Skrywersonderhoud: Jan Vermeulen praat oor sy boek Oopmond

  • 0

Jan Vermeulen praat met Naomi Meyer oor sy boek Oopmond.

Jan, baie geluk met jou boek Oopmond. Vertel my van die titel. "Oopmond leef", is ’n frase wat in die boek gebruik word.

Oopmond leef is vir my in die eerste plek simbolies van leef met ’n oop gemoed. Wanneer ’n krisis soos ’n lewensbedreigende oorgeërfde hartkwaal jou tot op die rand van tou opgooi bring, is dit ’n oop gemoed vir die lewe wat jou kan laat oorleef. ’n Oop gemoed (oop mond) maak ook ander dimensies van lewe vir jou oop. ’n Oop mond is ’n kanaal wat nie net smaak nie, maar ook suurstof, water en voedsel vir jou bring. In die boek is daar ’n teenpoolkarakter, Wendy, wat oopmond leef tot ’n skadelike ekstreem voer.

Wat was die sneller en die inspirasie vir die verhaal?

In ’n gastehuis in Stellenbosch het ek in die sitkamer tussen ou boeke en argiewe afgekom op ’n oorspronklike brief wat ’n moeder gedurende die Tweede Boereoorlog geskryf het. In die brief vertel sy van haar jong seun wat daardie dag tragies op die slagveld gesneuwel het. En ek het vir myself gevra wat sou gebeur het as hierdie seun in ’n ander dimensie kon voortleef en nog ’n kans op die liefde en vrede kon kry. Sê maar  hy kon in hierdie nuwe dimensie weer vir Koba, die liefde van sy lewe, ontmoet. Sou hulle dié keer by mekaar kon uitkom? Sê maar hulle vind uit hulle eerste ontmoeting was eintlik nog ’n paar honderd jaar vroeër.

So het die karakters van Brand (Buks) en Madelein (Koba) lewe gekry.

Is daar 'n hartoorplanting in jou lewe, iewers? Of tieners? Hoe het jy jou navorsing gedoen?

Hartoorplanting kan weer eens simbolies gesien word van ’n nuwe kans om dié keer oopmond te leef.

Geen hartoorplanting in my lewe nie. Wel tieners in my bediening wat groot hartoperasies ondergaan het. Volwassenes wat orgaanoorplantings gehad het, wat op harte gewag het, maar nooit was daar ’n geskikte skenker betyds nie. So ek moes intensief navorsing doen tov oorplantingsprosedures, komplikasies, nasorg, hartkwale ens. Ek het ware oorplantingsverhale gelees en op webtuistes gaan loer.

Die verskyning van vreemde jong meisies wat vreemde tale praat: Het jy dit beplan, of het hulle net in jou storie ingestap, ongenooid, soos jou karakters (of so ongenooid soos in jou hoofkarakter se lewe)?

Enige verhaal wat vanaf die aanvanklike idee (vonk) begin ontwikkel, vra mettertyd sekere karakters om die verhaal verdere groeikrag te gee. Dit is nie karakters wat van die eerste oomblik deel was van die verhaal nie, maar dit is ook nie karakters wat net tegnies ontwikkel en ingeskryf word nie. Dit is asof hulle in die skadu gesit en wag het en op die regte oomblik in jou verhaal instap en jy besef dat jy nie sinvol verder kan skryf sonder hulle nie. Daarom bly die aktiwiteit van skryf steeds vir my ’n mistieke proses wat ver bo die beplanning en vermoë van ’n skrywer gaan. Daarvoor moet ’n skrywer natuurlik ook ’n oop gemoed hê.

Sy is ouer as drie honderd jaar in haar drome. Daar is 'n mengsel van angs en van opwinding in die lewe wat sy nou beleef. Hoe het jy, die skrywer, navorsing oor hierdie lewe gedoen? En wat het jou hierdie idees gegee, die idees van die vorige tydperk van eeue gelede?

Ek self kry soms weird drome van myself in ander lewens, ander eeue. Daarbý fassineer die idee van tydreise my al vir baie jare. Tydreise sou vir my die prentjie en sin van my eie bestaan kon uitlê. My eie navorsing oor die praktiese en wetenskaplike haalbaarheid van tydreise het my egter laat verstaan hoe onwaarskynlik dit vir die gewone mens is. En tog getuig baie mense van sulke ervarings. Daar moet dus ’n manier wees. Daar moet ’n kanaal na ander eeue wees. En die oop gemoed was vir my die antwoord.

Ek het Madelein se bestaanskrisis dus gesien as ’n geleentheid vir haar om die buitengewone, selfs bonatuurlike reise te onderneem om by selfverstaan uit te kom. En ook die onvernietigbare krag van ware liefde te ontdek, selfs oor eeue heen.

As jongmens was ek versot op die ou Kaapse verhale, seegevegte en swaardgevegte, ook oorlogverhale. In Oopmond kry ek die geleentheid om terug te gaan na daardie voorliefde en self brokkies oorlog en swaardgevegte op seilskepe in te werk.

Waarom vir jongmense skryf?

Ek het as jongmens ’n liefde vir lees en ’n begeerte om self te skryf ontwikkel toe ek eers kinderboeke en spoedig daarna volwassene-boeke soos die werke van Heinz G Konsalik, Elmar Steyn en CF Beyers Boshoff ontdek het. Nou wil ek iets daarvan in ander jongmense se harte ook laat gebeur. Ek wil op so ’n manier vir hulle skryf dat die wêreld van lees en self skryf vir hulle kan oopgaan. En sommer net dat hulle kan gaan reis en ontspan in die wêrelde wat boeke vir hulle kan skep.

Jy het ook al vir volwassenes geskryf. Wat verskil vir jou van dié soort skryf, of die aard van die onderwerpe en taalgebruik?

Kinders, tieners, jong volwassenes en volwassenes leef fisies saam in een wêreld. Kom ons sê ek wil ’n verhaal skryf oor ’n sikloon wat ’n klein dorpie tref. Dit sal beteken dieselfde sikloon tref met dieselfde mag en krag elke volwassene én elke jongmens op die dorpie. My volgende vraag sal nou wees: Wil ek my verhaal fokus op die ervaring van die dorpie se jongmense of die volwassenes? Dit bepaal of ek ’n jeugroman of ’n volwassene-roman oor die sikloon sal skryf. Vir my gaan dit dus nie in die eerste plek om te skryf oor die issues van jongmense of die issues van volwassenes nie. Dit gaan vir my oor hoe jongmense en/of volwassenes die vraagstukke van die lewe beleef en hanteer. Natuurlik sal dinge soos taalgebruik en lewensuitkyk dan moet aanpas by die ouderdomsgroep op wie die verhaal fokus.

Het jy 'n skryfroetine?

Ek het geen vaste roetine nie, maar ek probeer soveel as moontlik geleentheid vir myself skep om te skryf. Soms sal ek vroegoggend begin en tot laataand skryf. Ander dae steel ek hier ’n uur en daar ’n halfuur. Deurentyd is gesinstyd en leeftyd saam met my liefste vir my belangrik Maar wanneer ’n boek sy einde nader of persklaar gemaak moet word, sal ek elke oggend ’n paar uur vroeër opstaan en inklim.

Hoe het jy gevoel om in die vel in te klim van 'n agtienjarige skoolmeisie? Dink jy dat mens as skrywer 'n storie kan vertel van enige karakter in enige vel, enige ouderdom, enige tydperk? Wat is die beperkinge, wat is die uitdagings en wat is die vryhede?

Ek dink die uitdaging vir elke skrywer is om in die vel van enige karakter te klim, hetsy dit ’n dier, ’n reptiel, ’n zombie, ’n skoolmeisie, ’n bejaarde, ’n psigopaat of wie ook al is. Dit is wat van jou ’n skrywer maak en nie bloot net ’n verslaggewer van gebeure nie. Die kuns is om met siel en liggaam daardie karakter te word. In die geval van Oopmond glo ek dit het my gehelp dat ’n vrydenkermoeder my grootgemaak het, dat ek self twee dogters kon grootmaak, dat ek nou weer ’n laerskooldogter in my huis het en dat ek vir jare lank onder andere berading met tieners (seuns en meisies) kon doen. Natuurlik is daar beperkinge. Ek weet beslis nie presies hoe fisieke aanraking vir ’n tienermeisie voel nie, want ek was net ’n tienerseun, nooit ’n meisie nie. Maar ek het die vryheid om my haar unieke ervaring in te dink, veral omdat elke meisie se ervaring beslis ook nie identies aan elke ander meisie s’n is nie.

Waaraan werk jy op die oomblik, of as jy dalk eerder daaroor wil praat, wat is nog ander gunstelingtydverdrywe?

Die eerste konsep van my derde misdaadriller is amper klaar. Sodra ek hom ingestuur het, wag ’n nuwe jeugroman wat ek nog net moet afrond en ook ’n paar kortverhale waaraan ek werk. En dalk, net dalk, sal ek voor Kersfees eindelik tyd kry om weer ‘n bietjie te skilder ook.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top