In memoriam: Diana Ferrus

  • 0

...
Sy’t geweet hoe om ’n mens op die pad te sit.
...

Met apologie aan die apostel Johannes vanuit Efese: Diana Ferrus se lig hét geskyn. Die duisternis kon haar lig nie uitdoof nie.

Digter.

Denker.

Ma vir menigte.

Mentor.

Reguitprater.

Ons almal se uitkyk-antie.

Ek het Diana Ferrus, lady Di, laas by die vyfde Swart Skrywersimposium by die Universiteit van Wes-Kaapland gesien. Eers buite in haar kar wat sy op 71 nog self bestuur het. Sy’t uitgeklim en lewendig gegroet. Gevra waar hou ek my so skaars.  Later sien ek haar weer op ’n paneel by SAS5 saam met Charmaine Africa en Anzil Kulsen gelei deur Courtney Ess. Lady Di het later ’n WhatsApp gestuur waarin sy my uitnooi na haar vertoning by die Woordfees. Op 3 Januarie vanjaar, na ek die nuus van haar beroerte gehoor het, stuur ek ’n WhatsApp wat lui: “Al my liefde en sterkte, Lady Di.” Met drie rooi hartjies. Die WhatsApp bly onbeantwoord.

Menigte kan oor Diana se werk skryf. Ek los die ontleding van haar impak vir die kundiges; die analisering van haar skryfwerk vir die akademici. As mens het sy diep spore getrap. Jonk en oud kon by haar as mentor aanklop. Sy’t niemand weggewys nie; as’t ware ’n lewe in diens van ander. Sy’s die eerste persoon wat ek geken het wat ’n sleutel tot ’n stad gekry het. Hoe cool?! Waar sal ons nog ’n lady Di kry?

Lady Di is aan die woord in die opening van die produksie Woorde op akkoorde, waarvan ek in 2020 die voorreg gehad het om regisseur te wees:

Daar is hoop in elke sonstraal. In ’n lug blou en kaal. Daar is ook hoop in ’n wolk waarin genesende water kolk [...] Jy hoef nie jou hoop gevange te hou in ’n woord nie! Gee die hoop ’n lyf. Gee die hoop ’n stem!

En wat ’n vergestalting is die laaste reël nie. Lady Di was die stem van hoop! Die geselskap van Woorde op akkoorde, en almal wat met haar gewerk het, sal kan getuig van hoe sy ’n uiters professionele mens was. Nooit laat vir repetisie nie. Altyd haar woorde geken. Altyd elke rekwisiet en nota onthou. ’n Jong regisseur soos ek op daardie stadium se droom, eintlik.

Met die Mengelmoesdigters tydens Tuin van Digters

As voorgraadse student met ’n geweldige voorliefde vir die letterkunde het ek vir lady Di die eerste keer as deel van die Mengelmoesdigters tydens Tuin van Digters sien optree. Ek sê aspris “optree”, want sy’t nie net voorgelees nie. Sy’t jou, ’skuus vir die cliché, op reis geneem met woorde. Háár woorde. As lady Di eers losgetrek het, moes mens luister. Wanneer sy jou reggehelp het, was dit met liefde en respek. Tydens een van my naggesprekke by die Woordfees een jaar, na ‘n menigte mense se doppies al beginne trek het, gaan die gesprek toe oor Kaaps, bruin identiteit, en allerlei lekker dinge wat laterhand vir nog doppies gesorg het. Selfs deur die moeilike aard van die onderwerp, en die slepende tonge vanuit die gehoor, het lady Di aanhou onderrig. Aanhou leiding gee.

Sy’t ons nie net herinner aan ons komvandaan nie. Sy’t die pad vorentoe in ons visier gestel. Met trots en liefde en respek kan ek opreg sê dat na elke gesprek met lady Di, ek as ’n beter mens weggestap het. Sy’t geweet hoe om ’n mens op die pad te sit.

So. Dierbares. Laat ons luister. Ek het g’n beter manier om hierdie huldeblyk af te sluit as met lady Di se eie woorde nie:

Nou, na die stormjare,
dans sy nie meer so flink
maar sy omhels die skouers van haar susters
en kus versoenend op elke wang.
Aan die geveg oor identiteit het sy geen erg
in die Afrika-renaissance vind sy haar weg.

(Fotografie: Izak de Vries)

Lees ook:

Diana Ferrus (1953–2026)

Press release: Tribute to Diana Ferrus

Uit die argief (2006): Afrikaans en ek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top