Degenaar had blaam aan botsing met NG kuratorium

  • 0

Die invloedryke Stellenbosse filosoof Johan Degenaar sou vanjaar 100 jaar oud geword het. Johannes Froneman kyk hier terug op redes waarom Degenaar destyds die NG kuratorium ontstig het en hoe dit filosofieopleiding vir jare daarna by die Universiteit Stellenbosch beïnvloed het.

*

Die Departement Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch het in 1967 in twee verdeel weens kommer oor bepaalde teologiese sieninge van Johannes Degenaar. Die uiteinde was dat ’n aparte Departement Staatsfilosofie gestig is, met Degenaar aan die hoof daarvan. In die 1980’s is die departemente egter verenig.

In 2017 het Anton van Niekerk ’n artikel daaroor gepubliseer onder die titel “A department under siege: How Philosophy at Stellenbosch was split in order to survive” (Stellenbosse Teologiese Joernaal, 3(1):451–73), maar vreemd genoeg geen verwysing gemaak na spesifieke standpunte wat Degenaar in sy tweede 1963-boek ingeneem het nie. Van hierdie standpunte is hoogs aanvegbaar – selfs vandag.

Dit is belangrik om daardie stukkie geskiedenis in volle perspektief te plaas deur van Degenaar se standpunte te noem – nie om ’n oordeel (positief of negatief) daaroor te vel nie, maar om reg te laat geskied aan die waarskynlike oorwegings wat die Kweekskool-kuratorium destyds genoop het om beswaar te maak teen Degenaar se posisie as dosent. Of, anders gestel, om te dreig om voornemende teologiestudente aan die departement te onttrek.

Die departement se voorgraadse studente was destyds hoofsaaklik admissiestudente, dus studente wat hulle voorberei vir teologiestudie aan die Kweekskool met die oog op leraarskap in die NG Kerk. As sodanig het die kuratorium ’n regstreekse belang gehad by die inhoud van die voorgraadse kursusse wat die studente geloop het.

Alvorens ek by enkele aanhalings uit sy boek Op weg na ’n nuwe politieke lewenshouding (Tafelberg, 1963) kom, ’n opmerking of twee oor Degenaar as uitnemende filosoof. Sy belangstelling het met die daarstelling van die nuwe departement meer na politieke sake geskuif en hy het skerp kritiek op die apartheidsbeleid gelewer. Meer nog het hy sy studente tot skerp kritiese denke gelei. Want (op spoor van Sokrates) ’n onbetragte lewe is nie die moeite werd om te lei nie.

Ek het die grootste waardering vir Degenaar as filosoof en mens. Hierdie artikel het daarom nie ten doel om sy nalatenskap enige skade aan te doen nie. Sy lewenswerk as pleitbesorger vir groter openheid en nie-ideologiese denke was belangrike in ’n tyd toe ideologiese denke oorheers het.

Terselfdertyd het ek geen rede om die Kaapse NG leierskap van destyds te verdedig nie. Hulle was verbind aan ’n ideologiese teologie en was fasiliteerders van wat as die “onheilige drie-eenheid” bestempel is: Kaapse NG Kerk, Universiteit Stellenbosch en Nasionale Pers (met name Die Burger). Vir my gaan dit hier bloot om die feite en die volle konteks.

Terug na die aanloop tot die verdeling van die Departement Filosofie en Van Niekerk se hantering daarvan in genoemde artikel. Van Niekerk skryf dat wat ten minste sommige studente ontstellend gevind het, die feit was dat Degenaar “seemingly moved within the paradigm of conventional Christianity in most of his courses, yet availed himself of interpretations of long-held beliefs that dramatically unsettled these conventional beliefs”.

Degenaar se ander 1963-boek, Die sterflikheid van die siel, het die skeptisisme jeens hom by ortodokse Christene bevestig. Hy skryf daarin onder meer: “I therefore want to propose that, rather than an immortal soul, [the idea of] a broken body opens the way to deepened insight into the expression ‘the image of God’” (soos aangehaal deur Van Niekerk).

Maar was dit genoegsame rede om Degenaar se posisie in die gedrang te bring? Van Niekerk skryf dat Degenaar toenemend ’n skyf van kritiek geword het en as “ondermyner” van die tradisionele Christelike geloof beskou is. Tereg noem Van Niekerk dat Degenaar konvensionele standpunte oor hemel en hel, opstanding en ’n ewige lewe geproblematiseer het.

Noodwendig sou dit kommer by die kuratorium veroorsaak het. Samesprekinge tussen die rektor, verteenwoordigers van die kuratorium en die departementshoof het gevolg. Daar is gereël dat die departement twee bane sou aanbied, met Degenaar wat hom tot een sou beperk. Die voornemende teologiestudente sou die ander baan volg. Nog later, in 1967, verdeel die departement in twee, met Degenaar nou professor en hoof van die Departement Staatsfilosofie.

Hierdie weergawe laat egter na om van Degenaar se standpunte in groter besonderhede uit te spel. Dit sou selfs vandag nie sonder slag of stoot in NG kringe aanvaar word nie, hoewel die teologie binne die kerk sekerlik heelwat minder konserwatief is as destyds. Boonop is die band tussen NG Kerk en die Universiteit Stellenbosch vandag heel anders as in die vroeë 1960’s.

In Op weg na ’n nuwe politieke lewenshouding (wat nie deur Van Niekerk aangehaal word nie) spel Degenaar sy standpunte oor sekularisasie glashelder uit. Dit moes vir sy kritici ’n duidelike bewys gewees het dat hy nie met bloedjong voornemende NG leraars vertrou kon word nie. So bepleit Degenaar sekularisasie en sê: “Sekularisasie help die mens om in te sien dat religie en godsdiens nie die antwoord is op die vraag na die sin van die lewe nie.”

Tog waarsku hy teen sekularisme as “absolute en selfgenoegsame houding”. Maar van sy ander uitsprake was sodanig dat die kuratorium kwalik kon stilbly. Soos: “Wat nodig is, is dus altyd nuwe en eksperimentele teologie”; “Geloof as die hoogmoedige koestering van uitverkiesing moet vervang word deur geloof as geleentheid tot diens”; “Geloof transendeer die Christendom, wat as ’n historiese antwoord van die mens ’n beperkte geldigheid het”; en “Die Christelike geloof moet bevry word van ’n dogma-mentaliteit.”

Sy “stellinge vir diskussie” was eweneens uitdagend, ten minste vir daardie tyd. Enkele daarvan is:

  • Die eis op u lewe is nie om ’n Christen te wees nie, maar ’n mens wat in vryheid en selfstandigheid verantwoordelik en menswaardig optree.
  • Met gebruikmaking van ’n teologiese denkmodel kan beweer word dat omdat God Homself gesekulariseer het en mens geword het, die mens maatstaf van alle dinge word. Dit impliseer dat sowel die staat as kerk die vryheid van die mens moet eerbiedig en geensins die mens moet onderwerp aan ’n idee nie – nóg in polities-ideologiese, nóg teologies-ideologiese sin.

Sestig jaar later klink hierdie “stellinge” dalk onopspraakwekkend. Maar om dekades later verontwaardig te wees oor die “inmenging” deur kerk by universiteit, is onhulpvaardig om die gebeure en denke te verstaan. Dit was darem ’n heel ander konteks.

Tereg wys Van Niekerk daarop dat die sleutelspelers in die uitskuif van Degenaar uit ’n bepaalde, destyds dominante teologiese kring gekom het: Kosie Gericke, wat nie net ’n senior kerkman was nie, maar ook visekanselier van die US, en Koot Vorster, wat ’n kerkleier was en besonder behoudend.

Daarby moet genoem word dat die Cotesloe-beraad van 1960 en die gebeure wat daarna afgespeel het, nog vars in kerklike kringe geleef het. Boonop het die NG Kerk in 1962 “verenig” deurdat al die sinodes in ’n algemene sinode saamgebind is. Op politieke gebied was daar in 1960 die aanslag op die eerste minister, Hendrik Verwoerd, se lewe, en republiekwording die volgende jaar.

In geheel nie ’n tyd waarin afwykende, selfs uitdagende standpunte binne die Afrikanerdom geduld sou word nie. Om egter in 2017 ’n oordeel oor die gebeure te vel sonder om al die argumente op die tafel te plaas, is nie aanvaarbaar nie. Dit is nie te laat om dit vanjaar te doen nie.

Feit is dat Degenaar sy tyd vooruit was en standpunte ingeneem het wat selfs vandag nie vry algemeen deur konvensionele Christene aanvaar sal word nie – altans nie sonder allerlei voorbehoude nie.

Die punt van hierdie artikel is egter dat Degenaar destyds voor jong voornemende leraars gestaan het en dat die NG Kerk via die kuratorium ’n verantwoordelikheid gehad het. Waar Van Niekerk veral klem lê op die wyse waarop die kerk by ’n departement “ingemeng” het en hy verbaas staan dat stemme nie daarteen opgegaan het nie, is die hart van die saak dat Degenaar se teologiese idees uitdagend was.

Van Niekerk se artikel getiteld “A department under siege” is daarom eensydig, en die saak verdien ’n meer gebalanseerde aanpak. Of dan ’n uitvoerige teologiese analise, geplaas binne ’n heel spesifieke konteks. Dit sal gaaf wees as ’n teoloog onbevange daardie taak wil aanpak – dalk Van Niekerk self?

Bronne

Degenaar, JJ. 1963. Op weg na ’n nuwe politieke lewenshouding. Kaapstad: Tafelberg.

Van Niekerk, A. 2017. A department under siege: How Philosophy at Stellenbosch was split in order to survive. Stellenbosse Teologiese Joernaal, 3(1):451–73.

Lees ook:

Elders gesien: Johan Degenaar – om die wêreld telkens nuut te ontdek

100 jaar sedert Johan Degenaar se geboorte: ’n Onderhoud uit 1989

By die dood van Johan Degenaar (1926–2015)

LitNet Akademies Weerdink: Die mens is sy liggaam – ’n semi-outobiografiese herwaardering van Johan Degenaar se filosofiese mensbeskouing

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top