In memoriam: Mellet Moll

  • 1

...
“Ek is die metamorf wat veerlig swerf.” – Mellet Moll
...

Die bekende digter en akademikus Mellet Moll (1967–2024) is op 28 Oktober 2024 skielik tuis in Somerset-Wes aan ’n hartaanval oorlede. Die digter Louis Esterhuizen, oor wie se werk Mellet met ’n doktorale studie besig was, skryf op Facebook: “Wat ’n geskakeerde, ruim en vrygewige mens was Mellet Moll nie. ’n Lewenskrag in alle opsigte; altyd vol idees, ondernemend en inspirerend. Trouens, Mellet het ’n besonder breë spoor getrap deur hierdie lewe.”

Ek het Mellet geken as ’n betroubare kollega op wie ’n mens te alle tye kon staatmaak – iemand wat trots was op sy werk, maar ook met humor na homself kon verwys. Hy het byvoorbeeld telkemale met ’n knipoog vertel dat hy in sy jonger dae ’n uitsmyter by nagklubs en kroeë was. Ten spyte van sy indrukwekkende gestalte, het Mellet ’n klein hart gehad. Hy was ’n sagte mens wat dadelik hulp aangebied het wanneer daar nood was, gehuil het as onreg geskied. Sy intellektuele vermoë was legendaries en uiters gevarieerd. Hy was ’n bekwame ingenieur, gerekende resensent, ’n sensitiewe digter, beluisteraar van ingewikkelde musikale komposisies en “closet”-politikus. Hy het oor bo gemiddelde argumenteringsvaardighede en ’n fyn aanvoeling vir die regte woord beskik. Sy woordeskat het my dikwels beïndruk – hy het nooit ophou studeer nie en was tot die dag van sy dood nog besig met navorsing.

Mellet Moll is op 4 Maart 1967 in Pretoria gebore en matrikuleer in 1984 aan die Hoërskool Waterkloof. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria en verwerf die grade BIng, BIng (Hons), MIng en ’n PhD in bedryfsingenieurswese. Daarna gaan werk hy in die industrie, onder andere by die destydse Yskor, waar hy een van die jongste bestuurders ooit was. Hy ontvang nadoktorale opleiding in gehaltebestuur in Japan en word later uitvoerende hoof van strategie en deurlopende verbetering van ArcelorMittal Suid-Afrika.

In 2006 word hy by die Universiteit Stellenbosch aangestel as professor in bedryfsingenieurswese, en in 2012 word hy adjunkdekaan van die Fakulteit Ingenieurswese en die Bou-omgewing aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. In 2017 word hy dekaan van dié fakulteit. Die volgende inskrywing verskyn op Moll se Versindaba-profiel:

Onder sy leierskap ontwerp, vervaardig en lanseer die fakulteit se ruimteprogram onder meer ’n konstellasie nanosatelliete wat intussen ontplooi is om die land se kuslyn te moniteer as deel van Operasie Phakisa. Hy word ook verkies as die eerste voorsitter van die raad van die Suid-Afrikaanse Hernubare Energie Tegnologiesentrum (SARETEC). Tydens sy ampstermyn vestig hy verskeie navorsingsaksies met betrekking tot die vierde industriële rewolusie (4IR).

In 2020 word hy die uitvoerende beampte verantwoordelik vir besigheidskontinuïteit en COVID-19 en behaal groot sukses met dié program. Ten tye van sy dood was hy steeds verbonde aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.

As digter behaal Mellet Moll ook sukses. Drie digbundels verskyn in 2014 uit sy pen, naamlik Heilige meetkunde, Swanesange en Nalewe (al drie uitgegee deur Cordis Trust Publikasies). Enkelgedigte is opgeneem in die versamelbundels Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte, Maskers en mure en flikker-gram (ter perse). Musikante soos Mel Botes, Steyn de Wet en Eva Mouw het van sy gedigte getoonset. In 2015 ontvang hy die Orde van die Beiteltjie.

Hoewel Moll se digbundels destyds nie besonder goed ontvang is nie, het hy aanhou skryf en sy styl probeer verbeter na aanleiding van kritiek wat hy ontvang het. Mellet het kritiek waardeer en dit in sy kreatiewe werk geïntegreer. Daar bestaan wel ook ’n groot korpus gedigte wat op die webwerf Versindaba en elders op sosiale media verskyn wat inderdaad ’n sterker digterstem verteenwoordig as dié in sy gepubliseerde werk. Ek is ook bewus van gedigte wat hy teruggehou het omdat dit volgens hom nog verdere afronding kortkom. Mellet het soms jare lank aan gedigte gewerk en getimmer voordat dit na sy sin was. In dié opsig het hy soos ’n wetenskaplike te werk gegaan. ’n Mens sien ook die wiskundige aanslag in sy tegniek: Sy gedigte verloop logies, met ’n duidelik uitgewerkte argument as basis, en hy verkies klassieke digvorme bo gedigte met ’n losser samehang. Sy gebruik van buitengewone metafore uit die wiskunde, die kernfisika, kunsmatige intelligensie, musiek, die filosofie, die psigoanalise en die literêre kritiek is bewonderenswaardig. Sy tematiese register is byna intimiderend. Mellet Moll se latere gedigte soos dit op sosiale media te vinde is, is meestal elegies van aard en word dikwels geïnspireer deur sy moeder wat hy as hoërskoolseun verloor het. Volgens Nini Bennett-Moll, Mellet se vrou, is daar deurgaans iets geweldig melankolies aan Mellet se gedigte en bevat die meeste van sy onlangse gedigte aspekte van afskeiding en afskeid. ’n Mens kan werklik die hoop uitspreek dat daar nog ’n bundel gedigte nadoods sal verskyn.

Op akademiese gebied het Mellet, soos ek reeds gesê het, nooit ophou studeer nie. Ten tye van sy afsterwe was hy besig met ’n PhD in Afrikaanse lettere aan die Universiteit van Johannesburg. Sy fokusgebied was melankolie in die digkuns van Louis Esterhuizen. Daarbenewens het hy talryke resensies oor Afrikaanse letterkundige werke geskryf wat van insig en ’n besonder fyn leesstrategie getuig. Hy was ’n gerekende resensent wat sy gevolgtrekkings deeglik aan die hand van stiplees en teoretiese insigte kon verantwoord. As ingenieur het hy verskeie artikels in geakkrediteerde vakjoernale geskryf.

Ons betreur die heengaan van ’n reus op akademiese en literêre gebied. Mellet Moll was iemand wat ingeligte en besliste idees gehad het en nie gehuiwer het om dit uit te spreek nie. Hy was ’n idiosinkratiese mens wat buitengewoon kreatiewe energie aan die dag gelê het met alles wat hy aanpak. Hy was ’n perfeksionis by uitnemendheid.

Mellet se huwelik van net meer as ’n jaar met die skrywer, digter en resensent Nini Bennett-Moll het die geaardheid van ’n moderne sprokie gehad. Hy laat ’n magdom vriende en bewonderaars na, bo en behalwe sy geliefde vrou, sy drie dogters uit ’n vorige huwelik en ’n kleinkind. Mag hulle krag ontvang en die wete koester dat hulle deel was van ’n besonderse man se lewe.

Die gedig “’n Laaste villanelle” het Mellet as deel van sy digtersprofiel op Versindaba geplaas:

’n Laaste villanelle

Wanneer ek eendag in jou arms sterf
kan jy die rame oopgooi vir die wind.
Ek is die metamorf wat veerlig swerf.

Ek het ’n onvolmaakte stillewe geverf
vol sweefsterre, wat in die lug ontbind
wanneer ek eendag in jou arms sterf.

So vry, die fynstuif wat nou onbederf
soos ’n dandelion die stromings vind.
Ek is die metamorf wat veerlig swerf.

Ek sal die skaduwee van lugvoëls erf
en die gestadigdheid se gloed ontblind
wanneer ek eendag in jou arms sterf.

En ek sal strale deur die lugruim kerf,
soos wolkmutasies sweef, jou labirint.
Ek is die metamorf wat veerlig swerf.

Mag jy ’n staat van enigheid verwerf
met die Nirvana van jou binne-kind
wanneer ek eendag in jou arms sterf.

Ek is die metamorf wat veerlig swerf.

 © Mellet Moll, 2022

Lees ook:

Die Nobelpryswenner vir 2023: Jon Fosse, die stem van die onsêbare

Simone Cilliers Jonker (1957–2023): ’n Brief vir Simone

KI: Die ontydige aankoms van die toekoms

Tien vrae: Mellet Moll oor Heilige Meetkunde, Swanesang en Nalewe.

  • Foto’s: Izak de Vries
  • 1

Kommentaar

  • Nicolaas Geldenhuys

    So onnodig. So seer. So 'n groot gees net so weg. Op pad om 'n groot digter te word. Innige simpatie Nini en al sy geliefdes. Baie baie hartseer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top