Labirint
Chanette Paul
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795800443
Koop Labirint by Kalahari.com!
Die lewe het al ’n paar liederlike draaie met Vasti de Leeuw geloop. Sy was nog op skool toe haar ma onder die ploegskare beland, met haar pa agter die trekker se stuur.
As student raak sy met ’n lummel deurmekaar wat haar verkrag en swanger maak. Boonop trou sy met hom. Die huwelik is uiteraard ’n fiasko. Sewe jaar ná die egskeiding teister Dolf Verster haar steeds oor die telefoon en is sy ’n totale senuwrak.
Ses maande voor haar veertigste verjaardag vlug dié kunstenaar terug na haar geboortedorp nadat haar meenthuis by Hartbeespoortdam geplunder word en ’n hele besending skilderye in die slag bly. Sy neem haar intrek in haar ouma se ou plaashuis langs die rivier.
Skaars is sy terug, of die telefoonoproepe begin van voor af. Hoe op aarde sou haar eks dié ongelyste nommer in die hande gekry het? En wie het die huis skoongemaak? Niemand het geweet sy kom nie.
Alles op hierdie rustige Overbergse dorpie is beslis nie wat dit op die oog af lyk nie.
Huweliksmaats wat uitgeruil word, vroue wat hul mans met ander vroue verneuk, ’n sielkundige wat iets wegsteek, ’n dokter met ’n drankprobleem, ’n prokureur met ’n onversadigbare vrou en ’n skreeulelike man wie se ma “deur ’n otter geraps is”, is maar ’n paar van die duiwels wat onder ronddwaal.
Binne weke ná haar aankoms word sewe mense die een ná die ander vermoor – met Vasti as die middelpunt van die labirint. Almal wat sy ken, kry ’n beurt om as verdagte deur te loop. Sy inkluis. Maar is die moorde net een booswig se werk, of loop daar meer as een moordenaar op Leeuwendrift rond?
Te midde van al die drama kry ’n mens die idee dat die vermoordes en hul agtergeblewenes Vasti min skeel. Sy skilder onverstoord voort en bereik haar eerste orgasme op 39.
Paul het duidelik heelwat navorsing vir hierdie boek gedoen. As jy min van kuns af weet, sal jy ’n hele paar dinge te wete kom. Ook van die Griekse mitologie. En natuurlik van labirinte en doolhowe.
Die taalversorging is nie oral wat dit moet wees nie, maar dit sal die meeste lesers waarskynlik nie eens pla nie. Moeder Teresa en Valkenberg se verkeerde spellings doen nie afbreuk aan die spanningslyn wat stewig optel ná ’n ietwat stadige begin nie. Min gewone lesers weet waarskynlik dit moenie “Moeder Theresa” en “Valkenburg” wees nie. Of dat “kwaste” die meervoud van “kwas” is en nie “kwasse” nie. Ensovoorts.
Dit is ’n stewige roman hierdie: 540 bladsye. Paul het ’n ewe stewige aanhang onder lesers wat sy met haar Davel- en Gys Niemand-reeks verower het. En meer onlangs ook met haar Maanschijnbaai-tweeluik: Joe & Sue en Nan & Jeannie, wat vroeër vanjaar by Lapa verskyn het. Aanhangers van haar werk sal sonder twyfel hierdie jongste boek ook geniet.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter



Kommentaar
Interessante een daai van die "kwaste" - ek kan sweer my taalonnie in matriek het onderskei tussen kwaste (in hout) en kwasse (pensele), maar ek sien die Woordelys en Spelreels, sowel as HAT, gee net een meervoudsvorm aan. So leer mens ...
Wat die boek betref, het ek gedink die verworwe kennis van die skrywer effe lomp uitgestal word - mens kan maklik te veel navors en indruk, soos dikwels in historiese romans te sien is, maar uiteindleik gaan dit oor hoe jy dit inwerk in die teks: Paul het wel nie te pedanties geword nie, maar dit lyk amper asof sy dit selfbewus gedoen het wanneer sy vertel van tegnieke en al die tinte en tossels van skilderkuns. Ek skilder self, so dis vir my interessant en ek dink kunstenaars behoort hulle vakgebied en tegnieke te ken, maar wil meeste lesers weet presies wat al die soorte blou en gele, ens. se name is? Speurverhale is mos veronderstel om 'n vinnige tempo te handhaaf?
Soos meeste romans kon hierdie een heelwat korter gewes het, maar dis seker meer indrukwekkend om 'n deurstopper te skep: "waarde vir geld?" Inteendeel, maar dis net my siening. Dit is dus eerder 'n aanwysing van wat die mark verlang ...
Francois
Snaaks; my ou Afrikaans-Engels-woordeboek gee weer as meervoud net 'kwaste' aan (Bosman, Van der Merwe en Hiemstra 1972 Sewende druk)
Kon nie die boek neersit nie. Het dit gelove!!!!!!!!!!
Moes soms kophou met al die mannewales, maar 'n treffer.
Verseker!