Uit die bloute deur Chanette Paul: ’n resensie

  • 3

Foto van Chanette Paul: Naomi Bruwer

Chanette Paul is geen onbekende as dit kom by die spanningsroman-genre nie. Haar nuutste boek, Uit die bloute, het onlangs by Lapa Uitgewers verskyn en stel as spanningsverhaal nie teleur nie.

Paul gebruik weer die hardkoppige en eiesoortige heldin van vorige boeke: Jojo Richter – nou net ouer en meer bevraagtekenend oor haar lewe en oudword en die liefde. Tipies van Paul se boeke, is die verhaal van Uit die bloute vol kinkels en draaie – die onverwagse en verrassende elemente en intriges boei die leser tot die einde toe.

In hierdie roman fokus Paul op die buiteruimtelike wêreld van vlieënde vreemde voorwerpe (VVV’s): Jojo ondersoek ’n groep vroue in die Akkedisberge. Sy word deur haar eksman, Valk, se vrou, Irene, gevra om ondersoek in te stel na die verdwyning van Irene se suster, Diana. Irene glo dat Diana gebreinspoel is deur die groep vroue nadat sy ’n handgeskrewe brief van Diana gekry het. Sy neem die brief na Ayla Hurter (’n grafoloog), wie se suster, Nimue, goed bevriend was met Diana en waarskynlik deel is van die vroue. Dan is daar ’n moord op ’n bekende regter – waarskynlik deur ’n boogskutter – en so begin die verhaal van Uit die bloute verder ontvou met intriges soos verdwynings, moorde en sluipmoorde, met tussenin ’n skeutjie romanse.

Paul vervleg fyn en deeglik in die ondersoek van Jojo na hierdie groep vroue in die Akkedisberge die geskiedenis van verskynings en die optekening van VVV’s in Suid-Afrika. Die navorsing wat Paul vir die verhaal gedoen het, word deeglik deur Jojo gebruik vir haar eie ondersoek en word so slim in die teks ingewerk dat lesers nie agterkom dat hulle besig is om meer oor die geskiedenis van VVV’s te lees nie. Tussendeur Jojo se vertelling oor haar navorsing kry ons ook Ayla se vertelling oor haar herkoms: “Sou Vivien dalk ’n doodgewone vrou en ma kon gewees het as ouma Marja nie oortuig was sy het in 1946 – nog voor die term bestaan het – ’n vlieënde piering gesien nie? Of as Vivien nie ’n praatjie bygewoon het van Elizabeth Klarer nie – die vrou wat in die 1950’s al beweer het sy is weggevoer deur ’n ruimtetuig?”

Benewens die verwysing na Elizabeth Klarer, wat beweer het dat sy ’n kind by ’n buiteruimtelike wese, Akon, gehad het, is daar verwysings na Indigo en Crystal en Rainbow Children; na ’n moederskip wat vanaf die Pleiade-sterrestelsel gaan kom om die groep vroue weg te neem na waar hulle nooit oud gaan word nie en ’n wonderlike lewe gaan lei. Daar is ook verwysings na jong mans wat verdwyn – toevallig (?) wanneer daar waarnemings van vreemde voorwerpe was. Is daar ’n verband? Is die vroue in die Akkedisberge so onskuldig as wat hulle voorgee om te wees? Hoekom word die bure rondom hulle vermoor? Wat gebeur met die jong mans?

Daar is ander subtiele verwysings na sektegroepe wat hulleself van die wêreld afsonder (“As Irene Richter maar weet hoeveel keer sy Diana verwens het. Nimue was erg genoeg op haar eie, maar nadat sy Diana ontmoet het, was dit asof sy sanksie gekry het vir haar oortuigings”); indoktrinasie; Stockholm-sindroom; veroudering en/of teenveroudering; seksuele misbruik; en wraak: “Wraak is nie soet nie. Dit het ’n bitter nasmaak. Dis ’n primitiewe manier van balans bring. Maar soms is dit die enigste uitweg.” En: “Maar Irene deel waarskynlik haar wrokkigheid, want die teenoorgestelde is seker ook waar.” Temas van oorerflikheid (die sondes van die moeders wat van geslag na geslag oorgedra word), trauma en die verwerking daarvan en die ingewikkeldheid van die menslike psige kom in Uit die bloute voor.

Tipies van Paul is haar mooi taalgebruik en landskapsbeskrywing: “Die lug is poskaartblou. Die see wat van die voet van die kranse af dein tot waar dit die onmeetlike op die horison ontmoet, nog ’n dieper blou. Die son skyn vol somerbeloftes al is dit nog vroeglente. Seemeeue krys in vlug en swarttobies swiep oor die rotse.” Ja, daar is die gewone “mooi” en “gelukkige” einde, maar dit pla gelukkig nie, want dit is ’n tipiese kenmerk van Paul se skryfwerk.

Uit die bloute is ’n boek wat ek nie kon neersit nie. Dit het my tot die einde toe geboei – nie net oor die intriges nie, maar ook oor die interessante karakters, die kinkels en spanningslyn en die interessante inhoud wat maak dat hierdie boek gelees moet word.

  • 3

Kommentaar

  • Ek was siende blind tot ek uit die bloute Chanette se boeke ontdek het, en toe al vyf haar Jojo-boeke in 'n kort tydperk gelees het.
    Ongelooflike leeservaring, alles gebeur met 'n doel, daar word geen onnodige draaie gegooi om haar boeke so lekker dik te maak nie.
    En regdeur loop die humor, spanning, suggestie, meelewing, emosie en nog klomp ander goed waarvan ek die name nie ken nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top