LAPA Lekkerlit-wenner 2014: Onderhoud met Chanette Paul

  • 0

Chanette Paul is onlangs aangekondig as 2014 se LAPA Lekkerlit-wenner. Sy gesels met Naomi Meyer oor hierdie prys - wat sy nou vir die derde keer ontvang.

Chanette Paul (foto: Naomi Bruwer)

Hallo Chanette! Baie geluk met die Lekkerlit-toekenning vanjaar. Voel jy nie al soos 'n Bruce Fordyce wat elke keer die Comrades gewen het nie? Wat maak hierdie slag se toekenning besonders?

Fordyce is my darem baie ver voor, maar dis vir my baie besonders dat ek met vanjaar se Lekkerlit-toekenning ʼn driekuns behaal het. Dit laat my voel die eerste twee was toe darem nie net vloekskote nie.

Daar was elke jaar sterk kompetisie, maar hierdie keer het ek regtig nie gedink ek gaan die paal haal nie. Martin Steyn en Madelein Rust is twee baie sterk debutante en die ander skrywers – Peet Venter, Alta Cloete, Bernette Bergenthuin en Lien Roux-De Jager – is elkeen formidabel uit eie reg en ook baie geliefd. Dis vir my dus ekstra-spesiaal dat lesers Ewebeeld tussen so ʼn klomp heerlike boeke van gewilde skrywers aangewys het as hulle gunsteling.

Was Ewebeeld vir jou 'n lekker boek om te skryf? Het alles sommer net vanself gekom tydens die skryfproses – of wat is die storie agter hierdie storie (agter die skerms, toe jy geskryf het)?

Ek het inderdaad lekker aan Ewebeeld geskryf en behoorlik my verbeelding vrye teuels gegee. Om die tipiese sprokie op sy kop te draai was vir my ʼn interessante eksperiment. Ek het immers aan die begin van my skryfloopbaan romanses geskryf, wat maar net die moderne weergawe van die sprokie is. Ewebeeld was so half en half ʼn korrektief op my romanses. Terwyl die romanse eindig waar die held en die heldin mekaar vind, begin Ewebeeld met die vyfde herdenking van die sprokiestroue. Vir-altyd-en-ewig-gelukkig was Lanie, die hoofkarakter, toe nie beskore nie. Inteendeel. Sy het met ʼn Bloubaard getrou en moet letterlik en figuurlik uit sy kasteel probeer ontsnap, die houvas wat hy op haar het verbreek en in die proses probeer oorleef.

Die spel tussen sprokie en werklikheid was vir my ʼn baie interessante ondersoek na die verwagtinge wat veral jong vroue het en waarom sommige in die strik van ʼn monster trap.

Dit was egter ook vir my heerlik om Jojo Richter van naderby te leer ken en die dinamika tussen haar en Valk en dié se nuwe vrou te ontrafel.

Doen jy iets opwindends met die prysgeld en, indien wel, wat?

Die prysgeld is hierdie jaar buitengewoon welkom. My gewone rekenaar het aan einde van verlede jaar die gees gegaf en ek moes op my skootrekenaar klaarkom terwyl ek vir ʼn nuwe een spaar. Danksy die prysgeld kon ek splash op ʼn heelwat duurder een as waarvoor ek begroot het. Vir ander sal dit dalk nie opwindend klink nie, maar vir my is dit ʼn groot heerlikheid!

Kyk ook na foto's van die LAPA-geleentheid waar Chanette Paul die prys ontvang het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top