n vrouegroep digters van die Universiteit van die Wes-Kaap, en stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging. Verder is sy stigterslid van Art de Communique, ’n organisasie vir kunstenaars, skilder, digters, musikante en ander kreatiewe tipes en stigterslid van die vroueskrywersvereniging Women in X-chains, vir wie sy die weeklikse gedigvoorlesings koördineer wat in Heartbeat Café in Lansdowne in Kaapstad plaasvind. Sy is nooit getroud nie en bly in Kuilsrivier, waar sy ’n huisie huur. Sy koördineer Women’s Room, ’n weeklikse poësiebyeenkoms wat in die Heartbeat Café in Lansdowne bymekaarkom.
In 2004 het Diana die patrollie-skip wat in Vlissengen, Nederland gebou is, gedoop. Die patrollie-skip is na Sarah Baartman vernoem. Die Vryheid van haar geboortedorp Worcester is ook in 2020 aan haar toegeken tydens Worcester se 200-jarige vieringe.
In 2012 ontvang Diana die eerste Mbokodo-toekenning vir haar digkuns. Die Mbokodo-toekennings word jaarliks toegeken om erkenning te gee aan vroue in die kunste en is ’n inisiatief van Carol Bouwer Produksies en die Departement van Kuns en Kultuur.
In 2012 was sy NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkunde Museum en Navorsingsentrum) in Bloemfontein se gas tydens die Vryfees en het sy by twee geleenthede opgetree. Dit was die eerste keer dat sy by die Vryfees opgetree het en wat Vrystaters die geleentheid gekry het om haar te ontmoet.
Ook in 2012 bied sy by die Breytenbach-sentrum in Wellington skryfklasse aan vir jong mense, asook vir volwassenes uit benadeelde gemeenskappe. Hieruit het die groep, die Mengelmoes-digters, ontstaan wat nog tot vandag toe aan die gang is. Hulle het ook al bloemlesings met hulle gedigte die lig laat sien.
Diana was ook in 2016 deel van ’n toer deur die Noord-Kaap wat deur PEN Afrikaans georganiseer is. Met die projek beoog PEN Afrikaans “om die kultuurerfenis van die Noord-Kaap lewend te hou en om die opvatting te verander dat Afrikaans die taal van die onderdrukker is,” aldus Willem de Vries. (Volksblad, 18 April 2016) Bettina Wyngaard was die projekleier en Diana was een van die aanbieders. Die doel met die toer was om verhale te ontdek en te publiseer, en om talentvolle skrywers te vind wat deur mentorskap ontwikkel kan word, het Wyngaard gesê.
In 2015 is Diana Ferrus een van die beoordelaars van LAPA en die tydskrif Kuier se kortverhaalkompetisie. Cliffordene Norton, projekleier by LAPA, het met die aankondiging meer vertel oor dié inisiatief: “Die kompetisie het die eerste keer verskyn in Kuier in die 28e Januarie se uitgawe en dit het gehardloop tot 31 Maart. Die eerste maand, Januarie, het ons slegs drie stories ontvang en ek het so bietjie bekommerd geraak om die minste te sê. Februarie het ons 16 kortverhale ontvang, en nog steeds was ek bekommerd. En toe ek 17 Maart my inbox oopmaak is daar 80 kortverhale en teen die einde van die kompetisie, op 31 Maart, het ons 263 inskrywings gehad.
“Die doel agter die kompetisie was om nuwe stemme te ontwikkel. Unieke stemme, maar ook bruin stemme. Want soos ons sê, ons soek stories daar buite wat vir my – ek is ’n bruin coloured persoon – wat ek sal wil lees in my éie taal, waarmee ék kan saamleef. Waar ek as leser die karakter, die taal en omgewing kan herken. Dit was vir my ’n baie goeie projek, na aan my hart.
“Die tema vir die kompetisie was ‘Uit die hart’, geïnspireer deur Kuier se agterbladrubriek ‘Wat die hart van vol is’. Die skrywers moes ’n verhaal van 1 000 tot 1 500 woorde inskryf. Saam met Norton en Diana Ferrus het Raylentia Simmons (assistentredakteur by Kuier), Bettina Wyngaard (die skrywer van Vuilspel en ’n lid van PEN Afrikaans) en Shirmoney Rhode (digter en blogger by LitNet) as beoordelaars ingespring en begin lees. Joanna Alexander met haar kortverhaal ‘Meester’ is as wenner aangewys.” (http://lapa.bookslive.co.za/blog/2015/07/03/wenner-van-kuier-lapa-en-pen-afrikaans-se-kortverhaalkompetisie-aangekondig/)
Diana neem ook in 2017 deel aan Ketikotimaand in Nederland. Dit is dié land se nasionale herdenking aan hulle slawernyverlede. Sy was ’n spreker daar en het ook haar gedig oor Saartjie Baartman daar voorgedra.
Oor haar bewuswording van slawerny vertel sy aan Murray la Vita: “My ouers het nie eintlik daaroor gepraat nie. My óóm het iets gesê; hy het my vertel dat hulle die afskaffing van die slawehandel herdenk het. Ek is so spyt ek het nie vir hom méér gevra nie – hy’t so ’n liedjie ook gesing wat hulle gesing het in daardie tyd. Maar die wérklike bewuswording was toe ek, net ná demokrasie, wou werk met die identiteit van die sogenaamde bruinmense want ek het besef daar is ’n klomp genesing wat moet plaasvind; toe het ek begint met geskiedenis en dit nogal met Afrikaans.
“Die mense het skaam geraak oor Afrikaans praat, en vir mý was dit ’n groot ding want Afrikaans is deel van hulle identiteit en … ek het net as kind al gekyk na die sosiale euwels in onse gemeenskap. Ek verbeel my ek was nege of tien toe ek vir myself gesê het: dit is nie reg dat dit lyk soos dit is nie en dit het my daarna gelei om iets te wil doen om dit te laat verander en genesing te laat plaasvind.
“En toe word ek bewus van die taal en die mense wat die taal praat en ek besef mense wil meer en meer nie Afrikaans praat nie as gevolg van ’n klomp dinge wat met die taal gebeur het. Die regte oorsprong van Afrikaans moet meer belig word.
“Ons moet die woorde wat ons uitgehaal het van die slawe en die Khoi terugbring in die taal. Dit moet regtig ’n onafhanklike taal word. Op skool mag ons nie ‘kooi’ gesê het nie, ons moes gesê het ‘bed’. Kooi is ’n Khoi-woord vir bed. En ek dink toe agterna hoeveel woorde is uitgehaal uit die taal. En toe ek nou agterkom hoeveel woorde die slawe en die Khoi gebring het na die taal toe, toe besef ek dan moet ek nou meer uitvind van slawerny en ek kom ook op die ding dat die mense name van maande het en ek besef waar dit vandaan kom.
“En toe grip dit my so dat ek besef, orraait, nou moet ek hieroor skryf en ek moet dit voordra en ek moet dit uitbring want dit gaan help met die herstelling en ook met ’n soort trots waar ons vandaan kom. Daarom het ek die gedig ‘Ons komvandaan’ geskryf. Daarin sê ek oor die name van maande wat aan hulle gegee is.”
Oor ’n boek of skrywer wat haar aangespoor het om te lees, vertel Diana aan Insig (September 1999): “Ek koop twee jaar gelede ’n boek van Elise Muller, Die vrou op die skuit. Die boekie is goedkoop en omdat ek ook kortverhale skryf, wil ek graag lees hoe ander vroue dit doen. Ek verslind dit.
“In die biblioteek loop ek my onlangs weer vas in Elise Muller. Hierdie keer konfronteer sy my met Kortverhale en essays – 1942-1981. En ek is opnuut verbaas, wonderlik verras dat iemand, ’n vrou, wit, ’n plattelander, so naak en eerlik en tog met die grootste deernis kan skryf oor issues wat in haar jare as skrywer sekerlik ’n klomp moed gekos het. (…)
“In haar essays skets Muller ook die gevoelens van ’n jong plattelandse vrou wat stad toe trek en die ‘koue’ van die stad in skrille kontras met die ‘warmte’ van die platteland ervaar. Voeg daarby die gedagtes van die vrou wat ongetroud is en konstant die druk moet verwerk van mense wat wil hê sy moet trou. Dis ’n wonderlike openbaring vir enige vrou (veral dié in die ouderdomsgroep wat volgens die gemeenskap al lankal getroud moes gewees het!).
“Hierdie skrywer dwaal vandag nog in my gedagtes rond. Ek sien haar hunker na die betowering van die Hantam, die vaalheid van die Karoo – iets wat ek aan eie lyf verstaan. Elise Muller maak my bly dat ek ook skryf. Hoekom het ons mekaar nooit geken nie?”
Oor Diana se jongste digbundel, Die vrede kom later, wat in 2019 weer deur haarself uitgegee is, vind die leser die volgende uitspraak op die agterplat van die bundel: “Met hierdie roerende huldeblyk aan haar pa skets Diana Ferrus nie net die persoonlike, van dag-tot-dag emosionele landskap van familie-bande nie. Dit is ook ’n skryfstuk wat ons ’n nuwe lens op ons geskiedenis bied. Ferrus vul die vergete, die onderdrukte deel van ons menswees met poësie wat die hart en intellek roer. Met meesterlike woord-ekonomie string sy gedigte bymekaar om ’n aangrypende verhaal van haar familie te vertel. Haar pa se worsteling met die Tweede Wêreld Oorlog word oorgedra aan die intieme vlak van die gesin, en ontplof weereens daar. Hierdie is digkuns wat mens laat lag, huil en wat ook ’n diepe heimwee ontketen.”
Diana Ferrus het in 2019 die Sol Plaatje-gedenklesing gelewer. Die titel van haar lesing was “Sarah Baartman – the history … many beginnings and many endings”.
Op Facebook gesels Diana Ferrus met Corneli van den Berg as deel van die Vrystaatse Kunstefees in 2020 oor Die vrede kom later. Diana vertel baie onderhoudend oor die agtergrond van die bundel, spesifieke gedigte en ook oor haar lewe. Lesers kan gerus na die onderhoud gaan luister en kyk.
In April 2022 word Diana Ferrus vereer met ’n eredoktorsgraad in die filosofie van die Universiteit van Stellenbosch (DPhil). Sy is vereer omdat sy haar skryfwerk en gedigte gebruik om op te voed en te bemagtig. Daardeur betoon sy ’n bereidwilligheid om ’n nuwe generasie skrywers te help ontwikkel en ook om haar kuns te gebruik sodat ander mense dit as gereedskap kan gebruik om hulleself uit te druk.
In haar aanvaardingstoespraak het Diana die belangrikheid van stories in almal se lewens beklemtoon: “Stories ontstaan iewers en verbind ons almal saam. Wat vertel die storieverteller? Wat is die doel van die storieverteller? Die storieverteller verbind die verlede met die hede en laat ons anders dink oor die toekoms.”
Sy het die Universiteit Stellenbosch bedank dat hulle haar gekonnekteer het met die universiteit se storie en vir die geleentheid om die universiteit in haar storie in te sluit: “In die geheel is ek dankbaar dat ek ’n naam sal hê in julle storie. Daar is so baie karakters sonder name in stories. Storievertellers moet nooit name vergeet nie, hulle moet name oproep en verbeel en moet altyd probeer om die hele storie te vertel. Dit is net deur die vertel van stories dat ons ons self kan vrymaak van die innerlike kettings.”
Diana het tydens die geleentheid aan AJ Opperman (Netwerk24, 11 April 2022) gesê: “Ek skryf oor dinge waaraan ek my lewe lank blootgestel word. Dit prikkel ’n mens nie net met die literêre aard daarvan nie. Iets wat jou prikkel kom na binne. Jy skryf daaroor, maar dit verander ook iets in jou. ’n Mens word meer simpatiek, miskien. Meer wyser? Of ’n mens kyk na jouself. Jy internaliseer of reflekteer. Want kyk, ons poësie is ’n reflektering van die lewe.
“Al hoe meer mense word bewus van poësie. Jy moet jouself blootstel en uitgaan en gaan lees. Mense begin nou gedigte meer geniet en reken: ‘Oukei, ons hou ’n funksie; ’n gedig sal mooi daarby pas, kom ons vra iemand om dit te lees.’
“Ek hoop meer mense kan bereik word en dat hulle die waarheid daarvan sal besef – nie net vir hulself en wat dit aan hulle doen nie, maar ook wat dit aan die gemeenskap doen. Ook die boodskap wat dit kan oordra.”
In 2022 het die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) Diana Ferrus vereer vir haar bydrae tot die Afrikaanse taal. Sandra Prinsloo, die aktrise, het die toekenning aan haar oorhandig in Diana se tuisdorp, Worcester, se stadsaal.
In haar bedankingstoespraak het Diana gesê: “Die groot werk wat die SBA doen om Afrikaans te bevorder op klein dorpies en op die platteland is noemenswaardig. Maar belangriker nog is dat dit nie net oor Afrikaans praat gaan nie, maar om daadwerklik werktuie in mense se hande te sit en hulle kans te gee om hul eie werk te skep en om hul vaardighede te versterk en op te skerp.
“Mense voel trots om die taal te praat en het ook vertroue daarin dat die SBA hulle sal bystaan om hulself tot groter hoogtes te voer. Die wete dat daar ’n organisasie is op wie ’n mens kan staatmaak, beteken baie.” (Netwerk24, 19 Desember 2022)
Steward van Wyk is aan die spits van die SBA se Letterkundevereringsprojek. Hierdie organisasie wil literêre ikone in hulle eie gemeenskappe huldig.
In 2023 is Diana Ferrus by die 13de jaarlikse kykNET Fiësta-toekennings in die kategorie Legende vereer. Richard Roberts het op Netwerk24 geskryf dat sy ’n staande ovasie ontvang het. ’n Jarelange vriendin van Diana, Madge du Preez, het die huldewoord gedoen: “Daar is so baie om oor hierdie ikoon te sê en ek glo almal van ons wat vanaand hier teenwoordig is, is bewus van wie sy is, wat sy doen en die vele toekennings wat sy reeds oor die jare ontvang het.”
Diana was ook in 2023 aan die ontvangkant van SALA se Lifetime Achievement Literary Award.
Ook in 2023, nadat sy in Augustus 70 jaar oud geword het, is Diana op 15 September tydens die Tuin van Digters-fees by die Breytenbachsentrum gehuldig vir haar lewenswerk as protesdigter en kreatiewe mentor.
Francois Lötter, organiseerder van die fees, het as volg oor Diana gesê: “Diana Ferrus het as protesdigter diep spore in haar eie grootword-gemeenskap getrap. Sy stel ook deur haar versoenende optrede ’n voorbeeld aan alle Suid-Afrikaners oor hoe om by mekaar te leer, en mekaar se verskillende lewensieninge te erken.” (Netwerk24, 16 September 2023)
Een van die lede van die Mengelmoes-digters (Diana was instrumenteel in die stigting van die groep), Theresa Carstens, het tydens bogenoemde huldigingsgeleentheid vir Diana gesê: “Jy is ’n inspirasie en voorbeeld vir baie in die kreatiewe skryfkuns. Jy het ons geleer saamskryf is oop skryf, is vry skryf.”
Merle Danhouse (ook deel van die Mengelmoes-digters) het Diana Ferrus Lady Di genoem, wat “klein is van postuur, maar kragtig in woorde. [...] Dis van die woorde wat te midde van die onstuimighede van die lewe hoop bring. Jy het ook vir Sarah hoop gebring.”
Vir Gaireyah Fredericks is Diana haar “uitkyk-ma” en haar “ma in digkuns”: “Deur jou authenticity na ’n gedig te bring, kan ander daaruit genesing kry.” (Netwerk24, 16 September 2023)
Sy is verder vereer met die musiekproduksie Warrelende woorde: ’n lofsang aan Lady Di, deur Frazer en Deniel Barry.
In 2024 is ’n splinternuwe poësieprys bekendgestel, naamlik die Diana Ferrus-prys. Op LitNet is die prys só beskryf: “Vanjaar is daar ’n splinternuwe poësieprys op straat. En dis vir jou. Om jou stem dik te maak in jou ma se Afrikaans, jóú Afrikaans, jóú dialek en streekstaal. Die taal waarmee jy grootgeword het met sy djy en djou, die klik van die Nama en Khoi, die sabela, die opperste en die nuutgeskepte. Die prys soek die taal van élke tong.”
Die finaliste van 2024 se gedigte sal in die bundel Ons kom van hier gepubliseer word. Gaireyah Fredericks is as die wenner van die Diana Ferrus-prys aangewys met haar gedig, “Swaa dra”.
In 2024 was Diana Ferrus aan die ontvangkant van die Prestige-eerbewys van die ATKV vir haar bydrae tot die Afrikaanse digkuns, haar mentorskap aan jong skrywers en haar deursettingsvermoë met die terugsending van Sarah Baartman se oorskot van Frankryk na Suid-Afrika.
Chareldine van die Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans, het die commendatio gelewer:
Op Kersdag 2025 het Diana Ferrus ’n beroerte gehad en sy is vroeg in Januarie 2026 in ’n hospitaal in Kaapstad opgeneem vir mediese sorg. Laniëlle Hartzenberg, ’n niggie van Diana, het aan Netwerk24 gesê dat sy weer praat en dat haar kognitiewe funksie baie verbeter het en so ook haar beweging.
Aanhangers van Diana het haar op sosiale media beterskap toegewens, soos PEN Afrikaans en andere.
Op Vrydag 30 Januarie 2026 is Diana Ferrus oorlede.
Huldeblyke:
- Francois Lötter van die Breytenbachsentrum: “Mag haar voorbeeld as digter, mens en mede-Afrikaner ons almal inspireer om met respek saam te leef en saam te speel op alle terreine waar almal in Suid-Afrika ’n gesamentlike toekoms vir Afrikaans en die land bou.” (Netwerk24, 16 September 2023)
- ATKV: “Die ATKV verneem met diepe leedwese van die afsterwe van Diana Ferrus. Vir baie mense sal doktor Ferrus se naam sinoniem met tuiskoms wees. Uiteraard dink ’n mens aan haar seminale en geliefde gedig, ‘Ek het gekom om jou huis toe te neem’, wat uiteindelik ’n sleutelrol sou speel in die repatriasie van Sarah Baartman se oorskot na Suid-Afrika. Enigeen met wie se paaie Ferrus s’n gekruis het, sou eweneens kon getuig dat haar gul en warm menswees jou dadelik tuis laat voel het.“
Diana Ferrus se literêre bydrae was nie net tot haar eie werk beperk nie, maar as mentor van ander skrywers het sy ook ’n reusebydrae gelewer. Sy het die besondere vermoë gehad om te spreek tot die breë Afrikaanse taalgemeenskap, en was ’n belangrike vrouestem wat die geskiedenis met haar werk verlewendig het. As literêre brugbouer en padmaker laat sy ’n onmiskenbare indruk. Die ATKV was bevoorreg om Diana Ferrus in 2024 met ’n ATKV-Prestigetoekenning – dié organisasie se hoogste eerbetoon – te huldig. Ons betuig ons medelye met almal wat vir Diana Ferrus lief is.” (Facebook, 31 Januarie 2026)
- Laniëlle Hartzenberg, Diana Ferrus se niggie en familiewoordvoerder: “Dis met diepe hartseer en swaar harte dat ons die afsterwe van dr Diana Ferrus bevestig. Hierdie verlies word diep gevoel deur haar familie, vriende, kollegas en die vele gemeenskappe wie se lewe sy aangeraak het deur haar woorde, haar moed en haar onwrikbare verbintenis tot geregtigheid, waardigheid en menslikheid. Sy was meer as ’n openbare figuur – sy was ’n geliefde familielid, mentor en rigtingwyser. Haar nalatenskap sal voortleef deur haar werk, haar stem en die ontelbare mense wat sy oor geslagte en grense heen geïnspireer het.” (Netwerk24, 30 Januarie 2026)
- Mercy Kannemeyer: “Lady Di is aan die woord in die opening van die produksie Woorde op akkoorde, waarvan ek in 2020 die voorreg gehad het om regisseur te wees: 'Daar is hoop in elke sonstraal. In ’n lug blou en kaal. Daar is ook hoop in ’n wolk waarin genesende water kolk [...] Jy hoef nie jou hoop gevange te hou in ’n woord nie! Gee die hoop ’n lyf. Gee die hoop ’n stem!'
“En wat ’n vergestalting is die laaste reël nie. Lady Di was die stem van hoop! Die geselskap van Woorde op akkoorde, en almal wat met haar gewerk het, sal kan getuig van hoe sy ’n uiters professionele mens was. Nooit laat vir repetisie nie. Altyd haar woorde geken. Altyd elke rekwisiet en nota onthou. ’n Jong regisseur soos ek op daardie stadium se droom, eintlik. […]
“Sy’t ons nie net herinner aan ons komvandaan nie. Sy’t die pad vorentoe in ons visier gestel. Met trots en liefde en respek kan ek opreg sê dat na elke gesprek met Lady Di, ek as ’n beter mens weggestap het. Sy’t geweet hoe om ’n mens op die pad te sit.
“So. Dierbares. Laat ons luister. Ek het g’n beter manier om hierdie huldeblyk af te sluit as met lady Di se eie woorde nie:
Nou, na die stormjare,
dans sy nie meer so flink
maar sy omhels die skouers van haar susters
en kus versoenend op elke wang.
Aan die geveg oor identiteit het sy geen erg
in die Afrika-renaissance vind sy haar weg.” (LitNet, 2 Februarie 2026)
- Benedicta van Minnen, die DA se woordvoerder oor kultuursake en sport in die Wes-Kaap: “Die DA in die Wes-Kaap ween, maar vier ook saam met talle die lewe van die mensedigter, iemand wie se woorde ’n stem gegee het aan so baie. Dr Ferrus se werk wemel om die herinnering, geregtigheid, vrou-wees en genesing. Sy is voorwaar een van ons land se legendariese literatuur- en kultuurfigure, wat ’n merkwaardige bydrae gemaak het tot letterkunde, kultuur, erfenis en menswees.” (Maroela Media, 31 Januarie 2026)
- Robert John Balfour, rektor en visekanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland: “Sy was meer as ’n digter. Sy was ’n morele kompas, ’n stem vir die stilgemaakte en ’n geneser wat pyn deur taal in doelgerigtheid verander het. Haar werk het die krag gehad om waardigheid te herstel, om ongeregtigheid te konfronteer en om genesing oor geslagte heen te inspireer. Diana Ferrus se gedig wat vir Sarah Baartman geskryf is, is ’n historiese erflating van die transformerende krag van kuns.” (Maroela Media, 31 Januarie 2026)
- Artscape: “Ons by Artscape treur oor haar, hierdie dapper vrou van die aarde, en betuig ons innige meegevoel aan haar familie.” (Facebook, 30 Januarie 2026)
- Jakes Gerwel Stigting: “She leaves a vacuum in the local literary landscape; we will remember her contributions to our country’s literature.” (Sunday Tribune, 31 Januarie 2026)
- Ricardo MacKenzie, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport: “Dr Ferrus was a fearless voice and a cultural conscience of our nation. Through her words, she reclaimed history, affirmed dignity, and gave voice to stories that demanded to be heard. I had the privilege of attending a cultural evening with her last year, where she was full of energy and generously shared her stories and wisdom. Her passing comes as a great shock, and her absence will be deeply felt.” (Sunday Tribune, 31 Januarie 2026)
- Toyota Woordfees: “Sy was ’n geliefde baanbreker wie se woorde betekenisvolle krag gedra het ... ’n Boom het geval. Ons groet ’n legende.” (Netwerk24, 31 Januarie 2026)
- Morakabe Seakhoa, stigter van SALA: “Dr Ferrus was herself a towering literary figure whose writing and activism profoundly advanced the cause of freedom, justice and human dignity. Such was the magnitude of her contribution that she more than merits recognition befitting a National State Funeral, a fraternal call that SALA wholeheartedly supports. Seakhoa added that beyond her gallant literary and political activism during the anti-apartheid struggle, her iconic poem, ‘I’ve Come to Take You Home’, a powerful tribute to Sarah Baartman, will forever stand as a rallying cry that mobilised global consciousness and helped secure the repatriation of Baartman’s mortal remains to South Africa. SALA honours and thanks Dr Ferrus for her unwavering commitment to humanity, justice and the written word.” (Fullview, 31 Januarie 2026)
- Gayton McKenzie, minister van kuns en kultuur: “The work of the late poet and author, Dr Diana Ferrus, has moved people across languages and generations. She is known for the poem ‘I’ve Come to Take You Home’ which was a tribute to Saartjie Baartman. The writing helped focus international attention on the injustice of Baartman’s treatment and is credited as a contribution to the repatriation of her remains in 2002. Ferrus’s poetry helped restore dignity to untold stories.” (SABC News, 31 Januarie 2026)
- Steward van Wyk, oudkollega en vriend: “Diana se afsterwe was te skielik, so onverwags. Ek het verwag dat sy sou opstaan ná die beroerte, want sy was maar altyd daar. [...] Toe ons nog albei verbonde was aan die UWK het ek haar dikwels gevra om vir die studente te kom voorlees of om ’n werksessie aan te bied en sy was altyd bereid. Sy het dit geniet om met die studente te praat en dan het sy hartroerend vertel van die tyd toe sy aan die Universiteit van Utrecht in Nederland ’n nagraadse kursus gevolg het en die eensaamheid en verlorenheid wat sy gevoel het. [...]
“Diana is een van die pioniers van postkoloniale en feministiese skryfwerk in Afrikaans. Sy het dit haar lewenstaak gemaak om miskende en versweë geskiedenisse op te skryf: haar voormense, die slawe, Ansielah van de Caap, Sarah Baartman, bruin soldate wat ná die Tweede Wêreldoorlog terugkeer huis toe met slegs ’n fiets en letsels van die oorlog, bruin vroue wat ’n gesin en gemeenskap aan die lewe moet hou, struggle-digters en vryheidstryders. En sy kon met liefde en erbarming skryf oor haar eie mense: haar ma en pa met hul skete en liefdevolle omhelsing in ’n arm huisie. [...]
“Haar liefde vir Afrikaans het uitgestaan in haar meesleurende voordragte van die gedigte ‘Afrikaans, ’n versoeningstaal’ en ‘Kom ons praat weer Afrikaans’. Hierin roep sy die inheemse wortels van Afrikaans in herinnering en neem standpunt in teen doemprofete.
“Diana het ’n besondere slag met woorde gehad; haar verse was op die oog af eenvoudig, maar sy kon spreuke en uitdrukkings verrassend herskryf en met goedgekose rymwoorde nuut laat klink. En sy kon fyn spot, ook met haarself. Een van my gunstelinge was ‘Ek wil ’n cell phone gehet ‘it’. Oor hierdie debakel het ek en sy lekker gelag. Diana, jy was altyd daar, vir my en ons almal, en nou nie meer nie, maar jou woorde kom altyd terug.” (Netwerk24, 2 Februarie 2026)
- Masola, Athambile, vriend en digter: “It feels strange to be writing a letter to you posthumously. I should be writing an email or a whatsapp message. But here we are, living in a world where you are now a spirit and a memory. When I heard the news yesterday I remembered the beautiful message you’d sent me after mama passed away. I am doing what you said I should do: take comfort in words that I can cobble together in order to mend myself again. [...]
“Imagine my joy when I would not only meet you as an adult but bump into from time to time, share the stage with you and work alongside you in celebrating your first collection Ons Komvandaan thanks to BB’s invitation. At each encounter you always seemed to be ready for our excitement because we showered you with hugs and praise and you always seemed to laugh at our fangirling. Your smile and hugs came easily, always reminding us that you are just you, Diana. You gave us so much of yourself. Your poetry. Your voice. Your stories. Your presence. I already miss your smile and chuckles. And the lilt with which you said my name.
“This is not goodbye because you have left us with so much of yourself. The beauty about poetry is that it has a life of its own and it will continue for geneations to come. You will be with us for generations to come. Imagine that!” (Athambile, 31 Januarie 2026)
- Frazer Barry, skrywer:
“Sy kon haarself ’n ikoon genoem het, sy het nooit ...
“Sy kon haarself die godmother genoem het, maar sy het nooit ...
“Sy kon haarself doktor genoem het, maar sy het nooit ...
“Sy kon haarself die belangrikste stem van haar tyd genoem het, maar sy het nie ...
“Sy was egter alles en baie meer as al daardie titels saam vir diegene op wie se lewens sy impak gemaak het ...” (Nova News, 31 Januarie 2026)
- Keith Olivier Lewis, digter: “Lady Di se teenwoordigheid [by die Cape Flats Book Festival] is a staple by elke literary festival in and around die Boland. Sy was altyd omring deur mense van alle ouderdomme en rasse. Maar as sy my sien, het sy my nadergewink om net uit te vind of ek nog skryf. Laas jaar by die Adam Small Fees lees ek ’n gedig geskryf aan my oorle broertjie, Donavon Claasen. Hy is vermoor in Maart 2023.
“Lady Di het my eenkant geroep, ’n drukkie gegee en gevra om ’n spesifieke lyn weer te lees: ‘bullet point. absence / noun / my brother’s presence unfurled into ubiquity’.” (LitNet, 2 Februarie 2026)
- Pres Cyril Ramaphosa: ““A remarkable voice has gone silent. Diana Ferrus was a creative stalwart whose profound understanding of the human condition and the all-encompassing injustices of apartheid inspired her way with words. She was a patriot who painted our nation in prose that awakened us to the essence of our humanity. No-one could remain unaffected by her insight, her deep appreciation of our nation’s cultural and natural endowments, or her demands for justice and the restoration of the dignity of a dispossessed and disempowered people. May Diana’s soul rest in the peace to which she invited Sarah Baartman in her landmark poem.” (The Presidency of the Republic of South Africa, 2 Februarie 2026)
Enkele ure ná Diana Ferrus se afsterwe is ’n spesiale huldeblyk aan haar gelewer by die 5de Cape Flats Boekfees wat gehou is by die Primêre Skool West End in Mitchellsplein. Diana Ferrus sou self by die fees opgetree het. Die Mengelmoes-digters het op die verhoog van Diana se poësie voorgelees, ’n kers aangesteek en ’n oomblik van stilte gehandhaaf.
Merle Danhouse en Gaireyah Fredericks, twee van die Mengelmoes-digters, het as volg oor Diana gepraat en die invloed wat sy uitgeoefen het: “We are on stage today and she is not here; she is not present. It is a very difficult moment for us, but we know that Diana would have requested us to be here. Diana would say, ‘No turning around; you have to do what needs to be done.’
“She wrote so that others could come home to themselves,” het Laniëlle Hartzenberg, ’n familielid van Ferrus, gesê. Sy het die vroue bedank dat hulle dit op hulle geneem het om Diana se nalatenskap voort te sit: “Through Mengelmoes, they were educated, motivated, and inspired. The baton has now been passed to them; you are the next Diana Ferrus.
“I am speaking not only for myself but for my family; you are now the elders. I want to say thank you for respecting my aunty. They are the most beautiful seed that was planted.” (IOL, 1 Februarie 2026)
Publikasies:
|
Publikasie |
Ons komvandaan |
|
Publikasiedatum |
2006 |
|
ISBN |
0620326468 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Diana Ferrus Uitgewery |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
I’ve come to take you home |
|
Publikasiedatum |
2010 |
|
ISBN |
9781456891725 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Xlibris |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die vrede kom later |
|
Publikasiedatum |
2019 |
|
ISBN |
9780620827843 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Diana Ferrus Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die seun wat net wou dans (gebaseer op die lewensverhaal van Johaar Mosaval) |
|
Publikasiedatum |
2025 |
|
ISBN |
9781485641360 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: David Phillips |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Ook in Engels uitgegee |
|
Resensies en besprekings |
’n Keur van artikels deur Diana Ferrus
- Diana Ferrus commemorating April 27, 1994 … South Africa
- Diana Ferrus se gedigte: “Afrikaans, ons versoeningstaal”
- Diana Ferrus speaks about the beauty of poetry
- Diana Ferrus telling the story of Ansela van de Caab (part 1)
- Diana Ferrus telling the story of Ansela van de Caab (part 2)
- Die regte boek op die regte tyd. Insig, September 1999
- Die veertjie [gedig]. Maroela Media, 6 Desember 2023
- Djy het ’n groot hart gehet: ’n Huldeblyk aan Mellet Moll. LitNet, 4 November 2024
- “Ek publiseer self”. Insig, Julie 2006
- “Five down”, die trein wat met die donker kom [kortverhaal]. OuLitNet, 28 Julie 2005
- From broken bones to healing hearts: my journey with Sarah Baartman. Syracuse University, 29 September 2014
- Gunsteling-woorde. Rapport, 2 Desember 2012
- Her eyes – an election story
- “Herinneringe” by Diana Ferrus
- Hoekom ek oor Sarah Baartman geskryf het, LitNet, 16 Mei 2023
- I’ve come to take you home: a tribute to Sarah Baartman
- Mont du Toit Wynkwatryn: Diana Ferrus. LitNet, 31 Oktober 2006
- My naam is Februarie. LitNet, 9 Julie 2015
- My stukkie uit die jare toet – die dood van Verwoerd. LitNet, 2 Augustus 2007
- Nou (vir Brenda 09.05.04) [gedig]
- Recital of the poem “The journey” by Diana Ferrus
- SA women continued to be objectified like Sarah Baartman: author. SABC News, 16 Augustus 2019
- Sarah Baartman: Hoekom sy? Hoekom haar graf? LitNet, 30 April 2015
- Skrywer & gemeenskap: Diana Ferrus oor CJ Langenhoven. Die Burger, 26 Mei 2007
- South Africa Diana Ferrus: “I’ve come to take you home” Tribute to Sarah Bartmann
- South African writer, storyteller and poet Diana Ferrus about her awards
- “The peace song” by Diana Ferrus
- The story of Sarah Baartman and the poem “I’ve come to take you home”. Stellenbosch University, 2 Oktober 2022
- These men [poem]. LitNet, 13 Februarie 2007
- Twee maer mans en ’n vet vrou [kortverhaal]. LitNet, 29 Januarie 2007
- Vir Sarah Baartman
- “Waar die stem wil uitkom, moet hy uitkom”. ENCA, 13 Maart 2023
’n Keur van biografiese artikels oor Diana Ferrus
- Afternoon tea in the garden and the best of Diana Ferrus
- Bemagtig swart vroue in Afrikaans. Die Burger, 2 Maart 2004
- Beyers, Susanne: ’n Werklik bevryde vrou. Die Burger, 8 September 2006
- Boswell, Barbara: Conversations with writers: Diana Ferrus. Visioning space, 16 Augustus 2015
- Cultural icons dr Diana Ferrus, prof Hubert van der Spuy to be honoured at 13th kykNET Fiëstas
- De Vries, Willem:
-
- Daag hier op as jy ’n storie het. Volksblad, 18 April 2016
- Dans met heimwee en versoening. Beeld, 28 Desember 2009
- SA skrywer besoek Turkye. Volksblad, 21 Desember 2009
- Winternachten 1ste keer in Turkye. Die Burger, 16 Desember 2009
-
- Diana Ferrus (Versindaba)
- Diana Ferrus (Blog)
- Diana Ferrus (Wikipedia)
- Diana Ferrus: ’n belangrike stem in die Suid-Afrikaanse poësielandskap. Afrikaans.com, 21 Maart 2021
- Diana Ferrus: Poetry that makes a difference
- Eredoktor glo stories bevry. Stellenbosch Monitor, 8 April 2022
- Haller, Drew: A tribute to Sarah Baartman: a poem by Diana Ferrus & an analysis by Drew Haller
- Honorary doctorate for Diana Ferrus. Bolander, 13 April 2022
- Honorary doctorate recipient Diana Ferrus grateful to be connected to US story
- Jackson, Belinda: “Ek het gekom om jou huis toe te neem”. Netwerk24, 30 September 2021
- Jansen, Julian: Niemand neutraal oor reeks oor bruinwees. Rapport, 24 Julie 2011
- Jansen, Valda: SBA-huldigingstoespraak: Diana Ferrus en die onrusbarende tye. LitNet, 15 Desember 2022
- Jantjies, Tamsyn: Recognised for her stories, poetry. Netwerk24, 22 November 2021
- Joffe, Lynn: Dancing with a trailblazer
- Krog rym met Ferrus. Die Burger, 28 Maart 2007
- La Vita, Murray: Diana Ferrus: “Ons het diép, diép seergekry”. Die Burger, 14 Julie 2017
- Liebenberg, Otto: Afrikaanse stem vir Khoisan en slawe op die Vryfees. Ons Stad, 12 Julie 2012
- McAinsh, Gillian: Poet pays back debt to Baartman inspiration. EP Herald, 1 September 2010
- Milborrow, Selwyn: Sy laat Baartman spook. Die Burger, 1 Februarie 2006
- Muller, Haidee: Diana Ferrus: vrou van die grond. RSG, 1 Februarie 2018
- Myburg, JP:
- Pienaar, Cheréne:
-
- Digter blaas poësievlam op Kunstefees aan. Volksblad, 3 Julie 2019
- Met jou gedigte raak jy vry. Netwerk24, 3 Julie 2019
-
- Pratt, Leeanne: Poet of Sarah Baartman celebrates at Conville. George Herald, 23 Februarie 2012
- Roberts, Richard: Digter, skrywer en aktivis van Kuilsrivier, Diana Ferrus, vereer by Fiëstas. Netwerk24, 15 Maart 2023
- Saartjie Baartman’s final resting place. The Journalist, 9 Desember 2018
- Schroeder, Zahraa: Poet, writer Diana Ferrus receives honorary doctorate SU graduation. Smile FM, 8 April 2022
- Sosibo, Kwanele: “I’ve come to take you home, Sarah Baartman”. IOL, 30 Mei 2003
- South African poet, activist Diana Ferrus to lecture Sept 29. Syracuse University, 19 September 2014
- Twee kultuurlegendes vereer by 13de kykNET Fiëstas. DSTV, 8 Maart 2023
- Van Eck, Heleen: Baartman sit Ferrus op map. Sondag, 7 Oktober 2007
- Vriende van NALN: “Ek het ’n ma gehad”: Diana Ferrus. Facebook, 29 Augustus 2025
’n Keur van artikels oor Diana Ferrus se siekte en afsterwe
- Artscape: Diana Ferrus tribute. Facebook, 30 Januarie 2026
- ATKV: Die ATKV verneem met diepe leedwese ... Facebook, 31 Januarie 2026
- Balfour, Robert John: Press release: Tribute to Diana Ferrus. LitNet, 31 Januarie 2026
- Booysen, Chevon: Dr Diana Ferrus: A cultural icon’s legacy in South African literature. Sunday Tribune, 31 Januarie 2026
- Breytenbach, Jana: Boodskappe van bemoediging stroom in vir Diana Ferrus ná haar beroerte. Netwerk24, 4 Januarie 2026
- Burger, Anena: Bekroonde digter Diana Ferrus kritiek in hospitaal ná beroerte. Netwerk24, 3 Januarie 2026
- Cornelissen, Christel: Hulde ná Diana Ferrus, bekroonde digter en skrywer, sterf. Maroela Media, 31 Januarie 2026
- Jacobs, Yasmine: Iconic poet and advocate for justice Dr Diana Ferrus dies at 72. IOL, 31 Januarie 2026
- Kannemeyer, Mercy: In memoriam: Diana Ferrus. LitNet, 2 Februarie 2026
- KKNK: Dit is met groot hartseer dat ons verneem het van dr Diana Ferrus se afsterwe. Facebook, 30 Januarie 2026
- Lehana, Lehlohonolo: SALA pays tribute to late poet and author Diana Ferrus. Fullview, 31 Januarie 2026
- Lewis, Keith Olivier: Lady Di, Die Cape Flats Book Festival het die jaar iets gekort. LitNet, 2 Februarie 2026
- Literêre brugbouer, dr Diana Ferrus, gegroet. ENCA, 1 Februarie 2026
- Louw, Barnie: Bekroonde digter en skrywer Diana Ferrus (72) sterf. Netwerk24, 30 Januarie 2016
- Masola, Athambile: A letter to Diana Ferrus. Athambile Masola, 31 Januarie 2026
- Memela, Sandile: Beloved poet Diana Ferrus mourned. City Life / Arts, 2 Februarie 2026
- Mourning Diana Ferrus: The iconic voice who brought Sarah Baartman home, dies at 72. Eye Witness News, 1 Februarie 2026
- Ramaphosa, Cyril: President Ramaphosa mourns the passing of writer Dr Diana Ferrus. The Presidency, 2 Februarie 2026
- Roux, Carina: Oproep vir staatsbegrafnis vir digter, aktivis Diana Ferrus. Nova News, 31 Januarie 2026
- Scheepers, Jana: Suid-Afrikaanse literêre reus Diana Ferrus (72) oorlede. Nova News, 30 Januarie 2026
- Schutte, Robyn: Dr Diana Ferrus (72), wie se woorde Sarah Baartman huis toe bring, sterf. Netwerk24, 30 Januarie 2026
- Serra, Genevieve: Cape Flats Book Festival pays tribute to Dr Diana Ferrus. IOL, 1 Februarie 2026
- Sias-Louw, Chrislynn:
- Van Wyk, Steward: Ferrus: Haar lewenstaak was om versweë geskiedenisse op te skryf. Netwerk24, 2 Februarie 2026
Eindnota
1 Diana Ferrus is so ’n veelsydige persoon en het soveel ysters in verskillende vure dat dit amper ’n onmoontlike taak is om ’n volledige prentjie van haar te teken binne die bestek van die Skrywersalbum. Daar is nog vele ander huldeblyke ná Diana Ferrus se afsterwe, maar alles kan ongelukkig nie hier gelys word nie. Die lys sal mettertyd weer aangevul word.
Diana Ferrus se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2007-10-30 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


