...
Maar in hierdie betrokke-kerk-wees na buite, besef hulle heel gou hoe menslik onmoontlik die taak om ’n verskil te maak, kan wees. Nogtans is dit beter om betrokke te raak by die haas onmoontlike as om vasgedraai te bly binne die bladsye van Bybels en Bybelstudieboeke.
...
Titel: Om ’n leeu se bek toe te bid
Skrywer: Jan Vermeulen
Uitgewer: LUCA
ISBN: 9780637004536
Jan Vermeulen is ’n bekende skrywer. Hy het al talle jeugboeke geskryf en sy krimireeks was bloedstollend grillerig.
Nou het hy ’n jeugboek uitgegee wat by LUCA verskyn het. LUCA is die Penguin Random House-stal se antwoord op NB Uitgewers se Lux Verbi. Geestelike boeke sou te wagte wees.
Moet egter nie Vermeulen se roman Om ’n leeu se bek toe te bid op hierdie baadjie takseer nie. Soos met An-Mari do Carmo se Groen, huiwer hierdie teks nie om geloofsvrae te vra nie. Groen en Om ’n leeu se bek toe te bid is egter totaal verskillende verhale. Ja, godsdiens kom ter sprake in Vermeulen se roman; daar is selfs ’n kranige knaap wat die hele tyd Bybelstudie doen. Godsdiens is (skynbaar) bloot maar een aspek van die teks.
Skynbaar? As jy glo ’n dominee moet met ’n oop koerant preek, dan word ekologiese en etiese probleme ook deel van die godsdiens. Dan gaan jy hierdie roman geniet. As jy suiwer op die hemel en die hel sou fokus, gaan hierdie boek nie vir jou werk nie.
Uiteindelik domineer twee vrae hierdie teks: Kan ’n moderne mens nog bid vir wonderwerke, en wat doen ’n moderne Christen met die enorme onreg van grondbesit in die lig van ons apartheidsverlede?
Die eerste vraag is vrek interessant, Vermeulen is ’n slim genoeg skrywer om dit deeglik en prettig uit te pluis.
Die ware impak van hierdie boek lê egter in die tweede vraag. Etienne van Heerden se debuut, Matoli, handel ook oor die saak, maar daar is bitter min jeugboeke gepubliseer wat hierdie bynes aanroer. Hannes Barnard se bildungsroman Halley se komeet speel ook met die onreg van die verlede, maar die kwessie van grondbesit word nie direk betrek nie.
Ek het Vermeulen ’n paar vrae gevra:
Jy is bekend vir jou fiksie, beide vir jong mense en vir volwassenes. Hoe het dit gekom dat jy spesifiek vir LUCA ’n boek gelewer het?
Prakties was dit ’n versoek van LUCA om vir hulle iets te skryf. My agtergrond van dekades se bediening in ’n amptelike kerk, met heelwat ondervinding van jeugwerk, plus die aantal jeugromans wat ek reeds geskryf het, het LUCA seker die vertroue gegee om my te nader; waarvoor ek baie, baie dankbaar is. Want ek het al ’n geruime tyd die behoefte, of dalk was dit ’n calling, gehad om met my skryfwerk, met die passie wat ek glo ek van bo ontvang het, ’n slag terug te ploeg in ’n nuwe soort jeugbediening, naamlik in boeke. Hierdie Leeu-boek is nou die derde jeugwerk wat ek aan LUCA gelewer het, en hopelik sal daar nog ’n paar kan kom.
Nie al jou karakters is vlekkelose soet kinders nie. Pikkie is ’n lieflike, uitdagende karakter wat rook en sommer openlik sê Bybelstudie is bog. Hoe het jy op die rolverdeling besluit vir hierdie roman?
Aanvanklik was dit net Juandre en Pikkie, omdat albei hul lewens so nou om Nero die afgetrede sirkusleeu se lewe draai. Daarom wou ek hulle as twee teenpole skets; Juandre die plaasseun met sy aspirasies om dominee te word en Pikkie wat aan geen kerk wil behoort nie. Sy sê sy bid nie eens meer nie. Ek moes haar dus as tawwe, tawwe tienie skets om die vonke behoorlik te laat spat. Die ander vier wat die prentjie voltooi, moes ook verteenwoordigend van ’n diverse samelewing in die skoolopset wees. Stap maar in enige moderne skool in en jy sal ’n tienerseun met ’n eetverstoring vind, ’n kunssinnige meisie met ’n gebroke hart, ’n tienerseun met Olimpiese Spele-drome, ’n meisie wat geknel word deur haar (Xhosa-) familie se tradisies. En op almal speel die land se verlede en ook die huidige situasie in. Maar natuurlik het die meeste van die karakters eers in die loop van die plot werklik gegroei en begin uitstaan as unieke individue wat hul plek moes volstaan in die storie, soos dit maar in enige roman gebeur.
Juandre, die hoofkarakter, wil graag ’n dominee word. Op die Nuwe Hervorming Netwerk lees ek dat baie dominees dink ’n graad in teologie is nie meer veel werd nie. Hoe sou jy Juandre se keuse ondersteun, al dan nie?
Juandre is ’n tienerseun met ’n sterk oortuiging in die egtheid van die roeping wat hy ontvang het. Hy is ook ’n jongman wat nie dinge halfmas wil doen nie. Vir hom is dit alles of niks. Daarom is hy deurgaans bereid om groot offers te bring, in alles wat hy aanpak. ’n Graad in die teologie, glo hy, sal hom in staat stel om by die oorspronklike skatte en waarhede van sy godsdiens uit te kom, sodat hy die ware en suiwer geloof kan gaan uitleef en verkondig. Sy gemeentedominee (met opset soms effens karikatuuragtig geteken) het wel ook ’n groot invloed in sy roeping en sy siening van die geloofslewe en dien as rolmodel vir hom.
Wanneer ons fiksie skryf, is daar ’n pakt met die leser om te glo in ons storie. In Engels praat ons van “the suspension of disbelief”. Jy speel lekker met hierdie konsep wanneer die jong mense bid vir wonderwerke, nie waar nie?
Vir die leser om te glo in die storie, moet hulle eerstens glo in die karakters. As ’n mens dus ’n konsep soos wonderwerke by ’n LUCA-storie inbring, gaan dit nie oor ’n lessie oor die werklikheid van wonderwerke wat vir die “kinders” geleer moet word nie. Veel eerder gaan dit oor die “kinders” se persepsie en ervaring van wonderwerke wat so dikwels klakkeloos deur volwassenes verkondig word. Daarom vra Pikkie in ’n stadium of enige van die tawwe tienies al ’n genuine wonderwerk voor hulle oë gesien gebeur het en dan bedoel sy nie of hulle al by ’n vertoning van wonderwerke was nie. Selfs volwassenes wat die boek lees, behoort gekonfronteer te wees met die vraag oor die werklikheid van wonderwerke in ons alledaagse lewe. Om die leeus in jou lewe se bekke toe te bid, kan seker as ’n wonderwerk deurgaan, of hoe?
Is die ophef van ongeloof gelyk aan geloof?
Geloof is nooit ’n eindpunt nie, nie ’n doellyn of doelkas nie. Geloof is ’n nimmereindigende groeiproses, soos die Bybelse mosterdsaad wat later groei tot ’n allemintige boom; ’n boom wat weer nuwe saadjies ontwikkel wat weer tot nuwe bome kan groei. In die lig hiervan, is geloof die opheffing van ongeloof wanneer die “ongelowige” begin besef of ontdek daar is dieper moontlikhede as blote weiering om ruimte te laat vir die potensiaal van deure wat kan oopgaan, wêrelde wat kan ooprol, ongelooflike of onverklaarbare dinge wat kan begin gebeur.
Kerke en geloofsgemeenskappe staan deesdae voor talle besluite, en hulle keuses laat hulle dikwels in een van twee kategorieë val: Die sogenaamde evangeliese kerke vs die sogenaamde betrokke kerke. Sou ek reg wees dat jou boek na die betrokke-rigting gaan?
Op die vasbytkamp word die ses tieners in der waarheid ’n kerk op hul eie. ’n Kerk waar mense met totaal verskillende agtergronde mekaar se uniekheid leer ken en moet begin aanvaar, mekaar se laste begin dra, begin omgee vir mekaar, ’n hegte eenheid word, maar ook na buite ’n effek begin hê: In die lewe van Nero, die afgetrede sirkusleeu wat geoormerk is vir geblikte jag, asook in die lewe van die tagtigjarige Saul Matanzima se uitgebreide gesin wat ’n lewenswêreld vir hulleself op die verlate plaas probeer bou. Maar in hierdie betrokke-kerk-wees na buite, besef hulle heel gou hoe menslik onmoontlik die taak om ’n verskil te maak, kan wees. Nogtans is dit beter om betrokke te raak by die haas onmoontlike as om vasgedraai te bly binne die bladsye van Bybels en Bybelstudieboeke.
Ons moenie die storie weggee nie, maar hier is twee belangrike kwessies ter sprake: Etiese jag vs onetiese metodes, en dan baie belangrik, die hele probleem van grondbesit en eienaarskap. Laasgenoemde, veral, is hoogs emosioneel en ek dink dit is uiters dapper om daarmee te werk. Wil jy iets sê sonder om die einde weg te gee?
In enige jeugroman, soos in enige goeie roman, moet die karakters gekonfronteer word met issues wat eindelik ver bo hulle normale vermoë strek. Die etiese kwessie van eienaarskap en grondbesit is ’n warm issue in ons land, in die land waarin ’n nuwe geslag jong mense grootword. Hulle word groot sonder die direkte ervarings waarmee hul ouers of grootouers grootgeword het. Hulle visie van grense, blyplek en erflatings van die vadere is anders. Vir hulle is die global village ’n gegewe. Hulle sal noodwendig anders dink oor goed soos erfgrond en bloedsweet, almal se bloedsweet, almal se DNS wat die land vol lê. Maar hoe om die regte ding te doen in die nuwe omstandighede kan maklik vir hulle ’n leeukuil word. Want die ouers en grootouers is nog hier, die geskiedenis is nog lewendig in die ouers en grootouers aan alle kante van die spektrum se geheue. Die letsels is fisies nog sigbaar, eintlik onuitwisbaar.
Suid-Afrikaanse jeugboeke is dikwels uiters relevant, maar joune neem ’n dapper standpunt in, nie waar nie? Ek het ’n bekende dominee geken wat geglo het dis beter vir ’n mens om kaalvoet en honger in die hemel te kom, daarom is kos minder belangrik vir die armes as Bybelkennis. Talle ander gelowige vriende sê egter die Bybel beteken niks as geestelike hulp nie begin met ’n maaltyd nie. Hier is nie grootskaalse honger ter sprake nie, maar die “Tawwe Tienies” kom agter dat Bybelstudie dalk meer is as bloot Bybel-lees, nie waar nie?
Ek dink dit is die sanggroep Prophet wat iets gesing het soos: “As jy kom met die Bybel, kom ook met die brood en die kombers.” Hierdie groepie “Tawwe Tienies” kom op hulle vasbytkamp agter dat gewone (tradisionele) Bybelstudie met maklike en voor die hand liggende papegaai-antwoorde die dieper ondersoeker eintlik met meer vrae as antwoorde laat. Hulle kom agter dat ware Bybelstudie neerkom op ’n praktiese gaan uitleef van die Bybelse waarhede en ’n voortdurende nuwe ondersoek (exploring) na die eindelose volheid van die Bybelse wyshede. Aangesien baie kwessies en vrae van ons dag nie in Bybelse tye bestaan het nie, word direkte antwoorde nie dikwels tussen die bladsye van die Bybel (wat plek-plek duisende jare oud is) gevind nie, maar wel in die geheimenisse wat daardie bladsye vir ons in elke moderne eeu kan oopsluit.
’n Dosent aan die Teologiese Kweekskool het eendag vir ons gesê: “Wanneer jou gebed jou nie laat opstaan en ’n beter mens gaan laat wees nie, het jy nie gebid nie, maar gevloek.” Ek dink dieselfde kan van onnadenkende Bybelstudie (en van onnadenkende kerkgang) gesê word. Dit was wat die ses tieners op hul vasbytkamp elkeen op hul eie manier kon ontdek.
Lees ook:
LAPA-jeugromankompetisie 2019: ’n onderhoud met Jan Vermeulen
LAPA Jeugromankompetisiewenner 2015: Onderhoud met Jan Vermeulen (kyk ook foto's)