Offerlam word Sacrificed: ’n onderhoud oor die vertaling

  • 0

Om ’n internasionale deurbraak te maak is waarskynlik elke Afrikaanse skrywer se droom. Chanette Paul het reeds in 2015 haar internasionale staal gewys toe haar spanningsroman Offerlam in Nederlands vertaal is. En nóú pryk Offerlam se Engelse sussie, Sacrificed, ook op al wat ’n boekrak is!

Chanette en Elsa Silke, die vertaler wat Caz Colijn en die ander Offerlam-karakters laat Engels praat het, gesels met Daleen Venter oor die vertaalproses.

Chanette

Hallo, Chanette. Baie geluk met die Engelse vertaling van Offerlam. Dit is ’n reuse-veer in jou hoed! Waar het alles begin?

Eintlik het alles begin toe ek deur ’n Belgiese agent genader is. Ons het mekaar ontmoet by ’n geleentheid waar ek saam met Pieter Aspe opgetree het gedurende sy Suid-Afrikaanse boektoer in 2011.

In Mei 2014 het ek net-net begin werk aan ’n volgende Jojo Richter-boek toe die agent my kontak en vra of ek nie lus is om ’n boek met ’n Belgiese agtergrond te skryf vir moontlike publikasie in België nie.

Ek het my oor ’n mik geskrik, maar kon die uitdaging nie weerstaan nie. Op voorwaarde dat die gebeure net gedeeltelik in België afspeel en dat my hoofkarakters Afrikaans is, het ek – met toestemming van LAPA – ingestem. Ek het die manuskrip waaraan ek al begin werk het, opsy gesit en danksy die LekkerLit-prysgeld wat ek vir Siende blind ontvang het, is ek vir ’n maand België toe om daar navorsing te gaan doen.

Die uiteinde was die Offer-tweeluik (Offerlam en Offerande) wat toe wel in Nederlands vertaal en in België deur Uitgewerij Lannoo uitgegee is. Ek is juis weer op pad België toe vir die bekendstelling van die tweede boek, Offerande, wat pas daar verskyn het.

Die Nederlandse Offerlam is baie goed ontvang deur Belgiese en Nederlandse resensente en LAPA het hulle bereid verklaar om hulle hand te waag aan ’n Engelse vertaling. Dit was ’n enorme waagstuk, aangesien dit redelik algemene kennis is dat Engelse fiksie wat in Suid-Afrika afspeel, hier te lande nie baie goed verkoop nie – in teenstelling met aankope deur ons lojale Afrikaanse lesers.

Intussen het Jessica Powers van Catalyst Press LAPA genader om vertaalde fiksie in die VSA te versprei. Daar is toe besluit om saam met Sacrificed ook Martin Steyn se Dark traces (vertaling van Donker spoor) se verspreidingsregte in die VSA en Kanada aan Catalyst Press toe te staan.

Die Suid-Afrikaanse uitgawe het in April verskyn en die VSA-uitgawe word in Oktober van stapel gestuur, dus kan ons in hierdie stadium nog net styf duim vashou dat die waagstuk vrugte afwerp.

Hoe het die vertaler, Elsa Silke, haar van haar taak gekwyt?

Elsa is ’n skitterende en veelbekroonde vertaler en ek voel baie bevoorreg dat sy vir Offerlam kans gesien het. Sy het haar uitstekend van haar taak gekwyt en was ongelooflik geduldig met my.

Watter struikelblokke het julle in die proses teëgekom en hoe is dit oorkom?

Daar was ’n legio struikelblokke, maar ek dink nie meer of minder as in enige ander boek nie. Elke boek wat vertaal word, het waarskynlik sy eie geite benewens standaard-vertaalprobleme.

Ek was reeds betrokke by die Nederlandse vertaling van sowel Offerlam as Offerande aangesien ek Nederlands kan lees, al kan ek dit nie praat nie, dus het ek al deeglik ondervind hoe glibberig taal en nuanse kan wees. Engels het egter sy eie probleme meegebring.

Caz se sin vir humor en die ietwat sardoniese manier waarop sy geneig is om haar uit te druk, was byvoorbeeld baie moeilik om in Engels te vertaal. In Afrikaans verstaan die leser dadelik wat die bedoeling is agter dinge wat sy sê en dink, maar om hierdie intensie agter die woorde in Engels oor te dra, was baie moeilik. Daar was byvoorbeeld ’n hele paar plekke waar die vertaling rassisties geklink het terwyl die teendeel bedoel is, en wat sy sê en dink juis sosiale kommentaar lewer.

Sowel Elsa as Karin Schimke, die redigeerder, en later ook Jessica Powers, die Amerikaanse skakel in die ketting, het op hierdie soort probleme gewys en dit het heelwat aanpassings geverg. Soms het ons iets net heeltemal uitgesny en soms het ek oorgeskryf tot dit die regte boodskap en gevoelswaarde oordra.

Hoeveel insette het jy as skrywer in die vertaalproses gelewer?

Ek en Elsa het nou saamgewerk terwyl sy vertaal het. Sy het elke dan en wan vir my ’n paar hoofstukke gestuur om deur te gaan. Daar het ons die opvallendste goed reeds uitgesorteer. Dit het dikwels meer oor nuanse as iets anders gegaan, maar ons moes ook verwysings na dinge wat vir nie-Suid-Afrikaners onbekend sou wees, systap. Nadat die manuskrip in sy geheel vertaal is, is ek weer daardeur en het met voorstelle vir veranderings vorendag gekom.

Daarna het ek weer nou saamgewerk met Karin Schimke se redigering, waar ons nog ’n paar klitsies uitgekam het. Ek is ook saam met Jessica Powers ’n paar keer daardeur. Sy het onder meer gesorg vir die veramerikaansing maar ook op nog ’n paar goed gewys waaraan ek moes werk. Dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar, is nie so duidelik vir Amerikaanse lesers nie, of val nie binne hulle verwysingsraamwerk nie. Ek het selfs dele oorgeskryf ter wille van groter helderheid, wat Jessica weer geredigeer het. Ek  was dus tot op finale bladproefstadium intensief betrokke. Ek het ook insae in die voorblad, agterbladteks en persverklaring gehad.

Ek weet nie hoeveel keer ek deur Offerlam is nie, maar dis baie – eers in Afrikaans, toe in Nederlands en uiteindelik in Engels. Ek het skoon in tale begin droom. Dit was egter vir my ’n geweldig verrykende ervaring. Dit het my opnuut laat besef hoe soepel Afrikaans is en hoe uniek ’n mens jou daarin kan uitdruk.

Elsa

Hallo, Elsa. Baie geluk met die verskyning van Sacrificed. Chanette is vol lof vir jou werk en dit is heerlik om ’n vertaler se perspektief op die vertaalproses te kry. Hoe is jy gekies as die vertaler van Offerlam?

Cecilia Britz van LAPA het my genader om te hoor of ek sou belangstel om ’n proefvertaling te doen. Ek was een van ’n paar vertalers wat genader is en ek is toe later in kennis gestel dat die skrywer op my besluit het.

Hoekom het jy besluit om die vertaalopdrag te aanvaar?

Ek het in die verlede ’n hele paar spanningsverhale, selfs rillers, vertaal. Ek is self ’n ywerige leser van dié genre en ek geniet dus ook die vertaalproses.

Was dit ’n uitdagende vertaalproses? Watter uitdagings het jy teëgekom?

Elke vertaling het maar sy eie uitdagings. ’n Mens moet altyd besluit hoeveel van die tipies plaaslike terme en begrippe om te behou en of jy die vertaling meer generies gaan maak, veral indien dit gemik is op die internasionale mark. Is ’n stoep byvoorbeeld ’n “porch”, of ’n “veranda”, of bly dit ’n “stoep” in Engels? Gaan hulle braai, of gaan hulle barbecue?

Dis ook altyd ’n uitdaging om nie die skrywer se stem te verloor in die vertaling nie en om die ritme van die werk in sy geheel te behou. En ’n mens strewe altyd na die skep van geloofwaardige dialoog. Die vertaling van uitdrukkings wat eie is aan die karakters, die gebruik van gekruide taal, of selfs net effens sterker woorde, was nogal ’n tameletjie. Die hoofkarakter, Caz, gebruik byvoorbeeld die uitdrukking “jimmel!” nogal graag. Maar die vertaling in sy geheel het geen ernstige probleme opgelewer nie.

Was Chanette nou betrokke by die vertaalproses? En het sy waardevolle insette gelewer?

Ek en Chanette het baie nou saamgewerk aan die finale produk en vir my was dit ’n baie bevredigende proses. Chanette wou seker maak die styl is op die man af, tong-in-die-kies waar toepaslik, “snappy” (haar woorde). Sy het ook sekere goed weggelaat uit die Engelse weergawe. Dis egter nie vreemd vir ’n skrywer om weg te neem of by te voeg tydens die vertaalproses nie. Ingrid Winterbach sê sy beskou dit as nog ’n geleentheid om aan die teks te werk.

Chanette het dus as ’t ware hoofstuk vir hoofstuk geredigeer aan die voltooide vertaling en die teks dan weer vir my teruggestuur. Ek het al haar voorstelle probeer aanvaar, behalwe waar ek gevind het iets was onidiomaties, of waar ek werklik nie met ’n verandering saamgestem het nie. Maar daar was nie baie sulke gevalle nie. Op die ou end was daar ook nog ’n redigeerder van buite wat aan die finale teks gewerk het. ’n Mens kan dus sê die finale produk was ’n volledige spanpoging!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top