Chanette Paul gesels oor Marilyn

  • 1

Agtergrondfoto: Comfreak | Pixabay

...
Ek praat nie net van voorligting ten opsigte van die biologiese werking van seks nie. Dis die minste. Niemand het byvoorbeeld vir my gesê dis lékker as ’n man hier of daar vat, streel of voel nie.
...

Paul, die kêrel wat skynbaar niks kan verkeerd doen nie, het een groot gebrek. Marilyn vind dit op haar verjaarsdag uit. Ek gaan nie sê wat dit is nie, maar ek weet nou wat jóú gebrek is: Jy kan nie tel nie. Boek vier van die drieluik … Vertel ons hoe dit gebeur het?

Kyk, wiskunde is nie my sterk punt nie, maar selfs ek weet dat ’n trilogie net oor drie boeke strek. Dit was ook my sterkste verweer toe lesers aan my begin karring het om Marilyn se storie ook te boekstaaf. Die voorstelle oor hoe om die probleem op te los het ingestroom, maar min was werkbaar.

Uiteindelik het ek toe besluit om die kaivrou te gebruik as uitbreiding van die vywervrou-trilogie. ’n Soort bonusboek soos ’n spookliedjie op ’n CD.

Ek wonder nogal of ons by boek vier gaan ophou. Anna loop nog los rond, jou prokureur het skielik meer tyd beskikbaar … uhm? Beulah?

Ek moet erken ek wonder self nogal oor Leah, die prokureur, en Anna, die skoolhoof, se stories. Lesers wat Marilyn reeds kafgedraf het, vra al hoe meer ook vir hulle stories.

Die vier boeke het my egter emosioneel uitgemergel. Onthou, terwyl ek skryf, beleef ek elke emosie self, en daar is heelwat betrokke. En ek beleef dit nie net een keer nie, ek gaan herhaaldelik daardeur wanneer ek redigeer en herskryf. Daar is ’n paar tonele wat my so ontstig het dat ek verby hulle begin lees het wanneer ek vir die soveelste maal deur die manuskrip gaan.

Daarom het ek besluit op ’n heel ander storie toe ek ’n nuwe manuskrip aangepak het. ’n Storie wat ek aanvanklik voor die vywervroue, en uiteindelik ná Corali wou geskryf het. Een waar die klem weer op ’n raaisel val, al sal daar seker ’n romantiese kinkel in die kabel kom.

Of ek Anna en Leah se stories ooit gaan te boek stel, weet ek nog nie. Dalk. Maar beslis nie nou nie. Ek het ’n blaaskans nodig.

Beulah s’n durf ek egter nie skryf nie. Haar verwysingsraamwerk is te anders as myne. Ek sal haar ’n onreg aandoen as ek haar beleweniswêreld sou probeer weergee.

Die boek is oor ’n kaivrou. Die ander drie was oor vywervroue. Wil jy die kombers so effens lig oor die verskil?

In Beulah se woorde: “Die soort [kaaiman] waarvan ons praat, is halfvis, halfvrou met lang swart hare. Hulle se oë gloei soos brandende kole vuur en hulle se lywe het so ’n silwerwit skynsel. Skree glo te arig. Trek kinders en mans die water in en verdrink hulle.” En later: “Daardie kaaimans, hulle is die bose hekse van die varswaters.”

Marilyn bevraagteken egter in dieselfde toneel die woord “kaaiman” en reken dit behoort “kaaivroue” te wees, maar dit klink volgens haar te veel na vroue van die nag wat op ’n kaai vir matrose wag.

Sy besluit dan dit moet “kaivrou” wees. Haar redenasie en regverdiging daarvoor word in dieselfde toneel uiteengesit.

Kortliks kom dit daarop neer dat die vywervroue van die see hulle streke het, maar nie inherent boos is nie. Daarteenoor is die kaivrou van nature ’n bose watervrou wat in varswater skuilhou.

...
Dis dikwels eers as ek by die einde van die verhaal kom dat ek sien hoe dinge inmekaar steek. Dis wanneer die herskrywing begin sodat ek alles inmekaar kan laat vloei en aan mekaar kan knoop.
...

Ek het nou die dag vir my ma probeer verduidelik hoekom ek jou boeke geniet. Eers wou ek sê jy is soos Lucinda Riley in Afrikaans. Wat dalk naby die waarheid kom, maar ook nie. Jy is Chanette. En hoewel jy nou die een liefdesprys en kortlys ná die ander inryg, skryf jy ook eintlik spanning. Hoe beskryf jy jou werk?

Eerstens, dis heerlik om te hoor dat jy my boeke (en Lucinda s’n) geniet. Dit verras my telkens wanneer ek hoor mans geniet ook boeke soos die vywervroue!

Ek het die grootste respek vir Lucinda Riley en dis vir my ’n groot kompliment om in een asem met haar genoem te word. Ons skryfstyle en soort stories verskil egter baie. Wat ek glo ons wel gemeen het, is dat dieselfde soort leser ons boeke geniet. Ons skryf vir dieselfde gehoor.

Haar dood is ’n groot verlies vir haar lesers – en ek is self ’n ywerige leser van haar boeke.

Hoe ek my eie werk beskryf? In my boeke vermeng ek genres – hoofsaaklik romantiese fiksie vermeng met spanningsfiksie. Partykeer val die klem eerder op spanning of moord- en ander raaisels soos in die Jojo Richter-reeks en minder op die romantiese element. In boeke soos die Maanschijnbaai-tweeluik en nou die vywervrou-trilogie en Marilyn, val die klem nou weer op verhoudings oor ’n wye spektrum heen waarvan romantiese verhoudings net een aspek is, maar ’n baie belangrike een. Daar is egter ook ’n skeutjie raaisel-/spanningselement in elkeen – ek kon die versoeking nie weerstaan nie.

Jy het jare saam met Cecilia Britz gewerk. Jy ken romanse soos enige ander. En jy speel daardie spel ongelooflik lekker. Dis vervlakste mense wat so hunker na mekaar … ek wil net hê hulle moet mekaar bespring en klaarkry. Maar net soos wat jy my frustreer, dan gooi jy die spanningselement in en draai die hele plot op sy kop. Dis nogal iets. Hoe die heng beplan ’n mens dit als?

Cecilia se rol in my skryfwerk en haar bydrae tot ontspanningsfiksie – romanties en andersins – asook tot Afrikaans, sal ek nooit kan omskryf nie. Dit was enorm.

Dis by haar dat ek onder meer geleer het dat dit juis die uitstel van die vervulling van die hoofkarakters se begeerte na mekaar is wat ’n sterk spanningslyn oftewel “narrative pull” in romantiese fiksie bewerkstellig.

Hoe beplan ’n mens alles? Jong, dis die ellende van my manier van skryf. Ek beplan weinig. Ek laat die karakters toe om my te lei namate ek hulle beter leer ken. My beplanning strek selde veel verder as ’n paar hoofstukke op ’n slag. En dan werk wat ek beplan het, meestal in elk geval nie so uit nie.

Dis dikwels eers as ek by die einde van die verhaal kom dat ek sien hoe dinge inmekaar steek. Dis wanneer die herskrywing begin sodat ek alles inmekaar kan laat vloei en aan mekaar kan knoop.

Dis nie ’n maklike manier van skryf nie, maar dit sal my vreeslik verveel as ek vooraf sou weet presies hoe die storie gaan verloop.

Van plot gepraat … Covid is nie bloot ’n vae teenwoordigheid in die boek nie. Dit is die deus ex machina. Ek moes glimlag elke keer as jy slim Covid en maskers (en soene sonder masker) gebruik. Hoe het dit alles bymekaar gekom?

Dis een van baie voorbeelde van waar die storie net sy loop sonder enige beplanning geneem het. Om by die vywervroue aan te sluit, moes die gebeure in Marilyn se verhaalhede in 2020 afspeel. En daar slaat Covid ons toe. ’n Mens kan nie ’n storie met enige werklikheidswaarde in daardie jaar laat afspeel sonder dat die pandemie te berde gebring word nie.

In ’n stadium het ek besef ek sal binnekort vir Marilyn en Paul by mekaar moet laat uitkom sodat daar interaksie tussen hulle kan wees. Maar dis grendeltyd – ook in die boek. Ek laat haar toe na hom toe ry om ’n geskil te probeer oplos, en toe ek my weer kom kry, toe ... werk dinge uit soos dit uitgewerk het. Iets wat ek nie voorsien het nie. En daar sit ek heel verras met die wending en wonder wat nou? Van daar af was dit “flying by the seat of my pants”.

...
Ek het ook in ’n verhouding beland waar beweer is as ons nie seks het nie, is ek nie lief vir hom nie en al die ander snert wat ook deel was van Marilyn se ervaring.
...

Dis geen geheim nie dat jou boeke hulle baie sterk uitspreek teen manlike dominasie. En dis goed so. In hierdie boek gaan jy verder en spreek ook baie ernstig die gebrek aan seksopvoeding aan. Dit is besig om ’n tema te raak. Marita van der Vyver skryf daaroor in haar laaaaaang brief aan haar dogter en Erika Bornman spreek haar baie sterk daaroor uit in haar Mission of malice. Uiteindelik sê julle drie se boeke gebrekkige seksopvoeding pas slegs mans, nie meisies nie. Wil jy breedweg hieroor uitbrei sonder om die plot weg te gee?

Ek spreek my inderdaad sterk uit teen patriargale aspekte soos mans wat reken hulle mag domineer net omdat hulle mans is. Maar dis nie net manlike dominansie wat vir my ’n steen des aanstoots is nie. Ek spreek my ook sterk uit oor vroue en selfs kinders wat manipulerend optree. Eintlik teen enige vorm van emosionele misbruik.

Ek kom uit dieselfde era as Marilyn. Ek was self die slagoffer van gebrekkige seksvoorligting. Ek vermoed egter seuns/mans weet baie vroeër baie meer van seks af as meisies/vroue. Ek het ook in ’n verhouding beland waar beweer is as ons nie seks het nie, is ek nie lief vir hom nie en al die ander snert wat ook deel was van Marilyn se ervaring. Ek het gelukkig die verhouding betyds verbreek en ­– al was daar redelik skrikwekkende nagevolge – uiteindelik finaal daaruit ontsnap.

Gebrekkige seksinligting, blote waarskuwings dat seks sonde is en dies meer, veroorsaak meer ellende as wat mens in ’n boek kan beskryf. Ek praat nie net van voorligting ten opsigte van die biologiese werking van seks nie. Dis die minste. Niemand het byvoorbeeld vir my gesê dis lékker as ’n man hier of daar vat, streel of voel nie. Niemand het my gewaarsku dat ’n man nie noodwendig luister as jy nee sê nie. Of dat hulle sal lieg om hulle sin te kry. Ek het nie eens geweet hoe belangrik seks vir mans is nie, en ook nie hoekom dit so is nie.

Dit het my en soveel ander meisies weerloos gelaat. Daar was destyds net soveel mites oor die seksuele. Onder meer dat ’n meisie wat nee sê, eintlik ja bedoel. Liewe – amper swets ek – deug!

Aan die ander kant is dit nie net gebrekkige seksinligting wat die probleem is nie. Seuns word dikwels nie geleer hoe om ’n meisie/vrou en haar wense te respekteer nie of waarom hulle wense respek verdien nie.

Jou boek is geweldig krities oor die dogmatiese aspekte van Christenskap, veral as dit Ou Testamenties en liefdeloos deur mans uitgebuit word. Maar nie alle dominees word oor dieselfde kam geskeer in jou boek nie. Veral hier teen die einde. Is ek reg?

Ek het ’n afsku aan enigiets wat onregverdig of ongeregverdig is. Ek het veral ’n enorme afgryse aan die misbruik van of neersien op mense in enige opsig. Dit druis teen my grein in wanneer vroue (of mans of kinders) soos skaakstukke gebruik word of veroordeel word op grond van redes waaraan hulle min of geen skuld het nie.

In Marilyn gebruik ek Lot se storie as voorbeeld omdat dit my so geskok het toe ek dit die eerste keer gelees het. Die Ou Testament wemel van hierdie soort manipulasie, vooroordeel en misbruik van mag ten opsigte van vroue. Ek sien dit as deel van daardie tyd, maar dit bly vir my onaanvaarbaar.

In die Nuwe Testament, glo ek, probeer Christus regstelling bring. Wat nou weer deur veral Paulus bedinges is met sy uitlatings oor vroue, maar nietemin.

Ek het niks teen dominees as individue nie. My neef is een en ek het selfs ’n verhouding met ’n tokkelok gehad. (Behoede die arme gemeente waar ek pastoriemoeder kon gewees het!)

Maar die soort dominee/teoloog wat Marilyn se pa was, is ook alte bekend aan my. Soos met enige groep is daar die wonderlikes en die veragtelikes en alles tussenin.

...
En is die stryd tussen goed en kwaad nie maar waaroor feitlik elke storie in die hele wêreld gaan nie?
...

Jy betrek, soos dikwels tevore, vele ander skrywers se werk in jou roman. Dibi Breytenbach, Deon Meyer, Martin Steyn … Jack Reacher word ’n meeloper.

En dan leer ons Raka en Koki ken. Skielik besef die leser hierdie jin en jang in jou boek is nie terloops nie. Die mannehaterprokureur stem in om teen ’n vrou op te tree. Die eksdominee is liefdevol en tegemoetkomend, anders as die veroordelendes. Die wraakgodinne laat kaivroue soos goudvisse lyk. Maar daar is ook mans wat net vat wat hulle wil. Alles in een pot. Trouble, trouble, toil en ’n lekker mengsel? Jy haal nie verniet vir Wikkelspies ook gereeld aan nie. Of hoe?

Paul dink êrens in sy enigheid: Die mens is van sy genesis af gewikkel in die stryd tussen goed en kwaad. Die Tien Gebooie behoort al te wees wat nodig is om almal op koers te hou, maar moenie glo nie.

En is die stryd tussen goed en kwaad nie maar waaroor feitlik elke storie in die hele wêreld gaan nie?

My stories ook.

O, en dan Edith Piaf. “Je ne regrette rien”. En dit in ’n boek wat so vol selfverwyt is. Jinne.

Wanneer ’n mens die 60-mylpaal verbysteek, kyk jy meer dikwels terug op jou lewe as voorheen. Daar is dinge waaroor jy berou het, al kan jy jou optrede dalk regverdig. En daar is dinge waaroor jy berou behoort te hê, maar nie het nie.

Marilyn moet leer om haarself te vergewe, leer aanvaar dat daar dowwe kolle in haar verlede lê, dat sy onbesonne goed aangevang het, voor sy heel kan word. Edith Piaf help haar dit insien.

Ek weet jy’s lief vir navorsing. Maar jou wynkennis is nogal indrukwekkend. Het jy ’n kursus gedoen in grendeltyd?

O genade, nee. Ek het wel ’n basiese kennis van wyn opgedoen deur die jare, en Blom, my verloofde, het ’n hele spul kursusse voltooi. Ek het al baie by hom geleer en vra hom dikwels daaroor uit vir my stories, maar die dele in Marilyn oor wyn is merendeels te danke aan my beste vriendin, juffrou Google.

Laastens. Paul is ’n man so na my hart. Hy maak elke maand ’n bydrae aan die Durbanville Kinderhuis. Dit word erg waardeer. Hulle kry baie swaar in grendeltyd. Hierdie roman wentel nogal om talle kinders se regte, voorregte en moeilikhede, nie waar nie?

Paul het ’n goeie hart, nè? Ek wens ek kon bekostig om dieselfde te doen. Kindertehuise lê my na aan die hart. There but for the grace of God, go I.

Kinders vra nie om gebore te word nie. Hoe durf ouers, familie en die staat hulle faal!

Eintlik ondersoek al vier die boeke kindskap uit verskillende hoeke. In Lira is daar die moeilike Celeste; in Mirre Boeta se kinders; in Corali Thomas se kinders en sy verhouding met Boeta se jongste.

Ek het egter as enigste kind grootgeword en het ook nooit self kinders gehad nie. Gevolglik weet ek bitter min van kinders af behalwe wat ek op ’n afstand waarneem, en dan natuurlik my herinneringe aan my eie redelik traumatiese jeug.

Inderwaarheid gaan die boeke eerder oor moederskap en dat moederskap nie net een patroon hoef te volg nie. Lira glo byvoorbeeld sy kan nie ’n goeie ma wees nie. Mirre is van nature moederlik, maar het aanvanklik nie self kinders nie. Corali wou om meer as een rede nie kinders hê nie, maar Thomas wel.

Marilyn beskou haarself as ’n swak ma, maar gaandeweg kom ’n mens agter wat sy alles vir haar kind opgeoffer het.

Miskien is dit omdat my biologiese ma my op vier maande oue ouderdom aan my grootmaakouers afgeteken het dat moederskap in sy vele gedaantes my fassineer. En wat my fassineer, beland maar altyd êrens in ’n boek of boeke.

Lees ook:

’n Baie lang brief aan my dogter: ’n oudio-onderhoud met Marita van der Vyver

Chanette Paul (1956–)

Mission of malice by Erika Bornman: A reader impression

ATKV-Woordveertjiewenner Chanette Paul: 'n onderhoud

Die kaalpootklong en die Comrades se 100ste verjaardag

  • 1

Kommentaar

  • Chris+Marnewick+SC

    Wonderlike, insiggewende gesprek. Ek kyk onlangs hier by Saarkiestories se winkel in Auckland na 'n rak gepak met Chanette se boeke en wonder of ek moet koop en lees. Nou weet ek. Sodra ons uit ons nuutste Grendel 4 uitkom en ek oor die brug mag ry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top