Chanette Paul (1956–)

  • 1

Gebore en getoë

Chanette Paul is – volgens haar geboortesertifikaat – op 20 Oktober 1956 iewers in Johannesburg gebore. Toe sy vier maande oud was, het haar regte ouers haar by die Johannesburgse weeshuis gaan haal en haar na Stilfontein geneem, waar haar pa ’n elektrisiën op die myn was. Sy ken nie haar biologiese ouers nie, maar sy weet dat sy met geboorte as Marion Cathleen Hughes geregistreer is en dat haar aanneming waarskynlik daaraan te wyte was dat haar biologiese pa ongeveer drie weke na haar geboorte oorlede is. Op Stilfontein is sy Chanette gedoop – aanvanklik sou sy Jeanette genoem gewees het, maar uiteindelik is sy as Chanette Meyer geregistreer. Die gesin trek baie rond en voor sy skool toe is, bly sy reeds in Cullinan, Sunnyside, Villieria, Rietfontein en Menlopark. Haar grootouers van moederskant immigreer kort na die Tweede Wêreldoorlog uit Nederland na Suid-Afrika en bring kosbare erfstukke saam wat later, na haar ouma se dood, in Chanette se huis gehuisves word.

Sy gaan vir die eerste keer skool toe in Silverton en voor sy klaarmaak met haar laerskooldae, woon sy skole in Meyerspark, Generaal Hendrik Schoeman op Schoemansville en Laerskool Louis Leipoldt in Lyttelton by. In standerd vyf word sy verkies tot onderhoofleier en sy wou nie weer trek nie, maar sy moes maar die plaasskool in die omgewing van Bon Accord-dam bywoon. Halfpad deur haar standerd ses-jaar verhuis hulle na Durban en daarna na die Suidkus, waar sy aan die Hoërskool Kuswag skoolgaan tot vroeg in standerd agt, toe hulle na Newcastle trek. Haar standerd nege- en matriekjaar voltooi sy aan die Hoërskool Ermelo.

Chanette se pa het geskilder en haar ma het haar vandat sy klein was met stories grootgemaak, en vandat Chanette kon skryf, timmer sy stories aanmekaar. Sy het al in standerd twee ’n A4-boek met ’n spiraalrug gehad waarin sy stories begin neerskryf het. In standerd agt word een van haar kinderverhale, "Tant Mollie en die stoute feetjie", oor Siembamba voorgelees deur Kosie Venter, wat hulle buurman in Meyerspark was. Sy ontvang die  vyf rand daarvoor. In matriek skryf sy haar eerste volwaardige kortverhaal, maar dit bly in die laai lê. In ’n onderhoud met François Bloemhof in Vrouekeur (9 April 2004) vertel Chanette dat sy baie bevoorreg is om ouers te hê wat begrip het daarvoor dat sy so “op die periferie van die werklikheid” woon en self "miskien so ’n bietjie dromerig” is.

Karin Brynard wou op Crime Beat weet wanneer Chanette begin lees het: “Vandat ek kan onthou het my ma my met stories gevoer, of dit nou vertellings of voorlesing was. Ek het self begin lees vandat ek kón. My absolute gunsteling as kind was die Uile-reeks van Cor Dirks. Dis seker waar my liefde vir spanning sy vroegste grondslag gekry het. Daarna is ek deur ’n Ena Murray-fase – vandaar sekerlik die liefde. ’n Boek wat ek voos gelees het, een wat my Hollandse ouma vir my gegee het en een van die min boeke wat ek besit het, was School-Idyllen van Top Naeff. Elke keer snot en trane gehuil. Maar ek het nog altyd feitlik alles gelees waarop ek ook al my hande kon lê. Die groot deurbraak het gekom toe ek begin Engels lees het – ongelukkig relatief laat omdat my ma nie Engels magtig was nie en ons gevolglik net Afrikaanse en Nederlandse boeke by die biblioteek uitgeneem het. (Ek kon Nederlands en Vlaams destyds baie vlotter lees as Engels). Maar toe ontdek ek wat ’n Book Exchange is en daarmee saam so met verdrag vir Wilbur Smith, Arthur Hailey, Harold Robbins, Jeffrey Archer, Sidney Sheldon, Leon Uris, Robert Ruark, Irving Wallace, Stephen King, Shirley Conrad, Jean Auel ... ag, al die bestsellers en page turners van destyds. Op universiteit het ek darem ook literêre werke amptelik ontdek alhoewel ek reeds vroeër daarmee kennis gemaak het, maar ek het altyd my voorliefde vir ontspanningsfiksie behou ondanks ’n meestergraad in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde!”

Verdere studie en werk

Chanette is na die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, waar sy in 1977 haar BA-graad verwerf met Afrikaans-Nederlands en Psigologie as hoofvakke. In 1978 vertrek sy na Bloemfontein, waar sy haar Hoër Onderwysdiploma met lof slaag. In 1979 hou sy vir twee maande skool in Groblersdal en vir die res van die jaar gee sy Afrikaans Tweede Taal vir immigrante aan Edenvale High School.

Chanette trou in 1980 met Jack Otto Paul. Hy doen kontrakwerk en hulle gaan bly langs die Limpoporivier in ’n karavaan, 80 km vanaf die naaste telefoon. Om haar tyd te verwyl, skryf sy haar in by Unisa vir Kriminologie II, Volkekunde I en Argeologie I, nie vir graaddoeleindes nie. Sy slaag laasgenoemde twee met onderskeiding. In 1982 behaal sy haar BA Honneursgraad met onderskeiding, wat haar moed gee om vir haar meestersgraad in te skryf, maar weens ’n sameloop van omstandighede moes sy opskop.

Gedurende 1985 keer hulle terug na die Rand en is maak sy gebruik van die kans om weer te studeer. Sy skryf in 1987 by die Randse Afrikaanse Universiteit in vir haar MA-graad, wat sy in Junie 1988 met lof slaag. Sy ontvang vir haar skripsie, Funksies van die fisiese ruimte in Toorberg, onder leiding van prof Johann Johl, die Simon Weinstein-prys.

Intussen raak Chanette betrokke by die klerebedryf en word sy ’n vennoot in ’n klerefabriek en behartig later haar eie fabriek en boetiek.

In haar tweede jaar op universiteit diep sy haar lank-terug se verhaal op en begin om dit ingrypend te verander. Sy stuur dit aan Sarie, wat haar laat weet dat hulle waardering het vir die verhaal, maar dit nie kan plaas nie, aangesien hulle ’n soortgelyke een deur Elsabe Steenberg kort tevore geplaas het. Chanette stuur dieselfde verhaal aan Bennie Fritz van Die Huisgenoot, wat dit aanvaar met sekere voorwaardes. In 1976 word die verhaal gepubliseer en ontvang Chanette die “prinslike som” van R86 daarvoor. Bennie Fritz ontvang die een verhaal na die ander van Chanette, maar almal word teruggestuur, meestal met opbouende kritiek en aanmoediging. Vroeg in die negentigs probeer sy weer, maar weer wag teleurstelling vir haar. Sy besluit dus dat skryf nie vir haar bedoel was nie en hoewel sy nou en dan ’n verhaal aanpak, word dit nooit voltooi nie.

In Oktober 1994 woon sy die jaarlikse Nasionale Leeskringseminaar in Welkom in die Vrystaat by en gesels met Esme Mittner, verhaleredakteur van Sarie, wat haar aanmoedig om aan te hou probeer.

In Desember 1994 trek Chanette en haar man na Hartebeespoortdam. Sy is 38, uit die klerebedryf en moet besluit wat sy met die res van haar lewe wil doen. Sy besluit dat sy haarself ’n jaar gaan gun om voltyds te skryf. Sy koop die goedkoopste rekenaar op die mark en begin skryf. Haar eerste poging is ’n novelle van ongeveer 9 500 woorde, wat Esme terugstuur met die versoek dat dit ingekort word tot 3 500. Chanette begin met oorgawe skryf aan ’n Mills & Boon-boek in Engels, maar ook dit word teruggestuur. Teleurgesteld begin sy skryf aan ’n liefdesverhaal in Afrikaans. Sy ontmoet vir Cecilia Britz van Perskor en gee haar die eerste paar hoofstukke van haar verhaal. Cecilia stel belang en in die eerste week van Desember 1995 lewer Chanette die voltooide manuskrip van Maalstroom van ekstase by Perskor se kantore af. Sy begin ook werk aan die redigering van die verhaal wat sy aan Esme Mittner gestuur het, en ’n paar dae uitmekaar, net voor die Kersseisoen, hoor Chanette dat albei aanvaar is – en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Ongeveer 40 romans het al uit haar pen verskyn en die einde is nog nie in sig nie. Vir haar eerste roman ontvang sy in 1996 die Perskor-prys vir die beste romantiese fiksie, en Wip van die droomvanger is in 1999 die naaswenner van die ATKV-Prosaprys.

Chanette en Jack woon op ’n stadium by die Hartebeespoortdam en as hy kort-kort weg is van die huis as gevolg van sy werk, bly sy, die twee katte en honde en ’n hand vol visse agter om mekaar geselskap te hou. Haar huis en sy inhoud is ’n duidelike weerspieëling van Chanette se kreatiewe ingesteldheid.

In 1998 verskyn haar roman Vlerkaf, wat handel oor drie vroue wat elkeen met hulle persoonlike probleme worstel. Die esoteriese figureer sterk in die verhaal en daar is ook verwysings na die mitologie en spesifiek na koning Arthur. Chanette vertel vir Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 28 April 1998) dat sy baie navorsing gedoen het oor die esoteriese en die Arthuriaanse. Sy is nie self ’n aanhanger van “enige esoteriese denkrigting nie, maar het ’n groot belangstelling daarin”.

In ’n onderhoud in Sarie van November 2004 beken Chanette dat sy die liefdesverhaal-genre gekies het omdat sy as enigste, eensame kind skoolvakansies omgelees het aan liefdesverhale. “Toe ek begin skryf het, was my vertroue in my skryfvermoëns maar eina, maar ek het vir ’n liefdesverhaal kans gesien en gehoop dit sou vir my ’n soort skryfleerskool wees.” Sy verpes die term hygroman: “Dit gaan oor romantiek en begeerte tussen karakters wat hulle in ’n ontwikkelende liefdesverhouding bevind, asook die emosionele belewing hiervan by die heldin – nie grafiese beskrywings van die seksdaad nie. Ek is in murg en been ’n romantikus.”

In 2003, terwyl Chanette op De Rust naby Oudtshoorn woon, voltooi sy haar MA in Skeppende Skryfwerk (cum laude) onder leiding van prof Etienne van Heerden aan die Universiteit van Kaapstad nadat sy ’n beurs van Human & Rousseau Uitgewers ontvang het. Die roman wat hieruit voortgespruit het, Leila word lig, haal die kortlys van die ATKV-Prosaprys in 2006. Dit is die eerste roman wat sy publiseer onder die naam Chanette Paul om dit te onderskei van haar ligter fiksie, wat sy as Chanette Paul-Hughes skryf.

In 2003 trek Chanette en haar kat Vasti na Stanford, naby Hermanus, aan die oewer van die Kleinrivier, en sy raak liries oor die uitsig vanuit haar studeerkamer op die rivier en die Kleinerivierberge. “Daar is vir my iets magies hier. Ek hoor feëvlerke in die melkhoutboom en soms dink ek ek sien die wenkbroue van ’n waternimf wat oor die meniskus van die rivier na my loer. Ek verneem dit kan dalk vlermuise en otters wees wat my verbeelding op loop het, maar ek verkies om anders te glo.” (aan Sarie, November 2004) Chanette “speel” eienaar-bouer van haar huis in Stanford en vertel van haar al haar wedervaringe in April 2005 se Rooi Rose se rubriek "Agterstoep". Sy vertel dat die man in haar lewe, Ernie Blommaert, eindelose geduld het met haar wanneer “ek in storie-mode ingaan en nie heeltemal in die gees teenwoordig is waar die vlees haar bevind nie.”

Chanette se huis is vir Stephanie Nieuwoudt (Rapport, 27 Oktober 2010) soos iets uit ’n sprokie. “Aan weerskante van die voordeur is sementmeerminne – een met vlerke en een sonder vlerke – wat Koos Malgas van Nieu-Bethesda kort voor sy dood vir haar gemaak het, ’n klimop is stadig besig om die mure toe te groei en oral is blomme en ’n paadjie wat jou laat dink Gouelokkies gaan netnou hier afgehuppel kom om iets te ete te soek. Aan die agterkant strek die grasperk tot by die rivier, waar Blom se rivierboot, die River Rat, vasgemeer is. Hiermee neem hy toeriste op riviertogte.

“Die onderste verdieping van die huis is gevul met ’n eklektiese mengsel van goed. Daar is uitstalgoed op oop oppervlakke, helderkleurige plakkate van wulpse vroue, skilderye van feeagtige vroue, droomvangers, windklokkies. Saam met die baie hout – van die venster- en deurkosyne tot die vloer en deure – verleen dit warmte aan die vertrek wat vol herinneringsgoed is. Soos die meubels uit ’n ou Duitse schloss wat ’n Joodse vlugteling ná die Tweede Wêreldoorlog by haar Nederlandse oupa laat aflewer het. Dit was sy manier om dankie te sê vir haar oupa se hulp aan die Jode tydens die oorlog.

“Haar stamboom is nog interessanter as ’n oupa in die Nederlandse ondergrondse weerstandsbeweging. Volgens Chanette stam haar familie af van ’n buite-egtelike kind van Floris die Vyfde (1254-1296 nC) wat eeue gelede oor Holland regeer het.

“In haar slaapplek is oral boekrakke vol gepak met allerlei boeke. Van sprokies tot filosofie en natuurlik rye vol van Chanette se eie boeke. Sy het immers al meer as 30 geskryf. Die boekrakke dien as mure wat haar werkplek van die slaapplek afskei.

“Om haar rekenaar en om die bad se rand is ’n feërie – feetjies, elwe, dwergies en ander – uitgepak. Wanneer sy in die bad is, is dit asof die tuin in haar badkamer is. Plante loer om die vensterbank van die badkamervenster op die boonste verdieping. Ook in haar werkhoek word sy omring deur plante wat van buite af ruig om die vensterbanke krul.”

Chanette vertel aan Nieuwoudt: “Feërieë verteenwoordig al die mens se eienskappe: Boosheid en goedheid. Hulle is ’n afskadu van hoe ons is. Ek hou van die verbeelding agter die mitologie van ­feërieë.”

Meerminne en die mites wat om hulle verweef is, is vir haar ’n bron van inspirasie. Die visvrou figureer ook in die reeks met Gys Niemand as speurder. “Die meermin is by uitstek die uitbeelding van die vrou as intuïtiewe wese in haar oervorm,” skryf Chanette op haar blog. “Sy is vasgevang tussen die waters van die onbewuste en die land van die bewuste wat ’n onderlyf verg, en die vermoë om te kan asemhaal. Sy hunker immer na ’n maat – een wat haar dikwels nie verstaan nie, maar sonder wie sy nie heel voel nie.”

Chanette is van tyd tot tyd betrokke by leeskringe, skryfskole en skryfwerkswinkels en hou in 2003 haar eerste Manuskripfabriek vir skrywers van romantiese fiksie. Sy doen ook manuskripkeuring vir LAPA-uitgewers, lei skrywers op in die romantiese genre en evalueer manuskripte vir voornemende skrywers. Sy is ook een van die dryfvere agter die daarstelling van LAPA-uitgewers se drukkersnaam Romanza, wat kontemporêre en histories romantiese fiksie publiseer.

Op ’n vraag oor hoe lank sy aan ’n boek skryf, sê Chanette dat dit afhang van die boek, van haar tyd en van die nood. Sy het ses van die sewe boeke in die Davel-reeks in elf maande geskryf – gemiddeld twee maande per boek! Maar aan Leila word lig het sy vier jaar geskryf. Sy sit so gemiddeld twaalf uur per dag agter die rekenaar.

Op haar blog skryf Chanette: “Ek skryf semi-voltyds. Ek doen manuskripontwikkeling vir Lapa Uitgewers wat gemiddeld so 1-2 weke per maand van my skryftyd steel, maar ek is baie dankbaar daarvoor, want dit beteken ek nie net afhanklik is van my tantieme om te oorleef nie.

“Wanneer ek skryf, skryf ek hard. Ek sit so 10-12 ure per dag voor die rekenaar. Dit sluit natuurlik navorsing en allerhande ander dinge in – onder meer staar. Maar eintlik ‘skryf’ mens 24/7, want jou kop bly maar voortdurend by die storie. Ek het nou die dag saam met Blom, die geduldige man in my lewe, gaan rugby kyk by ons plaaslike pub. Toe ek weer sien, kyk almal om my na my pleks van die skerm. Blom sê ek het met my hand op my knie geslaan en gesê ‘yes! ek het hom’. Dit was op die oomblik toe iets oor een van die hoofkaraktes van Dryfhout (dis nou Gys no 5) vir my duidelik geword het – terwyl die Stormers die een fout na die ander gemaak het.

“Ek stel vir my losweg ’n target van 12 000 woorde per week vir my skryfweke. Meestal doen ek so 2 000-3 000 woorde per dag. Soms is die 50 woorde, en soms as ek op ’n roll is tot 7 000. My rekord was oor die 8 000 woorde op een dag, maar dis die stukke wat altyd baie redigering nodig het.” (op Chanette se blog)

Volgens Chanette is die heldin die spil waarom die liefdesverhaal draai. Sy vertel aan François Bloemhof in Vrouekeur  “die leser wil deur haar oë sien, deur haar emosies ervaar en deur haar lyf voel. [...] Ek dink nie my heldinne uit nie, hulle klop by my aan. Hulle kan soms baie wederstrewig wees, veral oor wie die held gaan wees, maar ook oor name. Hulle laat hulle nie voorskryf oor wat hulle wil aantrek en hoe hulle veronderstel is om sop te eet nie. En wanneer die held hulle die eerste keer gaan liefkoos nie. Partykeer het ek al my dae om die twee net in ’n omhelsing te kry.”

Haar belangstellingsveld is wyd – benewens lees (alles wat voorkom, maar veral raaiselfiksie), reis (waarheen ook al) en musiek (van Chris Chameleon tot Chopin) is sy passievol oor tuinmaak, simboliek, mitologie, die misterieuse en esoteriese, kajakvaart, skubaduik, snorkel en onderwater-ekologie. Sy is lid van die South African Amateur Underwater Ecology Society wat universiteite help om navorsing op koraalriwwe te doen. “Ek duik graag op Ponta D’Ouro in Mosambiek, met sy wonderlike gevarieerde riwwe. [...] Wanneer ek duik, kom ek met ’n hele nuwe dimensie in my in aanraking. Miskien het dit iets te make daarmee dat duik amper simbolies kan wees van die wegsink in die vrugwater van die onderbewussyn, daar waar alles inderwaarheid begin.” Dan is seiljagvaart en motorfietse ook op haar lys belangstellings. In 1999 vertel sy vir Alita Vorster dat sy nog witwatervlotry op die Zambezi, ’n reksprong, ’n valskermsprong en ’n toer deur Afrika met ’n 4x4 beplan “so skuins voor ek vier en tagtig jaar oud is”.

In 2007 begewe Chanette haar op ’n heel ander terrein, naamlik dié van die spanningsverhaal, maar nog altyd met ondertone van romanse daarby. Springgety, die eerste van vyf boeke waarin die speurder Gys Niemand en konstabel Fortuin die geheime moet ontrafel, is ook deur LAPA uitgegee (soos ook die ander vier).

In Springgety gaan Lily Reynecke na Kruisbaai om Maja se spore na te volg. Kort na haar aankoms eis Springklip, die hoë krans waar reeds vier kruise staan, nog ’n lewe. En dit sit ’n hele string van gebeurtenisse op tou wat deur Gys opgelos moet word.

Die tweede in die reeks, Fortuin (2008), speel af rondom die joernalis, Xanthe Tredoux, wat na die afgesonderde landgoed Paradyskloof in die berge moet gaan in opdrag van die redakteur van Tuisfront om uit te vind wat agter Eva van Eeden en haar Paradyskloof skuil.

Hierna volg Boheem (2009), Meetsnoer (2010) en Dryfhout (2011), almal met Gys as speurder. In Boheem ontmoet die leser vir Kayla Cilliers wat drie jaar na die moord op haar man na die kunstenaarskolonie, Bohemia, gaan nadat sy ’n skryfkompetisie gewen het. Kort na haar aankoms kom sy op ’n lyk af en is daar mense wat wil verhoed dat sy hierdie skotvry daarvan afkom en moet Gys Niemand weer al sy speurvernuf inspan om die skuldiges aan die pen te laat ry.

Op Crime Beat  vertel Chanette aan Karin Brynard dat die hele kwessie van die jaar 2012 wanneer na aanleiding van die Maja-kalender van 5 120 jaar gelede die einde van die mensdom gaan begin, haar verbeelding aangegryp het. Meetsnoer is egter lank voor 2012 begin en hierdie kwessie was dus nie die ding wat die boek geïnspireer het nie. Oor die jare was daar ook baie profete wat die einde van die aarde en die oordeelsdag voorspel het. In Meetsnoer word daar geskryf oor só ’n profeet en die sy aanhangers. Meetsnoere dui ook op die standaarde waaraan buitestaanders Raine, die hoofkarakter, meet en haar reaksies daarop. En dan aan die einde van die boek, die standaarde waaraan sy haarself, haar naaste, haar huidige lewe, asook haar toekoms, meet.

Die kerk waaroor dit in Meetsnoer gaan, is die Meetsnoer-kerk en dit, saam met die broederkerke, het hulle ontstaan in Chanette se verbeelding gehad. Dit is gegrond op min of meer dieselfde kerke in die werklike lewe. Haar navorsing was redelik ekstensief en tydens haar soektog het sy op webwerwe afgekom waarop haatspraak en fanatisme hoogty gevoer het en haar geweldig geskok het.

Om ’n boek met godsdiens as ’n hooftema aan te pak, is altyd ’n waagstuk en baie sensitief. Dit is ook nie iets wat normaalweg in ’n romantiese spanningroman aangepak word nie. Maar vir Chanette het nie daarvoor teruggedeins nie, want haar geloof is dat enige tema in ontspanningsfiksie kan voorkom, solank dit ontspanningsfiksie is. Sy vertel verder aan Karin Brynard: “Ek hoop ek kry dit met Meetsnoer reg om nie idees af te dwing nie en om objektief te bly. Ek hoop dat dit steeds net ’n storie bly wat ’n mens wegvoer van die werklikheid en jou na ’n ander, verbeelde realiteit neem. As dit die leser ’n bietjie laat nadink, is dit ’n bonus.”

Oor die finale titel in die reeks, Dryfhout, skryf Jaybee Roux (Beeld, 25 Julie 2011): “Sommige karakters, soos Gys en Fortuintjie, draf gemaklik in al vyf boeke rond. Maar nuwelinge en vars intrige is daar genoeg in dié grande finale.

“Die heldin is Aengel Rousseau en Roarke is die volmaakte romantiese held. Natuurlik sorg Paul as gesoute romanse-skrywer dat dié twee rede het om nie dadelik in mekaar se arms te val nie, al gril ’n mens ’n bietjie wanneer die heldin se mond uiteindelik deur die held ‘geplunder’ word. Sulke clichés is gelukkig min.

“Wat die storie self betref: Aengel kom nie met haar Bolandse familie oor die weg nie en vestig haar in Kierangbaai. Sy leer gou die ander inwoners ken. Vier van hulle word een ná die ander vermoor en amper enigeen van die karakters met hul probleme en intrige kan skuldig wees.

“Die wisselwerking tussen hede en verlede boei. Die dagboeke van Angelique d’Avignon, Aengel se voorsaat, speel ’n belangrike rol in die verklaring van die legende van Annie, oor wie ons in Springgety gelees het. Dié aspek snoer al vyf titels finaal saam en pas by die ou porseleinskerwe waarna Roarke so soek op die strand.

“Paul weet hoe om spanning en romanse in ’n ligte, leesbare storie te kombineer. Die mites en legendes verskaf ’n magiese ondertoon wat haar werk laat uitstyg bo die gewone speur-prul. Watter boek die hoogtepunt van die reeks is, is seker persoonlike voorkeur, maar ek glo Paul bewys met Dryfhout vyf is presies die regte getal boeke vir ’n reeks soos dié.”

Oor haar wegswaai van suiwer romantiese verhale na romantiese spanningsverhale vertel Chanette aan Karin Brynard op Crime Beat dat spanningsromans nog altyd ’n leesvoorkeur by haar was. Sy het al in 1999 Wip van die droomvanger geskryf, maar toe was mense nog nie so gaande oor Afrikaanse spanningsverhale nie, al was Deon  Meyer toe al op die toneel.“Omdat ek om den brode skryf, het ek teruggegaan na suiwer romantiese verhale. In 2006 het ek egter die historiese Davel-reeks klaargemaak en toe besluit om aan die diep kant in te spring en weer te probeer. Die Gys-reeks is die resultaat al was dit nie aanvanklik bedoel om ’n reeks te wees nie.”

En die resensente stem saam. Oor Meetsnoer skryf Stephanie Nieuwoudt op LitNet: “ ... Al lyk Paul se boeke in die Gys Niemand-reeks na speurverhale, en al loop die spanning soms so hoog dat die leser asem ophou, is Paul gesteld daarop dat haar boeke suspense verhale is.

“Volgens Paul is die speurder in die suspense-verhaal ’n sekondêre karakter. Die hoofkarakter is nie ’n opgeleide speurder nie, maar is ten nouste by die saak betrokke. Die leser van die suspense-verhaal het gewoonlik ook meer insae in die moord en die moordenaar as die hoofkarakters. En natuurlik is daar ’n sterk romanse aan ‘t ontwikkel.

Meetsnoer is die vierde boek in die Gys Niemand-reeks. In al die boeke probeer die speurder Gys Niemand en sy kollega Fortuintjie om ’n moord op te los. En soos in al die vorige boeke is die milieu waarin die verhaal afspeel, prentjiemooi.

“Raine Quinn trek in die sprokiesmooi huis op die pragtige landgoed Fluisterbos in. Sy het die huis gekoop nadat die eksentrieke, interessante Joanie vermoor is. En langs Fluisterbos is die stuk grond waar ’n sekte, onder die leierskap van Profeet Sias, wortelgeskiet het. En Sias wil Fluisterbos in die hande kry. Intussen moet Raine ook nog sin maak van haar gevoelens oor Flint, die aantreklike susterskind van die vermoorde Joanie.

“Paul skroom nie om te skryf oor omstrede dinge nie. In Fortuin word byvoorbeeld ’n vorm van Wicca bedryf en die skrywer gaan simpatiek met die alternatiewe godsdiens om; in Meetsnoer word ’n sekte van naderby bekyk gewis minder simpatiek."

Chanette se navorsing beïndruk vir Nieuwoudt. “In Meetsnoer draai ’n groot deel van die gebeure om ’n oerplant, Annie-se-lot, ’n soort varing. Sy het deeglik navorsing gedoen oor die voortplantingstelsel van varings, en hoe die plante oorleef, maar vir die doel van die verhaal, het sy, soos sy in die outeursnota skryf, nie die feite in die pad van haar verbeelding laat staan nie. ’n Mens is half teleurgesteld dat daar nie werklik so ’n besonderse plant bestaan nie.

“Sy slaag daarin om die spanning enduit vol te hou. Sodra jy dink jy het nou agter die kap van die byl gekom oor wie ‘goed en wie ‘sleg’ is, wag ’n verrassing en laai die spanning weer op.

“Dis dié karakters wat elke nuwe boek in die reeks soos ’n tuiskoms na bekendes laat voel. Dis jammer Paul neem met haar finale boek in die reeks, Dryfhout afskeid van Gys, Fortuintjie en Gertjie.

“En mag Paul se naam ook in die toekoms onthou word wanneer daar oor die misdaad- of spanningsverhaal geskryf word. Want al beskryf sy haar werk as suspense, speel sy op dieselfde veld as ander skrywers wat bekend is in die misdaad- of spanningsgenre. “

Oor die suspense-verhaal verduidelik Chanette aan Stephanie Nieuwoudt (Rapport, 27 Oktober 2010): “In Afrikaans word die term spanningsroman te wyd gebruik om regtig ’n onderskeid te tref soos in Engels, waar daar onder meer onderskei word tussen ‘suspense novels’ en ‘detective nov­els’. Daar is natuurlik ook baie ander subgenres in die misdaadgenre.

“As mens wil hare kloof, is daar ook ’n onderskeid te tref tussen ‘romantic suspense’ en ‘gewone suspense’. Die beste waarmee ek vorendag kan kom (en dis onbevredigend), is romantiese spanningsroman. In ‘romantic suspense’ is ’n vlegsel van twee storielyne, naamlik die romantiese lyn en die spanningslyn. Albei behoort ewe sterk en verweef te wees. Dit wat op romantiese vlak gebeur, moet ’n uitwerking hê op die spanningslyn en andersom. Gesamentlik laat dit die protagonis ook ’n emosionele reis beleef. Waar die speurverhaal om die speurder draai, is die speurpersoon en hoofkarakter (nie ’n opgeleide speurder nie) in ‘suspense’ nie sekondêre karakters nie. In die ‘suspense’-verhaal weet die leser gewoonlik meer as elkeen van die karakters en word dus self ’n speurpersoon.”

In 2012 word Chanette se Maanschijnbaai-tweeluik gepubliseer. Jo en Sue is die eerste en Nana en Jeannie die tweede. Hierdie twee was só gewild dat hulle op ’n stadium beter verkoop as die topverkoper Fifty Shades of Grey. Jo en Sue het in 2012 die Lekkerlit-prys ontvang. LAPA Uitgewers het hierdie prys ingestel waardeur lesers gevra watter boek hulle die voorafgaande jaar die meeste geniet het.

Vier verskillende vroue, almal Calitze, word in bogenoemde twee boeke aan die leser bekendgestel. Elkeen is op ’n ander stadium van hulle lewe en elkeen het haar eie eienaardighede, maar bowenal het elkeen ’n verlede, met ’n hoofletter V. Die vier beland op Maanschijnbaai nadat Casper sy turkoois huis aan hulle bemaak het. Die mense van die stranddorp wil die huis laat platslaan, maar vir die vier vroue is dit ’n heenkome.

Hulle meen dat as hulle die ou krot van ’n huis weer leefbaar kan maak, sal dit hulle help om weg te kom van hulle verlede. Jo was in ’n verhouding betrokke wat haar nie net finansieel geruïneer het nie, maar ook geestelik; Sue moet op ’n manier van al haar vorige minnaars wegkom; Nan het haar werk verloor en Jeannie moet ontsnap van die Maidens of Sappho. Maar so maklik raak hulle nie van die verlede ontslae nie, want op Maanschijnbaai is daar iemand wat nie daarvan hou dat die “vier slette” Casper se erfgenames is nie.

Op LitNet wou Naomi Meyer by Chanette weet watter van die vier Calitze haar gunsteling-karakter is. “Dis dalk ’n geykte antwoord, maar dis werklik dieselfde as om vir ’n ma te vra watter kind die liefste het. Elkeen van die Calitze het ’n baie spesiale plekkie in my hart. Jo het die storie aan die gang gesit met die finansiële en emosionele flaters wat sy begaan en in aller yl probeer regstel, maar dan net al dieper in die moeilikheid beland. Haar deursettingsvermoë beïndruk my en ek hou van haar sagtheid wat tog deur staal gerugsteun word.

“Daarna het Nan en Jeannie hulle opwagting gemaak. Ek het dadelik ’n baie teer plekkie ontwikkel vir Nan, wat haar familie so bo alles, ook haarself, stel sonder om sentimenteel te wees daaroor of erkenning te verwag. Ek was egter baie bly vir haar onthalwe toe sy in die tweede boek ’n bietjie meer na haar eie belange begin omsien het.

“Met Jeannie het ek gesukkel. Ek kon die klein snip aanvanklik nie kleinkry nie, maar die kwesbaarheid agter die veroordelende houdinkie het my simpatie gewen. Veral in die tweede deel van die tweeluik het ek haar bitterlik lief gekry, omdat ek haar toe soveel beter leer verstaan het.

“Sue was die laaste Calitz wat haar in my storie ingewurm het, en soos Sue maar is, het sy dit met ’n bang! gedoen. Ek het dadelik van haar gehou, al is sy so ’n pes waar dit mans aangaan. Weer eens was daar ’n kwesbaarheid wat haar hardegatgeid onderlê, en dit veral, maar ook haar eerlikheid en reguit manier van sê en doen, het my hart verower.

“Tog het ek in die begin baie baklei teen Sue se toetrede. Ek kon sien sy gaan my storie in heel ’n ander rigting stuur as wat ek beplan het. Nou is ek haar egter ewig dankbaar dat sy haar opwagting gemaak het. Ek dink Sue sit die pit in die verhaal, al mag sy sommige lesers dalk affronteer met haar geswets, haar gerook en gedrinkery. Ironies genoeg, is sy baie lesers se gunsteling.”

Oor die kwessie van nog ’n Maanschijnbaai-titel sê Chanette aan Naomi Meyer op LitNet dat die Calitze baie gelukkig is waar hulle is. “Ek dink nie ek gaan verder met hulle lewens inmeng nie. Ek is dit aan hulle verskuldig om hulle in rus en vrede op Maanschijnbaai te laat voortwoeker.

“Voorlopig is ek eers weer terug by spanningsromans. Labirint  is reeds op die rak en ek het onlangs begin skryf aan nog ’n enkelstaande spanningsroman, al is dié nou weer geskoei op ’n heel ander soort spanningslyn as die voriges.

“Dis vir my ’n groot verligting dat my lesers aanvaar ek skryf uiteenlopende stories en kan nie uitsluitlik aan een genre gebind bly nie. Die goeie terugvoer wat ek kry oor sowel ’n reeks soos die Daveltjies as die Gys-boeke, en veral nou die Calitz-slette, laat my vry voel om te skryf ongeag die soort storie wat na my kant toe kom. Dis dan ook die lojaliteit en entoesiasme van my lesers wat van die Maanschijnbaai-tweeluik ’n sukses maak.”

Labirint  vertel die verhaal van Vasti de Leeuw, ’n kunstenaar, wie se lewe al ’n paar liederlike draaie geloop het, skryf Marinda Ehlers op LitNet.

Sy was nog ’n skooldogter toe haar ma oorlede is nadat sy onder die ploegskaar beland het terwyl haar pa die trekker bestuur het. Terwyl sy ’n student was, raak sy betrokke by ’n man wat haar verkrag en swanger agterlaat. Sy trou met hom, maar die huwelik werk nie uit nie. Ná sewe jaar pla Dolf Verster haar nog altyd oor die telefoon en haar senuwees is gedaan.

Net voor haar veertigste verjaardag word daar by haar blyplek by die Hartbeespoortdam ingebreek en die plek word omgekeer. Terselfdertyd word ’n hele klomp van haar skilderye ook verwoes. As gevolg van hierdie gebeure neem sy die besluit om na haar geboortedorp terug te gaan en trek in haar ouma se ou huis langs die rivier in.

Maar dit is verniet of sy ontslae kan raak van die telefoonoproepe en dinge op die rustige dorpie in die Overberg is ook nie aldag pluis nie. Nie lank na haar aankoms daar nie, word sewe mense vermoor. 

Ehlers skryf verder (LitNet): “Paul het duidelik heelwat navorsing vir hierdie boek gedoen. As jy min van kuns af weet, sal jy ’n hele paar dinge te wete kom. Ook van die Griekse mitologie. En natuurlik van labirinte en doolhowe. Die taalversorging is nie oral wat dit moet wees nie, maar dit sal die meeste lesers waarskynlik nie eens pla nie. Dit is ’n stewige roman hierdie: 540 bladsye. Aanhangers van haar werk sal sonder twyfel hierdie jongste boek geniet.”

In ’n onderhoud op Chanette se webwerf wou JB Roux weet hoe sy voel oor die dikwels vergeefse pogings van  uitgewers om gewoonlik heelwat geld te bestee en baie moeite te doen om digbundels wat in klein oplae gedruk word, uitverkoop te kry. En dieselfde moeite word nie gedoen om ontspanningsverhale te bemark nie.

Dit laat Chanette effe vieserig voel, maar nie briesend nie. “Dié soort voorkeurbehandeling spreek van elitisme en die leser word nie geag nie. Dis met goeie rede dat daar net oplae van 300 gedruk kan word. Dit dui daarop dat daar hoogstens 300 moontlike kopers is, met net ’n bietjie meer lesers as ’n mens biblioteke en boekklubs in ag neem. Lig daardie 300 kopers in oor die werk, gee dit gepaste blootstelling, ja, maar nie ten koste van ander genres wat dit juis moontlik maak om digbundels te druk nie. Dit geld nie net digbundels nie, maar dikwels literêre prosa ook.

“Dit maak ook nie vir my besigheidsin nie. As dieselfde geld bestee en blootstelling gegee word aan 'n boek wat sonder blootstelling ’n hele paar duisend kopieë verkoop, dink net hoe goed kan dit doen as dit behoorlik onder die lesers se aandag gebring word.

“Ek dink egter nie dis die uitgewer per se wat die wortel van die kwaad is nie. My ondervinding met my uitgewers spesifiek is dat hulle moeite doen met al hulle boeke. Hulle loop hulle egter allerweë vas met die media wat ontspanningsfiksie betref. Ek skiet myself dalk nou in die voet, maar ek lê die skuld hoofsaaklik voor die deur van elitistiese boekebladredakteurs wat by uitstek konsentreer op literêre publikasies en hulle merendeels afvee aan enigiets wat na ontspanning lyk. Selfs wanneer daar wonder bo wonder wel ’n resensie van ’n ontspanningsroman is, word dié veels te dikwels oorgelaat aan ’n resensent wat nie genre-kundig is nie. ’n Goeie voorbeeld daarvan was ’n resensie in ’n vrouetydskrif oor Sophia Kapp se liefdesroman Die tuiskoms. Dit was vir my duidelik dat die resensent die genre nie eens begín begryp het nie. Dis logies dat resensente nie almal ewe kundig is oor sekere genres nie. Maar dêmmit, dan moet iemand wat niks van liefdesromans weet nie, nie ’n Sophia Kapp-boek probeer resenseer nie.”

Oor die oorgang van die genre van romanse na suspense het Chanette haar as volg uitgelaat teenoor JB Roux: “Die oorgang was ongelooflik moeilik. Die brug blyk toe ’n gevaarlike, hangende een oor ’n krokodilvervuilde rivier te wees - of so het dit gevoel. Enersyds was ek amper té gekonfyt in romantiese fiksie. Andersyds het ek die genre onderskat. Die grootste probleem was egter die verskil wat lengte aan die werkinge en dinamika van ’n storie maak. Dis amper soos om skielik ’n enorme vragmotor met iets soos sewentien ratte te bestuur terwyl jy aan ’n Golfie met ’n vyfspoed-ratkas gewoond was.

“In die romanse lê die spanningslyn hoofsaaklik op die vlak van die ontwikkelende liefdesverhouding. In suspense lê dit op vele eksterne en inherente vlakke. Dis nie net die wie-het-dit-gedoen-lyn nie. Suspense gaan ook oor emosies en karakterontwikkeling. En dan is daar nog die liefdeslyn wat baie meer verwikkeld is as in die romanse. Dis nou benewens die uitdaging om die leser dwarsdeur die storie te laat naels kou.

“Die meer tegniese sy het ook vir my probleme opgelewer, onder meer wat perspektief betref. In die romanse word net die heldin se perspektief gebruik en by uitsondering die held s’n. In Springgety het ek aanvanklik ook net Lily se perspektief gebruik. Uiteindelik moes ek egter die hele boek oorskryf en ook Gys se perspektief inspan om die storie tot sy reg te laat kom. Wat beteken het dat my navorsing verdriedubbel het, aangesien ek moes agterkom hoe speursake en verwante dinge werk, maar daarbenewens moes ek ook probeer om in die kop van ’n man in sy vyftigs te kom.

“In Fortuin het ek amper oorkompenseer deur iets soos vyf karakters se perspektiewe te gebruik. Dit was vir my nuwe vaarwaters. Ek het boonop ’n redelik waaghalsige tema gebruik wat ek met groot omsigtigheid moes benader sonder om die impak daarvan op die storie te verminder.

“In Boheem voel ek dat ek die tegniese sy van die saak onder die knie gekry het en ek het ook baie makliker (met die klem op die -er) daaraan geskryf as die ander twee.”

Of daar enige iets is wat ontspanningskrywers self kan doen om die erkenning te kry wat hulle dalk verdien, weet Chanette nie. “Dis al asof my sporadiese gekyf op LitNet en elders, asook voorsprake wat mense soos onder meer Maritha Snyman in die pers gedoen het, uiteindelik tog 'n paar oë laat oopgaan het,” sê sy aan Roux (op haar blog). “Gesprekke soos die een oor romantiese fiksie waaraan ons deelgeneem het op die Woordfees, help ook om onkunde teë te werk (maar mens moet natuurlik eers genooi word)

“Die effek bly egter beperk. En mens vra jou af: Wat is nou eintlik my taak? Om te skryf of om onkunde te probeer teenwerk? Om my karakters tot hulle reg te laat kom in my storie of om blootstelling vir my boek te probeer kry? Want uiteindelik gaan dit weer eens oor blootstelling eerder as erkenning. As mens ingeligte blootstelling kry, sal erkenning volg of nie volg nie, afhangende van hoe goed jy jou van jou skryftaak kwyt.

“Uiteindelik dink ek die belangrikste is dat ons as ontspanningsromanskrywers aanhoudend aan ons skryfwerk slyp, werklik erns daarmee maak en ja, aanhou skryf - al voel dit later asof Sisufos se probleme in Tartarus 'n vulletjie teen joune is.

“Verder probeer ek die snobisme en onkunde ignoreer en my beste moontlike werk te lewer vir mense wat wel my boeke lees en dit geniet. Ek skryf my stories vir húlle, nie vir resensente of boekebladredakteurs of elitiste of wie ook al anders nie.”

In 2013 word Siende blind gepubliseer en vir die tweede agtereenvolgende jaar word die LAPA Lekkerlitprys aan Chanette toegeken.

Sy het aan Willem de Vries (Die Burger, 25 Januarie 2014) gesê hoe sy oor hierdie toekenning voel: “Dit was reeds ’n heerlike verrassing laasjaar toe die eerste deel van die Maanschijnbaai-tweeluik as wenner aangewys is, maar hierdie jaar kon jy my met ’n veer omtik toe ek hoor Siende blind het gewen.” Sy beskryf die boek as “ ’n spanningsroman met ’n skeut liefde by en boonop ’n moord­storie sonder ’n noemens­waardige speurder”.

“In Afrikaans is hierdie ­vermenging van genres nog nie heeltemal gevestig nie. Die speurverhaal waarin ’n slim speurder die hoofrol speel, is baie meer ­bekend as die soort ‘woman-in-jeopardy’ boeke wat ek skryf. Siende blind het ook teen besondere sterk kompetisie te staan gekom. Dis dus vir my ’n reuse-pluimpie dat die boek hierdie jaar as die wenner aangewys is.”

Wat Lekkerlit vir haar “besonder spesiaal maak”, is dat dit die lesers is wat stem. “Dis immers hulle wat die boeke koop en dis hul goeie reg om te kan stem vir hul gunstelinge. Daarbenewens sê hul stem vir my ek is op die regte pad. Dit sê ook vir my dat hulle my vergewe vir die genre-spronge wat ek maak. Dit gee my die moed om aan te hou en my karakters en stories te bly vertrou, al is dit tot ’n groot mate baanbrekerswerk in ’n bedryf met baie slaggate.”

Chanette meen ook dat daar nie genoeg pryse en toekennings is vir die genre ontspanningsfiksie nie. “Buiten Lekkerlit is daar ­omtrent net die ATKV-Veertjietoekennings, en die kategorieë daar is redelik beperk. Ek hoop hierdie inisiatief van Lapa om aan lesers ’n stem te verleen, sal van krag tot krag gaan en dat die opbloei in Afrikaanse genrefiksie nog heelwat meer geleenthede vir erkenning sal skep.”

Siende blind is die eerste in ’n drieluik wat afgesluit word met Raaiselspieël en Ewebeeld.

Op Protea Boekwinkel se webwerf word die storie van Siende blind so opgesom: “Op ’n Sondagoggend terwyl hulle ontbyt maak, vra Cara haar sielemaat en eggenoot van twintig jaar waarom hy die afgelope so stil is. Sy kry ’n sielsverbysterende antwoord. Vir haar voel dit soos die einde van alles wat vir haar betekenis inhou. Dis egter net die eerste tand van die duiwelsvurk wat haar veilige kokon deurboor. Haar hele lewe verander in ’n blivet, daardie optiese illusie waar twee onversoenbare perspektiewe tegelykertyd ewe daar, en nié daar is nie. Om te oorleef, moet Cara vasstel waarom sy die teiken is van die oormag rampe wat haar tref – en wie die hef in die hand het. Maar as rykmansdogter en fiksieskrywer wat glo in gelukkige eindes, is sy allesbehalwe toegerus daarvoor.”

Sophia Kapp, romanskrywer, se aanbeveling lui as volg: “Ek het teen die einde daardie tipiese paniek-lees ervaar wat ’n mens kry wanneer ’n storie jou so meegesleur het dat dit letterlik voel asof jy oor ’n waterval getrek word: Daar is net nie keer nie.”

Carla van der Spuy vra op LitNet aan Chanette: “Jy vertel in die voorwoord van die boek dat jy in jou navorsing op interessanthede afgekom het, soos byvoorbeeld die blivet, en dat dit ’n ideale motief is om in die boek te gebruik. Dalk kon die woord ook ’n titel vir die boek gewees het, maar aan die ander kant impliseer ‘siende blind’ dat die boosheid reg voor ons is, maar dat ons dit dikwels nie raaksien nie. Vandaar dalk die titel?”

Chanette se antwoord: “Blivet is ’n te volksvreemde woord vir ’n titel in hierdie genre. Aanvanklik was die titel Duiwelsvurk, die Afrikaanse vertaling wat vir blivet aangegee word. My uitgewer was heeltemal tevrede daarmee en ek het dink dis baie toepaslik. Terwyl ek nog geskryf het, verskyn daar toe ’n boek met die titel Duiwelsklip. Kort voor ek my manuskrip klaar het, verskyn daar nog ’n boek. Die titel? Duiwelsasem. Toe weet ek: dit gaan nie werk nie. Ek moes vinnig dink, want die manuskrip was al in die drukgang van publikasie.

“Terwyl ek speel met idees rondom oëverblindery, kom die titel Siende blind toe by my op. Ek het dadelik geweet dis eintlik ’n baie beter titel en pas soveel lekkerder by my storie. Want dis presies wat die blivet aan die oog doen: die optiese illusie verblind jou terwyl jy dink jy kan sien.”

Carla van der Spuy wou weet of die leser baie van ’n skrywer se voor- en afkeure kan aflei uit die storie wat die skrywer skryf.

Chanette se reaksie was: “Dis ontstellend hoe kwesbaar die skrywer voor die fyn leser staan. In my manuskripontwikkeling het ek agtergekom hoe duidelik die mens agter die storie deurskemer. Dit het weinig te doen met outobiografiese gegewens; dit is die lewensingesteldheid wat so duidelik spreek. Veral in rou stories wat nog nie deur die meul van redigering en dies meer is nie. In sommige gevalle kan ek sien die skrywer is sagmoedig en deernisvol, in ander kan ek sien dis ’n harde kalant hierdie, maar sy etiek sit op die regte plek. Sommiges verklap versugtinge wat mens aan die huil wil sit. En dan is daar dié wat my regtig laat skrik.

“Ek dink Cara verklap heelwat van my, alhoewel ons in die meeste opsigte baie van mekaar verskil. Een van die trekke wat ons deel, benewens die liefde vir wyn, is inderdaad dat ek ook mense te maklik vertrou. Ek is al baie beter – daar kom darem ’n bietjie wysheid met die ouderdom saam – maar dit is so dat ek, soos Cara, makliker raaksien wat goed is in ’n mens as wat dalk boos kan wees.”

In Beeld van 5 Augustus 2013 skryf Erika de Beer dat Siende blind die leser nooit vervelig laat nie. Hierdie familiedrama, roman én riller, toon dat Paul beslis weet hoe om ’n verhaal te laat vloei. Nie alleen getuig dit van grondige navorsing nie, maar dit is ook duidelik dat die skrywer daarin geslaag het om beheer oor haar karakters uit te oefen.

In 2014 verskyn Raaiselspieël, die tweede deel van die drieluik. Die hoofkarakter is vet Frieda Ferreira wat na agt jaar getroude lewe nog nie weet hoekom die beroemde professor Victor Ferreira met haar getrou het nie. Sy sien van kleins af beelde en hoor stemme, maar weet nie wat haar makeer nie. Dan moet sy ook nog probeer om haar pa se moord op te los, al sit die skuldige in die tronk. Sy het nie eintlik ’n keuse in die saak nie, want haar pa, Nils van der Sluis, ’n moeilike Belg wat sy geld gemaak met die skilder van vet vroue, dring daarop aan, al is hy al dood.

Chanette skryf oor Raaiselspieël op haar blog: “The arts then act like a reflecting mirror. The artist is like the hand that holds and moves the mir­ror ... (Ngugi)”

“Bogenoemde aanhaling is ’n gedeelte van die motto voor in Raaiselspieël. Kuns en spieëls vorm inderdaad belangrike simbole in hierdie verweefde spanningsroman. Paulus se Bybelse versugting dat dinge aan hierdie kant van die dood bloot ’n dowwe spieël is in vergelyking met die lewe ná die dood, moet ook nie geïgnoreer word nie. Nils van der Sluijs, die befoeterde Belg wat ryk en beroemd geraak het danksy sy vetvrouskilderye, is dood. Daar is reeds ’n man agter tralies, maar Nils is skynbaar nie tevrede dat dit die regte persoon is nie en nou praat hy met sy dogter, Frieda, deur vir haar beelde en flitse te wys. Uiteindelik is daar ook die kwessie dat ’n aantal van sy skilderye skynbaar meer openbaar as kaal lywe; mense is selfs bereid om te moor sodat hulle daardie skilderye in die hande kan kry.

“In die gemoed van sommige Afrikaners word Siener van Rensburg en Johanna Brand se heldersiendheid as belangrik beskou. Raaiselspieël tree in gesprek met hierdie twee sieners en vra die leser om die talle simbole, wat stuk-stuk nagespeur word, uit te pluis saam met Nils se dogter, Frieda, en sy biograaf, Stas Stassen – ’n toenmalige uitgewer.

“Dit is vir die leser, soos vir die fiktiewe biograaf, nodig om bewustelik ’n ‘suspension of disbelief’ te openbaar tydens die lees van hierdie teks. Dit is iets wat gewoonlik onbewustelik gebeur tydens die lees van ’n goeie storie, maar hier moet alle partye harder werk om Frieda se gawe te probeer verstaan. Selfs Frieda sukkel om vrede te maak hiermee – sy weet ook nie of die beelde wat sy van kleins af sien en die stemme wat sy hoor, beteken sy is psigies of psigoties nie.

“Deur dit alles heen word die draak gesteek met akademici wat hulle beter ag as gewone mense, dink aan ’n Seder val in Waterkloof as interteks. Die leser moet maar self in die raaisel kyk om al hierdie kloutjies by die nodige oortjies te kry.”

Tydens ’n onderhoud op die US Woordfees van 2014, waar die boek amptelik geloods is, het Chanette gesê sy is baie opgewonde dat lesers van haar ligter romans nou ook die meer komplekse, verwikkelde werke geniet. Siende Blind, wat ook meer kompleks is, het só goed verkoop dat dit binne weke herdruk moes word.

Chanette gee glad nie om te erken dat sy amper uitsluitlik vir die ontspanningsmark skryf nie. Maar daar is tog iets vir die leser wat iets meer soek, want in haar tekste is daar oorgenoeg simboliek en letterkundige verwysings. En tydens ’n onderhoud met die SASNEV-krimifees het sy gesê: “Boeke is soos vye of turksvye, ek skryf vye.”

In Beeld (11 April 2014) skryf Erika de Beer dat Raaiselspieël  nie ’n speurverhaal in die gewone sin van die woord is nie, aangesien die bonatuurlike té veel na vore kom. En dit bewys net weer dat Chanette Paul met ’n goeie storie die leser se aandag vasgevang kan hou, want al beslaan die storie 500 bladsye, kan ’n mens die boek kwalik neersit. Haar skryfstyl vloei, maar vir De Beer het die manier om sinne sonder onderwerpe te skryf, gehinder.

Chanette was onlangs in die nuus toe van haar boeke wederregtelik afgelaai is van die internet sonder dat sy daarvoor betaal is. Oor hierdie praktyk laat sy haar uit teenoor Carla van der Spuy op LitNet: “Ek wil net hê mense moet bedag wees daarop dat daardie boeke wat hulle gratis of goedkoop aflaai, vernietigend is vir ’n skrywer. Veral een wat in Afrikaans skryf. Ons het rééds die agterspeen beet. Ons skryf in ’n taal met betreklik min moedertaalsprekers, en boonop is daar nie ’n sterk leeskultuur hier gevestig nie. Boeke is duur omdat die oplae so klein is, daarom koop mense tweedehandse boeke waarop die skrywer nie ’n sent maak nie. Ons leen onder mekaar uit, waarop die skrywer nie ’n sent maak nie.

“Ons neem boeke by biblioteke uit, waarop die skrywer nie ’n sent maak behalwe by die oorspronklike aankoop daarvan nie. In die meeste ontwikkelde lande kry die skrywer ’n klein, gesubsidieerde bedrag elke keer as ’n boek in ’n biblioteek uitgeneem word. Baie soos die tantieme wat betaal word elke keer as ’n musieksnit op die radio, in eetplekke en dies meer gespeel word. In Suid-Afrika nié.

“Ek neem lesers nie kwalik dat hulle boeke op die goedkoopste moontlike manier bekom nie, maar as iemand met die slim plan vorendag kom om boonop my e-boeke te kaap en dit vir eie gewin, trek ek die streep. As so iets sou eskaleer, sal skrywers desnoods moet ophou skryf en hulle verdienste elders moet kry. Die meeste van ons het alreeds júis ’n ander werk wat die pot aan die kook moet hou. Daar is uitsonderings soos skrywers wie se werk vertaal word en geld maak uit hulle oorsese verkope, en daar is die gelukkiges wat mans of vrouens het wat hulle onderhou. Maar die meeste van ons kan nie voltyds skryf nie, omdat ons nie op tantieme alleen kan oorleef nie.

Hierdie soort diefstal sal mens seker nooit heeltemal kan keer nie, maar deur my sterk daarteen uit te spreek, weet almal waar hulle met my staan. Die betrokkenes gaan vervolg word deur die uitgewery in samewerking met SAFACT, wat hulle toespits op die bekamping van roofkopiëring. Ek hoop dit skrik dié af wat dieselfde truuk wou gebruik.”

Publikasies:

Publikasie

Maalstroom van ekstase

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2003 (grootdruk)

ISBN

  • 0628036175 (sb)
  • 1415000174 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Perskorprys vir romantiese fiksie 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Woestynliefde

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2004 (grootdruk)

ISBN

  • 0628036272 (sb)
  • 1415000778 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leerskool van die liefde

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2001

ISBN

  • 0628036396 (sb)
  • 186904679X (hb)

Uitgewer

  • Halfweghuis: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vlerkaf

Publikasiedatum

  • 1998

ISBN

0628036965 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eiland van begeerte

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2004 (grootdruk)

ISBN

  • 0628036698 (sb)
  • 1415000867 (hb)

Uitgewer

  • Midrand: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wip van die droomvanger

Publikasiedatum

  • 1998

ISBN

0628037252 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vlerke van goud en ander liefdesverhale

Publikasiedatum

  • 1999

ISBN

0799326550 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bittersoet wals

Publikasiedatum

  • 1999

ISBN

  • 062803749X (sb)

Uitgewer

  • Midrand: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rots van liefde

Publikasiedatum

  • 1999
  • 2002 (grootdruk)

ISBN

  • 0628037414 (sb)
  • 1869047605 (hb)

Uitgewer

  • Midrand: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Legende van die liefde

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2003 (grootdruk)

ISBN

  • 0624040402 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Jasmyn
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 1

Publikasiedatum

  • 2002

ISBN

  • 0624040690 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liefde in laventel

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2004 (grootdruk)

ISBN

  • 0624041735 (sb)
  • 0415001162 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Jasmyn
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

  • Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oerdans van die liefde

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2005

ISBN

  • 0624041476 (sb)
  • 1415003289 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Jasmyn
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Geld wat krom is

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2004

ISBN

  • 0798143029 (sb)
  • 1415001146 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Letsels

Publikasiedatum

  • 1980

ISBN

  • 0624015130 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Handleiding

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die goue vreugde: 'n keur uit jare se leesgenot

Publikasiedatum

  • 2003 (grootdruk)

ISBN

  • 0799330736 (hb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vlerke vir ’n visvrou

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2006 (grootdruk)

ISBN

  • 07993
  • 1415004765 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: LAPA
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Krinkels in die maan

Publikasiedatum

  • 2004
  • 2005

ISBN

  • 0799332437 (sb)
  • 1415003955 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Fleur
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Perlemoenmaan

Publikasiedatum

  • 2004

ISBN

0624042138 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fynbos vir ’n feeks

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042316 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Satyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Troupant

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042529 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toorliefde

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624042820 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Satyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op soek na ’n held

Publikasiedatum

2005

ISBN

0799334766 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tamara

Publikasiedatum

  • 2005
  • 2011

ISBN

  • 0799334936 (sb)
  • 9780799351453 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Porselein van staal

Publikasiedatum

2005

ISBN

0799334960 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leila word lig

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798144408 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Willemien

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 0799335956 (sb)
  • 9780799351491 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Annabella

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 0799336033 (sb)
  • 9780799351507 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Deborah

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 0799336114 (sb)
  • 9780799351514 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Isabelle

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 079933619X (sb)
  • 9780799351521 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Maryn

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 079933717X (sb)
  • 9780799351538 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fleur

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2012

ISBN

  • 0799337250 (sb)
  • 9780799351545 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 2

Publikasiedatum

2006

ISBN

9780624044793 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 3

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045922 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Springgety

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799338775 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fortuin

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799342420 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 4

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048084 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Branders van liefde (Duette van twee)

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799343311 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onder seespieël

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780799345759 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Boheem

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799344646 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Finalis vir ATKV-Veertjie in die spanningsromanafdeling

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Meetsnoer

Publikasiedatum

2010

ISBN

 9780799347234 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dryfhout

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799348828 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Maanschijnbaai: Jo en Sue

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799355420 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Lekkerlit-kompetisie deur lesers as die lekkerste boek van 2012 aangewys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Maanschijnbaai: Nan en Jeannie

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799358384 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Labirint

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780795800443 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

 

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Siende blind

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799361346 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Lekkerlitprys 2013

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Raaiselspieël

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799364934 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Chanette Paul as vertaler

  • Donald, Robyn: Maagd vir ’n miljoenêr. Parklands: Jacklin, 2004 [ISBN 1415001561 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)
  • Graham, Lynne: Sy vrou, die minnares. Parklands: Jacklin, 2005 [ISBN 1415004080 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)
  • Milburne, Melanie: Sy onhebbelike vrou. Parklands: Jacklin, 2005 [ISBN 1415003041 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)
  • Oakley, Natasha: Ter wille van ons kinders. Parklands: Jacklin, 2005 [ISBN 1415003602 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)

Artikels deur Chanette Paul beskikbaar op die internet 

Artikels oor Chanette Paul beskikbaar op die internet:

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-07-23
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top