
TIME: 8:39
Is Saterdag 31 Januarie 2026, which also means: Ek is in ’n taxi vol skoolkinners op pad na die Cape Flats Book Festival. Dit is die vyfde jaar wat dié fees plaasvind by West End Primary School innie Mitchells Plain. Die fees strek oor twee dae met meer as 60 sessions en deelname vanaf amper 120 skrywers en moderators.
Soos altyd, sit ek links voor in die taxi. Uncle F, die driver, se oë bounce so nou en dan tussen die R300 freeway en sy phone screen vol groen, geteerde paaie. Die jong digters in die back seats brim met excitement. Maar in die eerste ry banke is daar ’n swaarte wat hang oor Gaireyah Fredericks. Gisteraand (Vrydag 30 Januarie 2026) om 17:40 het sy die hartseer nuus oor Diana Ferrus se heengaan met my gedeel.
TIME: 8:56
“Diana was my mentor. Sy’s die een wat my gesê het ek kan skryf,” fail Gaireyah at an attempt om haar trane terug te hou. Sy sit nou met haar knieë op die swartleer-seat. Wind raas deur die gaping van Uncle F se venster, maar Gaireyah project haar stem. Sy vertel oor die eerste keer wat sy Aunty Di ontmoet het; haar late ma se kinship met die beroemde digter; sy share oek ’n funny anecdote oor haar tyd saam met Aunty Di se Mengelmoes-poetry group.
’n Taxi vol skoolmeisies raak skielik a makeshift-geskiedenisklas. Gaireyah leer oor die tragiese storie van Sarah Baartman en die catalyst rol wat Aunty Di se poësie gespeel het om ons ancestor se remains huis toe te bring. Oppie phone screen eet die bek van ’n miniature combi aan ’n blou lyn wat nooit opraak nie. Ek hou die driver dop. Hy rol sy ruit op, so asof hy nie wil hê die woorde moet wegwaai nie.
TIME: 9:23
“I have come to take you home, home!” lees Gaireyah die woorde van Diana Ferrus voor. En ek dink aan my pa. Vandag is dit ’n week nadat ons hom begrawe het.
Sy lees: “I have come to wrench you away” en ek vind myself terug in laas week. By die besigtiging. Waar my ma haar hande vryf oor “the lines of [his] neck”. By die ope graf, waar begrafnisbywoners skarrel vir skadu onder die “big oak trees”. En Proteas. Ruikers van “proteas [that] stand in yellow and white” op my pa se vars-toegegooide graf.
TIME: 9:45
Ek soek my naam op die fees se register om in te teken. West End Primary se quad voel al reeds te klein vir die skare bywoners. Mense browse boekstalletjies. Daar is families wat foto’s vat by banners. Vriende in laggende groepies. Sommige participants, met energy drinks in hand, bestudeer die A4-grootte programmes.
Wanneer ek langs my naam sign, handig een van die feeswerkers my ’n name tag met die woord Moderator op. Ek is genooi om saam met Jadrick Pedro en Ryan Pedro te gesels onder die topic, “Unknotting masculinity through poetry”. As ’n poet myself, is ek excited om te klets oor die maniere waarop hulle poetry boeke die hegemony van masculinity uitdaag.
Maar vir nou gush ek eers oor die mooiheid van die Cape Flats Book Festival se tote bags. Soms is dit my favourite part van boekefeeste. By die huis, langs die plastic-sakkielaai, is nog ’n laai vol tote bags. Vandag don ek my Jakes Gerwel Foundation-sakkie, gevul met Prins, Pienk ceramic hondjies, Jadrick Pedro se Lostorring en ’n filing sheet met vrae vir die poets.
TIME: 10:03
“Hey, Keith, is jy by Gaireyah?” dreun my phone met ’n WhatsApp message vanaf Jadrick. Nie lank nie, en hy is met nat oë in Gaireyah se arms. Jadrick is ook al vir jare deel van Lady Di se Mengelmoes-poetry collective. Die enigste doring tussen die rose, noem Lady Di hom by Tuin van Digters in 2022.
Lady Di se teenwoordigheid is a staple by elke literary festival in and around die Boland. Sy was altyd omring deur mense van alle ouderdomme en rasse. Maar as sy my sien, het sy my nadergewink om net uit te vind of ek nog skryf. Laas jaar by die Adam Small Fees lees ek ’n gedig geskryf aan my oorle broertjie, Donavon Claasen. Hy is vermoor in Maart 2023.
Lady Di het my eenkant geroep, ’n drukkie gegee en gevra om ’n spesifieke lyn weer te lees: “bullet point. absence / noun / my brother’s presence unfurled into ubiquity”.
TIME: 10:30
Jadrick koop vir hom ’n bubblegum flavoured energy drink. Ek luister aandagtig, terwyl die poet, tussen slukkies, praat oor die leemtes wat die dood los. Maar soos hy skryf in Lostorring, is die leemtes net portals na die afgestorwene.
Ek consider die portals wat lei na my pa: Ons kat se oë wanneer sy teen tjailatyd vir hom inwag by die voorhekkie. Die enamel rim van sy koppie nog steeds in ’n dagha stained Karrimor. En my pa se reoccurring death elke keer wanneer my ma teen opskeptyd vir hom ’n bord uithaal.
TIME: 11:20 to 12:40
Die program sê: Creative Writing Workshop. Skryf met my toolbox, aangebied deur Gaireyah Fredericks.
Voordat Gaireyah ’n saal vol aspiring writers leer oor the art of observation, steek sy eers ’n kers aan in honour of Aunty Di. Daai kers het die hele sessie gebrand.
TIME: 12:40
Ek weet nie wanneer Aunty Merle Danhouse by die workshop ingeglip het nie. Sy vorm ook deel van die Mengelmoes-digters.
Ek vra hoe dit met haar gaan en al smile sy, spot ek iets familiar wat skuil agter haar oë. Immediately wens ek om die vraag te ontsê. Want ek ken die gewig van ’n antwoord wanneer jy diep in rou is. Instead vra ek maar liewers silently verskoning aan al die persone wat ek verlede week in my mind vervloek het.
TIME 13:00
Ek en Zebulon Kochk vat ’n smoke break. Op die program trek hy groot swart sirkels om al die sessies wat hy vandag wil bywoon. Ek crane my neck om te kyk of hy my gesprek met Ryan en Jadrick ook omsirkel. Maar my oë beland op Aunty Di se sessies. Haar naam is nog steeds op die program: Tussen 12:35 tot 13:15 is sy slotted vir ’n gesprek oor haar kinderboek, The boy who loved to dance. En later, na lunch, moet sy voorlees uit Mengelmoes se nuwe bundel, Wanneer grense bloei.
TIME: 13:25
In die quad, op pad na Mengelmoes se sessie, loop ek vas in Zizipho Bam. Sy is aan die smous met haar self-published poetry collection, Sunflowers for my lovers.
“2026 began with so much grief,” vryf sy my rug. Haar drukkies is altyd die lengte van ’n epic poem. Sy wil weet how I am holding up. Maar ek weet nie of sy praat van Aunty Di of my pa nie.
TIME 13:30 to 14:10
Die program lees: Wanneer grense bloei. Mengelmoes-digters bestaande uit Diana Ferrus, Merle Danhouse, Theresa Carstens en Gaireyah Fredericks.
Die session is op die verhoog in die middel van die buzzing quad. Ek het vroeg genoeg gekom om ’n front seat te kry langs ’n aunty wat soos ’n Pinkster-suster alles hardop beaam.
Van die Mengelmoes-digters is dit vandag net Aunty Merle en Gaireyah wat hier is. Die res van die lede het ander sterfgevalle in hulle families.
Zizipho was korrek oor our entry into 2026. Dit force ons om new beginnings te skep uit toe grafte.
Aunty Merle noem dat almal compliment hulle strength for showing up ’n dag na Lady Di se sterfte, maar hulle het nie ’n keuse gehad nie. Diana Ferrus was adamant dat hulle die fees nie moet misloop die jaar nie.
TIME: 13:40
Aunty Merle en Gaireyah steek ’n kers aan op die verhoog, maar die wind eet elke keer die vlam. Ek chuckle, want my pa se memorial service was in die middel van ons straat en die wind het skielik net opgestaan toe dit tyd was vir die candle ceremony. Dalk was dit ook ’n type of grief – my mourning ma wat nie kon ophou lag vir die pastoor wat die wind bestraf nie.
TIME: 14:00
Aunty Merle preface ’n gedig. Sy het annedag vir Lady Di gevra watter van haar eie gedigte leef die meeste in haar kop. Haar antwoord was die gedig oor Rosie. Haar wyle moeder.
Terwyl Aunty Merle die gedig oor Rosie voorlees, voel dit asof die quad vol stemme verdwyn. En skielik verander haar mond in nog ’n portal.
TIME 14:25 to 15:05
Die program sê: Unknotting masculinity through poetry. Jadrick Pedro (Lostorring) en Ryan Pedro (Prins) in conversation with Keith Oliver Lewis.
In venue ses begin die stoele te vul met bekende gesigte. Ons drie is reeds op die stage biesag om te doen wat coloured laaities goed doen: gatmaak. Die slight ironie laat ons lag. Jadrick wil weet hoe ons drie die gesigte van manlikheid geraak het. En ek dink aan sy derde self-gepubliseerde bundel, Lostorring, wat vasvang die maniere waarop queerness die borders van manwees uitdaag en soms break.
Ek noem dat ek eintlik die vergadering geroep het om vir Ryan in te sê oor sy gebruik van die woord moffie in Prins.
“As mens dit genoem was, kan mens dit seker gebruik.” My lag knoop aan Jadrick s’n, while ons Ryan toegang gee tot die moffie-club. Hy is nou een van ons.
***
Naby venue 6 is ’n tent waar boeke gelees word aan kinders. Ryan noem hy is bly vir die afwesigheid van laaities in dié saal.
Ryan: “Nou kan ek vrylik vloek.”
Ek: “Moenie worry nie, Ryan. Vloek maa. Aunty Di issie hie nie.”
Jadrick lag oopmond as bevestiging dat Lady Di nie ’n fan was oor profanity in literature nie.
Ek: Laas jaa byrie Adam Small Fees het Mia Arderne gelies yt haa novel.
Ryan: “Mermaid fillet?”
Awe. Of uit A thousand eyes on you. Ek kan nie onthou nie. Maar in die uittreksel wat sy voorberei het, was daar ’n paar vloekwoorde. Mia het ’n slight trigger warning gegee. Maar sy het ook, oor die mic, hardop gewonder of sy nie dalk ’n ander gedeelte moet lees nie. Terwyl Mia nog blaai, bars sy skielik uit van die lag toe Lady Di afsak: “Goeie idee.”
Die drie kallet poets lag.
TIME: 15:07
Ver agter in die venue, die timekeeper billow ’n plakkaat: 1 minute. Ek is ongehoorsaam en vat die kans om die vloer oop te maak aan die gehoor vir vrae of comments.
Aunty Merle, wat heel voor sit, bring op wat ek nie kans voor gekry het nie. Sy ponder hoe ons (lees kallet skrywers) die werk kan uitkry by ons mense. Dan, voordat ons kan in chime, noem sy hoe belangrik die gesprek was, veral hier in Mitchells Plain. Gaireyah Fredericks sluit aan en noem dat daar moet meer sulke gesprekke gehou word, veral in ons skole.
TIME: 16:20
In die taxirit terug Paarl toe is die kinders tjoepstil, nes die dood. Êrens in die back seats dirge Boyz II Men uit die speakers van een van die jong poets se phones.
TIME: 19:37
Op Mia Arderne se Instagram story tag sy Cape Flats Book Festival se page onder ’n foto van Diana Ferrus. Mia accompany die post met ’n kort elegy: “Wish you’d been here today.”
Ek comment en sy antwoord: “Regtig nog baie seer. Also condolences to you, my bra.”
En ek weet sy praat oor Aunty Di, en my pa.

