Simone Cilliers Jonker (1957–2023): ’n Brief vir Simone

  • 1

Foto: Tessa Louw (Wellington, 2012)

“Maar riool o riool,
my nageslag lê in die water.” – Ingrid Jonker

Iewers gedurende 2012 het ek en twee ander aspirantdigters, Tessa Louw en Erna Jo (ja, ek weet dit rym), die pretensieuse idee gehad om Ingrid Jonker se graf te besoek. Ek is onseker wat ons daar wou vind; miskien was ons meegevoer deur die mistifikasie en kultusstatus wat Ingrid Jonker se lewe vandag kenmerk. Ek het eers die begraafplaas geskakel, maar was onsuksesvol met my pogings om aanwysings na Jonker se graf te vind. Ingrid Jonker se graf was gewoon nie ’n landmerk in die Maitland-begraafplaas nie. Hoewel ek op daardie stadium nog nie vir Simone leer ken het nie, was ons vriende op Facebook en het ek dus aan haar ’n boodskap gestuur en aanwysings gevra. Die Maitland-begraafplaas is immers een van die grootste begraafplase in die land, en om ’n spesifieke graf te vind kan moontlik ’n groot soektog afgee. Simone was kennelik bly dat iemand haar ma se graf wou besoek en het geredelik gedetailleerde aanwysings gegee. Dit het maklik genoeg geklink. Dit was ’n warm dag in Kaapstad toe ons teen ongeveer eenuur die middag daar opdaag. Diegene wat al ooit daar was, sal weet die begraafplaas lê ’n paar kilometer lank tussen Parow en Maitland aan die linkerkant (as ’n mens in Tafelberg se rigting kyk) tussen Voortrekkerweg en die spoorlyn. Indien ’n mens nie weet waar om te begin nie, raak dit ’n onbegonne taak om ’n graf in hierdie doolhof te vind. Simone se aanwysings het tot niks gelei nie, en ons was verlore tussen katolieke grafte, grafte van soldate uit die Tweede Wêreldoorlog en selfs mense wat in die 1800’s en vroeë 1900’s in Kaapstad gewoon het. Om ons was imposante kunswerke van gerubs, verweerde praalgrafte, selfs ’n klein kapel, asook nederige verbleikte kopstene. Daar was heelwat tekens van vandalisme, van vreemde okkultiese seremonies en tekens dat daar bergies woon. Die SAPD het op ’n kol gestop en gevra wat maak ons – dis nie veilig hier nie. Ek het hoopvol en met blink oë gesê ons soek na Ingrid Jonker se graf, waarop die konstabel afwesig geantwoord het dat hy nog nooit van haar gehoor het nie. In hierdie naamlose metropool van die afgestorwenes was dit te verstane, en is ek hardhandig uit my idealisme geruk. Na verskeie probeerslae, nadat ons letterlik kilometers in die warm son moes stap, en nadat ek nog ’n hele paar keer via Facebook verdere aanwysings van Simone af moes kry, lees Simone se laaste boodskap teen ongeveer vieruur die middag: “Die graf behoort nou reg voor jou te wees.” Ek kyk rond totdat ek skielik agterkom dis die graf onder my voete en ek roep vir Tessa en Erna. Ons lees die reël op die kopsteen: “Korreltjie niks is my dood.” Ons staan met gewyde en natgeswete gesigte rondom die graf, maak dit netjies soos Simone gevra het, plaas ’n bossie blomme op die graf en Tessa neem foto’s.

Hierna nooi Simone my vir tee by haar huis in Hermanus, waar ek haar daarna gereeld sou besoek. Dit was opvallend dat haar leefstyl vasgehaak het by dié van ’n hippie uit die 1970’s en haar leefwêreld was nederig: Die tuin was oorgroei en onversorg, en ’n mens sou maklik kon dink daar bly nie mense nie; van binne het haar huis enkele artefakte van haar ma teen die mure en op ’n koffietafel gehad – artefakte wat die besoeker herinner aan die spesiale rol wat Simone in die Ingrid Jonker-narratief gespeel het; daar was artefakte uit die Falun Gong-geloofsbeweging wat Simone beoefen het; asook enkele geskenke en boeke van haar vriend Johan van Wyk. Van Wyk het in 1987 ’n doktorale proefskrif onder promotorskap van André P Brink aan die Rhodes-universiteit voltooi met die titel “Die dood, die minnaar en die Oedipale struktuur in die Ingrid Jonker-teks”. Die biografiese gedeelte van hierdie werk publiseer Van Wyk later as Gesig van die liefde: Ingrid Jonker. Van Wyk se lewenslange lojale vriendskap met Simone verdien spesiale vermelding. Dit is asof die voorafgemelde studies vir Van Wyk tot baie insig rondom Simone gelei het en hy mettertyd ’n vaderlike rol in haar lewe gespeel het (hy het haar byvoorbeeld afgegee tydens haar laaste huwelik). Op ’n meer diepliggende vlak wou hy moontlik namens die poësiewêreld “regmaak” vir die sorgvrye jeugjare wat van Simone weggeneem is en die koue skouer wat sy daarna van baie figure uit die literêre gemeenskap ontvang het.

Tydens my besoeke het ’n ander beeld as die verromantiseerde beeld wat die buitestaander maklik sou vorm, by my begin posvat. Is dit wat die Afrikaanse poësie met haar weeskinders doen? Daar was iets aan Simone wat my met baie droefheid gevul het: dat sy na haar ma se dood baie moes rondswerf; dat sy self haar eie omstandighede moes verwerk; dat sy ook self stormagtige jongmensjare beleef het; dat sy tot ’n groot mate vergete geraak het; en dat dit later op die sosiale media ’n statussimbool geraak het om met Ingrid Jonker se dogter vriende te wees. Nie met Simone nie. Miskien was ek ook aanvanklik aan laasgenoemde skuldig, maar dit het verander na my eerste ontmoeting.

Ons almal onthou Simone se kinderdae uit foto’s wat Jonker se dikwels stormagtige lewe uitbeeld, asook die ikoniese tonele uit die film Black butterflies van die blondekopdogtertjie aan die arm te midde van al die drama waarin Jonker haar bevind het. Die afgelope anderhalf week na Simone se afsterwe weerklink die nou oormatig gebruikte mantra op die sosiale media: “Die kind is nie dood nie.” Ander kondig aan: “Die kind is dood.” Ek wil hierby voeg: “Die kind is lankal dood en ons is almal aandadig daaraan.”

Simone het entoesiasties meegedoen aan poësiebyeenkomste, maar sy verdien respek vir die manier waarop sy haar ma se nalatenskap bevorder en bewaar het. Dit was haar lewenslange roeping om haar ma se briewe en geskrifte na Suid-Afrika te repatrieer nadat, so word vertel, haar ma se suster hierdie waardevolle manuskripte aan ’n versamelaar verkoop het en dit uiteindelik ’n pad gevind het na die Komrij-versameling in Nederland. As enigste nageslag is dit egter duidelik dat hierdie dokumente na Simone moes gaan. Simone was nie welgesteld nie en om die saak verder te voer sou groot regskoste inhou. Sy het dit egter haar lewenstaak gemaak om hierdie saak verder te neem. Simone het verskeie fondsinsamelingsaksies van stapel gestuur en onder meer ’n verskeidenheid rock-musikante gekry om ten bate hiervan ’n album van toonsettings van haar ma se verse te skep. Sy het ook Ingrid Jonker se gedigte in Engels vertaal as Waterfall of moss and sun, in 2019 deur Minimal Press uitgegee. Op die voorplat verskyn ’n erotiese, ongepubliseerde foto van haar ma.

My teerste herinnering aan haar was dalk by ’n digtersbyeenkoms laat in 2012 by die Breytenbach Sentrum in Wellington. Ons het dit goed gedink om haar saam te nooi na die byeenkoms. Ek en Erna Jo het haar in Hermanus opgelaai, middagete by ’n restaurant aan die kusfront geëet, by Mr Price gestop en vir haar enkele kosmetiese items gekoop en toe deurgery Wellington toe, waar ons by ’n gastehuis ingeboek het. Die eienares van die gastehuis het dadelik haar beste suite gratis aan Simone verskaf toe ek verduidelik dat ons ’n digtersbyeenkoms bywoon en dat sy Ingrid Jonker se dogter is.

Ek het dit nie besef nie, maar die byeenkoms was op die vooraand van Simone se 55ste verjaardag. By die byeenkoms was daar ’n oop mikrofoon. Tot ons almal se verbasing staan Simone op ’n stadium op en sê sy wil ook graag ’n gedig voorlees. Sy sê toe ons weet dit nie, maar sy verjaar die volgende dag, en daarom wil sy graag ’n gedig lees wat haar ma vir haar geskryf het toe sy swanger was met haar. Dit was ’n uiters ontroerende oomblik:

Swanger vrou

Ek lê onder die kors van die nag singend,
opgekrul in die riool, singend,
en my nageslag lê in die water.

Ek speel ek is kind:
appelliefies, appelliefies en heide,
koekmakrankas, anys,
en die paddavis gly
in die slym in die stroom,
in my liggaam
my skuimwit gestalte;
maar riool o riool,
my nageslag lê in die water.

Nóg singend vliesrooi ons bloedlied,
ek en my gister,
my gister hang onder my hart,
my kalkoentjie, my wiegende wêreld,
en my hart wat sing soos ’n besie
my besie-hart sing soos ’n besie;
maar riool o riool,
my nageslag lê in die water.

Ek speel ek is bly:
kyk wáár spat die vuurvlieg!
die maanskyf, ’n nat snoet wat beef –
maar met die môre, die hinkende vroedvrou
koulik en grys op die skuiwende heuwels,
stoot ek jou uit deur die kors in die daglig,
o treurende uil, groot uil van die daglig,
los van my skoot maar besmeer
met my trane besmeer
en besmet met verdriet.

Riool o riool,
ek lê bewend singend,
hoe anders as bewend
met my nageslag onder jou water ...?

...........
Ons het tot laataand gekuier in die Bôrdienghuis – as ek reg onthou het Lieze Stassen daar opgetree. Ek was die seremoniemeester en het net voor twaalf opgestaan en aangekondig dat dit oor ’n paar sekondes Simone se verjaardag sou wees.
.............

Ons het tot laataand gekuier in die Bôrdienghuis – as ek reg onthou het Lieze Stassen daar opgetree. Ek was die seremoniemeester en het net voor twaalf opgestaan en aangekondig dat dit oor ’n paar sekondes Simone se verjaardag sou wees. Ek het haar na die verhoog geroep om haar geluk te wens. Dit het my bygeval dat ek nie ’n geskenk by my gehad het nie. Dit het my egter ook bygeval dat ek op daardie stadium enkellopend was. Die beste geskenk waaraan ek dus kon dink toe sy langs my staan, was om haar te soen; iets waaraan sy met oorgawe en genoegdoening meegedoen het. Ons het daardie nag tot laat gekuier rondom ’n paar bottels rooiwyn: ek, Simone, Erna en Lieze. Iewers deur die loop van die aand het sy my vertel dat sy ’n huweliksaanbod ontvang het van ’n Portugese man uit Houtbaai en nog wik en weeg daaroor. Ek het vir haar vertel dat ek ’n crush op ’n bekroonde skrywer uit Pretoria het en dat ek binnekort op ’n afspraak met laasgenoemde sou gaan.

Die volgende oggend fluister Erna Jo vir my dat ons ’n klein probleempie het: Simone het verstaan dat die inhoud van die minibar ook op die huis was en het alles ingepak – Chocolate Logs, Bar Ones, mineraalwater, lemoensap, ’n bottel merlot en klein botteltjies whiskey en vodka. Ek verduidelik toe, tot groot teleurstelling van Simone, dat ons dit sal moet terugsit.

Ek het vroeg die volgende jaar ’n uitnodiging na Simone se huwelik met Ernesto (haar derde man) ontvang. Ek het hom vaagweg geplaas: Hy was bekend as ’n groot volgeling van die rock ’n roll-subkultuur en het ’n lewe gemaak deur met ou plate te smous. Ekself het my skrywer ontmoet saam met wie ek vandag nog is.

............
Simone het mettertyd ’n groter rol gespeel in die Afrikaanse poësie, onder meer deur jaarliks die oorhandiging van die Ingrid Jonkerprys by die Tuin van Digters in Wellington waar te neem. Maar sy moet onthou word as ’n belangrike rolspeler in die Ingrid Jonker-narratief. Sy was die tragiese, soms verwaarloosde, maar moedige kurator van haar ma se nalatenskap.
.............

Simone het mettertyd ’n groter rol gespeel in die Afrikaanse poësie, onder meer deur jaarliks die oorhandiging van die Ingrid Jonkerprys by die Tuin van Digters in Wellington waar te neem. Maar sy moet onthou word as ’n belangrike rolspeler in die Ingrid Jonker-narratief. Sy was die tragiese, soms verwaarloosde, maar moedige kurator van haar ma se nalatenskap. Die letsels van intergeneratiewe pyn en skuld was duidelik sigbaar aan haar. Om haar te ken, het my laat besef dat die stereotipering van die romantiek rondom digterskap ’n verbeeldingsvlug is; dat pyn nie verromantiseer moet word nie; en dat die poësie ’n genadelose muse is wat sy eie slagoffers (en weeskinders) nalaat.

André P Brink het per geleentheid gesê: “Ingrid Jonker sing in die universele hartstaal van elke mens …” Hierdie nalatenskap het intussen gegroei tot ’n polifoniese gesang in baie tale, want Jonker is waarskynlik ons mees vertaalde Afrikaanse digter.

...........
Vir jou, Simone, sou ek ’n brief wou skryf en vir jou wou vertel dat ek jou sal onthou; dat ek jammer is dat jy ’n slagoffer was van die Afrikaanse poësie; en dat die poësie jou baie dank verskuldig is vir jou unieke rol as die skrywer van die laaste hoofstuk van die Ingrid Jonker-narratief.
..............

Vir jou, Simone, sou ek ’n brief wou skryf en vir jou wou vertel dat ek jou sal onthou; dat ek jammer is dat jy ’n slagoffer was van die Afrikaanse poësie; en dat die poësie jou baie dank verskuldig is vir jou unieke rol as die skrywer van die laaste hoofstuk van die Ingrid Jonker-narratief.

Lees ook:

Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

Seen elsewhere: Rest in peace, Simone Cilliers Jonker

Simone Jonker: uiteindelik net liefde

  • 1

Kommentaar

  • Joan Hambidge

    Ingrid Jonker se dogter was nie die enigste slagoffer van 'n digter wat aan eie hand gesterf het nie. Sylvia Plath se seun Nicholas is eweneens oorlede weens die ellende van sy moeder se selfdood.

    Gaan kyk ook na die troebel geskiedenis rondom Anne Sexton se nalatenskap.

    Dit is 'n komplekse kwessie. Nie net in Afrikaans nie. Daar is nog vele ander voorbeelde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top