Djy het ’n groot hart gehet
ek wiet djy sou nie omgie nie
as ek in Kaaps vi’ djou ’n boodskap stierie
djy het soe ’n groot hart gehet
daa’ was plek vi’ so baie
djy het lankal ve’staan
wattie lewe eintlik opgie
en djy wat op vyf skool toe is
het met ’n oepkop anne’ kant ytgeko’
soe, ek wiet djy het Kaaps goed deu’ gekyk
en djy het met jou scientist mind
die somme gemaak nadat djy
history met jou hart en djou mind
gefynkam het. Djy sou lag vir “fynkam”
maa’ in Kaaps ken o’s oek daai woo’d
soes djy is Kaaps mos oek ’n hybrid
bewieg, maak ’n space innie middel
soes Homi Bhabha praat vannie
ve’skyning van nuwe gemengde identities
deurie ve’menging van different cultures
djy was daai ou, het lekke’ in science en poetry
gebaljaa’, djy het presies soos ’n scientist
en diep soes ’n poet geskryf
ek dink’ie djy het writer’s block gekry nie
ek sien net discipline
drie poetry boeke op een slag
waa’ innie wêreld kry mens daai
maa’ dit was alles in jou groot hart
daai hart nou van o’s weggevat.
Die skok en ongeloof wat ek ervaar het toe ek die plasing op Facebook sien, hardloop nou nog deur my kop.
Ek het geweet hy het ’n groot hartoperasie in die verre verlede ondergaan, maar vir my was hy amper onsterflik. Iemand wat soveel hooi op sy vurk gehad het. Hy was ’n geliefde akademikus wat die respek van sy kollegas gehad het. Sy bevordering tot dekaan is getuienis hiervan.
Ek kry twee boodskappe, een op FB en een op WhatsApp van vriendinne. Rozenda Forbes Hendricks plaas op my tydlyn: “Het jy gehoor van Mellet Moll?” Haar woorde is vol hartseer. Nog ’n hart wat Mellet aangeraak het.
Melanie Marais, ’n kollega van Mellet, stuur vir my ’n stemnota: “Jammer Diana, jy skrik seker om van my te hoor, lanklaas gepraat. Ek wil net hoor of jy van prof Moll gehoor het, ek sien jy ken vir hom.”
Sy is nog duiselig van skok. Hulle het saam op die Health Cluster Committee gedien gedurende die Covid-pandemie. En sy stuur vir my inligting oor hoe briljant Mellet hierdie projek as leier bestuur het.
Oral op die KSUT-kampus sou jy hom vind, tot diens van die bestuur en die studente. Wanneer daar oproer op die kampus was, was hy een van dié wat ingeroep was om kalmte te bring.
Ja, Melanie en Rozenda, ek het hom geken. Ons het nie fisies so baie kontak gehad nie, maar ons was altyd “in kontak”. ’n Paar jaar terug nooi hy my na ’n digvoorlesing by Blaauwklippen-restaurant en hy verwelkom ons met groot fanfare. Hy wys waardering vir ons skryfwerk.
Ek ontmoet Nini Bennett, gevierde skrywer, deur hom. Hulle twee kom drink koffie saam met my in UWK se Auntie Val’s restaurant. Ek weet toe ek het te doen met groot digters en vra Nini om my boek Die vrede kom later deur te lees en ’n voorwoord te skryf. Hy nooi my na sy en Nini se troue. Ek was ’n uitgesoekte gas, maar kon dit ongelukkig nie bywoon nie, want ek sou in Ghana by ’n Poetry Festival wees. Hoe spyt was ek dat ek nie kon gaan nie.
Ek weet nie of Mellet ’n voorgevoel gehad het van sy weggaan nie. In sy laaste paar plasings op FB het hy odes aan beide sy ma en pa geskryf. Die een aan sy pa is aangrypend:
Ek sal sterf en na die sterre gaan
ek sal sterf en na my vader gaan
na Waterkloofrif met sandale
vleuelvoet soos ’n pelgrim
waar die strate pers dwaalsterre is
waar Orion se krygers waak oor die nag
en dwerge vuurvlieë soek in die tuin,
ek sal sterf en net met ’n rugsak
in Rigellaan stap
die steiltes van Koningin Wilhelmina oor
tussen die heinings en die lamppale deur
en na my vader gaan.
Sy poësie was onopgesmuk, amper te eerlik, outentiek maar ook gevul met metafore, beelde uit die verre verlede, maar ook versugtinge oor die toekoms.
Ek eer Mellet Moll. Sy weggaan het die akademie armer gelaat, ’n groot verlies vir sy studente. Die Afrikaanse literêre wêreld het ’n groot stem verloor, ’n innoverende woordmaker, en helaas het Suid-Afrika ’n “visionary” verloor, een wat ons so broodnodig het.
Mag jou nalatenskap steeds harte aanraak, debatte ontketen. Ek sal jou skryfstyl, jou tegniek, jou navorsingswerk altyd bewonder en jou uitstekendheid nastreef.
Lees ook:
Kommentaar
Dankie Diana, wat 'n pragtige in memoriam!
Pragtige huldeblyk. Ek was ook by sy herdenkingsdiens en het so baie meer geleer oor hierdie veelkantige en, by uitstek, interessante mens.