Titel: Murasie
Skrywer: Chanette Paul
ISBN: 9781776352357
Uitgewer: LAPA
Met die lokteks: “Moles is nie ongekend op Verlatenfontein nie. Moord ook nie. Inteendeel,” nooi Chanette Paul in haar nuutste spanningsroman die leser om die boek oop te slaan en deel te word van die raaisels en familie-intriges op die plaas Verlatenfontein.
Ná ’n twiet wat sy besef sy nooit moes plaas nie, vlug Georgie Rabie na haar peetma se strandhuis op Verlatenfontein. Daar ontmoet sy vir Ras Erasmus, wat die opstal op Verlatenfontein wat al drie keer gedeeltelik afgebrand het, wil herstel na sy oorspronklike glorie, die plaas dalk ook. Ras het egter nie rekening gehou met ’n huurpag wat daar op die grond is, of verwag dat die vrou wat tans daarvan gebruik maak, sy aandag so sal prikkel nie.
In haar outeursnota aan die einde van die boek vertel Paul dat Verlatenfontein losweg gebaseer is op die plaas Ratelrivier en dat van die gebeure wat daar afgespeel het, “verminkte neerslag” in die verhaal vind. Tog is die karakters in die boek so deeglik ontwikkel en geloofwaardig uitgebeeld dat dit moeilik is om te glo dat hulle fiktief is en nie werklik deel van hierdie lewe is/was nie.
...
Van die eerste bladsy af skep Paul ’n duidelike rasse- en politieke landskap waar vooropgestelde idees dadelik aan die lig kom. Hierdie landskap van rasseskeiding is ’n bron van goed-geformuleerde konflik, innerlik en uiterlik.
...
In Murasie loop die hede en gebeure in die verlede parallel met mekaar wat daartoe lei dat daar as’t ware twee stelle hoofkarakters in die verhaal is. Die twee hoofkarakters in die hede is Georgie Rabie, ’n geskeide grafiese ontwerper met ’n geraamte of twee in haar kas en Ras Erasmus, die restoureerder wat by sy ouma Kate al die stories oor Verlatenfontein en die Strandveld gehoor het, wat ’n paar geheime van sy eie bewaar.
In die verhaal wat in die verlede afspeel, het ons twee susters as hoofkarakters, Hendrien en Katryn. Hendrien is die vaal, onaantreklike sussie en Katryn ’n regte skoonheid. Hulle pa is ’n buffel en ná ’n woedebui wat op ’n tragedie uitloop, laat hy die twee dogters aan hulle eie genade en natuurlik hulle onkunde oor.
Myns insiens verg dit ’n bedrewe skrywer om die storielyn uit vier oogpunte te vertel sonder om die spanning in te boet en om die leser te laat aanhou lees om antwoorde te kry op baie subtiel-gestelde vrae. Paul kry dit goed reg om die leser deel te maak van al vier die hoofkarakters se belewinge, en empatie vir elke karakter te verseker.
In beide die hede en die verlede staan die plaas Verlatenfontein sentraal. Die plaas word ’n fisieke sowel as emosionele bestemming vir die karaters. Die ligging van hierdie stuk grond skep moontlikhede vir konflik, plotdraaie en natuurlik raaisels. Die plaas word amper nog ’n karakter wie se wel en wee vir die leser belangrik is en die strewe na die behoud van die plaas, sy mense en ook die verlede wat eie is aan Verlatenfontein, sorg vir spanning wat die leser deurgaans geboei hou.
Aanvanklik was ek skrikkerig of ek sou byhou by die tydspronge in die boek, maar selfs sonder die spesifieke tydaanduidings wat Paul deur die loop van die roman daarstel, word die tydvak baie duidelik uitgebeeld deur die gebruik van bepaalde merkers wat eie is aan die bepaalde tydperke, en kan die leser homself oriënteer daarvolgens. Boonop sorg die gebruik van hierdie elemente dat dit vir die leser makliker is om hom of haar in daardie tydgleuf te kan inleef, soos die telegramme wat Hendrien en Katryn ontvang en stuur teenoor die whatsapps en twiets wat die moderne karakters, en natuurlik ook die leser, gebruik. Daar is ook die kapkar en landaulet teenoor die RAV4 waarmee Ras ry. Die poskoets vir ver reis teenoor die opsie om te vlieg. Die kontras in eras het, na my mening, die storie ingekleur en dit meer diepte gegee.
...
Nog ’n sterk tema in Murasie is die regte van vroue, of die tekort daaraan, en hoe uitgelewer hulle eens was aan die hand van die mans in hulle lewens.
...
Soos in van Paul se ander werke speel die moontlikheid van die bonatuurlike ’n belangrike rol in Murasie en die suggestie van die geeste van afgestorwenes wat net nie die plaas kon verlaat nie, is sterk motivering in bepaalde karakterhandeling. Dit word egter ’n rookskerm waaragter die skrywer baie onverwagse waarhede haal. Georgie se kat Thomas, wat volgens die Duikers ’n spookkat is, word ’n belangrike merker in die verhaal, wat die karakters sowel as die leser teen gevaar waarsku en ’n verdere raaisel skep rondom wat regtig in die komyntjie gebeur het.
Alhoewel Murasie hoofsaaklik ’n spanningsroman is met raaisels wat die leser saam met die karakters oplos, is die aantrekking tussen die twee hoofkarakters in die hede ’n element wat nie misgelees kan word nie en aanhangers van Paul se liefdesverhale sal nie teleurgestel wees deur hierdie storielyn nie.
Alhoewel Murasie ontspanningsfiksie op sy beste is, spreek die verhaal van ernstiger temas wat die leser twee maal laat dink. Van die eerste bladsy af skep Paul ’n duidelike rasse- en politieke landskap waar vooropgestelde idees dadelik aan die lig kom. Hierdie landskap van rasseskeiding is ’n bron van goed-geformuleerde konflik, innerlik en uiterlik. Die karakters deel nie die vooropgestelde idees van hulle tydgenote nie en interaksie oor die kleurgrens dra by tot die effektiwiteit van die verhaal en die oordra daarvan.
Nog ’n sterk tema in Murasie is die regte van vroue, of die tekort daaraan, en hoe uitgelewer hulle eens was aan die hand van die mans in hulle lewens. Dit word beklemtoon deur die onregte wat Katryn en Hendrien aangedoen is net omdat hulle vroue is, teenoor die vryheid wat sommige moderne vroue in dieselfde situasies kan beleef.
Ten spyte van hierdie swaar temas belemmer dit nie die ontspanningswaarde van die verhaal nie en ondersteun dit eerder die leeservaring en die impak wat die storie op die leser het.
Murasie is Paul se 49ste roman en dit is duidelik dat die skrywer meer en meer bedrewe raak met elke nuwe verhaal en lank nog nie haar vermoë om ’n leser te boei, verloor het nie.
Kommentaar
Ek het Murasie geniet hoewel ek aan die begin gesukkel het om die twee tydslyne te koördineer. Die verhaal het my egter geboei en sal gou weer die boek lees, want nou kan ek die “storie” geniet vir die diepte van Paul se insig oor komplekse persoonlike verhoudings.