Resensie: Mirre deur Chanette Paul

  • 1

Mirre
Chanette Paul
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799398175

Ek het heerlik gelees aan Mirre, die tweede deel van die Vywervrou-trilogie. Mirre word voorafgegaan deur Lira en opgevolg deur Corali. Die reeks handel oor vroue wat harde lewenslesse leer, maar bo hulle omstandighede uitstyg en hulle nie laat onderkry nie, al is die pad ook hóé swaar en uitdagend. Dit vier dus die universele vrou se reis vanaf weerloos na weerbaar. Die sentrale boodskap is dan ook dat die mishandelde vrou wél haar kop kan oplig en daarop kan aandring om menswaardig behandel te word. Sy kán wegbreek uit ’n skadelike verhouding, al lyk dit aanvanklik hóé ontmoontlik.

Ene Lelani, ’n leser van Lira, se kommentaar verskyn op Mirre se agterplat: “Paul pak die tema van mishandeling in al sy gedaantes meesterlik aan sonder dat dit te swaar voel en dit gee diepte en emosionele lae aan die storie.” Dit verg inderdaad ’n vaardige én dapper skrywer om met ’n gewigtige onderwerp soos mishandeling in fiktiewe prosa om te gaan. Paul doen dit egter met ’n ingebore finesse en besondere meelewing en insig in haar karakters se psige.

Die menslike aspek vier hoogty in Paul se werk. Dit is juis hierdie kwaliteit wat haar so gewild maak as eietydse skrywer in Afrikaans, want sy beeld haar karakters natuurlik en realisties uit – asof ’n mens maar net in jou kar kan klim en Vywerbaai toe kan ry en vir Lira, Mirre, Corali, Marilyn, Boeta, Fynn en al die ander karakters, wat deur die loop van die boek vir die leser soos ou kennisse begin voel, daar sal aantref waar hulle besig is om hulle lewens te leef. Dit maak dit vir haar lesers makliker om emosioneel betrokke te raak en deur die storie beïnvloed te word.

Mirre, nes Lira en Corali, is ’n dik boek van bykans 600 bladsye. Paul neem haar tyd om die storielyne te ontvou. Die wel en wee van haar karakters is volkome in haar hande, en welwetende waarheen die storie op pad is, laat sy haar nie aanjaag wanneer dit by die vertelslag kom nie. Sy rek die heerlikheid uit soos net ’n meesterstorieverteller kan. Nadat Mirre Dreyer se man, André (nogal ’n befaamde huweliksberader), haar ernstig aanrand, vlug sy met net die klere aan haar lyf na haar vriendin Corali op Vywerbaai. Corali ontferm haar oor die erg beseerde Mirre en gee aan haar herberg.

Op hierdie stadium voel Mirre dat dit net mooi niks sal help om ’n beskermingsbevel teen André te kry nie. “Dit gaan hom nie keer nie, net woedend maak. En as sy ’n klag teen hom lê, sal hy net nóg kwater raak. Buitendien, hy sal die beste advokate in die land kry om hom te verdedig ...” “Toe sy laas ’n klag wou lê, het hy gedreig om haar op sy beurt van laster aan te kla as sy dit ooit weer sou doen. En waar kry sy die geld vir ’n hofsaak?” (45) Sy maak verskonings vir haar geweldenaar teenoor Corali: “Ja, hy het ’n donker kant, maar dit wys net sporadies. En jy moet onthou hy is onder baie druk.” (56)

Wanneer Corali opmerk, “Mirre, ek wens jy kan jouself hoor en dit meet aan ’n funksionele verhouding. Dink jy vir een oomblik jy verdien om in die gesig geslaan te word? Verwurg te word? Rondgepluk en –gestamp te word?”, antwoord Mirre só: “Nee, ek verdien dit nie, maar as ek net by die reëls hou ...” (57) Mirre verstaan waar André vandaan kom, dat hy die produk van ’n disfunksionele gesin is. Sy voel ook skuldig omdat sy nog ná al die jare na haar jeugliefde, Boeta Naudé, verlang. Sy moet egter self tot die besef kom dat dit André nie die reg gee om sy hande vir haar te lig nie.

Hier by bladsy sewentig rond het ek kriewelrig begin raak. Ek wou hê die storie moes teen ’n vinniger pas beweeg. Mirre het dan nog “dagin en daguit in haar donker kamer onder die duvet” gelê. Ek het ongeduldig geraak met haar. En net daar lees ek toe hoe Corali aan Boeta vertel hoe sy voel oor die angstige Mirre: “... ek is bevrees ek verloor my geduld ’n bietjie. Sy hou aan opkom vir daardie doos. Tipies mishandeldevrousindroom. Of Stockholm-sindroom. Of watse ellendige sindroom ook al. Can’t see the wood for the trees.” (71) Hier het ek besef hoe slim Paul Mirre se verhaal ontknoop, want my emosies was heeltyd, sonder dat ek die eens agterkom, in lyn met die gebeure. Ek het besef dat die storie nie aangejaag kan word nie. Dat Mirre tyd nodig het om heel te word en haar warboel gedagtes te orden. ’n Mens skud nie die trauma van mishandeling sommer net eensklaps van jou af nie. Dit neem tyd om weer jou eie identiteit te vind en op te staan.

Die taalgebruik het my hier en daar gepla. Die woord “sloerie” word verskeie kere gebruik –onder meer ook deur Celeste, Fynn se amper tienerdogter en Marilyn se kleindogter: “Dis alles die sloerie se skuld. Alles. Ek haar haar. Ek haat, haat, haat haar!” (285) Ek reken dat ’n sterker en meer eietydse woord veel meer funksioneel sou wees. Die woord “sloerie” wil-wil vir net my vreemd en outyds klink, verál omdat dit (by bogenoemde voorbeeld) uit die mond van ’n kind kom. Die skrywer skroom nie op ander plekke om taal kragtig in te span nie en van die karakters swets heel gemaklik op gepaste tye. Corali sê bv aan Mirre: “Fok die fokken reëls! ’n Huwelik is nie ’n bliksemse tronk nie!” (57) en Marilyn, wat hard probeer om haar seun Fynn en Lira bymekaar te bring, bely aan Mirre: “Mirre, ek weet nie of ek dalk poef aangejaag het nie.” (234) Dis nou die einste Marilyn wat op bl 116 vir Mirre van háár ondervinding met ’n vroueslaner vertel. “Maar toe wys ek vir die polisie foto’s van hoe hy my gebliksem het.” ’n Woord soos poef pas net nie vir my in die wêreldwyse en selfstandige Marilyn se mond nie.

Vir my lê die kern van die verhaal in Marilyn se woorde aan Mirre: “Dink maar na oor al hierdie dinge, maar Mirre, jy kan nie toelaat dat enigiemand jou behandel soos jy behandel is nie. En ’n jakkals verander dalk van haar, maar nie van snaar nie. Hy sal vir jou sê dit sal nooit weer gebeur nie, maar trust me, dit sal. As daardie membraan tussen selfbeheer en gewelddadigheid eers eenkeer geskeur het, word dit nooit weer heel nie” (116) en “As hy eers eenkeer ’n rede gevind het, sal hy altyd weer ’n rede vind, al probeer jy hoe hard. En die aanrandings sal eskaleer. It is the nature of the beast.” (117)

Behalwe die hooftema van ’n vrou wat ternouerdood van haar gewelddadige man weggevlug het en ’n lewe vir haarself probeer maak sonder hom, is daar ook baie interessante subtemas wat Paul soomloos verweef met Mirre se verhaal. Hierdie subtemas sluit in jaloesie, ontrouheid, veroordeling en verkeerde keuses, maar ook liefde, vriendskap, ouerskap, aanvaarding, vergifnis, tweede kanse en so meer. Hierdie boek wil aan mishandelde vroue wys dat daar wel uitkoms is. Ek is tevrede met Mirre se heel bevredigende slot. Ek is ook baie bly dat Corali nog op my wag, want ek is nog nie gereed om afskeid te neem van Vywerbaai se mense nie.

Meer oor die skrywer:

Chanette Paul is ’n veelsydige, produktiewe en bekroonde skrywer wat al dosyne boeke in verskillende genres die lig laat sien het. Sy het ook al verskeie boeke vertaal en doen ook manuskripontwikkeling vir LAPA Uitgewers. Lees gerus Erika Terblanche se skrywe oor Paul hier om meer oor die skrywer te wete te kom. Besoek ook Paul se webwerf vir ’n publikasielys.

  • 1

Kommentaar

  • Christelle Wilkin

    Ek geniet die vryheid van Chanette se skryfstyl. Sy sê dit soos dit it en draai nie doekies om nie.

    Hierdie trilogie bly my steeds by - lank nadat ek dit gelees het. Ek hoop regtig Maralin sien dalk ook die lig.

    In my opinie het die 3 stories opgebou to by die briljante einde van Corali.

    Welgedaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top