Chanette Paul het pas ’n belangrike mylpaal behaal met haar nuutste boek Anoniem. Izak de Vries het dit gelees en het met haar gesels.
Daar is ’n mooi oomblik waar ’n inwoner van ’n klein dorpie vir die verteller sê sy het gejubel. Wat het sy daarmee bedoel?
In Caledon-kontreitaal beteken jubel dat jy 50 jaar oud word, of is.
Het jy gejubel met Anoniem?
Ek het beslis gejubel! In meer as een opsig. Vyftigste boek, en wie kan nou nie jubel oor soveel lesers wat deur al die jare lojaal gebly en ander wat bygekom het nie? En natuurlik ook oor uitgewers en ander betrokkenes wat saam met jou bly is en ’n ophef daarvan maak. Oulik dat jy Anoniem ’n jubelboek noem!!
Die titel is afgelei van die anonieme keurverslae wat skrywers moet help om hulle manuskripte te ontwikkel. Jy het al geweldig baie sulke verslae geskryf, is ek reg?
Ek was ’n keurder en later manuskripontwikkelaar van 2002 af tot relatief onlangs. Ongeveer 20 jaar. Veral in die begin het ek geweldig baie manuskripte gelees en verslae geskryf. Tot 78 verslae in een jaar. Later veel minder, so drie of vier per maand. Deesdae lê ek my op my eie skryfwerk toe en sal net by uitsondering en net op spesifieke aanvraag ’n manuskrip evalueer. Daar is net soveel tyd in ’n dag en ek het mettertyd besef ek moet leef ook, nie net oorleef nie.
Lula Prins, jou hoofkarakter, skryf hierdie keurverslae, maar sy skryf ook self. Jy kon ook albei dinge doen. Hoe op aarde kry ’n mens dit reg?
Jy sit sewe dae per week, tot 13 uur per dag agter jou rekenaar. Jy boet jou vakansiedae in en ignoreer die konsep van lewenskwaliteit. Jy doen dit uit nood, maar betaal later die prys daarvoor. Ek sal dit vir niemand aanbeveel nie.
Voor in die boek is ’n lys karakters. Een naam, Tallie, is afwesig. Is sy anoniem?
O gaats! Dis my fout. Tallie Lategan, die skuilnaam waaronder Lula skryf, moes daar gewees het.
Die boek handel nogal oor die uitgewersbedryf en die skryfproses. Name soos Deon Meyer, Fanie Viljoen en JK Rowling word gereeld genoem. Het jy skrywers wat vir jou betekenis gegee het toe jy hulle boeke gelees het?
Ek leer uit alle boeke wat ek lees. Ek het bewondering vir suksesvolle skrywers, maar amper nog meer vir skrywers wat aanhou probeer al is daar nie ’n dawerende handeklap nie. Die skrywers vir wie ek die meeste bewondering het, is dié wat ’n vaste werk het, ’n gesin het om na om te sien en dit steeds regkry om skryftyd in te pas. Dis ware deursettingsvermoë.
Ek is seker daarvan jy het al meer as een persoon ontmoet wat ’n tweede Deon Meyer wou wees – jou een karakter sê dit ook. Wat sou jou antwoord wees as iemand jou sou vra hoe hulle ’n tweede Meyer kan wees?
Vind jou eie stem en vergeet van die groot suksesse. Ook hulle het onder begin. Maar kyk gerus hoe hulle roem bereik het. Meesal deur deursettingsvermoë, harde werk en geloof in hulle eie vermoëns.
Jy skryf self spanning – Anoniem is ’n heerlike verhaal met ’n lyk en talle moontlike moordenaars. Tot op die einde smokkel jy met die leser se kop. Tog, jy is Chanette Paul. Jou spanningsromans is nie soortgelyk aan Deon Meyer nie. Hoe vind ’n mens jou eie skryfstem?
Nee, ek skryf heeltemal anders as Deon. ’n Ander genre, ’n ander skryfstyl. Nes ek heeltemal anders skryf as Stephen King, JK Rowling en die res van die skrywerskorps wat groot name geword het.
Elke voël sing soos hy gebek is. ’n Mens se skryfstem lê in jou hart en persoonlikheid, jou aard en lewensuitkyk. Opregtheid, ook in ’n mens se skryfwerk, is vir my van die grootste belang.
Vertrou jou dieper binnestem al skree daar ’n ander stemmetjie wat sê jy is nie goed genoeg nie.
Talle manlike skrywers het ’n liefdestema in hulle boeke. Dink byvoorbeeld maar aan Bennie Griessel en sy verhouding met die geliefde. Jy speel egter veel meer met die konvensies van die liefdesverhaal, al is jou werk spannend. Is ek reg?
Vir my is daar, wat my stories betref, nie ’n lekkerder kombinasie as moord/misdaad en liefde nie. Die een plaas druk op die ander. ’n Mens kan met twee spanningslyne werk wat op mekaar inwerk. Buitendien, ek is ’n aartsromantikus. Gelukkig nie ’n moordenaar nie, maar moorde en die motivering daaragter fassineer my.
Soos in baie, dalk die meeste, van jou romans is daar ten minste een vrou wat vlug uit ’n huwelik wat haar wil versmoor. Hoop jy om vir iemand iets te beteken met hierdie gesprek wat jy op dié manier subtiel aan die groot klok hang?
Nie net huwelike nie, verhoudings ook. Dus nie net liefdesverhoudings nie, maar ook gesins- en ander verhoudings. Oral om ’n mens kan jy disfunksionele verhoudings sien of van hoor. Ek was self in meer as een. Hoor jy selfs die woord liefdesteleurstelling, hou dit verband met minstens een persoon wat seergekry het. Wat was daardie seer? Wat het dit veroorsaak?
Ek probeer nie lesse in my stories inbou nie. Ek dink wel ’n mens se eie ervaring en ondervinding vind dikwels neerslag in jou stories. Daar is al mense, veral vroue, wat vir my gesê het dié of daardie boek het haar oë oopgemaak. Dit maak my dankbaar dat ek iemand kon raak deur middel van my stories.
Soms wens ek, ek kon net vir iemand wat ’n mens kan sien emosioneel verniel word, skree: “Run, baby, run”. Maar mens kan nie aan ander mense voorsê nie. Tensy daar direkte lewensbedreiging is en dan is dit steeds riskant. As my storie egter vir die regte persoon op die regte oomblik “run, baby, run” kan fluister, is ek dankbaar.
Iets anders wat gereeld in jou werk voorkom, is die bewuste verskille tussen die wat het, soms te veel het, en die wat sukkel om te bestaan. In Anoniem is die spel tussen ryk mense wat kursusse kan kom doen op die klein dorpie, en diegene wat nie genoeg het nie, maar bang is om hulle leefwyse te verloor as al meer yuppies op hulle dorp toesak. Hoekom is dit vir jou belangrik om daaroor te skryf?
Rykdom en armoede en alles tussenin is deel van die lewe. Nes die liefde is. Nes misdaad is. Nes emosionele mishandeling is.
Ek het arm grootgeword. Met beurse en lenings studeer. Was in ’n stadium met ’n vermoënde man getroud en het skouers geskuur met rykes. Daarna moes ek my stert los werk en risiko’s neem om kop bo water te hou. Nou is ek so net-net middelklas. Ek ken die kante en rante van die munt en ek skryf oor wat ek ken.
Wat die Heydendallers se griewe betref: Ek het hoeveel keer gesien hoe karaktervolle plekke en sogenaamde kunstenaarsdorpies ontaard het nadat mense van buite – wat juis gekweel het oor die wonderlike plek/dorpie – daardie einste plekke steriel gemaak het om by hulle behoeftes en standaarde aan te pas. Dis vir my skreiend.
Weer eens, wat ek ondervind of waarneem, beland in my stories.
Lula Prins begin met skryflesse. Soos jy, bly Lula in ’n klein dorpie in die Overberg. Is Anoniem ’n subtiele manier om mense te laat lus word vir kursusse wat jy gaan aanbied?
O genade, nee. Om skryfkursusse aan te bied is geweldig tydrowend. Ek spits my nou net toe op my skryfwerk, my Blom,* my tuin hier waar ons nou in Grootbrak is, my kat en lewenskwaliteit. Oor minder as 13 jaar word ek – as ek gelukkig is – 80. Ek moet nou inhaal wat verlore geraak het in die oorlewingsproses tot dusver.
[*Blom is haar eggenoot – IdV.]
Natuurlik kan daar nie Chanette Paul op ’n omslag staan as daar nie ’n huis opgeknap en nuut gemaak gaan word in die roman nie. Ek lees altyd agter jou huise aan. Was jy ’n argitek in ’n vorige lewe?
Dis moontlik, maar dan moes ek toe beter gevaar het in wiskunde as in hierdie lewe!
Ek is wel gek oor karaktervolle huise en geboue. En as ’n mens se lewe vol omswerwinge en onsekerhede was, is ’n holte vir jou voet belangrik. Ek wil my karakters die regte holte vir hulle onderskeie voete gee. En dit verg dikwels restourasiewerk van ’n aard.
Die feit dat ek self twee huise met die hulp van argitekte ontwerp en met behulp van bakkiebouers gebou het, is seker ook ’n faktor.
Maar eintlik is die restourasie of bou van ’n huis vir my simbolies. In droomsimboliek staan ’n huis vir die self. En in my stories bou en restoureer karakters nie net aan huise nie, maar ook aan hulleself.
Wat is jou boodskap aan iemand wat ’n tweede Chanette Paul wil word?
Moenie. Wees jouself. Skryf vanuit jou eie hart en siel en verstand, jou eie lewenservaring, jou eie lewensbeskouing. Skryf soos net jy kan.
Lees ook:
Chanette Paul oor Uit die bloute en reise deur haar skrywersloopbaan