Simone Jonker: uiteindelik net liefde

  • 1

Foto van Simone Jonker: Izak de Vries

 Die dood van Simone Cilliers Jonker (65), die digter Ingrid Jonker se dogter, Maandag 30 Januarie 2023 om 13:00 is met ongeloof deur haar familie, vriende en ondersteuners ontvang. Veral omdat sy tot onlangs nog gesond voorgekom het en omdat min geweet het dat sy “aggressiewe” kanker het en infeksie daarvan tot haar skielike afsterwe gelei het.

Simone het gereeld by die jaarlikse Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum in Wellington opgetree. Francois Lötter, hooforganiseerder van Tuin van Digters en gewese uitvoerende bestuurder van die sentrum, het ingestem om ’n paar onthouwoorde oor haar te skryf.

“Haar harde lewe en die gesukkel met aanvaarding is verby. Sy wou net graag gelukkig wees,” was die reaksie van die uitgewer Zalman S Davis, wat die Ingrid Jonker: L’ Art Poétique-poësiekompetisie in 2019 begin het en Simone daarby betrek het.

Petrovna Metelerkamp, wat drie boeke oor Ingrid Jonker uitgegee het, het aan Netwerk24 oor Simone gesê: “My indruk van haar was dat sy ongelooflik liefdevol was. ’n Goeie kind, maar beskadig.”

Topsi Venter, wat na die dood van Ingrid Jonker met Simone se pa (die skrywer Pieter Venter), getroud is, het gesê Simone was “’n interessante, minsame kind wat na vertroeteling gesmag het. Sy was ’n bietjie verwaarloos.”

Ek het Simone in 2017 by haar huis in Houtbaai besoek, waar sy en Ernesto Garcia Marques, haar derde man, gewoon het. Toe was sy nog Simone Garcia Marques, maar die afgelope maande het sy dit aangepas na Simone Cilliers Jonker – en ook soms net Simone Jonker.

Die doel van my Houtbaai-besoek was om haar beter te leer ken nadat die Ingrid Jonker-pryskomitee en die Breytenbach Sentrum ooreengekom het om die Ingrid Jonker-prys vir ’n debuutdigbundel by die sentrum se jaarlikse Tuin van Digters-fees te oorhandig. Die prys is na Ingrid se dood deur haar skrywersvriende begin. Tuin van Digters word vanjaar in September vir die twaalfde keer by die Breytenbach Sentrum aangebied.

Simone Jonker en Karin Schimke, toe Karin die Ingrid Jonker-prys ontvang het (foto: Izak de Vries)

Ek het ook saam met Simone en Ernesto haar ma se graf besoek en ek en sy het ’n goeie samewerkingsverhouding opgebou. Sy was baie in haar skik en dankbaar dat die Breytenbach Sentrum haar genooi het om Tuin van Digters by te woon en om die prys aan die wenner te oorhandig en ’n paar woorde te sê. Sy het die samekoms op ’n enkele uitsondering na jaarliks bygewoon. In 2022 het haar dogter, Margarita Celeste, haar vergesel. Sy het haar by elke geleentheid goed van haar taak gekwyt en dit nie gebruik om oor haar eie projekte om haar ma se nagedagtenis te troetel, te praat nie.

Ek het Simone ervaar as ’n sagte, aangename mens, maar iemand wat met drif gepraat het oor hoe om die regte beeld van haar ma uit te dra. Sy kon net nie die nodige ondersteuning elders kry om haar planne prakties uit te voer nie, dalk juis omdat sy voorgekom het as iemand wat gevoel het sy as Ingrid se dogter word nie gerespekteer nie en behoort die finale sê te hê.

............
Simone was ’n afvlerkvoëltjie wat dinge op haar manier gedoen het en om verstaanbare redes nooit haar ma se voorskoot, of graf, gelos het of wou los nie. Die dikwels ongesofistikeerde wyse waarop sy haar ma se nagedagtenis in stand probeer hou het, het haar in sekere digterskringe vervreem en dalk selfs ’n eenkantgestote mens gemaak.
..............

Simone was ’n afvlerkvoëltjie wat dinge op haar manier gedoen het en om verstaanbare redes nooit haar ma se voorskoot, of graf, gelos het of wou los nie. Die dikwels ongesofistikeerde wyse waarop sy haar ma se nagedagtenis in stand probeer hou het, het haar in sekere digterskringe vervreem en dalk selfs ’n eenkantgestote mens gemaak. Veral ook toe sy in die laaste maande van haar lewe ’n hewige stryd begin het om onder meer foto’s, briewe, boeke, agendas en ander dokumente van haar ma uit Nederland terug in Suid-Afrika te kry. Dit word in die Literatuurmuseum in Den Haag, Nederland uitgestal.

Foto van Simone Jonker: Izak de Vries

In Augustus verlede jaar, nadat dit bekend geword het dat Simone begin het met haar poging om haar ma se dokumente en ander items van Nederland na Suid-Afrika te bring, het sy die Breytenbach Sentrum om hulp genader.

Ek het Simone namens die direksie van die Breytenbach Sentrum ingelig dat die sentrum oorvol is en ook nie aan die nodige standaarde voldoen om die dokumente en dies meer veilig daar te bewaar nie. Sy het begrip daarvoor gehad.

Op 18 Januarie, twaalf dae voor haar dood, het Simone om 09:56 hierdie laaste inskrywing op haar Facebook-profiel geplaas: “No matter what happens the IJ collection is coming home and the Center is going ahead.”

Sy het tot die einde vurig geveg. Die groot vraag is natuurlik wat gebeur nou met haar stryd om die Ingrid Jonker-dokumente naby haar in Suid-Afrika te kon hê.

Dalk gee Gert Vlok Nel die antwoord in sy boodskap op Simone se Facebook-profiel, waar Margarita haar heengaan aangekondig het: “Simone, uiteindelik net liefde.”

Simone op 8 Oktober 2022 met die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys vir ’n Engelse debuutbundel aan Jacques Coetzee, blinde digter van Worcester, vir sy bundel An illuminated darkness (uHlanga Press). Foto: Engela Duvenhage.

Lees ook:

Seen elsewhere: Rest in peace, Simone Cilliers Jonker

The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

LitNet Akademies-resensie-essay: Vlam in die sneeu, die liefdesbriewe van André P Brink en Ingrid Jonker, redakteur Francis Galloway

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Marianne de Jong

    RIV Simone Venter. Sy was onder hierdie naam ongeveer 12 jaar gelede 'n student in Literatuurwetenskap by Unisa en het duidelik bogemiddelde werk gelewer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top