Hoe om romantiese fiksie te redigeer

  • 0

Die Professional Editor's Group bied op 15 en 16 Mei 'n slypskool in Franschhoek aan oor romantiese fiksieredigering.

Naomi Meyer het vir Izak de Vries en Chanette Paul, wat die Afrikaanstalige komponent van die kursus aanbied, gevra wat redigeerders kan verwag.

Baie dankie dat julle tyd maak om met my te gesels, want ek weet julle albei is baie produktief en baie besig. Ek weet nou al julle gaan ’n romantiese fiksie-slypskool vir redigeerders kom aanbied by die voorloper tot die Franschhoek Literêre Fees. Vertel asseblief in ’n paragraaf vir ons lesers waarop elkeen van julle individueel gaan fokus. Wat moet redigeerders weet?

Izak de Vries: Ek gaan meer kyk na die agtergrond: Wat maak ’n goeie boek en hoe met ’n mens dit redigeer? Chanette is natuurlik ’n kenner van genrefiksie en sy gaan haar kennsis met die groep deel.

Chanette Paul: Romantiese fiksie, soos enige genre-fiksie, het sy eie geheime en kenmerke. Lesers het bepaalde verwagtinge van ’n genre. Ek beoog om aan die kursusgangers uit te wys hoe romantiese fiksie verskil van ander genres, wat die leser se verwagting is en hoe mens die skrywer kan lei sonder om oorspronklikheid in die wiele te ry. Ek sal ook benadruk hoe belangrik skryftegniese aspekte soos onder meer perspektiefhantering in romantiese fiksie is.

Ons almal wring ons randnote dat Mandela se oë traan. Maar dink julle romantiese fiksie verkoop? Of moet  mense nie aan die slypskool dink met die oog daarop om ’n boek te kan publiseer agterna nie?

Izak de Vries: Romantiese fiksie is van die heel grootste verkopers in Suid-Afrika. NB-Uitgewers en LAPA Uitgewers betaal salarisse danksy romantiese fiksie.

Chanette Paul: Romantiese fiksie is al vir baie jare lank wêreldwyd die topverkoper genre in die boekmark. Die aanvraag is onuitputlik. Lesers raak afhanklik van die feel-good-fix wat romantiese fiksie verskaf. In Afrikaans is dit nie anders gesteld nie.

Romantiese fiksie, soos enige genre-fiksie, het sy eie geheime en kenmerke. Lesers het bepaalde verwagtinge van ’n genre. Ek beoog om aan die kursusgangers uit te wys hoe romantiese fiksie verskil van ander genres, wat die leser se verwagting is en hoe mens die skrywer kan lei sonder om oorspronklikheid in die wiele te ry. Ek sal ook benadruk hoe belangrik skryftegniese aspekte soos onder meer perspektiefhantering in romantiese fiksie is.

Wat dink julle van die verpakking “romantiese fiksie”? Dink julle nie elke boek moet elemente hiervan bevat nie – met karakters wat mekaar liefhet of mekaar nie vind nie? Is dit nodig dat die boekwinkels weet waar om die boeke te pak?

Izak de Vries: Dis kontroversieel, ja, maar daar is tog ’n genre wat bepaald dit aan die leser gee, en daar is ’n enorme mark wat die soort fiksie soek. Hierdie mark is baie voorskriftelik. Dit is ook een van die moeilikste markte om voor te skryf, want jy word die hele tyd geweeg aan die voorskrifte van die mark. Ons gaan werk met ’n manuskrip wat reeds gekeur is vir publikasie, sodat almal kan leer hoe om ’n goeie boek te redigeer en dit nog beter te maak. Ons sal praat oor seks, natuurlik ja. ’n Redakteur moet weet hoe om met ’n stywe bolip vir ’n skrywer in te lig!

Chanette Paul: Romantiese fiksie, soos byvoorbeeld ook misdaadfiksie of wetenskapfiksie, is ’n spesifieke soort fiksie wat voldoen aan ’n leser se bepaalde leesvoorkeur. Liefhebbers van spesifieke genres wil weet wat hulle kan verwag wanneer hulle ’n boek koop. Natuurlik kan misdaadfiksie ook romantiese elemente hê, nes wetenskapfiksie, maar die klem val gewoonlik op die een of die ander.

Daar is uiteraard ook vermenging van genres soos byvoorbeeld die romantiese spanningsroman wat onderskei kan word van iets soos byvoorbeeld ’n hardebaard speurroman. Dié soort vermenging vorm egter weer in sigself herkenbare genres.

Boeke is duur en daar is ’n geweldige aanbod. Dis ’n onbegonne taak om ’n boekwinkel binne te stap en deur al die rakke te gaan. ’n Leser wat romantiese fiksie verkies, wil nie ’n boek koop en dan agterkom dit behels gruwels of monsters nie – of nog erger, dat dit op mismoedige noot eindig nie. Die teendeel is ook waar, daar is lesers wat ’n kleintjie dood het aan romantiek.

Boekaankopers wil weet watse soort boek hulle vir die winkel aanskaf sodat hulle die kopers kan inlig, hetsy deur rangskikking op die rakke of deur middel van ingeligte aanbevelings. Hulle weet ook watter genres die gewildste is en sal meer binne daardie genre aankoop.

Dis die aard van ontspanningsfiksie om in soorte onderverdeel te word en staan daarom bekend as genrefiksie. Daar kleef geen stigma daaraan nie. As vrugte in boksies verkoop sou word, sal mens immers wil weet of jy lemoene, druiwe of perskes koop en die groentesmous moet dus weet wat in die boksies is. Ook of die lemoene valencias, die druiwe hanepoot en die perskes taaipit is.

Laai die registrasievorm vir die slypskool hier af.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top