
Foto van horlosie: Pixabay; foto van Elize Vos: verskaf
Die tweede semester is hier. COVID–19 en inperkingsmaatreëls het te veel onderrigtyd laat verlore gaan. Naomi Meyer het by ’n paar opvoedkundiges aangeklop en praktiese raad vir ouers gevra.
Hier onder reageer Elize Vos, vakvoorsitter in die Fakulteit Opvoedkunde in die Vakgroep Afrikaans vir Onderwys by die NWU, op die vrae.
Die tweede semester van die jaar het pas afgeskop. Nou die dag hoor ons dat Angie Motshekga gepraat het van die katastrofiese hoeveelheid skooltyd wat reeds verlore is. Ons weet ons leef in ’n totaal ongelyke samelewing en akademiese opvoeding is een manier om ’n sukses van jou lewe te kan maak. Het jy enige voorstelle van wat gedoen kan word om kinders te help om verlore skooltyd in te haal? Wat kan ouers by die huis doen om hulle kinders te help – akademies?
........
Verlore skooltyd kan wel suksesvol ingehaal word indien daar goeie kommunikasie tussen die skool en die ouerhuis bestaan.
.........
Verlore skooltyd kan wel suksesvol ingehaal word indien daar goeie kommunikasie tussen die skool en die ouerhuis bestaan. Die skole kan roosters opstel van hoe leerders tuis met hulle verskillende vakke kan voortgaan (selfgerig en/of aanlyn). Ouers kan hulle kinders help deur tuis ’n ruimte (studeerhoekie) te skep waar hulle kinders kan werk en leer; tydsbeplanning en die saamstel van ’n rooster vir studiedoeleindes is belangrik. Ouers moet sover moontlik hulle kinders ondersteun om al die geskikte leer- en leesmateriaal byderhand te hê. Die doel is om kinders te kry om selfgerig te lees en leer, maar om dit moontlik te maak moet ouers (én onderwysers) leerders bemagtig met die korrekte lees- en leerstrategieë. Ouers kan hulle kinders help om studiegroepe met sterk akademiese leerders te skep om sodoende leerders akademies te ondersteun. Voorts is dit belangrik dat ouers ook met ander ouers en onderwysers in kontak moet bly.
Dink jy daar is sekere gewoontes wat oor die afgelope paar maande gevorm is wat aangespreek moet word? Ek praat van meer tyd wat kinders op skerms spandeer het, of tye wat hulle doelloos in die strate rondgedwaal het, georganiseerde sport wat tot stilstand gekom het. Mens wil so graag die kinders veilig hou van die virus, maar ook is sport of buitemuurse aktiwiteite ’n manier om die kinders gefokus te hou, of hoe? Hoe gemaak, as ouers self hul hande vol het om hulle eie balle in die lug te hou?
........
Sekerlik het negatiewe gewoontes tydens die inperkings ontwikkel, byvoorbeeld te veel skermtyd, geen oefening nie en verkeerde eetgewoontes. Kommunikasie tussen ouers en hulle kinders is uiters belangrik: Ouers moet hulle kinders weer eens ondersteun met tydsbeplanning – tyd vir studeer, tyd vir oefening in ’n veilige ruimte (erf, binnenshuis) en gereelde etenstye.
........
Sekerlik het negatiewe gewoontes tydens die inperkings ontwikkel, byvoorbeeld te veel skermtyd, geen oefening nie en verkeerde eetgewoontes. Kommunikasie tussen ouers en hulle kinders is uiters belangrik: Ouers moet hulle kinders weer eens ondersteun met tydsbeplanning – tyd vir studeer, tyd vir oefening in ’n veilige ruimte (erf, binnenshuis) en gereelde etenstye. Natuurlik is dit ook belangrik dat ouers hulle kinders se dagprogram moet kontroleer; ouers moet saans kyk hoe hulle kinders deur hulle skoolwerk vorder, en moontlik kan ouers ná werk saam met hulle kinders oefen (stap, draf, fietsry ens). Dit bly ook ouers se verantwoordelikheid om te sorg vir gesonde maaltye en peuselhappies. Ouers sal ook, waar moontlik, hulle eie werksomstandighede en tydskedules moet aanpas om hulle kinders te akkommodeer.
Kan jy aan enigiets dink wat kinders in hierdie tyd beter kan voorberei op ’n toekoms wat heeltemal anders lyk as die verlede? Kom ons verbeel ons dis ’n ideale wêreld.
........
Onderrig en leer sal nooit weer dieselfde lyk nie.
.........
Onderrig en leer sal nooit weer dieselfde lyk nie. Onderwysers en ouers moes vinnig aanpas ten opsigte van hulle eie tegnologiese vaardighede, maar moes ook rekenaars, data en internettoegang aan kinders beskikbaar stel. Daaglikse gesprekke tussen ouers en hulle kinders oor die nuutste nuus of oor onderwerpe wat nie noodwendig in die skoolkurrikula aangeraak word nie (byvoorbeeld die sterrestelsel, mitologie, geskiedenis ens), sal kinders se weet- en leergierigheid stimuleer. Kinders het beslis geleer om meer selfstandig en selfgerig te werk om aan die eise van die 21ste eeu te voldoen. Indien ons weer terugkeer na "normaal", moet ons bly fokus op die positiewe aspekte van die inperking, byvoorbeeld die gebruik van tegnologie, selfgerigte leer en selfdissipline.
Lees ook:
COVID-19 en verlore skooltyd: Christa van Staden se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Michael le Cordeur se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Faeed Amardien se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Dewald Koen se wenke aan ouers en onderwysers
COVID-19 en verlore skooltyd: Estelle Kruger se wenke aan ouers en onderwysers
Kommentaar
My beste raad aan ouers is laat julle kinders LEES of leer LEES!
Ek het laasjaar gedurende die 1ste grendeltydperk my kleinseun, toe in GR R, leer lees. Ons pluk vandag nog die vrugte daarvan. Hy het sy Gr 1 jaar met 7's in afgeskop en het GEEN probleem met klank, spel of enige iets gehad nie.
Vandag, 'n jaar later, kan hy reeds boekies vir 9-10-jariges lees, ook in Engels. Dit het hom in elke liewe vak gehelp. Sy taalgebruik, geheue, ens is ver bokant gemiddeld.
Ons het wel ook by die sillabus gehou, maar deur net te kon LEES het hy soveel baat gevind!