My naam is Februarie

  • 5
dianaferrus600_herkoms

Diana Ferrus (foto: Naomi Bruwer)

Opdragte om gedigte vir ’n spesifieke geleentheid te skryf was nog nooit ’n probleem vir my nie. Engels of Afrikaans, ek het altyd die sperdatum uitoorlê. Ek het dus maklik “ja” vir Iziko Museums gesê toe hulle met so ’n versoek kom. Toegegee, ek het nie baie lank gehad om die gedig te skryf nie, so twee, drie weke om presies te wees.

Die e-pos van Melody Kleinsmith, bemarkings- en kommunikasiebestuurder by Iziko Museums, het op 15 Mei by my aangekom. Die Iziko Museums in samewerking met die Smithsonian Instituut (VSA) se National Museum of African American History and Culture (NMAAHC), die George Washington Universiteit, die South African Heritage Resource Agency (SAHRA), die US National Park Services, Diving With A Purpose en die African Centre for Heritage Activities was besig met ’n gesamentlike projek genaamd The Slave Wrecks Project (SWP). Hulle sou op 1, 2 en 3 Junie 2015 ’n openbare aankondiging doen aangaande die wrak van die São José wat in 1794 gesink het.

Vashegtings (foto voorsien deur die Iziko Museums van Suid-Afrika)

Vashegtings (foto voorsien deur die Iziko Museums van Suid-Afrika)

 

Die São José het Lissabon op 27 April 1794 verlaat om slawe in Mosambiek te gaan koop, waarvandaan hulle dan na Brasilië geneem sou word om herverkoop te word. Maar op ’n stormagtige nag in Desember van dieselfde jaar strand hierdie skip met die ongeveer 500 slawe aan boord; 200 slawe verdrink en die res word hier aan die Kaap verkoop.

izikoherkoms3

X-straalfoto van ’n katrolwielblok (foto voorsien deur die Iziko Museums van Suid-Afrika)

Ek is onmiddellik aangegryp. Is dit dan nie ek nie? Ek stam ook uit die Februaries van Worcester. Hulle was Masbiekers genoem, groot en sterk met pragtige donker velle en dik, swart, kroeshare, dit is hoe ek hulle onthou. My ma-Rosie, die kleinkind van ’n slaaf, was ’n Februarie en dan was my oupa aan moederskant, Bokkie Mariens, se ma ook ’n Februarie. Hy en my ma-Rosie was agterkleinneef en -niggie. Ek het nie meer belang gestel in die ander wetenskaplike besonderhede van die projek nie. Dit was noodsaaklik dat ek hierdie gedig skryf.

Betonklipblokke (foto voorsien deur die Iziko Museums van Suid-Afrika)

Betonklipblokke (foto voorsien deur die Iziko Museums van Suid-Afrika)

Maar later stuur Melody nog meer inligting. Artefakte wat na die oppervlak gebring was, het stukke hout ingesluit wat ’n idee gegee het van hoe die skip ontwerp was en natuurlik hoe die sitplekke daar uitgesien het. Meer ontstellend egter was die feit dat ook voetboeie en kettings na die oppervlakte gebring was. Ek kon nie slaap nie. Hierdie beelde het by my gespook. Die gedig wou uit, maar het geweier om in Engels die lig te sien. En dit moes in Engels wees, want die gehoor was ’n internasionale een.

Die kaptein van die skip se skeepsverslag (foto verskaf en geplaas met erkenning aan die Wes-Kaapse Argiefdienste)

Die kaptein van die skip se skeepsverslag (foto verskaf en geplaas met erkenning aan die Wes-Kaapse Argiefdienste)

Uiteindelik tuimel die gedig by my kop uit … in Afrikaans. Ek besluit ek gaan dit nie verander nie. Ek sal ’n vertaling doen. Dit was die Vrydag; die Dinsdag moes ek die gedig gaan opsê en ek het geweet die gedig was nie klaar nie. Die Saterdag en Sondag gebeur niks in my kop nie. Ek hoop vir iets kreatiefs die Maandag ... maar niks. Maandagaand is ek te moeg om ’n pen op te tel. Ek stel my brein se wekker vir drie-uur Dinsdagoggend. Toe stroom die Engelse woorde uit soos water afstroom van die berg ná ’n reënbui. Ek het geweet ek was volkome gereed om my voorouers te eer.

Albie Sachs, in 2013 deur Chrizane van Zyl afgeneem by 'n digtersgeleentheid.

Albie Sachs, in 2013 deur Chrizane van Zyl afgeneem by ’n digtersgeleentheid.

Die eerste seremonie was by Derde Strand naby waar die wrak lê. Daardie Dinsdagoggend reën dit emmers vol. Regter Albie Sachs se huis by Derde Strand was die plek vir die eerste seremonie. Die branders het wild teen die kus gebreek en die reën het kwaai teen die vensters van sy huis geslaan. In die huis van regter Sachs het almal afwagtend gestaan, want die grootste oomblik sou wees wanneer die duikers met ’n kruid vol sand na die wrak sou gaan. ’n Hoofman van noord-Mosambiek, van waar die slawe heel waarskynlik gekom het, het gevra dat die sand daar gestrooi word sodat die drenkelinge moes weet dat hulle nooit vergeet sal word nie. Watter somber oomblikke was dit nie! Toe is dit my beurt en ek lees die gedig vir die gehoor, maar ek lees dit meer vir my ma, my pa, my oumas en oupas en al die mense wat ek geken het met hulle donker velle en dik, kroes, swart hare.

Skielik het die wind gaan lê en die see was kalm. Die applous agterna het nie saak gemaak nie, want ek het geweet my mense het geluister.

My naam is Februarie (in progress)                 
My naam is Februarie.       
Ek is verkoop –                                   
my borste, privaatdele, my oë,                
my brein                                            
is nog nie myne –                                
soos die São José                                
loop ek opgekap,                                 
word ek telkens gesink deur ’n ander storm –
geen Jesus wat op die water loop vir my

My naam is Februarie                           
Ek soek nog die stang van die stuur        
want onderwater lê die familie,              
die kind aan ma se rokspant,                 
die ma aan pa se hand,
hoe diep lê hulle, aan watter kant?

My naam is Februarie –                                 
opgeveil, verkoop, die hoogste bieder     
het ontslae geraak van my regte naam,  
geen vergoeding betaal                        
vir dit my naam, gesteel, gesink –          
onderwater lê dit nog –                        
saam met die familie –                                  
wrakstukke van die São José –                       
ten gronde geloop deur ’n wind,             
briesende branders wat die buit             
se hele toekoms besluit,              
die profyt teen die wal uitsmyt.              

My naam is Februarie,                
die Masbieker op die São José –             
so was ek genoem                              
toe my hierse moedertaal gestalte kry –  
toe tonge met mekaar begin te knoop
en letters ’n vrye gang begin te loop                
in ’n desperate poging in hoop      
dat magte ook nie hierdie identiteit moet stroop
word ek die Masbieker, net ’n naam –              
onder ’n ander lug gekraam                            
en diep gevul met skaam.                     

My naam is Februarie,                          
I reshaped this landscape.
My hands wove the patterns of the vineyards.
My feet pressed the grapes
and I was paid with the wine.
I carry Alcohol-Foetal Syndrome children on my back

My name is February.
I still march on the eve of December First,
I walk the cobblestones of this city
when I cry in desperation,
“Remember the emancipation of the slaves!”

My name is February.
Two hundred years after the São José
I was given the vote,
they said I was free

But do you see how often I am submerged,
weighed down?
I am the sunken, the soiled,
forgotten
and yet memory will not leave me!

My name is February,
stranded at Third Beach
but no one comes to look for me,
no one waves from the dunes,
no bridges back to Mozambique

My name is February.
I will be resurrected,
brought to the surface
unshackled, unchained, unashamed!
My name is February!

Diepseeduiker by skiettoerusting van die boot op die seebodem (foto verskaf deur die Iziko Museums van Suid-Afrika)

Diepseeduiker by skiettoerusting van die boot op die seebodem (foto verskaf deur die Iziko Museums van Suid-Afrika)

 

  • 5

Kommentaar

  • Hetta van der Merwe

    Ek wou nou opsluit weet wat die betekenis vd woord Masbieker is. Een van die vrouens wat soms vir my help met spyseniering vertel my onlangs dat haar ouma 'n Masbieker was en die oupa was 'n witman van Namakwaland. Hy was 'n plaasvoorman / arbeider op 'n bekende wynplaas in die Paarl. Hulle het 12 kinders gehad waarvan nog net 1 leef. Ek kan dus aanneem dat die ouma 'n afstammeling van die slawe aan die Kaap was? Dalk het haar voorouers ook oorleef met die stranding hierbo genoem?
    Of was daar ander groepe ook?

  • Ek voel amper om net so digterlik te raak soos jy Diana! My naam is Piet Human. Gebore op Swellendam net na die groot oorlog. Styf langs die historiese Hollandse kruithuis van 1745 in von Mangerstraat! My pa was Cornelius Janse Human (Kerneels) en my ma was 'n Maria Koorts, getroud op Worcester op 29 Desember 1936.
    Net voor die troue kom 'n bruin vrou na die bruidspaar toe op Riversdal: “My Soppie is nie 'n sterk kind nie, hy het mos die polio gehad. Ek wil so graag vir julle 'n troupresent uit my hart gee, maar ek het niks.
    Ek gaan nie meer lank hou nie ... Sal julle seblief my kind as 'n troupresent saam met julle vat? Hy kan na julle kyk en ek weet julle sal ook mooi na hom kyk!”
    Soppie, of Joseph September was so oud soos my ma. Hulle het saam grootgeword en die knoop was onmiddellik deurgehaak!
    Soppie het by ons gebly by die kruithuis en later hoër op in von Mangerstraat en ons was lewenslank sy enigste familie behalwe sy siek suster op Riversdal.
    Drie-en-dertig jaar later op my troue op Swellendam in die Ten Damme-hotel, waar Soppie natuurlik baie belangrik was, sê platjie oom Robbie Steyn die seremoniemeester: ”As Soppie die dag wegloop of sterf, is daar onmiddellik ‘n egskeiding in die Humanfamilie!”
    Dalk nie so erg nie, maar daar was ‘n band van beton tussen ons en Soppie … en almal het dit geweet. Sy hele lewe lank ...
    Ek kan ‘n boek skryf oor ons as ‘n familie saam. Die grootste respek en heerlikheid het geheers.
    Soppie het hom nooit aan ‘n lewensmaat gesteur nie. Nooit gedrink nie, eers op veertig begin rook!
    Altyd met my ouers van my en my suster Marita gepraat as “ons kinders”! Desembervakansies het al von Mangerstraat se mense hulle huissleutels vir Soppie gegee om hulle diere en plante te versorg – geen probleem! Ek en hy het saam musiek gemaak. Hy met sy trekklaviertjie wat pa vir hom gekoop het en ek op die klavier!
    In die sewentigs kry Soppie ‘n tragiese beroerte. Daarna sou hy nooit weer opstaan nie. Sy kamer by ons huis op die plaas was te alleen vir hom. Hy kry dadelik ‘n nuwe spesiale kamer by die arbeiders waar daar ‘n swetterjoel kinders is wat hom heerlik besig hou, asook ‘n verpleegster. Ma sorg dat Soppie elke dag sy pille en etes uit haar kombuis kry ... vir jare lank. Net soos sy ma wou hê..
    Na Pa se dood en toe die plaas Bakleisdrift verkoop is, moes ons ‘n nuwe plan maak waar Soppie steeds die beste versorging sou kon kry. Genadiglik het sy siek suster se man aangebied om hom by hulle in te neem op Riversdal aangesien hy reeds twee pasiënte versorg het daar.
    Ek woon toe in Johannesburg. As ander Desembers afry see toe, neem hulle bootjies en dies meer saam.
    Nie Piet Human nie, hy neem ‘n draagbare elektroniese orreltjie saam sodat hy weereens by Soppie kan gaan musiek maak op Riversdal. Tot sy latere dood daar.
    Hoekom hoor mens nooit meer hierdie soort verhale nie? Daar is sekerlik baie sulke ware stories wat harte kan versag en net goed kan wees vir ons uiteenlopende nasies in die land.
    My vraag aan julle is nou dit: Omdat Soppie eintlik Joseph September was, en jou beskrywing van ‘n Masbieker pas hom so goed, was hy nie dalk gekoppel aan julle geskiedenis nie? As kind het ek so dikwels die naam Masbieker gehoor, maar nooit geweet waar dit vandaan kom nie.
    Ek hoor graag van julle, en asseblief, vertel Soppie se hartroerende storie wyd en syd!
    Hy word vandag nog op Swellendam, en baie wyer onthou.
    Piet Human

  • Moira Odendasl

    Piet Human dis net na een, so uurtjie na middernag, ek doen navorsing oor Masbieker-mense vir ’n projek wat maande lank in my hart groei. Kortliks, dit gaan oor "voormense" van Swellendam, waar ek tans woon en baie betrokke is by die gemeenskap. Sou jy sê Soppie was ’n Masbieker en het jy ’n foto van hom? My idee is om so sewe mense se stories te vertel by die opening van ’n kunsuitstalling waar daar borsbeelde van hulle onthul word. Ek hoor graag van jou.

  • Moira Odendasl

    Piet Human ... ons het amper die huis gekoop met die kruithuis nadat ons sewe jaar gelede ophou boer het. Ons woon in Shandstraat, teenaan die kerkplein. Dit was oom Manie Muller se huis. Ek is getroud met Mattewis Odendaal (62) seun van Tielman en Hetta Odendaal, plaas Dagbreek. My skoonouers is beide oorlede.

  • Moira! Ek is spyt ek het nie vroeër hier kom kyk nie! Hoop ek is betyds om te kan help. Ek het beslis foto’s van Soppie en sal gaan grawe tussen sowat nege hardeskywe! Vier jaar gelede het ek 'n gewapende plaasaanval hier naby Lanseria-lughawe oorleef, maar groot skade gelei toe 11 hardeskywe gesteel was met vier jaar se video-werk waarmee ons dowes wou help werk vind. Tragies ... Ek hoop regtig ek het dit nog. Ek kan nie doodseker wees nie, maar ons het 'n sterk vermoede dat hy 'n Masbieker was. Verskeie mense wat hom geken het, het destyds vir ons laat verstaan dat dit 'n moontlikheid was. Hy het vir ons tipiese San-gelaatstrekke gehad. Kort van postuur met 'n permanente glimlag. Waarheen stuur ek die .jpg-foto as ek dit kan vind? Sluit jou "voormense" van Swellendam alle rasse in? Want as dit die geval is, het ek navorsingsmateriaal, soos koerantberigte, wat kosbaar kan wees vir Swellendam se geskiedenis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top