Chanette Paul oor Uit die bloute en reise deur haar skrywersloopbaan

  • 2

Uit die bloute
Chanette Paul
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799388947

Chanette Paul se 44ste boek, Uit die bloute, het pas verskyn. Die 44 sluit nie vertalings, omnibusse en duette in nie. Sy het ook al talle pryse gewen met haar uiteenlopende genres en voer ’n openhartige skrywersgesprek met Org Potgieter.

Jy het nege skole bygewoon, al in sewe provinsies gewoon en aan vyf universiteite gestudeer. Daar moet goeie rede wees wat nie wanderlust insluit nie?

My pa was die een met die swerflus en het altyd geglo die gras is groener aan die ander kant van die draad. Soms was dit, merendeels nie. Teen die tyd dat ek 16 was, het my ouers al 35 keer verhuis.

Hoewel dit vir my as kind baie ontwrigtend was, is ek nou nie spyt daaroor nie. Dit het my blootgestel aan ’n wye verskeidenheid ervarings. Ons het nie net op verskillende plekke gebly nie, maar ook in verskillende soorte behuising. Ons het onder andere in ’n woonwa gebly, asook in ’n residensiële hotel, in ’n omskepte stal (waar die een helfte bewoon is deur spiritiste), ’n rondawel met ’n kleinhuisie buite, in woonstelle, meenthuise en af en toe selfs in ’n huis. Ek is blootgestel aan stadslewe, plaaslewe, maplotterlewe, dorpslewe en een keer half per ongeluk aan wat bevoorregte mense seker ’n white trash-lewe sou kon noem.

In ’n huwelik van 22 jaar het dit nie veel beter gegaan wat die trekkery betref nie. My eerste huweliksjaar het ek deurgebring in ’n woonwa in die Venda-gebied – ’n klipgooi van die Limpopo en 80 km van die naaste foon af. Daarna het ons ook dikwels verhuis. Gedurende dié tyd is ek nou weer bootgestel aan die welvarende sy van die lewe.

Hierdie ervarings het my geleer dat nie net mense en hulle lewensbeskouings nie, maar ook atmosfeer van plek tot plek verskil. Ek dink dis seker waarom fisieke en kognitiewe ruimte altyd ’n belangrike rol in my boeke speel.

Dis net altyd vir my moeilik om te antwoord op die vraag: Waar kom jy oorspronklik vandaan? Ek het geen sinvolle antwoord daarop nie. Ek het nie ’n vandaan nie.

Het jy in jou “skewe huisie” op die oewer van die Kleinerivier in die Overberg nou uiteindelik rus gekry waar jy in volslae afsondering skryf?

Aanvanklik was dit vir my hemels om vir die eerste keer in my lewe net op een plek te bly in ’n huis wat ek my eie kan noem. Dit was wonderlik om in beheer te wees van waar ek bly en mense behoorlik te leer ken. Hier ná sewe jaar het ek egter onrustig geword. Bietjie soos Vianne van Chocolat-faam.

Die oplossing was om ’n erf op ’n bankrotveiling te koop naby die suidste punt van Afrika en later vir my ’n skryfplekkie daar te bou. Tans pendel ek tussen die twee plekke. In my skryfplekkie skryf ek waarlik in volslae afsondering; in Stanford is ek min of meer deel van die dorp, al word ek as ietwat van ’n kluisenaar beskou. Gelukkig is Blom, die man in my lewe, baie meer sosiaal as ek en trek my gereeld uit my dop uit.

Jy het al talle genres met sukses aangedurf. Hoe ontstaan jou idees vir ’n boek?

Elkeen is anders, maar meesal is daar eers die karakters, dan ’n prikkel en daarna ’n ruimte. Maar ander kere is die volgorde omgekeerd. Of dit gebeur heel anders.

Uit die bloute byvoorbeeld. Nadat ek Paaiboelie geskryf het, het ek geweet ek en Jojo Richter het nog ’n pad om te stap. Ons was albei vies vir die regter wat in Paaiboelie oneties opgetree het. Toe besluit ons om hom te vermoor. Ek het ook gewonder wat regtig van Irene Richter se suster Diana geword het. En kort vantevore het ek weer iets oor Elizabeth Klarer raakgelees – die vrou wat in die vyftigs beweer het sy het ’n buiteruimtelike geliefde en het ’n seun by dié.

Ek het gaan wyer oplees oor VVV's – iets wat al baie lankal my belangstelling prikkel – en was verras oor hoeveel voorvalle in Suider-Afrika opgeteken is.

Dit was die pit van die storie en hieruit het die boom gegroei.

En hoe skryf jy hom dan? Met rusposes of in een lang bevlieging wat weke of maande duur?

As organiese skrywer beplan ek nie veel voor ek begin skryf nie. Eers as ek die karakters beter leer ken, beplan ek entjies vooruit – terwyl ek skryf en veral saans as ek bestek opneem van wat ek die dag uitgerig het. En selfs dié soort lukrake beplanning werk meesal nie baie goed nie. Dit gebeur dikwels dat ’n karakter uit die bloute my storie te bowe val of dat een wat ek gedink het ’n goody is, toe eintlik ’n baddy in skaapsklere is.

Ek wens ek kon ’n manuskrip net in een bevlieging skryf, maar dis prakties onmoontlik. My boeke is dik en die storielyne verweef, en die lewe is geneig om mens se planne te onderbreek. Ek doen ook manuskripontwikkeling vir my uitgewers – deesdae darem net so 1–2 manuskripte per maand. Dit onderbreek uiteraard my eie skryfsiklus. Soms is dit frustrerend, maar dis gewoonlik ’n goeie ding. As ek daarna weer my storie vat, kyk ek met ’n varser oog daarna.

Die manuskripontwikkeling doen ek wanneer ek in Stanford is. My skryfplekkie hou ek net vir my eie skryfwerk. Daar konsentreer ek net op my eie storie. Dis so half en half my kapsule waaruit ek een keer ’n maand kom om weer die lewe en werklikheid in die oë te kyk. Ek bly gewoonlik so tussen twee en drie weke op ’n slag daar en so ’n week tot twee weke op ’n slag in Stanford, afhangende van my keerdatums, bekendstellings en dies meer.

Chanette Paul (Foto: verskaf)

Jou genres strek omtrent oor die hele spektrum: liefdesverhale, rillers, speurverhale, met temas van heldersiendheid en psigiese en psigotiese karakters en die bonatuurlike, soos dooie mense wat verskyn. Jou verwysingsveld moet dus baie wyd wees?

Elke boek wat ek geskryf het, in welke genre ook al, het gehelp om my as skrywer te vorm – my inderwaarheid leer skryf. Die romanses net soveel as die ernstiger verhale, net op ander maniere.

Daar is geweldig baie dinge in die lewe wat my boei en ek lees nog veel wyer as wat ek skryf. Ek is weetgierig en nuuskierig van nature. Enige misterie gryp my aan. Ek wil dinge verstaan. Of ten minste probeer.

My gunstelinggenre as leser is spanningsfiksie in enige gedaante. Die redes waarom een mens ’n ander wil doodmaak, die punt waartoe hulle gedryf word tot hulle dit uiteindelik doen, fassineer my. Ook hoe hulle uiteindelik die moord pleeg en wat die gevolge is – nie net vir die moordenaar nie, maar veral vir ander mense wat deur die moord geraak word.

Maar die maniere waarop mense liefkry, hoe liefde ontspring, al kwyn dit dikwels weer, is ook vir my ’n baie groot deel van die lewe se geheimenisse. Daarom hou ek as skrywer daarvan om spanning en liefde in dieselfde stoompot te gooi, dit met ander onverstaanbaarhede en verborgenhede te geur, en te sien wat daar uitkom.

Ek glo in uitdagings. Ek voel ’n mens moet jou grense voortdurend ondersoek. Grense is daar om oorgesteek te word as jy ’n paspoort kan kry – en soms selfs sonder een. ’n Limiet is tydelik en deursigtig, hoogstens ’n dun membraan. Gelukkig is ek in goeie geselskap, daar is nou wêreldwyd ’n sterk neiging na “genre bending”. Dit pas my uitstekend.

Hoe voel jy oor die gebruik van toeval? Toeval is deel van die lewe. Dis dikwels ’n nuttige toevlug vir die skrywers van spanningsverhale, maar dit moet darem ook in fiksie oortuigend wees. In een van die resensies oor Offerlam – en daar was baie gloeiendes – word jy uitgetrap oor die rol wat toeval in die boek speel.

In die lewe gebeur daar dinge wat mens kan toeskryf aan toeval of sinchronisiteit of noodlot of waaraan mens ook al wil. Daar gebeur goed wat ons nie lekker kan verklaar nie of nie weet hoe de hel dit moontlik is nie. In fiksie is toeval ’n no-no. In fiksie moet alles gemotiveer wees en is die gebruik van toeval om iets te laat gebeur of te verklaar of ’n wending aan die verhaal te gee, veral om ’n oplossing te bied, lui dinkwerk. Hieroor voel ek baie sterk, en daarom is dit ironies dat ek daaroor uitgetrap is.

Die betrokke resensent se een punt van kritiek in hierdie opsig was dat dit te toevallig is dat Caz en Luc by dieselfde straatkafee beland. Hoewel die kritiek geldig sou wees as dit elders plaasgevind het, is Damme ’n piepklein dorpie en alle straatkafees is nie altyd op dieselfde tydstip oop nie. Die meeste van hulle is ook in een straat. Toe ek die eerste keer daar was, was net die een straatkafee met onderdak oop. Ek het dit gebruik as Caz en Luc se ontmoetingsplek. Hoewel mens seker ’n mate van toeval daaraan kan toedig, is dit baie moontlik dat dit kon gebeur het soos ek dit beskryf het. Waar ek die fout gemaak het, is om nie aan die leser te laat blyk hoe moontlik dit eintlik is nie. Die resensent is dus wel reg in haar kritiek, maar slegs omdat dit nie uit die teks geblyk het dat dit nie blote toeval is nie, maar die gevolg van die spesifieke ruimte waar die toneel afspeel.

Ook op die ander twee gevalle wat vir die resensent te toevallig was, kan ek antwoorde gee, maar dis nie hier van belang nie. Dis egter hierdie soort kritiek wat vir my baie waardevol is en waaruit ek leer.

Die einste Offerlam speel af in België, Europa, Noord-Afrika, Sentraal-Afrika. Dit moes heelwat navorsing geverg het. Maak jy baie van navorsing gebruik?

Ek dink soms ek bestee meer tyd aan navorsing as aan die skryf van die manuskrip. Navorsing is vir my ontsettend belangrik vir my boeke, maar ek geniet dit ook geweldig. Dis baie lekkerder en makliker as skryf!

Vir die Offer-tweeluik het ek nog meer navorsing gedoen as vir enige ander boeke. In Offerlam het ek vir die eerste keer ’n Europese land as ’n groot deel van die agtergrond gebruik. Om daardie land, België, te verstaan, het ek ’n maand lank daar gaan bly en navorsing gedoen, en vir die tweede boek, Offerande, weer twee weke. Ek het oorweeg om DRK toe te gaan, maar is sterk afgeraai en dit sou ook net vir my te duur gewees het.

Vir die huidige DRK het ek staatgemaak op YouTube en het boeke met die DRK, Zaïre en die Belgiese Kongo as agtergrond gelees – fiksie en niefiksie. Ek was ook gelukkig genoeg om met die professor wat die kommissie van ondersoek na Patrice Lumumba se moord gelei het oor die Belgiese Kongo te gesels. En ek het die geleentheid gehad om die toenmalige president van die grootste diamantbeurs in Antwerpen te ontmoet. Hy het my self toegelaat om ongeslypte diamante te bevoel en te bewonder – en natuurlik te begeer – en verduidelik hoe diamante uit die Kongo van ander verskil.

Dié soort in situ-navorsing is egter ’n duur spulletjie, dus plaas ek nou weer merendeels my stories hier te lande.

Omdat my stories nogal verwikkeld is, verg feitlik al my boeke baie navorsing, maar party nog meer as ander. Sommige boeke verg praktiese navorsing en met ander kan ek grotendeels van die internet en skriftelike bronne gebruik maak.

Met Uit die bloute kon ek byvoorbeeld vir my navorsing oor die VVV-gegewe op boeke daaroor en op die internet steun. Wat die handskrifontleding betref, het ek die ontleding van my eie handskrif as basis gebruik – en was verras! – en ook kontak gemaak met ’n grafoloog wat gaaf genoeg was om vir my inligting te gee, onder meer oor sogenaamd lelike handskrif.

’n Resensent het een van jou boeke verdoem nadat hy 100 van die 500 bladsye gelees het. Mense steur hulle hopelik nie aan so ’n resensie nie, maar het jy al iets geleer uit resensies? Jy het laat blyk dat jy hulle wel lees.

Ja, ek lees resensies. Ek moet weet wat van my boeke gesê word – of dit nou negatiewe kritiek is of lof. Uit die negatiewe kritiek leer ek as ek voel dis geldig en gemotiveer. Uit die lof leer ek veel minder, maar dis lekker om dit te lees! Dis ook vir my interessant hoe resensente my boeke interpreteer. Soms sien hulle dinge raak wat geldig is, maar waarvan ek nie eens bewus was nie. En soms sien hulle iets wat ek bedoel het om gesien te word, nie raak nie.

Ongelukkig steur mense hulle wel aan verdoemende resensies. Daar is boeke, vernaamlik van debuutskrywers, wat al gekelder is as gevolg daarvan en daar is ook skrywers wat al ophou skryf het ná so ’n resensie.

Of die betrokke resensent die hele boek gelees het, weet ek nie, maar ek was gelukkig in die opsig dat ek wonderlike, lojale lesers het. Hulle het dadelik ingesien dat daardie sogenaamde resensie ’n persoonlike aanval was eerder as ’n opinie oor die boek.

Ek het nie ’n probleem met kritiek nie en dit ontstel my selde. ’n Skrywer moet ’n dik vel ontwikkel as jy wil aanhou skryf. Jou werk gaan deur baie hande om die beste moontlik teks daar te stel en dit sluit uiteraard kritiek in.

Hierdie resensie het my egter wel ontstel. Veral omdat daar nie behoorlike motivering vir die kritiek gegee is nie en ook omdat die opvolg sommer afgeskiet is voor dit nog klaar geskryf was, laat staan deur die resensent gelees is. Dit was egter nie net die resensie wat my ontstel het nie. Die reaksies op die resensie en die polemiek wat daaruit ontstaan het, het in sommige gevalle bitter baie soos schadenfreude geklink. Dit was vir my eintlik veel erger as die resensie self.

Uit hierdie resensie en uit die reaksie daarop uit sekere geledere het ek geleer dat my stories en boeke ’n saak tussen my en my lesers is. Ek skryf vir húlle, nie vir kritici nie. Ek het ook geleer dat die oorgrote meerderheid van my medeskrywers, veral dié wat ook ontspanningsfiksie skryf, ongelooflik ondersteunend is.

Die meeste ander resensies waar foute uitgewys word met motivering, help my egter om te probeer beter skryf.

Klink my mens raak geheg aan ’n reeks en karakters. Die Sweedse skrywer Henning Mankel sê oor sy speurder, Kurt Wallander, dat hy nie van hom hou nie, maar so verlang het dat hy nog ’n avontuur met hom aangepak het.

Oor jou Davel-reeks oor vroue sê jy die sewe boeke was een van jou lekkerste skryfervarings. En: "Ek het Davels geëet, gedrink, gedroom, ge-alles. En begin huil toe ek Fleur, die laaste in die reeks, na my uitgewer toe gestuur het."

Duidelik raak jy geheg aan sommige karakters – soos ’n skilder aan ’n skildery wat hy dan moet verkoop?

Ek raak baie geheg aan sekere karakters. Ek hoor ook dikwels van my lesers dat ook hulle swaar afskeid neem.

Aan die Daveltjies het ek besonder geheg geraak. Ek het ses van die sewe boeke in die reeks binne ’n jaar geskryf. Die karakters was vir my baie werklik. Maar dit was ook vir my moeilik om afskeid te neem van Gys Niemand ná vyf boeke waarin hy ’n sekondêre, maar belangrike rol gespeel het. En die Calitze van die Maanschijnbaai-tweeluik het ook besonder diep in my hart gekruip. Tans is ek en Jojo Richter in ’n baie hegte verhouding.

Soms is daar selfs newekarakters wat my bybly lank nadat die storie geskryf is. Soos San Badenhorst wat in twee van die Gyse opduik. En ook Rose-Anne Lockwood van Boheem.

Gelukkig gaan my “skildery” nie weg uit die oog soos ’n skilder s’n nie. My karakters leef voort in my kop, al is hulle tyd in my storie of reeks uitgedien. En soms keer daar selfs weer een of twee terug in latere boeke waar hulle ’n klein rol speel. Soos in Uit die bloute, waar Xanthe van Fortuin en Faan Fortuin wat in die hele Gys Niemand-reeks gefigureer het, weer hulle toetrede maak.

Self is ek dol oor reekse met herhalende karakters wat naderhand soos ou bekendes voel. Jou Gys Niemand-reeks het jou seker ook baie genot verskaf?

Ek het nooit gedink ek sou reekse skryf nie. Ek het ook my vorige reekse nooit as reekse beplan nie. My uitgewer het my gevra om ’n opvolg te skryf vir Tamara wat voorheen uitgegee was as Bittersoet wals. Dis waar die Daveltjies hulle ontstaan gehad het, want ek kon nie ophou by een opvolg nie en die reeks bestaan toe uiteindelik uit sewe boeke.

Toe ek Springgety geskryf het, wou ek bloot hê dit moet Lily Reynecke, die kuise tert, se storie wees. Maar moorde is geneig om speurders te lok. En so het Gys Niemand teen my sin die boek binnegedring. Vir Fortuin het hy weer opgedaag vir roll call. Ek het probeer keer. Hom ’n angina-aanval gegee en in die hospitaal gestop, maar Gys het net vasgeklou. Toe ek Boheem begin skryf het, het ek besef Gys wil ook sy en Gertjie se storie vertel hê. Waar ek hom aanvanklik verduur het, het hy later baie diep in my hart gekruip en dit was baie moeilik om van hom afskeid te neem.

Met Jojo Richter het min of meer dieselfde gebeur. Ek het iemand nodig gehad om vir Cara (Siende blind) te help. Jojo was byderhand. Ek het dadelik besef sy het ook ’n storie om te vertel, maar snaaks genoeg was sy sku in die tweede boek waarin sy ’n rol speel (Raaiselspieël). Maar toe ek aan Ewebeeld begin skryf het, het sy pens en pootjies in die storie beland en dit ook haar storie gemaak.

Sy het haar klaarblyklik vreeslik gewip toe ek die Offer-tweeluik daarna geskryf het, want toe ek begin skryf aan Paaiboelie het sy feitlik oorgeneem en in Uit die bloute weer so gemaak. Ek moes net keer of sy het die hoofkarakter geword.

Daarteenoor was die Offer-tweeluik aanvanklik bedoel om ’n drieluik te wees, maar dit het nie so gebeur nie. Die Maanschijnbaai-tweeluik het nou weer ontstaan uit wat veronderstel was om net ’n romanse te wees.

Tans skryf ek aan ’n beplande drieluik. Ons sal maar moet sien of dit so gaan uitwerk.

Jy sê iewers: "Boeke is soos vye en turksvye. Ek skryf vye." En daai vyeboom gaan seker nog baie dragte hê?

My vyeboom dra nog goed. Ek hoop dit sal in die toekoms ook vrugbaar bly en vye-eters voed. Die turksvye laat ek aan ander oor. Elke voël sing mos maar soos hy gebek is.

  • 2

Kommentaar

  • Felecia Gerber

    Ek het verslaaf geraak aan Charnette Paul se boeke. Het begin met die Jojo-boeke, baie geheg geraak aan die karakter. Gaan more my Davel-reeks en Uit die bloute kry. Kan nie wag om daarmee te begin nie.

  • Riëtte Heslinga

    "Tans skryf ek aan ’n beplande drieluik. Ons sal maar moet sien of dit so gaan uitwerk." Beste nuus ooit! So pas "Uit die bloute" verslind. 'n Boek is skaars op die rak en ons lesers soek al weer 'n volgende een.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top