ATKV-Woordveertjiewenner Chanette Paul: 'n onderhoud

  • 0

Chanette Paul by die ATKV-Woordveertjies van 2017 (Foto: Izak de Vries)

Chanette Paul is onlangs bekroon met ’n ATKV-Woordveertjie in die kategorie: Liefdesromans vir haar roman Lira. Die boek krap diep in die psige. Izak de Vries het met haar gesels oor lekkerlees en die manier waarop sy vrae aanspreek wat deur akademici op Litnet Akademies ondersoek word.

Chanette, ten eerste: Baie geluk! Dis nou al nommer twee. Dié jaar se aankondigings was baie anders as in die verlede, maar was dit lekker om so oor die internet die nuus te kry?

Dis eintlik my vierde Veertjie. Ewebeeld (2015), Offerande (2017), Uit die bloute (2019) en Lira (2020).

Dis die soort wonderlike nuus wat mens maar op enige manier kan kry, maar ek moet sê ek het nog altyd die funksies waartydens die pryse toegeken word, baie geniet. Dis waar mens so lekker met medeskrywers en ander boekemense kan gesels. Skryf is ’n eensame werk en dis die soort geleentheid wat mens weer asem gee – of jy nou wen of net ’n finalis is.

Eish. Ek kan duidelik nie tel nie! Lira gaan oor ’n vrou wat alles kan opsikleer waaraan sy vat – dis nou alles behalwe haar eie liefdeslewe. Die man by wie sy bly is liewer vir sy dogter as vir haar. Dan trek sy sak en pak weg en begin ’n nuwe lewe op Vywerbaai. Hier ontdek sy ’n mite van die man wat sy kinders sal kos gee met die vleis van die vrou wat hy liefhet ... Jy en mites; dis nie die eerste keer dat jy na die oersprokies gryp en hulle opsikleer in jou boeke nie. Waarom?

Legendes, mites, sprokies en dergelike boei my nog van altyd af. Dis die weerkaatsing van die mensdom se hebbelikhede deur die eeue. Dis waarhede vasgevang in storievorm en simboliek. Rollo May stel dit so: “A myth is a way of making sense in a senseless world. Myths are narrative patterns that give significance to our existence.” En Michael Shermer sê: “Myths are stories that express meaning, morality or motivation. Whether they are true or not, is irrelevant.”

In Lira – soos ook vroeër in Labirint, Springgety en ’n paar ander – suig ek legendes/mites uit my duim om die storie van die hoofkarakters te ondersteun. Dis dus nie bestaande opgetekende mites/legendes nie. Daar is egter ’n magdom soortgelyke mites/legendes en dit is die oerbron vir my eie, opgemaakte legendes.

In Lira spesifiek, wou ek die Disney-weergawe van meerminne ondermyn, vandaar die nogal wrede mite van die Vywervrou van Vywerbaai. Die simboliek daaragter het te doen met onder meer disrespek teenoor vroue wat uitstyg bo middelmatigheid en wat weier om misbruik te word, maar ook oor ouerskap – wat ’n ouer vir sy kind sal doen. En dis twee sterk temas dwarsdeur die Vywervrou-trilogie.

Dis ’n liefdesroman. Sy moet moes toe lief raak op ’n man, Fynn, wat reeds ’n kind het?

Elke verhouding het struikelblokke. In fiksie dikwels meer as in die werklikheid. In die liefdesroman gaan dit juis eerder oor struikelblokke en die oplos en uitstryk daarvan as enigiets anders. Ja, Lira moes juis hierdie struikelblok – haar oortuiging dat sy nie weet hoe om ’n ma te wees nie, en dit as ’n ernstige tekortkoming te beskou – oorkom om te kan groei as mens en vrou.

Celeste, Fynn se meisiekind, is ’n ampertiener. Van haar sterwende ma het sy ’n enorme hoop vooroordeel geërf; onder andere dat sommige mense verhewe is bo ander. Dié klasverskil bring jy ook terug in Corali waar jy Celeste se vooroordeel as spieël gebruik vir die Britse klasstelsel. Het dit iets te doen met mense wat hulself moet opsikleer teen die stelsel in?

Dié element spreek verhalenderwys kritiek uit ten opsigte van oordeel en vooroordeel. Dit vra vir ’n opregte kyk na die mens oorkant jou. Dit vra medemenslikheid en begrip vir ander wie se situasie anders is as joune. Dit vra vir verdraagsaamheid. Dit vra dat ’n mens jou eers in ’n ander se posisie moet indink voor jy oordeel of kritiek uitspreek. Dat jy ruimte gee vir verskille in geaardheid.

Die mooi plek wat Beaulah Anker het in dié roman, en die ander twee wat hierop volg, laat ’n mens warm kry. Sy is werkersklas en nie wit nie en tog ’n integrale deel van die Vywervroue se bestaan, én hulle storie. Sy’s uitgesorteer in haarself, haar klas ten spyt. Is ek reg?

Sy was nie aanvanklik uitgesorteer nie. Sy was ’n slagoffer van haar omstandighede. Nes Lira, Mirre en Corali vind Beulah egter haarself, haar plek in die samelewing en haar volle menswaardigheid deur die loop van die boeke. Al is dit met ’n ander uiteinde. Sy kan naamlik nie ’n man kry wat haar aanvul nie, want sy het nie ’n man nodig om volwaardig mens te wees nie. En ja, sy bevind haar in ’n ander sosiale bestel, maar haar menswaardigheid geld nie net daar nie. Dit geld oral.

LitNet het onlangs ’n akademiese artikel deur Delano van der Linde geplaas wat handel oor die wetlike definisie van verkragting wat sodanig aangepas is dat ’n man skuldig bevind kan word aan die verkragting van sy eie vrou. Ek beskou dit nie as ’n spoiler nie om te sê dat Mirre, wat ons in hierdie roman leer ken, deur haar eggenoot verkrag word in die volgende roman. In Lira is die oploop sigbaar; die emosionele vernietiging is reeds daar. En tog is Lira, soos Mirre en Corali, liefdesromans wat pryse wen (en dalk nog gaan wen). Jy bewys oor en oor dat jou stories oor die liefde nie hoef weg te skram van die werklikheid nie. Hoekom?

Eintlik is die term “liefdesroman” misleidend. Anders as die romanse gaan die liefdesroman wel om met die werklikheid en die werklikheid is nie mooi nie. Romantiese verbintenisse is dikwels juis die broeiplek van geweld. Vroue word verkrag, ook deur hulle mans. Mense word vermoor deur lewensmaats.

Ontspanningsfiksie in die breë, insluitende romantiese fiksie, kan dieselfde temas aanpak as fiksie in enige ander gedaante. Dis net meer toeganklik en word anders aangebied as byvoorbeeld in hoogs literêre werke.

Die liefdesroman, of dalk liefs verhoudingsroman, gaan in elk geval nie primêr oor verlief raak en lief word nie. Dit gaan oor die moeilike reis van ’n vrou na volwaardigheid. Eers as sy haar volle potensiaal ontdek, die volle reikwydte van haar menswees verstaan, is sy gereed om ’n man wat haar waardig is te herken en hom lief te kry.

En dit gebeur óók in die werklikheid.

Onder aan jou ATKV-skrywersalbum hier op LitNet het Elize Cerfonteyn geskryf: “Chanette, ek het altyd my neus opgetrek vir romanses, maar ek het so pas jou drie Vywervroue VERSLIND. So opreg, so menslik, so ongefokkenlooflik lekker en sonder literêre pretensie. Skryf nog, asseblief.” So, jy wen pryse en jy kry lekker terugvoer van gewone lesers. Hoe belangrik is albei vir jou?

Kyk, pryse is ongelooflik lekker en ek wens daar was meer vir ontspanningsfiksie, maar die heel beste prys is lesers wat werklik jou boeke geniet.

Ek het nie Elize se opmerking voorheen raak gelees nie, maar dis die soort ding wat mens moed gee om aan te hou en uit te hou wanneer dinge moeilik raak. Dis die soort lof wat sin gee aan ’n mens se harde werk. Dis wat jou pantser teen kritiek uit ... sê maar intellektuele ... oorde.

Ek verstaan nie mooi wat bedoel word met ’n “gewone” leser nie, maar my lesers – gewoon of ongewoon – is wonderlik. Hulle dra my soos geen prys, toekenning of positiewe resensie my kan dra nie.

Dis heerlik om te weet jy kry dit reg om mense na ’n lekker plek mee te voer, hulle te vermaak, hulle soms te laat huil én, veral, te laat lag; hulle emosies te roer. Dis vir hulle (en myself) dat ek skryf wat ek skryf, vir niemand anders nie.

Lees ook:

Vonnisbespreking: Die Konstitusionele Hof verskaf sekerheid oor die toepassing van die gemeenskaplikeoogmerk-leerstuk op verkragtingsake

Chanette Paul (1956–)

Resensie: Mirre deur Chanette Paul

Chanette Paul oor Uit die bloute en reise deur haar skrywersloopbaan

Uit die bloute deur Chanette Paul: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top